Moet ’n mens Engels ken om Afrikaans te verstaan?

Vrouemonument Is Vir Almal Wat Saam Met Boere Gely Het
Junie 25, 2013
Nieuwe maandelijkse rubriek: “Taaltoffie”
Augustus 12, 2013

Deur Tom McLachlan, taalpraktisyn by UNISA en voormalige lid van die Taalkommissie van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Op 14 Augustus is dit Nasionale Taaldag en spesiaal daarvoor het Tom McLachlan onderstaande artikel geskryf:

“ ’n Paar weke gelede skryf mnr. Henk Kruger ’n brief aan die pers oor hoeveel Engels Afrikaans deesdae beïnvloed.

Almal weet hoeveel Engelse woorde in private Afrikaanse gesprekke gebruik word, maar wat veral steurend en kommerwekkend is, is die skynbare onvermoë van Afrikaanssprekendes om hulle in gesprekke of onderhoude met die media of by openbare geleenthede in goeie Afrikaans uit te druk sonder om gedurig (en onnodig) Engelse woorde en uitdrukkings te gebruik. Nog gevaarliker is die inkleding van wesenlik Engelse segswyses in Afrikaanse woorde, waardeur die skyn van Afrikaansheid gewek maar idiomatiese Afrikaans verdring word: die ware anglisismes. ’n Mens sou Kruger se lysie aansienlik kon uitbrei.

By implikasie doen Kruger twee redes vir bogenoemde aan die hand wanneer hy sê die probleem kan bestry word deur “behoorlike onderwys van Afrikaans as vak” en “goeie Afrikaanse taalleerboeke”. Hiermee gaan ek wesenlik akkoord, maar dit is beslis nie ’n eenvoudige kwessie nie.

Vir my is die kern van die probleem histories-maatskaplik van aard, maar ongelukkig laat ruimte dit nie toe om uit te wei oor die redes vir die verskille in Afrikaanssprekendes se gesindheid teenoor Afrikaans in die grootste deel van die 20ste eeu en die huidige tyd nie.
Die sukses van die standaardiseringsproses van Afrikaans lê deels in die feit dat die taalgemeenskap aktief daaraan deelgeneem het. In minstens die naoorlogse tyd is skoolkinders geleer – dikwels met behulp van uitvoerige lyste in hulle Afrikaanse taalleerboeke op laer- en hoërskool, iets waarop daar skynbaar deesdae neergesien word – wat korrekte (gepaste, idiomatiese) Afrikaanse taalgebruik was: die gangbare voorsetsels, idiome en spreekwoorde, woorde wat maklik verwar word, korrekte vertalings van algemene Engelse woorde, wat as anglisismes beskou is, “een woord vir baie”, en dergelike.

Bogenoemde, tesame met uitgebreide terminologieskepping, het meegewerk om ’n taaltrots by Afrikaanssprekendes te kweek, ’n faktor wat deesdae grotendeels afwesig is.

In die neëntigerjare het daar by baie Afrikaanssprekendes skielik ’n verandering in die gesindheid teenoor Afrikaans begin intree. Die kultureel-politieke protes van die einde van die apartheidsera het oorgespoel na die taal self. Skielik is oral stemme gehoor dat Afrikaans “van sy borstrokke” en “van die Broederbond” “bevry” moes word en trouens bevry is. Dit het mode geword om taal wat voorheen nooit in goeie geselskap gehoor en in die hoofstroommedia gebruik is nie, wyd en syd ten toon te stel. Enigiets kon deug.

’n Mens kan gaan ondersoek hoe taalleer van vandag verskil van dié van die grootste deel van die 20ste eeu, maar die vraag wat gevra moet word, is of die huidige stelsel slaag en die resultate lewer wat die wêreld van werk en volwassenheid vereis. Die reaksie van elke hoër vlak van onderwys op wat in die vorige een bereik is, en van werkgewers, is klaarblyklik “nee”.

Dit wil voorkom of die eiesoortige karakter van Afrikaans nie meer hoog aangeslaan word nie. ’n Mens kan op minstens twee maniere na Afrikaans kyk. Die eerste is suiwer as ’n objek van wetenskaplike studie. Dan neem jy net waar en beskryf. Geen waardeoordele word gemaak nie; “reg”, “verkeerd”, “onafrikaans” of “anglisisties” is nie ter sake nie. Die tweede is om Afrikaans ook as ’n kultuurobjek te sien wat bewarenswaardig is. Dit is egter problematies omdat nie alle sprekers van Afrikaans dieselfde oor dié kultuurobjek voel nie en nie dieselfde waarde heg aan die ontwikkelingsgeskiedenis daarvan en aan minstens een van sy kultuur-historiese mantels nie. In die lig van ons land se geskiedenis is dit begryplik.

Wat egter jammer is, is dat te veel Afrikaanssprekende mense skynbaar nie meer veel omgee oor die karakter, wese en gehalte van Afrikaans nie. Daar kan verskeie redes daarvoor wees: mense het oorlewingskwessies om hulle oor te bekommer, of hulle voel skuldig of veronreg of ongeërg oor die verlede, of hulle is onkundig oor wat dit gekos het om Afrikaans tot ’n volwaardige kultuurtaal te ontwikkel, of hulle het die linguistiese klok oor taalverandering hoor lui en weet so min of meer waar die klepel hang en aanvaar dit nou as die enigste en volle waarheid. Bowendien word Afrikaanssprekendes in baie groter mate as ooit tevore blootgestel aan Engels deur die gedrukte en elektroniese media en ’n wêreld wat deur allerlei tegnologieë klein gemaak is.

Ouers en onderwysers het dikwels nie meer die vermoë om kinders reg te help nie omdat hulle self nie die fout sien of hoor nie, of miskien net nie meer omgee nie. Op skool word kinders skynbaar nie meer na korrekte en idiomatiese taalgebruik gelei in die sin dat hulle leer wat korrek en verkeerd is nie. Daar is toenemend die beskouing dat iets Afrikaans is bloot omdat Afrikaanse woorde gebruik word, en hoe nader daardie woorde aan Engels is, hoe beter.

Dink maar aan lukraak gekose voorbeelde soos die volgende: ’n Vragmotor het ’n lorrie of ’n trok geword. DNS en MIV is by voorkeur DNA en HIV, en raar het seldsaam geword en nie meer vreemd of eienaardig nie. ’n Sjabloon deug nie meer nie; dit moet ’n templaat wees. ’n Wekker het ’n alarm geword, en op die nuus word daar sommer teen ringleiers aksie geneem, in plaas daarvan dat teen voorbokke of belhamels stappe gedoen word. Die nuusbulletin “was aangebied” deur maatskappy X, in plaas van “is”. Aangesien word siende dat en laat slaap word inlê, en almal mis uit op geleenthede, in plaas van om dit eenvoudig mis te loop. En so kan ’n mens voortgaan. Daar was ’n tyd toe Afrikaans dikwels kreatief terme geskep het – dink maar aan woorde soos bromponie, kitskoffie, moltrein, beeldradio. Dit gebeur al hoe minder, want nader aan Engels is mos beter, en dan word ’n nuutskepping soos toep as onaanneemlik of bespotlik afgemaak en app eerder gebruik.

’n Mens sou ’n hele reeks ander probleme kon noem. ’n Mens wonder of ’n Rip van Winkel wat uit ’n paar dekades lange slaap sou wakker word en min of geen Engels ken nie, nog die hedendaagse Afrikaans sal verstaan.”

Natuurlik verander taal met verloop van tyd – Afrikaans het immers ontstaan as gevolg van taalverandering. Intussen is Afrikaans egter gestandaardiseer en het hy sy eie “stem” ontwikkel. Maar hoe gou ons wil sien dat twintigste-eeuse Standaardafrikaans grotendeels ontoeganklik vir gewone Afrikaanssprekendes word? Dit gaan dus nie om taalverandering as sodanig nie, maar om die tempo daarvan en die redes daarvoor.

Ons kan die unieke karakter van Standaardafrikaans bewaar, maar daarvoor sal ons weer die hand aan die ploeg moet slaan. Daar word gesê Afrikaanssprekendes is die taalgroep met die grootste koopkrag in Suid-Afrika. Ons maak dus ’n wesenlike bydrae tot die staatskas deur al die verskillende belastings. Daarom kan en moet ons ons stem dikker maak. Daarmee bedoel ek glad nie ’n bohaai oor “die stand van Afrikaans” in die openbare sektor nie. Ek bedoel dat ons as Afrikaanssprekendes onder mekaar en in die private sektor dinge moet regstel. Daar is ’n paar maniere om dit te doen, en stil-stil is daar al heelparty sulke inisiatiewe aan die gang.

•    Ons kan daarop aandring dat die taalleerplanne vir Afrikaans verander sodat ons kinders en kleinkinders op skool behoorlik leer wat behoorlike Standaardafrikaans is. Dit is m.i. kardinaal dat die hele Afrikaanssprekende gemeenskap aandring op inspraak in die Afrikaanskurrikulum, sodat dit nie net in die hande van ’n staatsdepartement en politici gelaat word nie.
•    Dit is ook uiters belangrik dat goeie taalgebruik nie tot die Afrikaansles of  klas beperk word nie, maar dat dit in alle vakke neerslag moet vind (die leerlinge gaan immers eendag in ’n groot verskeidenheid beroepe staan).
•    Ons sal ook weer moet begin om taaltrots by Afrikaanssprekendes aan te kweek (wat nie beteken dat ander variëteite as die standaardvariëteit geminag moet word nie). Dit moet vir mense ’n saak van eer en trots word om goeie en “suiwer” Afrikaans te praat, nie iets wat bespot en verkleineer moet word nie. En dit beteken allermins ’n hoogdrawende kanselstyl.
•    Afrikaanssprekendes kan ook ’n gesindheidsverandering help meebring deur byvoorbeeld by maatskappye wat adverteer omdat hulle Afrikaanssprekendes se klandisie wil hê, aan te dring om dit in behoorlike Afrikaans te doen.
•    Ons kan die makers van populêre Afrikaanse musiek laat verstaan dat dit nie goed genoeg is om met lirieke vol Engelse woorde en kwalik verbloemde Afrikaanse Engels vorendag te kom nie.
•    Moedig die gebruik van hulpmiddels soos die gratis Afrikaanse koppelvlak van produkte soos Microsoft se Windows en Office aan. Hoewel nie 100% volmaak en volledig nie is dit lekker as jou rekenaar met jou Afrikaans praat en boonop leer ’n mens heelwat alledaagse rekenaarterme in Afrikaans ken sodat jy dit in die omgang kan gebruik.

Of ons as Afrikaanssprekendes dus iets aan die kwale van Afrikaans kan doen, hang uit en uit van ons self af, nie van die owerhede nie. Die vraag is of die grootste gros Afrikaanssprekendes nog (of weer) gemotiveer kan word om te handhaaf en uit te bou wat in die verlede tot stand gebring is. Of gaan ons sienderoë toelaat dat die invloed van Engels op Standaardafrikaans so groot word dat ’n mens werklik eers Engels moet ken voordat jy Afrikaans kan verstaan?

0 Comments

  1. Eben sê:

    Goeie artikel. Die tempo van verandering is te vinnig. Ons taal word nie teen hierdie pas verryk nie, maar oorrompel.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!