Jongerenproject 2013 ’n reusesukses

Jongerenproject 2013 groot succes
Augustus 12, 2013
Die reënboognasie versus die kleure van die reënboog
Augustus 15, 2013

Die jongerenproject (JP) is die oudste uitruilprogram tussen Suid-Afrika en Namibië aan die een kant en Nederland en Vlaandere aan die ander kant. In 1976 het die eerste groep studente deelgeneem en in hul voetspore het op 25 Junie ’n groep studente van Suid-Afrika en Namibië in Johannesburg op die vliegtuig geklim. Die Vlaams Zuid-Afrikaanse Cultuur Stichting (VZACS) en die Nederlands Zuid-Afrikaanse Vereniging (NZAV) het hierdie 14 studente van verskillende universiteite en studies en hul 2 begeleiers genooi en namens die FAK het hulle na Vlaandere en Nederland vertrek. Vir meer as drie weke is hulle ondergedompel in die Vlaamse en Nederlandse kultuur, taal, geskiedenis en samelewing.

“Waar ben ik en wie zijn de mensen om mij heen?”
Die historiese en talige simbiose tussen Suid-Afrika en die Lae Lande maak die JP so veel meer as net ’n toeristiese uitstappie. Die heel eerste dag het afgeskop met ’n deeglike inleiding oor Nederland, Vlaandere en België met die lesing: “waar ben ik en wie zijnd e mensen om mij heen?” (“Waar is ek en wie is die mense rondom my?”). Hierop het ’n vol program gevolg waaroor een van die deelnemers terugkykend opmerk:

“Ek blaai deur my joernaal en daar is nie ’n enkele dag wat nie ’n hoogtepunt insluit nie. JP 2013 kan nooit gesien word as net ’n projek, ’n uitruilprogram of ’n vakansietoer nie. Dit was veel meer as dit!”

In België is die program gekoördineer deur die VZACS se vrywilligers, wat hulle onbaatsugtig en met groot entoesiasme daarvoor ingesit het. Tydens ’n somerskool in Hasselt is klasse oor onder meer die Belgiese en Nederlandse politiek, (kuns)geskiedenis en regsstelsels afgewissel met uitstappies na dorpe en stede in die omgewing. Nie net die klasse en besienswaardighede is deel van die JP-ervaring nie, maar juis ook die deel wees van die samelewing, al is dit ook hoe kort, soos blyk uit een van die studente se beskrywing van hoe dit is om met die openbare vervoer te reis:

“Met die aankoms in België was my eerste groot verbasing die ongelooflike sisteem van publieke vervoer. Op die eerste bus wat ons gery het, het twee klein kinders alleen opgeklim, hulle kaartjies gegee en net weer ’n paar busstoppe later afgeklim. Dit het my verbaas oor hoe veilig dit is, dat ouers vertroue het in die land en sy sisteem om hulle kinders alleen te laat ry, asook die verantwoordelikheid wat daardie kinders van so kleins af het om na hulleself om te sien in die opsig.”

Benewens die interessante program, dra die verblyf by gasouers ook by tot die unieke JP-ervaring. Die studente leer ken die gasouers se kultuur van binne af. Gesprekke wat aan die ontbyttafel gevoer word oor ’n “boterham met hagelslag” leer mens baie meer oor ’n kultuur as ’n hotel se ontbytbuffet.

Departement van Sosiale Sake: regstellende aksie en positiewe diskriminasie
Na meer as twee weke in Belgïe, het die groep na Nederland gereis, waar hulle op die Veerse Meer in seilbote gevaar het en na die Deltawerke fietsgery het. Tydens die ontspanning langs die water is die indrukke en ervarings wat in Vlaandere opgedoen is uitgeruil en is daar kennisgemaak met die Nederlandse JP-commissie. Hulle is ouddeelnemers wat hulleself vanuit die Zuid-Afrika Huis in Amsterdam ook vrywilliglik met hart en siel beskikbaar stel om van elke JP ’n wonderlike ervaring te maak.

Ook is die groep voorberei op ’n besoek aan die “Ministerie van Sociale  Zaken” (die Departement van Sosiale Sake). Drie deelnemers het daar ’n voorlegging gehou oor die betekenis van regstellende aksie vir hulle persoonlike lewe. Die Departement het verduidelik oor “positiewe diskriminasie” (vrouens en minderhede soos persone met ’n nie-Nederlandse afkoms, wat ’n agtergestelde posisie het op die arbeidsmark, kry voorrang by aanstellings) en hoe die uitdagings daarvan  hanteer word. Vir baie van die deelnemers was dit ’n openbaring om te besef dat Nederland met soortgelyke uitdagings te doen het én om op ’n Nederlandse manier met mekaar te debatteer oor ’n uiters gevoelige onderwerp:

“Dit het gemaak dat ons as groep onder mekaar debatteer, opinies deel, saamgesels en dink oor ’n baie aktuele kwessie in SA.”

Hierdie studietoer verbreed kulturele horisonne, nie net die deelnemers sʼn nie, maar ook dié van al die gasouers, vrywilligers en ander betrokkenes in België en Nederland wat hulle self beskikbaar gestel het om ’n reusesukses van die JP 2013 te maak.

Persoonlike betekenis vir deelnemende studente
Beter as in die deelnemers se eie woorde kan die jongerenproject se betekenis nie uitgedruk word nie:

“Ek het in daardie drie weke nie net my fisiese horisonne verbreed nie, maar het ook perspektief gekry oor myself, my plek in die wêreld, ander jong mense soos ek en mense wat hoegenaamd nie soos ek dink nie. Dit was ’n ongelooflike ervaring om vir ’n kort tydperk in twee kulture te leef wat so anders en tog dieselfde as my eie is. […] Ek is trots om te kan sê dat ek deel was van die JP 2013.  Ek is trots om ’n jong Afrikaner, ’n jong Suid-Afrikaner te wees en ek weet dat my toekoms ver voor my uitstrek en dat net ek kan bepaal wat daarmee gedoen word.”

“Om die enkel grootste positiewe eienskap van die JP uit te sonder, sou dit wees dat die JP sy deelnemers toegang bied tot alles wat hulle nooit op hul eie sal kan ervaar nie. […] Die JP het my die gereedskap gegee om te kan absorbeer, om te kan tolereer en om te kan verstaan. Die JP het my toegerus met kennis en ervaring om weer in Suid-Afrika te kan terugploeg. […] Die herinneringe bly ons ewig by.”

“Die Jongerenproject is nie net ’n ervaring van ander kulture, tale en die kennis maak met ander mense nie, maar dit is ook ’n geleentheid waar Suid-Afrikaners met Vlaandere en Nederland ’n brug kan bou wat hulle as vriende saam kan oorsteek. Dit is ’n ervaring waar jy nié net nuwe Suid-Afrikaanse vriende maak nie, maar ook vriendskapsbande met die mense van Vlaandere en Nederland kan smee.”

“Wie kan in die regte woorde die vriendskappe beskryf wat hier ontstaan het? Wie kan die hoeveelheid kerke wat ons besoek het beskryf? Wie kan in woorde (wat nie vloekwoorde is nie) beskryf hoeveel fiets ons gery het? Of hoe ’n belewenis die ryk kultuurerfenis hier is? Wie kan die seil-aksie in Veere en teaterwerkswinkel in Bijlmer behoorlik beskryf?
Vriende, ons is die enigste vergestalting van hierdie reis en ons moet dit laat voortleef vandag en elke dag.”

Die groep van 2013

Die groep van 2013

Somerskool

Somerskool by die Universiteit van Hasselt

Vlaandere - Brussel

Vlaandere – Brussel

 

Die parlement in Vlaandere

Die parlement in Vlaandere

Vlaandere - Gent

Vlaandere - Antwerpen

Vlaandere – Antwerpen

Veerse Meer – Zeeland

Veerse Meer – Zeeland
Die Tweede Kamer in Den Haag

Die Tweede Kamer in Den Haag

Amsterdam - Bijlmer

Amsterdam – Bijlmer

Amsterdam - Rotterdam

Amsterdam – Rotterdam

Amsterdam - Delft

Amsterdam – Delft

Amsterdam - Rijksmuseum

Amsterdam – Rijksmuseum

 

 

 

 

 

 

 

0 Comments

  1. Kas Landman sê:

    Wat `n aangename ervaring om hierdie verslag te lees! Die lees daarvan het soveel aangename herinneringe uit die jare toe ek self vir die JP verantwoordelik was, opgeroep.
    Ek sal graag die verslag wil ontvang om aan al die lede van die Orde van den Prince, Afdeling Pretoria en ook elders, te stuur.
    Mag die Jongerenproject/Jeugprojek nog lank voortbestaan.
    Prof. Kas Landman(em.)

  2. Dr John Pauw sê:

    Baie geluk aan die organisasie bekend as “JP”. Ja, ons kan baie by ons stamlande leer.

    My eie ervaring was toe ek saam met die Durbanse mannekoor Vlaandere deurreis het en in talle dorpies opgetree het waar ons net die vriendelikheid self ontvang het.
    Behalwe die persoonlike kontak en die hoogssuksesvolle toer was ook ons almal verras om te sien hoeveel meer hulle van ons kultuur geken het as wat ons van hulle s’n bewus was.
    Die eerste voorbeeld: Ons is as spesiale gaste genooi om hul groot jaarlikse kultuurfees in Antwerpen by te woon. Daar was duisende entoesiastiese Vlaaminge teenwoordig in die groot bedekte sportstadium. Daar was ‘n orkes van 80 lede en ‘n massakoor van 200.

    En nou kom ek tot die punt. Die hele massa mense teenwoordig het drie Volksliedere uit volle bors en sonder boeke gesing nl. die Nederlandse en Vlaamse Volksliedere EN OOK ONS PRAGTIGE “STEM VAN SUID-AFRIKA!”. Ons het daardie middag koue rillings gekry toe ons die groot volume stemme ons volkslied hoor sing – amper beter as wat ons dit in ons eie land gehoor het! Dit was in 1976 en blykbaar elke jaar daarna word hierdie Vlaamse fees gehou omdat die Vlaaminge onafhanklik van die oorheersende minderheid Franssprekendes wil word.
    (Tussen hakies: Dit was ons gebruik tydens ons toere om in elke land wat ons besoek het hulle eie volkslied sowel as Die Stem met die aanvang van elke konsert te sing; (nl in Duitsland, Oostenryk, Frankryk, Nederland, Engeland en ‘n vier weke toer in die VSA). By elke geleentheid en in elke land was die algemene kommentaar dat ons Volkslied die mooiste was wat hul ooit gehoor het! Dit het ons baie trots laat voel. In Vlaandere en Nederland het die gehore ook lustig albei volksliedere hartlik saamgesing!

    Die tweede geleenheid wat ons laat besef het dat hulle ons Afrikaners goedgesind was was toe ons familie in 1985 Vlaandere besoek het en na ‘n klein kroegie geneem is wat skaars groter was as ‘n kleinerige eetkamer. Daar was nie plek om te sit nie. Almal het styf teenmekaar gestaan. Hulle het agtergekom dat ons Afrikaans besig en dit was nie lank nie voordat die man wat die klavier gespeel het begin het om ons (Suid-Afrikaanse) volsliedjies te speel. Almal teenwoordig het uit volle bors saamgesing – maar nie net een nie maar ‘n hele string beginnende met Sarie Marais; Ai, Ai die witborskraai, Jan Pierewiet, Die Stem, en nog baie ander – almal sonder die woorde voor hulle omdat hulle al die liedere op skool gesing het. Ons het skaam gevoel dat ons net een of twee van hulle s’n geken het wat ons in ons repertorium by ons konserte gesing het.

    Derdens: het ons by al tien konserte in België gesing het soos ons gebruik altyd met hulle Volkslied e n Die Stem die konserte begin het – maar – die verrassing vir ons was dat elke mens in elke gehoor (gewoonlik was die sale vol)hartelik saamsesing het.
    Toe hulle kultuurgroepe ons besoek het, het ons natuurlik alles in ons vermoê gedoen om dit vir die lede aangenaam te maak. Ons het nog vir baie jare daarna heen en weer gekorrespondeer.

    Mag die JP nog vir baie jare die goeie werk voortsit wat hulle nou weer gedoen het.

    Groete

    John Pauw

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!