Die reënboognasie versus die kleure van die reënboog

Jongerenproject 2013 ’n reusesukses
Augustus 13, 2013
Lady Anne Barnard, die fluitjieblaser onthul Britse slawernyskandaal aan die Kaap
Augustus 15, 2013

Prof. Elirea Bornman se intreerede by UNISA, Departement Kommunikasiewetenskap, is die FAK se N.P. van Wyk Louw-sentrum se jongste publikasie in die Idee-reeks. Lees hier die inleiding van haar rede:

“Die aanhef tot die Grondwet van die demokratiese Suid-Afrika lui: ‘Ons, die mense van Suid-Afrika, glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.’

Die edele gedagtes wat in hierdie aanhef uitgespreek word, word herhaal in die metafoor van die Reënboognasie – aanvanklik geskep deur emeritus aartsbiskop Desmond Tutu – wat in die eerste jare van die demokratiese staat die retoriek geword het (Blaser, 2004; Ramsamy, 2007). Die gewildste interpretasie van hierdie metafoor is dat die kleure van die “reënboog” die onderskeie etniese en rassegroepe van Suid-Afrika weerspieël wat in ’n harmonieuse geheel binne die nuwe demokrasie verenig is.

Gedurende die apartheidsbedeling is rasse- en etniese identiteite deur verreikende prosesse van sosiale ingenieurswese beklemtoon en versterk (Ramsamy, 2007). Die mag van wit Afrikaners is boonop bevestig deur die bevordering en wettiging van geografiese, rasse-, kulturele en etniese vorme van sosiale skeiding waarvan sogenaamde etniese “tuislande” waarskynlik die mees ekstreme vorm was. Met die koms van ’n nuwe politieke bedeling is die geografiese eenheid van Suid-Afrika herstel deur die voormalige “onafhanklike” tuislande met die Suid-Afrikaanse staat te integreer. Sodoende is die wettige skeiding van groepe uit die wetboeke verwyder. Nogtans stem sosiale ontleders saam dat – weens die objektivering van verdelende en uitsluitende identiteite tydens die apartheidsera – Suid-Afrika by die aanvang van ’n nuwe politieke bedeling gebreke gegaan het aan ’n algemeen aanvaarde nasionale identiteit en ’n gevoel van nasieskap. ’n Proses van nasiebou is gevolglik beskou as die logiese stap om die leemtes te vul wat deur die apartheidsbestel gelaat is en om ’n verenigde en harmonieuse Suid-Afrikaanse nasie uit die verdeeldheid van apartheid te skep (Eaton, 2002).

Maar ten spyte van die oorweldigende nasieboukoers en ’n oorvloed inisiatiewe om die verdelings van die verlede te bowe te kom, word die Suid-Afrikaanse regering steeds deur die probleem van nasionale eenheid – of die gebrek daaraan – gekonfronteer, en in baie opsigte is die Suid-Afrikaanse samelewing steeds op rasse- en etniese gebied versplinter (Ramsamy, 2007). In hierdie rede fokus ek in die eerste plek op die ideologie van nasiebou en die vorming van ’n nasionale identiteit. Ek bespreek ook die praktyk van nasiebou in Afrika asook die prosesse wat in Suid-Afrika gevolg is om ’n Suid-Afrikaanse nasie te bou en ’n oorkoepelende nasionale identiteit te bou. Ek gee ook aandag aan enkele van die suksesse en uitdagings van nasiebou. Ten slotte maak ek enkele opmerkings oor die toekoms van Suid-Afrika en die nasiebouprojek.”

Die publikasie is gratis beskikbaar vir Vriende van die FAK. Om ’n Vriend van die FAK te word, kontak Samantha by samantha@fak.org.za.

0 Comments

  1. Roelf sê:

    Wil grrag weet met wie ek in kontak kan kom om uit te stal op die jaar se fees

    Roelf Joubrt
    0824266887

  2. Chrisna Nel sê:

    Roelf

    Ek is nie seker van watter fees jy praat nie, maar indien jy by die VTM se Kultuurfees wil uitstal op 24 September, skakel gerus vir Etta Judson

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!