Lady Anne Barnard, die fluitjieblaser onthul Britse slawernyskandaal aan die Kaap

Die reënboognasie versus die kleure van die reënboog
Augustus 15, 2013
FAK Rivierplaas
Augustus 15, 2013

deur Marthinus van Bart

In die SA Nasionale Biblioteek in Kaapstad word ’n potloodskets, “Sleeping Madonna and Child”, 20 cm x 18 cm, bewaar wat die Britse adelvrou lady Anne Barnard (1750-1825)  gemaak het toe sy van 1795 tot 1802, tydens die Eerste Britse Bewind, aan die Kaap vertoef het.

LadyAnne

Luidens ’n byskrif is dit ’n skets van ’n baba van die welgestelde Vryburger Jacob van Reenen. Aan haar voete sit ’n swart kleuter en ’n hond. Lady Anne  se byskryf lui die vrou is ’n kinderoppasser. In haar Kaapse dagboek verwys sy op 22 Julie 1799 na dié skets, en vertel dat die oppasser (nurse) se naam Teresa is.

Hierdie skets is in die onlangse verlede met byna vervelende reëlmaat deur sogenaamde slawekenners as ikoon gekies om te illustreer hoedat swart slawe die wit Nederlandse babas aan die Kaap geborsvoed het.
Maar daar is geen getuienis dat hierdie vrou, met sterk Oosterse trekke en haarstyl, inderdaad ’n slavin was nie.
Was sy nie dalk ’n huurling, een van die groot getalle Javaanse bannelinge aan die Kaap nie?
Was sy nie dalk ’n familielid van die krygslui (Orang Cayen) uit die heersersklas, soos prins Abadin Tadia Tjoessoep (sjeg Yussuf) van Makassar, Indonesië, die sultan van Malacca, sjeg Abdurahman Matebe Shah, en prins Abdullah ibn Kadi Abdus Salaam (Wali Tuan Guru) van Tidore in die Trinate-eilande, wat as politieke krygsgevangenes deur die Nederlandse owerheid in Batavia na die Kaap verban is  nie?

Lady Anne sê nie van watter herkoms Tesesa was nie, maar wanneer sy wel sketse van slawe gemaak het, het sy hulle in die byskrifte ondubbelsinnig as slawe (“slaves”) geïdentifiseer.

(49) Sale of Slaves Cape Town

 

Op die stofomslag van André P. Brink se nuutste slaweroman, Philida, pryk ’n spieëlweergawe van dieselfde skets van Teresa, dus by implikasie ’n slavin.

Wat was dan die verskil tussen ’n banneling en ’n slavin?

Dit is eers wanneer jy in dr. Achmat Davids se minder bekende The Mosques of the Bo-Kaap, A Social History of Islam at the Cape, 1980 gaan oplees, dat ’n venster op ’n totaal ander wêreld oopgaan. Daar verneem jy van Oosterse bannelinge wat self slawe besit het, en van die vakmanne wat hul kundigheid uitverhuur het en welvarend was. Van verskillende sosiale klasse in die Moslem-gemeenskap.

Dan eers besef jy dat die slawe aan die Kaap, soos ook in Indonesië, van die laagste rangorde, die ongeletterde arbeiderklas, was.

Die vakmanne, handelaars, brandweermanne en kanonniers van die Kasteel was van die middelklas. Hulle kon hulself (as krygsgevangenes) vrykoop, en soos die hoë lui self slawe besit.

En dan was daar ook die priesterklas, ook hoë lui.

’n Taamlik merkwaardige verskil, dus, binne ’n taamlik geslote gemeenskap aan die Kaap.

Lady Anne onthul deur haar sketse die verskillende klasse mense, ongeag velkleur, aan die Kaap. Ook teken sy die Koina, en onder hulle is nomadiese veeboere, diensknegte, soldate. Ook gee sy ’n aanduiding van sosiale klasse. Sy skets verder ook swartmense, en selfs hulle is nie homogeen van stand en klas nie.

En die Nederlanders, Britte en ander Europeërs wat sy skets, is net so uiteenlopend van klas, stand en aansien. Alles baie ver verwyderd van die hedendaagse stereotipe klassifikasie van wit en welvarend en onderdrukkend, opgestel teenoor swart, arm en verdruk.

Maar lady Anne gaan veel verder: In haar dagboeke ontbloot sy, met groot ontsteltenis en in detail, die uitgebreide slawernystelsel van die Britse owerheid en handelaarsklas aan die Kaap. Al wat ’n Britse ampenaar is, is daarby betrokke – vir die eie sak, sowel as vir die Britse kolonie.

Die goewerneur en die Britse slawehandelaars met hul vinnige seilskepe baat die meeste by die bedryf, maar so ook die admiraliteit, die doeane, die gereg en talle ander ry saam op hierdie soustrein van woekerwinsneming uit die vang, verskeping en verkoop van menselewens.

Die vernaamste slawebron vir Kaap is Mosambiek en Madagaskar, en die Britse slawehandelaars hou daar die monopolie oor dié mark.

Robbeneiland, die plek van kwarentyn, word byna aan slawehandelaars verkoop, vertel lady Anne. Maar haar man, Andrew, verneuk die goewerneur, sir George Yonge,  en die Britse slawehandelaar, met ingewikkelde dokumentasie – en gevolglik word die eiland toe nie verkoop nie.

Ook blaas lady Anne die fluitjie oor hierdie mensonterende bedryf teenoor haar minnaar in die parlement in Londen, Henry Dundas, minister van kolonies. Lady Anne is egter salig onbewus van die feit dat Dundas inderdaad die spil is waarom die hele Britse transatlantiese slawebedryf met die Amerikas, die grootste in sy soort ter wêreld, draai. Sy weet nie dat hy in sy gevestigde magtigheid daarin slaag om William Wilberforce, die kampvegter vir slawebevryding,  se pogings om die slawebedryf stop te sit, dertig jaar lank takties-doeltreffend in die wiele ry nie.

Lady Anne se dagboeke is die verlore skakel tussen amptelike dokumentasie wat behoue gebly het, onderduimse bedrywighede wat nooit gedokumenteer is nie, en verdwene argiefmateriaal oor die skandalige era van slawehandel aan die suidpunt van Afrika.

Op 21 Februarie 2012 het ’n brief van Terence Grant van Woodstock in die Engelstalige dagkoerant Cape Argus onder die opskrif ‘Slavery and the loss of land led to deprivation’ verskyn. Die brief lui soos volg: “Dr. Pieter Mulder and his fans need to understand that Afrikaner ancestors, in general, were enthusiastic supporters of slavery and often grabbed more land in the hope that landless blacks would work for them in conditions tantamount to slavery. Suffice it to say that when the British in 1795 outlawed judicial torture, the Cape Court of Justice protested that “cold and rude slaves would hardly consider the privation of life as a punishment, unless accompanied by such cruel circumstances as greatly aggravate their bodily suffering”, according to Frank Welsh’s A History of South Africa – a way of saying that slaves are too badly treated to regard death by execution as a significant punishment. With the British banning the slave trade in 1807, and vigorously enforcing this ban, the Boer was at loggerheads with anyone attempting to uplift these “schepsels” (creatures). One of the first acts of the breakaway Boer communities was to ban in the 1830’s all missionary activity. It is understandable that blacks should feel the Afrikaner stole their inheritances, and to expect those who inherited this land to help them over the hurdles in their path. The Afrikaner and many of his English-speaking counterparts believe that they and their fathers played and are playing on a level playing field. Fortunately, ignorance is curable.”

Grant, soos die meeste van sy taal-en-kultuurgenote, klou vas aan die leuendeurtrekte mite van Britse liberalisme, wat die Engelse/Britte tot engele verhef, en alle Afrikaners (voorsate én nasate) tot rassistiese slawedrywers en gronddiewe verdoem. Maar kan hy vir sy stiksienige onkunde en vooroordeel geblameer word as dieselfde propaganda in die skoolleerplanne verkondig word, die Iziko-slawemseum in Kaapstad dit in woord en beeld verkondig en die Stad Kaapstad se “Slave Walk” met duur kennisgewingborde en toerismepamflette (betaal deur alle belastingbetalers) dit bevestig?

Nog vreemder is dat daardie akademici en vakkundiges wat die voortou neem in die anti-Afrikaner-lasterveldtog via museums, skoolleerplanne, die toerismebedryf, boeke en die openbare omgewing van Kaapstad, skynbaar nog nooit lady Anne se onthullings oor die Britse slawebedryf raakgelees het nie. Nie ’n enkele boek in Engels hier ter plaatse oor die slawebedryf vermeld enigiets daarvan nie. Maar hulle kon wel haar skets van Teresa met baba Van Reenen uit haar nalatenskap pluk om ook dít as ’n wapen teen Afrikaners te misbruik.

In my nuutste boek, Kaap van Slawe – Die Britse slawebedryf  van 1562 tot 1910:  Met spesiale verwysing na die Kaap die Goeie Hoop vanaf 1680, uitgegee deur Historical Media, word hierdie mite van Britse liberalism en Afrikanerskuld oopgevlek en omver gewerp. Ek het hoofsaaklik van Britse en Amerikaanse bronne gebruik gemaak. Dit is die verhaal van die grootste slawebedryf ter wêreld wat in die regeringstyd van Elizabeth I begin is en ononderbroke deur die beleggings van die agtereenvolgende koningshuise en die hoë lui uitgebou is om haas elke land waaroor die Union Jack gewapper het, te betrek. Ná 1807 is die term slawe vervang deur Prize Negroes en Indentured Apprentices, maar in wese het slawerny tot 1910 voortgeduur totdat dit deur die Unieregering onder die Afrikaner-leiers Louis Botha en Jan Smuts in Suid-Afrika stopgesit is.

* Kaap van Slawe kan bestel word by tel 021 406 2823 of e-pos: erfenis@dieburger.com

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!