Franse kunstenaar Honoré Daumier veg met sy tekenpen vir Vryheid

Sjeg Yusuf: Van die Kaap tot in Makassar
Augustus 16, 2013
Klavier haal meer as 12 osse op Piet Retief se Grahamstad-veiling
Augustus 16, 2013

Die Vryheid van die Pers: Pasop!! (Ne vous y Frottez Pas!!) ’n Sportprent van homself as koerantman met die pen deur Honoré Daumier, 20 Maart 1834

Deur MARTHINUS VAN BART

Die Franse spotprentkunstenaar Honoré Daumier (1808–1879), was ‘n vurige voorstander vir persoonlike vryheid en demokrasie. Maar in sy era het Frankryk onder die neo-feodale stelsel met ‘n topswaar hierargie van koninklikes, geestelikes en kapitaalkragtiges gebuk gegaan.

Desnieteenstaande het hy met sy skets- en kraspen hom visueel in protes kragtig uitgelaat oor die onregte wat die gewone burgerlike bevolking aangedoen word. In 1832 het hy duur betaal vir sy dapperheid in durf en daad toe hy in die tronk gegooi is weens persoonlikheidskending.

In 2006 is ’n groot bohaai in die media gemaak oor die woedende reaksie van Moslems wêreldwyd toe ’n Deense koerant deur die publikasie van spotprente ’n bespotting van die Moslem-religie probeer maak het. Die spotprente is daarna – in weerwil van geldige besware uit Moslem-geledere wêreldwyd – op uitdagende wyse ook in Europa, veral Brittanje, gepubliseer en andersins in die media vertoon.

Die protesterende Moslems is wyd deur diemedia van nie-Moslem-organisasies verguis as “onredelike fanatici wat nie die waarde van persvryheid vir die vooruitgang van die mensdom begryp nie”.

Maar dié kritici het die voortslepende gewelddadige politieke betrokkenheid van veral Amerika en Brittanje in die Midde-Ooste, hartland van die Moslems, geriefshalwe nie in berekening gebring toe die Moslem-reaksie veroordeel is nie. En oor die vrae waarom daardie spotprente juis nóú gepubliseer moes word en wie opdrag daartoe gegee het, heers steeds ’n dawerende stilte.

Daar was onteenseglik ’n sterk politieke motief teenwoordig, en die betrokke koerant en sy meelopers én ondersteuners het kennelik te ver gegaan. Die wantroue in die wêreld se nuusdraers is deur hul onbedagsaamheid gewek. Dit strek ongelukkig tot nadeel van die ganse mediabedryf. Ook is dit ’n verdere struikelblok in die lang stryd om dié bedryf hopelik eendag tot die status van professionaliteit verhef te kry.

Hierdie soort gedrag wat tot nadeel van die betrokke publikasie en sy spotprentkunstenaar gelei het, het hom in 1832 in Frankryk afgespeel toe die satiriese tydskrif La Caricature, mondstuk van die politieke opposisie (Republikeine) teen die bewind van koning Lodewyk Philippe, besluit het om in ’n politieke propaganda-truuk ’n banale bespotting van die persoon van die koning self te maak.

Die begaafde kunstenaar Honoré Daumier het in opdrag van die koerant ’n spotprent gemaak wat die koning uitbeeld as die reus Gargantua (na aanleiding van ’n satire met dieselfde naam wat deur die Fransman François Rabelais in 1534 geskryf is): Die koning sit op sy troon, maar dit is eintlik ’n kommode (draagbare toilet of stilletjie). ’n Loopplank lei van die grond na sy oop muil. Senatore met swaar gelaaide draagmandjies stap na bo en voer die onversadigbare lummel. Die mandjies word deur armes met hul karige aalmoese gevul. Aan die agterkant van die troon kom rolle dokumente uit met die bewoording “Nominations de Paris” (benoemings vir die Kamer van die Adel) en “BREVET” (kommissie). Senatore bring die dokumente weg na die parlement, Palais Borbon.

Normaalweg was Lodewyk Philippe ongeërg jeens politieke kritiek op sy regime. Hy het immers as opvolger van Karel X die heersersklas in ere herstel ná die vernietiging van Napoleon Bonaparte en dié se vorm van demokrasie. Maar hierdie spotprent wat teen sy persoon gerig was, het net te ver gegaan.

Lodewyk Philippe het kragdadig opgetree: Die joernaal is gesluit en Daumier is in die tronk gegooi. Ná ses maande is hy na ’n tronk-gestig oorgeplaas. Hy het geestelik niks makeer nie, maar die koning wou klaarblyklik die indruk by die publiek wek dat enigeen wat hom aanval – soos wat Daumier en La Caricature dit gedoen het – kranksinnig is.

Ook is die redakteur van die koerant, Philippon, beboet en tronk toe gestuur.

Hierdie ingrype van Lodewyk Philippe skyn besonder kras te gewees het. En, soos in die geval van die onlangse Moslem-spotprente, sou enige koerantmens se eerste reaksie wees dat die koning die vryheid van die pers aantas; dit inderdaad onderdruk. Maar al die feite rondom die saak is nie dan in ag geneem nie.

Die inherente “lae hou” wat Daumier en La Caricature die koning toegedien het – wat tot sy weerwraak gelei het – was inderdaad nie soseer geleë in die skynbare kritiek van die spotprent dat die adel van Frankryk bevoordeel word ten koste van die armes nie, maar wel die simboliek agter die naam “Gargantua”.

Om die impak daarvan te verstaan, moet gekyk word na die figuur van François Rabelais en sy twee satires Gargantua en Pantagruel:
Rabelais (1484 –1553) was ’n monnik, humanis en medikus. Hy was aanvanklik ’n Franciskaan, maar het met dié kerkowerhede gebots en toe na die Benediktyne oorgestap. Daarna het hy dié orde verlaat om die medisyne te bestudeer – en ’n universiteitsgraad daarin te behaal. In 1532 het hy die satire Pantagruel gepubliseer en twee jaar later Gargantua.

Dié werke is besonder snaaks en, selfs aan vandag se standaarde gemeet, kru, suggestief tot plek-plek pornografies en wesenlik anti-Christelik – wat ietwat vreemd voorkom as Rabelais se kerklike opvoeding in ag geneem word.

Hoewel die burgery die boeke ywerig verslind het, was die kerkowerheid, die akademie en die regering glad nie daardeur beïndruk nie. Die Rooms-Katolieke Kerk het die werke tot kettery verdoem en in die Index librorum prohibitorumon, die Kerk se amptelike inventaris van veroordeelde/verbanne boeke, gelys. Ook het die parlement dit tot verbode leesstof verklaar en die Sorbonne het dit uit sy biblioteek verwyder.

Die werke is ná die Franse rewolusie herdruk en dit was in die Napoleontiese era weer gewilde leesstof onder die burgery omdat dit die spot gedryf het met alle gevestigde instellings. Boonop het Rabelais daarin ’n Dionisiese leefwyse van primitiewe losbandigheid sterk gepropageer, wat die republikeinse gepeupel soos ’n handskoen gepas het.

In die lig hiervan het Lodewyk Philippe, heel verstaanbaar, aanstoot geneem. Daar was inderdaad ’n besonder sterk gif in die angel van Daumier se spotprent.

In een van sy ander spotprente van die 1830’s getiteld “Vryheid van die pers” word die pers uitgebeeld as bokskampioen wat sy koninklike opponente ’n uitklophou toegedien het.

Die bokskampioen dra die tipiese kleredrag van die koerantdrukkers van daardie era.

Daarmee word die pers binne die konteks van persvryheid gesimboliseer as ’n onafhanklike, nugtere en ewewigtige entiteit wat ter wille van ingeligtheid, die waarheid, reg en regverdigheid optree.

Maar, soos wat elke eerlike joernalis van vandag sal beken, is hierdie pretensie net gedeeltelik waar.

* Die artikel het op 1 April 2006 in die Erfenis-rubriek in die naweekbylae By van Die Burger verskyn.

Daar het toe uiteindelik geen sin uitgemaak om ons te laat sterf nie, het daar! Morts pour la Liberte C’etait vraiment bien la peine de nous faire tuer! Die spotprent deur Daumier dateer van 17 Augustus 1835.

Louis Philippe, hertog van Orleans en koning van Frankryk, 1830. Hier beeld Daumier hom uit as Gargantua, die reus, wat alles verslind en net nog meer beperkende wette aan die onderdrukte bevolking oplê. Die spotprent het Daumier in die tronk laat beland.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!