Klavier haal meer as 12 osse op Piet Retief se Grahamstad-veiling

Franse kunstenaar Honoré Daumier veg met sy tekenpen vir Vryheid
Augustus 16, 2013
Commendatio vir Vaders Zacharias van Wyk en Jacobus van der Riet
Augustus 27, 2013

Deur Marthinus van Bart

Die Trekkerleier Piet Retief (1780-1838) was ’n bouaannemer van nering voordat hy in die Oos-Kaap ook met vee begin boer het. Hy het onder meer sy suster, Debora, se spoggerige Kaaps-Hollandse herehuis op die plaas Weltevreden in die Stellenbosch-distrik gebou.

Die stewige pragwoning met die datum 1812 aan die voorgewel, staan vandag nog daar as getuienis van Retief se voortreflike vakmanskap.

Hy het die opstal aan die begin van daardie jaar voltooi, want einde April is hy vir die res van die jaar vir grensdiens na die Oos-Kaap, waar invallende Xhosas 456 plaashuise afgebrand, 350 opstalle leeggeplunder en 60 waens, 5 715 perde, 111 830 beeste en 161 930 skape geroof het.

Retief het self ’n plaaswoning en vee in een van die Xhosa-strooptogte in die Oos-Kaap verloor.

Op Grahamstad het hy getender om ’n drosdy vir die koloniale owerheid te bou. Hy het ook grond daar, op Albanië en in Port Elizabeth, gekoop omdat hy graag met vee wou boer. Sy tender is aanvaar en hy het ’n voorskot van 15 000 riksdaalders ontvang. Hy het die gebou opgerig, maar toe ’n muur ineengestort het ná langdurige, swaar reën en hy nog 7 859 riksdaalders geskuld is, het die aangeleentheid in die rondgaande hof gedraai. Hy het die saak egter verloor en moes sy besittings laat opveil om vir die skade en die regskoste te betaal.

Dié terugslag, asook die talle probleme wat die grensboere met die Xhosas en ’n vyandige Britse owerheid ondervind het, was vir Retief net mooi die laaste strooi, en hy het besluit om ook uit die Kaapkolonie weg te trek.

Dit is opmerklik dat onder die kopers op Retief se bankrotveiling op 9 Maart en 12 tot 14 April 1824 te Grahamstad, verskeie Britse offisiere en Britse Setlaars was. Sy Engelse hings, Tempest, wat lord Charles Somerset in 1816 laat invoer het en Retief later bekom het, het die hoogste bod van al die roerende goed gehaal, naamlik 5 500 riksdaalders.

Sy vrou, Lenie, se klavier het 400 riksdaalders behaal, dieselfde bedrag wat vir ’n perdewa betaal is. Vir 12 osse het hy 375 riksdaalders gekry, en vir 145 skape, 305 riksdaalders.

Vir sy woning en vyf erwe is 4 280 riksdaalders betaal, en vir die los goed altesaam 9 526 riksdaalders. Op 6 Oktober van dieselfde jaar is sy agt slawe vir 12 050 riksdaalders verkoop. Twee was huishulpe, twee messelaars, twee arbeiders, een ’n veewagter en een ’n kersemaker.

Sy woonerwe in Port Elizabeth is nooit verkoop nie, maar ná sy vertrek na Natal het die Brits-koloniale owerheid dit onteien.

Piet Retief het op 4 Julie 1814 met Magdalena Johanna (’n nooi De Wet), ’n weduwee met ses kinders, op Uitenhage getrou. Haar man, Jan Greyling, en een seun, ook Jan, is deur Xhosas vermoor. Drie van haar en Jan se babas is klein dood.

Twee van haar getroude dogters, Gertruyda en Maria, het onderskeidelik aan kraamkoors en hartversaking gesterf. Twee van haar en Piet se babas is ook klein dood.

In die Natalse moord-orgie van Februarie 1838 deur die impi’s van die Zoeloe-koning Dingaan op die Voortrekkers, het Lenie haar tweede man, Piet, haar seuns Pieter (Retief) en Abraham (Greyling), haar dogter Debora Jacoba (Retief), dié se eggenoot, Lucas Meyer, en hul kinders, die vrou en kinders van haar seun Jacobus Francois (Retief), asook al die kinders van haar dogter Magdalena Margareta, op grusame wyse verloor.

Piet Retief het die Weltevreden-herehuis naby Stellenbosch vir sy suster Debora opgerig. Dit is ’n nasionale gedenkwaardigheid.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!