FAK-konsert by Vryfees
Augustus 15, 2013
Franse kunstenaar Honoré Daumier veg met sy tekenpen vir Vryheid
Augustus 16, 2013

Sjeg Yusuf en sy gevolg kom in die VOC-seilskip Voetboeg in Tafelbaai aan.

Deur ANDRÉ VAN RENSBURG en MARTHINUS VAN BART

Vir Moslem-gelowiges is die belangrikste kramat of graftombe in Suid-Afrika dié van Abadin Tadia Tjoessoep, Sjaich Jusuf van Makassar, Indonesië, (1626–1699) op ’n granietkoppie in die Macassar-woonbuurt by Faure, Somerset-Wes. Hulle besoek die tombe graag om respek te betoon en hulde te bring aan die man wat in 1693 as politieke banneling die Islam na die Kaap gebring het.

Dit was in 2004 presies 300 jaar sedert die stoflike oorskot van die Kaapse Moslem-heilige sjeg Yusuf op 5 Oktober 1704 deur sy naasbestaandes na sy geboorteland, Indonesië, teruggeneem is. Hulle het in die VOC-handelskepe De Liefde en De Spiegel uit Tafelbaai onderweg na die Ooste vertrek en twee maande later daar aangekom. Op 6 April 1705 is sy oorskot in Makassar herbegrawe. ’n Kramat is later bo-oor die graf opgerig.

Tjoessoep is in 1626 in die hawestad Makassar, Indonesië, gebore. In 1644, op 18 jaar, het hy ’n pelgrimstog (hadj) na Mekka aangepak en ná ’n studietydperk van 20 jaar in geloofsake by sy terugkeer in 1664 in Goa gaan woon.

In dieselfde tyd het die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie, later bekend as die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC), Indonesië met geweld beset in ’n poging om die speseryhandel tussen die Ooste en Europa te beheer.

Bantam op die eiland Java in Indonesië.

Om die strategiese hawestede Makassar en Bantam te verkry, het die Nederlanders die konings van Goa en Bantam (in die ooste van Java) aangeval. In Suid-Sulawesi (Makassar) het die kompanjie met ’n politieke wigstrategie ’n bondgenootskap met die koninkryk van Bone gesluit sodat die koninkryk van Goa omvergewerp en Makassar beset kon word.

Yusuf is as raadgewer van die sultan Ageng en dié se jonger seun Pangeran Poerbaja aangestel. Hulle het voorkeur aan die Britse en Deense handelaars gegee, terwyl die oudste seun van die sultan, Abdul Kahar (sultan Hadj), ten gunste van handelsbande met die Nederlanders was.

Laasgenoemde het die tweespalt in die regerende huishouding uitgebuit en ’n oorlog tussen Hadj en sy vader aangeblaas. Die Nederlanders het ’n verskroeide-aarde-veldtog op Ageng se grondgebied gevoer sodat hy weens hongersnood gedwing sou word om te kapituleer.

Yusuf, ’n krygsman in die Agengkamp, het sy troepe van Makassar in ’n guerrillastryd teen die Nederlanders en die Hadji-kamp aangevoer. Laasgenoemde het ’n losprys van 1 000 riksdaalders op die hoof van Yusuf, Ageng en Poerbaja geplaas.

Omdat die volgelinge van Ageng die Nederlandse Christen-indringers as vyande van Islam beskou het en die oorlog as ’n heilige stryd (djihad), is Yusuf, ’n skrander en dapper krygsheer, ook as ’n heilige “opperpriester” en leier deur sy volgelinge beskou.
Die Nederlanders onder bevel van Van Happel en Ruijs het ’n dryfjag op Yusuf oor die hele eiland Java uitgevoer en hy is uiteindelik vasgekeer.

Ná sy gevangeneming in Februarie 1684 is hy eers in die kasteel in Batavia opgesluit voordat hy op 13 September van daardie jaar per seilskip, Coevorden, verban is na Ceylon, waar hy in ’n kasteel in Colombo opgesluit is.

Saam met hom in aanhouding was sy gevolg: 2 vroue, 2 diensmeisies, 12 heiliges, verskeie seuns en dogters, leerlinge en ’n aantal slawe. Van die Nederlanders het hy onderhoud van 24 riksdaalders per maand ontvang.

In 1694 is Yusuf, toe 68 jaar oud, na die Kaap die Goeie Hoop verban om hom weg van sy invloedsfeer te kry.

As jong man het Yusuf ’n pelgrimstog na Mekka, Arabië, onderneem. Sy daaropvolgende godsdienstige opleiding het hy onder verskeie Islamitiese geestelikes deurloop. Daarna is hy ook as geestelike leier bevestig.

Sy huwelike met dogters van geestelikes en koninklikes het sy status en invloed verder laat styg. Twee van sy vroue was dogters van geestelikes: Sitti Hadijah was die dogter van die imam Syafi van Mekka, en Daenta Kare Sitaba was die dogter van ’n sjeg van Djeddah.

Sy eerste vrou, Sitti Daeng Nisanga, was die dogter van die 14de koning van Goa. Haar graf is vandag langs syne in die kramat op Lakiung in Ujung Pandang (Makassar), Indonesië.

Nog ’n vrou was die dogter (of dalk ’n suster) van die sultan Ageng Tirtajasa van Bantam, Java.

Yusuf het as politieke en geestelike raadgewer in dié koningshuise gedien.

In die volksmond is twee verhale oor die herkoms van Yusuf: Een lui dat sy moeder, Amina, ’n dogter van die vroulike koninklike Gallarong van Montjong-lowe en Dapak Omara was. Omara het kort voor Yusuf se geboorte gesterf en die koning van Goa het met die weduwee getrou. So is Yusuf in dié koninklike huishouding gebore en opgevoed.

Die ander verhaal lui dat Yusuf die seun van Gallarong self was, en dat laasgenoemde met die koning van Goa getrou het. Die koning het Yusuf as sy eie seun beskou. Sy ander seuns, wat albei konings geword het, was Karaeng Bisei en Abd al Djalalik. Aan moederskant was Yusuf ’n kleinneef van koning Bisei van Goa. Deur sy huwelike het Yusuf die koningshuise van Goa, Makassar en Bantam verbind.

Tydens Yusuf se ballingskap van vyf jaar aan die Kaap ¬¬– hy het op 16 April 1694 in die VOC-seilskip Voetboeg in die Kaap aangekom en is op 22/23 Mei 1699 op Macassar, Faure, oorlede – het hy op ’n goeie voet met die indertydse goewerneur, Simon van der Stel, verkeer wat ook respek teenoor sy status as koninklike en geestelike leier betoon het. Van der Stel se moeder was ’n slavin van Mauritius.

Arthur Elliott se foto van omstreeks 1900 van ‘n vroeëre kramat oor Sjeg Yusuf se graf op Macassar, Faure.

Van der Stel het ’n stuk kompanjiesgrond aan die suidwestekant van die plaas Zandvliet, wat toegeken is aan ds. Petrus Kalden, aan Yusuf en sy gevolg van 49 mense toegeken. Hulle het dit Macassar genoem, na hul plek van herkoms, Makassar.

Yusuf het 12 riksdaalders per maand van die Kompanjie as toelaag ontvang. Volgens ’n Kompanjiesopgaaf was twee van sy vroue, Kare Kontoe en Kare Pane, twee diensmeisies en twaalf seuns en dogters, asook ’n ongenoemde aantal slawe, in Yusuf se gevolg aan die Kaap.

In ’n verslag van 19 Februarie 1697 het die koning van Goa die VOC se goewerneur-generaal in Batavia versoek om Yusuf na Indonesië te laat terugkeer. Dit is geweier omdat die Kompanjie gevrees het dat Yusuf se teenwoordigheid geweld opnuut sou laat uitbreek. Hy het ’n enorme aanhang gehad en die Moslembevolking het hom beskou as “een grooten heylig”. Verskeie soortgelyke versoeke in die daaropvolgende jare is eweneens deur die VOC geweier.

Ná Yusuf se dood in die nag van Donderdag op Vrydag 23 Mei 1699 in die ouderdom van 74 jaar, is hy in ’n nuwe graf op ’n granietkoppie op Macassar ter ruste gelê. Honderd treetjies is van onder na die kruin uitgekap. ’n Geboutjie is bo-oor die graf opgerig om as kramat of monument-tombe te dien.

Die reisiger Francois Valentijn het in 1705 op Zandvliet as gas van Kalden tuisgegaan. Kalden het hom na die kramat van Yusuf geneem, en Valentij het dit as ’n “pragtige, hoë Moslem-grafkelder” beskryf.

Luidens ’n beskrywing van biskop Patrick Raymond Griffith op 25 Januarie 1839 was die kramat ’n plat, vierkantige geboutjie met ’n portaalstoep. Deur ’n gleuf in een van die mure kon hy baie behangsels sien. Rondom die kramat was nog vyf of ses grafte, almal omring deur ’n lae muurtjie.

Op 13 Februarie 1862 het imam Abdol eiendomsoordrag van die kramat-gebied verkry en twee jaar later het die imam Wahab ’n aantreklike kramat bo-oor Yusuf se graf laat oprig. Die argitektuur daarvan was kenmerkend Midde-Oosters, met ’n sentrale koepeldak en vier koepelvormige ingange. Die Amerikaanse fotograaf Arthur Elliott het by die eeuwisseling rondom 1900 ’n foto daarvan geneem.

Teen 1913 was die kramat al baie vervalle, en dit is toe vervang deur ’n nuwe gebou. Hadji Sullaiman Shahmuhammed het die graf laat restoureer en ’n gedenksteen is op 22 Januarie daar opgerig. Die argitekte van die kramat was Franklin Kay Kendall en James Morris. In 1925 is dit deur ’n nuwe kramat vervang. Dié gebou, wat steeds daar staan, is op 19 Desember van daardie jaar deur sir Frederic de Waal ingewy. Die argitektuur is Midde-Oosters. Die sentrale koepel is 12 m hoog. Die bouer was R. Cane & Sons, en die argitekte, soos met die vorige gebou, Kendall & Morris.

Die huidige kramat oor sjeg Yusuf se graf op Macassar, Faure.

Hoewel die Moslem-historikus wyle dr. Achmat Davids dit jare lank sterk betwis het dat Yusuf se oorskot opgegrawe en na Indonesië weggeneem is – hy kon glo geen geskrewe bewyse van die opgrawing vind nie – het hierdie navorser (Van Rensburg) wel verskeie argiefdokumente opgespoor wat spesifiek aandui dat Yusuf se oorskot wel verwyder is. Dan is daar ook die bestaan van die kramat in Indonesië om dit te bevestig.

Uit die argiefdokumente blyk dat die Nederlandse owerheid aan die Kaap van tyd tot tyd toegelaat het dat die oorskot van verskeie gestorwe Maleise bannelinge per skip na Indonesië weggebring word vir herbegrafnis in die Ooste. Daar word byvoorbeeld in die Resolusies van die Kompanjie geboekstaaf dat die oorskot van Pangerang Loring Passir en van sy vrou in 1737 met die skip Clarabeek na Batavia teruggebring is.

Luidens die Resolusies van 30 Oktober 1698 het die Kompanjie toestemming gegee dat Yusuf se vroue, dogters en seuns onder 6 jaar na Indonesië terugkeer. Die ouer seuns moes egter aan die Kaap bly en Yusuf se slawe is tot Kompanjieseiendom verklaar.

Hoewel ’n aanvanklike versoek van 31 Desember 1701 dat Yusuf se oorskot opgegrawe en na Indonesië gestuur word, geweier is, is in ’n verslag van 26 Februarie 1703 deur die Here XVII gelas dat die sjeg se naasbestaandes én sy oorskot na Indonesië weggebring moes word.

Op 26 Februarie 1704 het die amptelike geskrewe instruksies van die VOC in die Kaap aangekom. Die weduwee van Yusuf, hul jong kinders en ander lede van sy gevolg moes toegelaat word om na Indonesië terug te keer.

Daar is ook bepaal dat die oorskot van Yusuf onopsigtelik opgegrawe moes word sodat die naasbestaandes dit kon saamneem. Voorsorg moes egter getref word dat ander Oosterse bannelinge nie ontsnap deur voor te gee dat hulle naasbestaandes van sjeg Yusuf is nie.

Op 5 Oktober 1704 het die twee VOC-skepe, De Spiegel en De Liefde, uit Tafelbaai onderweg na die Ooste vertrek. Aan boord was die naasbestaandes en ook die oorskot van sjeg Yusuf. Die skepe het op onderskeidelik 10 en 15 Desember in Batavia vasgemeer.

Die geskiedskrywer Abu Hamid skryf dat Yusuf se oorskot aan boord van De Spiegel was. Die skip het van Batavia na Makassar gevaar en die oorskot is op 5 April 1705 daar aan wal gebring. Dit is oornag in die paleis van die koning (rajah) van Goa gehou en talle mense het hul hulde kom betoon.

Op Dinsdag 6 April 1705 is Yusuf se oorskot op Lakiung in Ujung Pandang (Makassar) begrawe.

Die kramat van sjeg Yusuf in Makassar op die eiland Java in Indonesië

 

In die General Missiven van die VOC se Raad van Indië is op 30 November 1705 aangeteken dat die Indonesiërs groot waarde heg aan die beendere van Yusuf, wat deur sy weduwee teruggebring is. ’n Nuwe graf is daar gegrawe en hy is begrawe. Muntstukke, wierook en blomme is in eerbetoon gebring. Allerlei wonderwerke is aan hom toegeskryf en daar was selfs bewerings dat sy lyk ongeskonde was. ’n Aangehegte brief aan die owerhede lui: “… om onze vreugde te tonen en de Compagnie dank te betuigen voor de verleende gunst, nu Sjaich Jusuf in sijn geboortegrond begraven is en die leden van zijn familie hun land weer hebben moggen betreden. Zijn graf (aan die Kaap) wordt er, howel zijn lijk in 1704 naar Goa word teruggebracht, in hoge ere gehouden.”

Die binnekant van die kramat van sjeg Yusuf en Sitti Daeng Nisanga in Makassar, Java.

 

Bo-oor Yusuf se nuwe graf in Lakiung, Goa, is ’n kramat of ko’bang deur die Chinese bouer Dju Kian Kiu opgerig. Bo die ingang is ’n plaket aangebring met ’n inskripsie in Arabies, Latyn en Makassariaans, ’n Maleise dialek, om die kernbesonderhede van sy lewe te weergee.

Langs die graf van Yusuf is dié van sy eerste vrou, Sitti Daeng Nisanga. En rondom die kramat is die grafte van sy moeder, Amina, en nege van sy kinders.

Sjeg Yusuf se kramat by Laklung-Ujung-Pandang in Makassar op die eiland Java in Indonesië.

 

Hierdie begraafplaas, Tuanta Salamaka genoem, word deur Islam as heilig geag. Dit word jaarliks druk deur pelgrims van oor die hele wêreld heen besoek.

KRAMAT
Sjeg Joesoef van Makassar
Het vir sy volk gestry:
By Sandvliet in die duine Moes hy as balling bly.
Hier waar die dof-geel kruine
Sy graf skei van die see,
Het Joesoef vir die herder ’n Amulet gegee.
Toe hy verdwaal en verder
Die bosse in wou gaan,
Het Joesoef, in sy drome,
Skielik voor hom gestaan:
“Loop tussen daardie bome –
Neem hierdie ring as pand;
En môre sal jy hulle vind
Daar aan jou regterkant.”
Hier moes die dood jou bind
By sagte seegeluide,
Sodat jou graf kon word
Die Mekka van die suide:
Gebed-omringe fort.
Sjeg Joesoef, jy moes ly
Vir daardie ergste misdaad:
Jy’t vir jou volk gestry.

– I.D. du Plessis (uit: Mens en ster, Tafelberg, 1980)

* André van Rensburg se navorsingsbevindings oor die lewe en dood van sjeg Yussuf is in onderskeidelik die genealogiese publikasie Genesis en die Quarterly Bulletin van die SA Nasionale Biblioteek, Februarie 2003, deel 57, nr. 2, gepubliseer.

Die artikel hierbo het oorspronklik in Die Burger se bylae KultuurKroniek van 10 Julie 2004 verskyn.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!