Commendatio vir Vaders Zacharias van Wyk en Jacobus van der Riet

Klavier haal meer as 12 osse op Piet Retief se Grahamstad-veiling
Augustus 16, 2013
Moet je Engels kunnen om Afrikaans te verstaan?
Augustus 28, 2013

Dames en here,

Ofskoon dit gebruiklik is om ’n commendatio aan slegs een persoon te wy, word hierdie commendatio gelyktydig aan Vaders Zacharias van Wyk en Jacobus van der Riet gewy, vir redes wat weldra sal blyk.

In die inleiding van sy boek, Christ the Eternal Tao, skryf die Christelik-Ortodokse priestermonnik, Damaskenos, aangaande die bekende twintigste eeuse Amerikaanse Christelik-Ortodokse monnik, Vader Serafim Rose: “Growing up in the late 1940s and early 1950s… Fr. Seraphim rejected the modern American Christianity in which he had been raised… From the writings of the French metaphysician René Guénon, Fr. Seraphim had learned the necessity of adhering to the traditional, orthodox form of a religion. This … led him finally … back to the ancient, orthodox form of the religion he had rejected in his younger days.”

Die gedagte van iets soos ’n tradisionele, ortodokse vorm van ’n godsdiens val gewoonlik vreemd op die Afrikaanse oor. Die vernaamste rede vir hierdie vreemdheid is dat die Afrikaanse wêreld self ontstaan teen die agtergrond van die moderniteit se ontwrigting van die tradisie met ons bykans instinktiewe voorkeur vir die moderne wat daaruit volg. Danksy ’n aantal prominente Afrikaanse bekeerlinge tot die Katolisisme, soos Marthinus Versfeld, Karel Schoeman, Sheila Cussons en Cas van Rensburg, die sowat 300 000 hoofsaaklik bruin en grootliks onsigbare Afrikaanse Katolieke en, les bes, die Pous, is die Afrikaanse wêreld vaagweg bewus van een ouer vorm van die Christendom, maar hierdie bewustheid word gewoonlik nie juis deur welwillendheid onderskei nie. As dit kom by die oorspronklike Christelike kerk, naamlik die Ortodokse Kerk, is die Afrikaanse reaksie gewoonlik een van volslae onkunde, buiten vir ’n raaiskoot dat dit iets met die sogenaamde Griekse kerk te doen het.

’n Mens sou oor hierdie onkunde kon glimlag as dit nie so tragies en ontstellend was nie. Tragies en ontstellend omdat dit voorkom te midde van ’n ontsettende eietydse ontwrigting van die moderne vorm van die Christendom, naamlik die Protestantisme, wat saam met die Afrikaanse wêreld sy ontstaan in die moderne ontwrigting van die tradisie vind. Die felle, verwoestende debatte wat al meer as vyftien jaar oor die kerk en die politiek, die gesag van die Bybel, die posisie van vroue en homoseksuele persone in die Kerk, die Belhar-belydenis en wat nog woed, is alles tekens daarvan dat ook die Afrikaanse Protestantisme nie hierdie eietydse ontwrigting vryspring nie. In plaas van om soos Wes-Europa, Kanada en Australië die weg van sekularisasie te gaan, is die tekens daar dat die Afrikaanse wêreld Amerikaanse oplossings vir die krisis soek. Hierdie oplossings wissel van ’n charismatiese wending tot ’n hiperletterlike omgang met die Bybel tot bemarkingsaksies tot ’n vroom moralisme tot ’n liberale humanisme. Soos Ross Douthat in sy 2012-boek, Bad Religion, aandui, lei al hierdie strategieë tot ’n wegkalwing van die Christelike fondamente waarop die VSA gebou is. Hieroor bestaan nog nie eens ’n gesprek in Afrikaans nie, maar voorlopig is daar min tot geen rede om te glo dat hierdie Amerikaanse wending in die Afrikaanse Christendom enige ander gevolge as in die VSA sal hê.

Een van die alternatiewe op hierdie krisis is, soos reeds hierbo gesuggereer, om terug te keer na die tradisionele, ortodokse vorm van die Christendom. Dit is inderdaad die keuse wat hierdie twee baanbrekers van die Christelike Ortodokse Kerk in Afrikaans gemaak het. Hiermee sluit hulle aan – en dit is betekenisvol – by die groeiende Westerse ontdekking van en bekering tot die Ortodokse Kerk. Dit is ’n proses wat veral op dreef gekom het met die uitwyking van bekende Russiese Ortodokse Christene na die Weste ná die Russiese Rewolusie van 1917, wat uiteindelik die grootste vervolging van Christene sedert die pre-Konstantynse Romeinse Ryk tot gevolg had. As ’n mens kyk watter enorme gevolge die Afrikaanse vertaling van die Bybel vir die Afrikaanse wêreld had, kan ’n mens nie anders as om die enorme potensiaal van hierdie twee baanbrekers se werk op ’n krisisoomblik in die Afrikaanse geskiedenis te sien nie.

Die woord vertaling is hier van groot belang, en wel in drie opsigte. In die eerste plek gaan dit hier om die vertaling uit Grieks in Afrikaans van die letterlik derduisende gesange wat daagliks in die Ortodokse Kerk gesing word. Hierdie gesange het rofweg tussen die derde en die agste eeue ontstaan, en dit vorm sowat 95% van enige Ortodokse diens. Oor die afgelope dekade of wat het Vaders Zacharias en Jacobus reeds honderde van hierdie gesange vertaal, met Jacobus verantwoordelik vir die vertaling uit Grieks, en Zacharias vir die afwerking in Afrikaans.

In die tweede plek gaan dit hier om die musikale verwerking van hierdie gesange in Afrikaans, hoofsaaklik volgens die Russiese Ortodokse musiektradisie. Vader Zacharias het meer as ’n dekade gelede die deurbraak gemaak om te ontdek dat die Russiese musikale struktuur besonder goed met Afrikaans harmonieer, en ook sodoende die klassieke Christelike ideaal van skoonheid help vestig met die wonderskone Afrikaanse liturgiese musiek wat sodoende ontstaan het.

In die derde plek gaan dit om die begeleiding van nuwe Afrikaanse bekeerlinge tot die Ortodoksie na ’n liturgiese lewenspraktyk wat vir die meeste van hulle totaal nuut is. Met ander woorde, hierdie twee priesters is ook vir meer as ’n dekade reeds besig met ’n proses van kulturele vertaling, wat veral neerslag vind in die duisende dienste wat hulle al die afgelope dekade of meer veral in die Wes-Kaap en Gauteng, maar ook elders landwyd gelei het.

Wat hulle prestasie des te merkwaardiger maak, is dat dit geskied teen die agtergrond van negatiewe faktore soos ’n feitlik volslae openbare onbewustheid van hulle werk; vyandigheid of onkunde van etnosentriese, tradisionele Ortodokses; en die sukkelbestaan wat vertaling vanuit ander tale na Afrikaans vandag oor die algemeen voer.
BC-8226

Vader Zacharias is in 1946 gebore uit ’n familie wat heelwat predikante opgelewer het. Hy het grootgeword op Cradock, filosofie aan die Universiteit van Pretoria studeer, in die parlementêre taaldiens gewerk en hom later aan Rhodes-universiteit onder leiding van die groot Afrikaanse fenomenologiese sielkundige, Dreyer Kruger, as sielkundige bekwaam. Hy wy hom reeds die afgelope sowat tien jaar feitlik uitsluitlik aan die vestiging van die Afrikaanse Ortodoksie, met die Ortodokse Afrikaanse gemeenskap van die Heilige Maria van Egipte te Robertson as basis.

BC-8225

Vader Jacobus van der Riet is in 1960 gebore. Ná die afsterwe van sy vader, verhuis hy in 1965 saam met sy moeder en sy broer na Stellenbosch, waar hy later agt jaar lank in die teologie en die Grieks studeer. Ná sy studies doseer hy onder meer aan die universiteite van Suid-Afrika en die Witwatersrand Grieks, terwyl hy ook in die hospitaalbediening van die VGK staan. In die laat jare negentig onderneem hy ’n graad in Ortodokse teologie aan St Tikhon’s Ortodokse seminarium in Pennsilvanië, die VSA en bring ook meer as ’n jaar in ’n Ortodokse klooster in Griekeland deur, waar hy onder meer eietydse Grieks en die Bisantynse Ortodokse musikale tradisie instudeer. Hy stig sowat ’n dekade gelede ’n Afrikaanse Ortodokse sendinggemeenskap in Eldoradopark en bedien ook Ortodokse gemeenskappe te Germiston, Rustenburg en Bloemfontein.

Vir die sonderlinge bydrae wat hierdie twee priesters tot die Afrikaanse Christendom en haar toekoms lewer, is dit nou vir die FAK ’n voorreg om ’n toekenning vir besondere kultuurprestasie aan elkeen van hulle te oorhandig.
25 Augustus 2013

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!