Eerste Bybel ontvang: Plegtige pomblik in Geskiedenis

Vrystaatse Jeugkoor herleef in 2014
September 12, 2013
Afrikaans en die brontaal
September 12, 2013

deur Otto du Plessis

Die Burger,  2 Junie 1933

Dit was ’n plegtige oomblik waarop die eerste Afrikaanse Bybel gisteroggend namens die komitee van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap aan prof. E.E. van Rooyen oorhandig is as verteenwoordiger van die vertalers.

Ds. F.X. Roome het die samekoms gelei, en daarop gewys dat dit ’n uiters belangrike dag is in die geskiedenis van Suid-Afrika om vir die eerste keer die Bybel in eie taal te sien.  Gans die bevolking juig daaroor.

Vervolgens het hy een van die nuwe Bybels aan prof. Van Rooyen oorhandig.

“Vandag,” het hy gesê, “kan ek met nog ’n bedoeling sê, God heeft ons Zijn Woord gegeven.”

Van Riebeeck se aankoms
Namens die eindvertalers het prof. Van Rooyen die Bybel ontvang.

“Ek staan met huiwering op om iets te sê”, het hy verklaar.  “Die dag is vir my nie minder histories as 16 April 1652 nie. Toe het Van Riebeeck die land oopgestel, vandag gee ons aan Suid-Afrika sy eie Afrikaanse Bybel.

“Maar die Bybel kom ook op die psigologiese juiste tydstip.”

Nederlands het al lank begin vreemd word vir die Afrikaners, veral ook omdat die Afrikaanse taalbeweging, wat 50 jaar gelede begin is, al soveel veld gewen het. Wat ons taal betref moet hy ook sê soos die ou kruisvaarders toe hulle op hul togte uitgegaan het:  “God wil dit.”

In verband met die vertaling self, het hy daarop gewys dat dit met ’n minimum van kragte gedoen is vanaf 1926, toe hy daarmee begin het.  Die ou Engelse “Revised Version” het sowat 50 mense tien jaar besig gehou, en hier moes vyf vertalers en vier taaladviseurs die taak binne sewe jaar volbring.

Die moeilikhede

Tog het hulle met hoë idealisme begin. Hul wou wetenskaplik juis wees en taalsierlik in hul vertaling. Daarin het hul groot moeilikhede ondervind.  Afrikaans is nl. nog nie mooi vloeibaar nie, daar is geen Afrikaanse woordeboek van gesag nie, en die vertalers het nie soos die makers van die Statebybel almal bymekaar gewoon nie.  Hul kon net in die lang vakansies saamkom en vergelyk.

Hy is God dankbaar dat hy nog die heuglike dag mag beleef, en waardeer die hulp van almal wat die onderneming tot welslae gevoer het, veral ook mnr. H.J. Otto en die Genootskap, wat die drukwerk vergemaklik het. Soos die ou Statevertaling vormend was, hoop hy dat ook die Afrikaanse vorm en rigting sal aandui.

Namens die Gereformeerde Kerk het ds. C.W.M. du Toit, ook sekretaris van die dagkommissie van die vertalers, sy blydskap uitgespreek oor die gebeurtenis.  Nie alleen het sy vader die eerste begin met vertaling nie, maar die samewerking hierin gedurende die laaste jare het ook die twee kerke baie nader aanmekaar gebring.

Die Engelse biskop
Biskop S.W. Lavis het vervolgens die mening uitgespreek dat alle dele van ons saamgestelde bevolking sal juig oor die dag van sulke groot nasionale betekenis.  Hy glo dat die besit van so ‘n heilige Boek ook nuwe eerbied sal bring vir die naam van God.

Die samekoms is ook bygewoon deur ds P.G.J. Meiring, redakteur van Die Kerkbode, eerw. A. Dreyer, mnr. H.J. Otto, ds. F.S. Malan en dr. N.J. van der Merwe, L.V.  By almal aan wie dank toekom vir hulp, het dr. Van der Merwe, wat ook drie jaar lank gehelp het met die vertaling, ’n spesiale woordjie gebring aan die Bybelgenootskap, wat tog die drukwerk onderneem het, ondanks die feit dat vooraanstaande manne in Suid-Afrika dit die Genootskap destyds afgeraai het.

Die eerste besending Bybels, 5 000 in getal, is almal bestel en betaal, terwyl daar nog bestellings vir ongeveer 2 500 wag. Die volgende besending word aanstaande week verwag, sodat mense wat dadelik eksemplare wil hê, onmiddellik sal moet bestel. Almal is halfkroon-uitgawes.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!