Jong Voortrekkers van Wes-Kaap trek in Paarl saam om van ABO te leer
September 12, 2013
Sarie Marais – die liedjie
September 12, 2013

M.W. Pretorius word gewoonlik in die Afrikaanse geskiedskrywing deur sy pa, Andries Pretorius, oorskadu. Tog het M.W. Pretorius ’n deurslaggewende rol in die vestiging van die Boererepublieke gespeel. Die vestiging van nuwe state in pioniersomstandighede is nie sulke boeiende historiese gebeure soos oorloë of volksverhuisings nie, maar is tog noodsaaklik in die oorgang tot gevestigde, moderne samelewings. Die loopbaan van M.W. Pretorius gee ’n interessante kykie op hierdie proses.

Biografiese gegewens
Marthinus Wessel Pretorius is op 17 September 1819 as die oudste seun van Andries Pretorius en Christina Petronella de Wit gebore. Hy was dus ongeveer 19 jaar oud toe hy saam met sy ouers aan die Groot Trek deelgeneem het. Toe Pretorius senior aan die einde van 1838 voor die res van sy geselskap uitgetrek het om die strafkommando teen Dingaan te lei, het M.W. Pretorius saamgegaan. Hy was dus een van die krygers by Bloedrivier.

M.W. Pretorius vestig hom in 1839 in die omgewing van Pietermaritzburg, waar hy in 1841 met Aletta Magdalena Smit getroud is. Die egpaar het ’n dogter, Christina Johanna Petronella, gehad. In 1848 is die Republiek van Natalia deur die Britse Ryk geannekseer. Andries Pretorius probeer eers om hom met die nuwe bedeling te versoen, maar toe hy later na die omgewing van Potchefstroom vertrek, trek M.W. en sy jong vrou en dogter saam.

Andries Pretorius was kommandant-generaal van die distrikte Potchefstroom en Rustenburg toe hy in 1853 oorlede is. M.W. het hom in dié pos opgevolg. Die omstandighede in dié distrikte, sowel as die ander wat later die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) of Transvaal, sou uitmaak, word in die volgende afdeling bespreek. Hier word genoem dat die gebied se onafhanklikheid in 1852 erken is, maar dat dit eers in Desember 1856 tot ’n republiek saamgesmelt het.

In 1857 word M.W. Pretorius tot president van die nuwe ZAR verkies en in 1859 ook tot president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat (OVS). In 1863 bedank hy as Vrystaatse president, omdat sy presidentskap van die ZAR te veel aandag geverg het. Daar is hy in 1864 tot president herkies. In 1871 verloor die ZAR, deels as gevolg van sy hantering van die saak, hulle aanspraak op die diamantvelde van die benede-Vaal-gebied. Hy bedank as president en tree vir die volgende aantal jare op die agtergrond.

Met die anneksasie van die ZAR deur die Britse ryk in 1877 tree hy weer na vore. Toe die Boere eensydig ’n nuwe regering in die lewe roep, is hy saam met Paul Kruger en Piet Joubert die driemanskap wat oor die land moes regeer. In daardie amp het hy tot in 1883 gedien.

Na Paul Kruger in 1884 alleen president van die ZAR geword het, het Pretorius die openbare lewe verlaat. Hy vestig hom in Potchefstroom, waar hy tot met sy dood op 18 Mei 1901 woon.

Openbare lewe
M.W. Pretorius se openbare lewe begin met die afsterwe van sy pa in 1853. Dit het ’n besonder moeilike mantel op sy skouers laat val. Kom ons kyk eers hoe het die dele, wat later as die twee Boererepublieke sou bekend staan, in 1853 gelyk.

Die Voortrekkers het hulle in die distrikte Winburg, Potchefstroom, Rustenburg, Lydenburg, Utrecht en Soutpansberg gevestig. Winburg was die noordelike deel van die Vrystaat, Potchefstroom van die Wes-Transvaalse hoëveld, Lydenburg op die Oos-Transvaalse platorand, Utrecht in die Suidoos-Transvaal, net noord van Zoeloeland, en Soutpansberg aan die voet van die Soutpansberge in die Verre-Noord-Transvaal.

Hoewel Potgieter Potchefstroom en Lydenburg gestig het, het hy op daardie stadium in Soutpansberg gewoon. In Potchefstroom en Rustenburg was daar nog heelwat van sy volgelinge, hoewel Pretorius die sterkste steun gehad het. Winburg het Pretorius sterk gesteun. Lydenburg en Utrecht is deur Voortrekkers uit die ander geselskappe bewoon. Hulle wou aanvanklik niks met die ander distrikte te doen hê nie.

Die blanke bewoners van die Suid-Vrystaat was oor die algemeen trekboere en nie Voortrekkers nie. Dit beteken dat hulle die Kaapkolonie net ter wille van weiding verlaat het. Hulle was lojaal aan die Britse ryk en wou niks van ’n onafhanklike republiek weet nie.
Hoewel die gebied noord van die Vaalrivier met die Sandrivier-konvensie onafhanklikheid van Brittanje gekry het, het hulle nog nie daardeur ’n staat geword nie. Dit sou hulle self tot stand moes bring. Potchefstroom en Rustenburg het Andries Pretorius as kommandant-generaal aangestel, maar die ander Transvaalse distrikte wou nie sy gesag aanvaar nie. Winburg was steeds onder Britse gesag.

Met sy pa se dood, was dit M.W. Pretorius se onbenydenswaardige taak om die Voortrekkers tot ’n eenheid saam te snoer. Ingevolge die Sandrivier-konvensie het hy hom by die gebied noord van die Vaalrivier bepaal. Hy het besef dat simbole vir ’n nuwe staat tot stand gebring moes word.

Nie een van die distrikte sou bereid wees om ’n ander se dorp as hoofstad van ’n nuwe republiek te aanvaar nie, daarom wou hy ’n nuwe dorp aanlê. In 1853 het hy ’n deel van die plase Elandspoort en Daspoort aan die walle van die Apiesrivier gekoop met die doel om ’n hoofstad daar aan te lê. Die stad is in Desember 1855 amptelik gestig en Pretoria Philadelphia, ter ere van Andries Pretorius, genoem. Dit is later tot Pretoria verkort. In 1860 het die volksraad dié dorp tot hoofstad van die Zuid-Afrikaansche Republiek verklaar.

Nog ’n belangrike stap na eenwording was die skryf van ’n grondwet, wat vir al die distrikte aanvaarbaar sou wees. Dit sou hulle in ’n republiek met ’n volksraad en president saamsnoer, maar ook ’n deel van hulle selfstandigheid kos. In 1856 het Pretorius, wat bitter min formele opleiding gehad het, leiding met die skryf van ’n grondwet geneem. Dit is deur Potchefstroom, Rustenburg en die nuwe distrik van Pretoria aanvaar. So het die Zuid-Afrikaansche Republiek tot stand gekom. In 1857 is M.W. Pretorius tot president daarvan verkies.

Ook in 1856 het die distrik Lydenburg hulle eie republiek gestig. Dit het in 1857 by die Republiek van Utrecht aangesluit. Hierdie verenigde republiek het in 1860 by die ZAR aangesluit. Soutpansberg moes intussen ontruim word, weens vyandigheid van omliggende stamme. Alle Voortrekkers noord van die Vaalrivier was dus in een republiek verenig, iets waaraan Pretorius baie hard gewerk het.

Vir Pretorius was dit vanselfsprekend dat die Vrystaat, wie se onafhanklikheid in 1854 met die Bloemfontein-konvensie erken is, deel van die verenigde republiek moes word. Die ideale geleentheid om dit te verwerklik, het in 1859 gekom toe president J.N. Boshof van die Vrystaat bedank het. Pretorius is tot president van die Vrystaat verkies en was vol vertroue dat eenwording spoedig sou volg.
Vir Pretorius was sake moeiliker as wat hy verwag het. Hy kon nie vrede met die Basotho’s bewerkstellig nie en boonop was nie alle Transvalers gediend met sy aanvaarding van die Vrystaatse presidentskap nie. Stephanus Schoeman, nuwe leier van die Potgieter-groep, het openlik in opstand gekom, sodat burgeroorlog gedreig het. In 1863 het hy daarom as Vrystaatse president bedank en hom op versoening in die ZAR toegespits. In 1864 is hy tot president van die ZAR herkies, maar die ideaal van eenwording met die Vrystaat was verlore.

In die jare wat hierop gevolg het, het Pretorius gepoog om die ZAR se finansies te verbeter. Deel hiervan was om ’n uitgang na die see te verkry, deur grondgebied tot aan die Indiese Oseaan uit te brei. Hier het hy hom teen Portugal vasgeloop. Verder het hy nie besef dat dit in die ZAR se belang sou wees om ’n meer kompakte geografie te hê nie, maar eerder probeer om die grense in alle moontlike rigtings uit te brei. Na die noorde het hy met stamhoofde onderhandel om grond noord van die Limpopo, maar Britse protes het dit beëindig.

Na die suidweste het hy op alle grond noord van die Vaalrivier, tot met die samevloeiing met die Oranjerivier, aanspraak gemaak. Van daar het hy ’n lyn reguit noord getrek, tot bykans so ver as die noordelike deel van die Limpoporivier. So het hy aanspraak gemaak op ’n groot deel van die huidige Botswana en die Noord-Kaap. Hierdie gepoogde uitbreiding is met die ontdekking van diamante beëindig. Paul Kruger sou hierdie pogings later hervat, maar met beperkte sukses.

Die ontdekking van diamante in 1870 in die omgewing van die westelike deel van die Vaalrivier, het alles in suider-Afrika verander, veral vir M.W. Pretorius. Waar sy westelike grondaansprake tevore nie veel aandag getrek het nie, het verskeie groepe na die ontdekking daarop aanspraak gemaak. Brittanje, wat elders nie geskroom het om swart stamme se grond oor te neem nie, was skielik die stamme met aansprake in diamantgebiede se groot beskermer.

’n Hele reeks botsende aansprake het sake in die diamantvelde aansienlik bemoeilik. Terwyl die delwers óf onder Britse gesag, óf onder hulle eie gesag wou wees, het die ZAR, die Vrystaat, Griekwas en Tswana-stamme elk op sekere dele aanspraak gemaak. Nie die Kaapkolonie of die Britse ryk het geloofwaardige aansprake gehad nie, sodat Britse ryksbouers besluit het om Griekwa- en Tswana-aansprake te steun. Soos dit later sou blyk, was dit slegs omdat hulle makliker die grond van dié groepe as van die Boererepublieke sou kon oorneem.

Die Britse voorstel was arbitrasie, met die luitenant-goewerneur van Natal, John Keate, as arbiter. Arbitrasie is wanneer strydende partye instem om ’n onverbonde persoon as regter te betrek. Al die partye onderneem om hulle by die arbiter se besluit te berus. Die Vrystaatse president, Jan Brand, het geweier om sy aansprake aan arbitrasie te onderwerp, omdat Keate volgens hom nie onverbonde was nie. Pretorius het egter ingestem, en dit sonder om sy volksraad te raadpleeg. Boonop was hy nie op hoogte met die regsprosedure van arbitrasie nie en die saak van die ZAR is uiters gebrekkig hanteer.

Die arbiter se uitspraak het albei republieke se aansprake op dele van die diamantvelde verwerp. Die Vrystaat kon die saak verder voer omdat hy nie die arbiter se gesag aanvaar het nie, maar vir die ZAR was daar geen genade nie.

Pretorius se gewildheid het oornag getuimel. Transvalers wou ook ’n “geleerde” president, soos die Vrystaat, hê. Hy moes bedank en is deur ’n predikant wat uit die Kaapkolonie ingevoer is, Thomas Francois Burgers, vervang.

Vir die volgende jare hoor ’n mens bitter min van M.W. Pretorius. Wanneer sake so agteruitgaan dat die Britse owerheid die ZAR annekseer, tree Pretorius weer na vore as deel van die weerstand daarteen. President Burgers, ’n man van moderne en liberale opvattings, het heelwat steun onder Transvaals burgers verloor. Die militêre leier, Paul Kruger, het so sterk van Burgers verskil dat hy geweier het om sy opdragte te gehoorsaam. ’n Oorlog teen die Bapedi in die Lydenburg-omgewing het die hele republiek gedestabiliseer en Brittanje het gevrees dat die hele Suider-Afrika daaronder kon lei. Dit het tot die anneksasie in 1877 gelei.

Burgers se protes teen die anneksasie het op dowe ore geval en hy is as ’n gebroke man terug Kaap toe. Die leiers wat tydens die opbou van weerstand na vore gekom het, was “Seuns van die Land”, soos die burgers mense wat in die republiek gebore is, verwys het. Dit was die twee nuwelinge Paul Kruger en Piet Joubert, maar ook M.W. Pretorius. Hy het statuur aan die twee minder ervare mans se leidingverleen.

Met die uitbreek van die Eerste Vryheidsoorlog in 1880 is ’n Driemanskap aangestel om saam oor die land te regeer. Met die Pretoria Konvensie in 1881 het hulle formeel die leisels oor die land in hulle hande geneem, totdat Paul Kruger in die presidentsverkiesing van 1883 tot Staatspresident verkies is.

M.W. Pretorius het van daardie punt af hom weer in sy private lewe teruggetrek. Hy was ’n geëerde burger van die republiek, maar het nie meer aktief aan die politiek deelgeneem nie. In 1901 is hy in Potchefstroom oorlede.

Slot
Geskiedkundiges se oordeel oor MW Pretorius is nie almal dieselfde nie. Sommige lê daarop klem dat hy die grondslae vir die ZAR gelê het, terwyl ander meer op sy ambisieuse en dikwels ondiplomatiese, selfs twisgierige, geaardheid klem lê. Wie ook al reg is, hy het ’n belangrike leiersrol gespeel in ’n tyd wat leiersfigure in die ZAR bitter skaars was.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!