De Bijbel in het Afrikaans
September 12, 2013
FAK Rivierplaas
September 12, 2013

Twee mylpale in die Afrikaner se geskiedenis word vanjaar herdenk: Die Groot Trek 175 jaar gelede en die Nasionale Vrouemonument wat ’n eeu oud is. Albei herinner aan die prys wat die Voortrekkers betaal het in hul strewe na vryheid, ’n prys wat geen geslag mag vergeet nie, sê dr. Danie Langner.

Tussen Estcourt en Colenso in KwaZulu-Natal staan die amper vergete Bloukransmonument ter nagedagtenis van die 812 Voortrekkers wat in die nag van 16 Februarie 1838 vermoor is.

Die eenvoudige, regop obelisk-struktuur in die distrik Weenen herdenk die gebeure toe die Zoeloe-impi’s van Din¬gaan die niksvermoedende Voortrekkers van die laers langs die Bloukransrivier en Moordspruit oorval en vermoor het.
Dit was ’n opvolg-aksie ná die massamoord op die Trekkerleier Piet Retief en sy geselskap van 100 man in die koningstad, uMgungundlovu.

By die hoeksteenlegging op 16 Februarie 1895 is die oorskot van die 185 kinders, 40 mans, 56 vroue en 531 bruin en swart dienswerkers wat uit hul grafte opgegrawe is onder die hoeksteen herbegrawe.

Die plegtigheid is waargeneem deur die kommandant-generaal van die Zuid-Afrikaansche Republiek, Piet Joubert. Dit is deur sy toedoen dat die monument beplan en geld daarvoor ingesamel is.

Die monument, onthul op 17 Februarie 1897, is een van die oudste Voortrekkermonumente in die land en ook die eerste gedenkteken wat opgerig is vir geweldslagoffers. Een van hulle was Alexander Biggar, seun van ’n 1820-setlaar. Die gesinne Liebenberg, Bezuidenhout, Prinsloo en Botha is uitgewis.

Aan die suidekant van die monument van marmer en sandsteen is gegraveer: “Ter gedachtenis aan de Voortrekkers te Moordspruit vermoord. Zij kochten ons land met hun bloed; 17 Februarie, 1838. Die Heere regeert. Psalm 97:1”.

En aan die noordekant lui die bewoording: “Opgericht door de Afrikaanders in Natal in ootmoedige erkentenis, 17 Februarie 1897. Die zijn volk door de woestijn geleid heeft, want zijne goedertierenheid is in der eeuwigheid. Psalm 136:16”.

Die beeldhouer wat die monument uit Carrara-marmer geskep het, was prof. Niccoli y Manfredi van Italië.

Monument bestaan ‘om liefde te bevorder’
Die jaar 1895 was ook die aanvangsjaar van die oorlog tussen Brittanje en die Boererepublieke wat van 1899 tot 1902 sou duur.
Die mislukte Jameson-inval, van einde Desember 1895 tot 1 Januarie 1896, in die ZAR was die voorspel tot die allerverwoestende driejarige oorlog wat eers op 31 Mei 1902 ten einde geloop het.

Die Nasionale Vrouemonument wat op 16 Desember 1913 in Bloemfontein onthul is, herinner aan die tragiese gevolge van die Engelse se verskroeide-aarde-beleid waarin sowat 4 000 Boerevroue en 24 000 Boerekinders in konsentrasiekampe gesterf het.

Byna dieselfde getal swart en bruin landsburgers is dood in soortgelyke Britse kampe weens honger, siekte en ontbering.

Toe die Vrouemonument onthul is, het oudpres. M.T. Steyn van die Oranje-Vrijstaat gesê: “Hierdie monument staan nie hier om haat aan te wakker nie, maar om liefde te bevorder, want ek sien die dag kom dat elke deel van die Suid-Afrikaanse volk – van watter oorsprong dit ook al mag wees, as dit met die ware Suid-Afrikaanse gees besiel is – die deugde wat deur hierdie monument verewig is as sy gemeenskaplike erfdeel sal beskou.”

Prof. M.C.E. (Tienie) van Schoor het die Vrouemonument beskryf as “ ’n gedenkteken van ewige hoop. Daarvan getuig die naald wat na bo wys. Terselfdertyd is dit ook ’n herinnering aan menslike worsteling en lyding.”

Ewige soeke na geregtigheid
Hierdie twee monumente herinner aan die prys wat die Voortrekkers, hul kinders en kindskinders oor ’n tydperk van 64 jaar vir hul vryheidstrewe moes betaal.

Dit is ’n prys wat geen geslag mag vergeet nie. Die slagoffers het immers hul ¬lewe óók vir die vryheid van die huidige geslagte opgeoffer. En is die ideaal van vryheid dan nie een van die hoogste ideale wat selfbewuste kultuurgemeenskappe kan nastreef nie?

In die woorde van Laurika Rauch: “Onthou om te onthou en vergeet om te vergeet.”

Die twee vermelde monumente is ook ’n herinnering aan die ewige soeke na geregtigheid. As in gedagte gehou word dat geregtigheid van die klassieke tye af verstaan is as die vraag hoe elkeen tot sy reg kan kom, het sowel die Groot Trek as die Anglo-Boereoorlog rondom hierdie vraag gedraai.

Ten diepste het hierdie dramatiese gebeure gehandel oor die vraag hoe die Afrikaners as kultuurgemeenskap tot hul reg kan kom anderkant die ekonomiese, kulturele en politieke voorskriftelikheid van die Kaapse owerhede en die Britse Ryk.

Genoemde gebeure illustreer ook dat die soeke na geregtigheid nooit afgesluit word nie. Geregtigheid is ’n ewige op¬gawe. Daarom het NP van Wyk Louw geskryf van die “dieper reg”.

Elke geslag moet opnuut vra hoe hierdie dieper reg – dit is die reg anderkant die gewone regte en pligte van elke bestaande orde – konkreet beslag kan kry.

Ook vandag weer. Die vraag hoe die veelheid van gemeenskappe (in hul uniekheid en in hul samehang) tot hul reg kan kom, is immers steeds ’n brandende kwessie.

Die monumente herinner ons daaraan dat die Voortrekkers én die latere Boere-republieke aan die huidige geslagte ’n roemryke voorbeeld in hierdie verband gestel het. En ook aan die soeke na vrede, orde en harmonie.

Die Voortrekkers het die binneland ingetrek met die doel om orde te skep waar daar geen orde was nie; vrede te bring waar wanorde dikwels die botoon gevoer het; harmonie waar chaos dikwels geheers het; geluk waar ongeluk die pas aangegee het. In en deur hul dade in uiters moeilike omstandighede, herinner ons voorgeslagte ons daaraan dat hierdie dinge ook vandag moontlik is.

SA skuld kinders ’n beter toekoms
Ons voorouers is ook ’n herinnering aan die verantwoordelikheid wat Afrikaner-ouers teenoor hul kinders het.

Kinders gaan vandag nie net gebuk onder ekonomiese uitdagings nie, maar ook onder uitdagings wat ideëel en geestelik van aard is: Onsekerheid oor hul taal- en kultuurtoekoms; onsekerheid of hulle die geestelike uitdagings van die tyd op ’n verbeeldingryke en nadenkende wyse kan antwoord; en talle ander uitdagings.

Soos wat ouers in vroeëre geslagte hierdie verantwoordelikheid aanvaar het, so moet dit vandag weer gedoen word. Suid-Afrika skuld sy kinders ’n beter toekoms.

Laastens deel baie Afrikaners die twee monumente se belydenis: Die Here regeer en daarom het ons hoop vir die toekoms.

* Dr. Danie Langer is hoofleier van die Voortrekker¬beweging en uitvoerende hoof van die Federasie vir Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK).

0 Comments

  1. J.J. van den Heever sê:

    Ek wonder net waar is ons op pad heen met leiers wat ook lyk of hulle ook nie mooi weet waar hulle heen wil nie.Dankie tog dat ons n Vader het
    waar ons heen kan gaan.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!