E-nuusinsetsel oor die Viertrek Groot Trek
September 17, 2013
Toekoms in eie taal – ’n Risiko-ontleding van die Afrikaanse taalgemeenskap en vertrekpunte vir ’n taalstrategie
September 19, 2013

Die agt viertrek-waens en sleepwa van die trekkers wat die Groot Trek 175 jaar gelede gedenk, het gister die gedugte Winterberge, die eerste groot uitdaging op die spore van die trekleier Piet Retief na KwaZulu-Natal, getem.

Die trektog, onder die vaandel van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), het gister in alle erns van Retiefspos (Post Retief) begin en die 34 “trekkers”, van wie die jongste skaars ‘n jaar oud is en die oudste 65, is die eerste groep om hierdie roete te volg.

Die 175 jaar oue waspore teen die voetheuwels van die bergreeks is plek-plek nog duidelik sigbaar, en die swaargelaaide Hilux- en Fortuner 4x4’s het op hierdie spoorstreep teen die steiltes van Emerald Hill uitgekruie.

Hoog teen die hange het die groep ‘n eeue-oue grensdraad (dis in 1896 gespan) geknip (toestemming hiervoor is vooraf gekry) om die spoor tot op die kruin te kan volg. ‘n Monumentjie om die trek te gedenk, is hier opgerig en daarna is die draad herstel.

Vandaar het die konvooi grondpad-langs deur die kronkelende vallei langs die Katrivier en later die Klaas Smit-rivier tot naby Queenstown gery en toe oor Sterkstroom en Jamestown om laatmiddag hul bestemming in Aliwal-Noord te bereik.

“Vandag se tog het ons duidelik bewus gemaak van die uitdagings wat die eertydse trekkers in die gesig gestaar het,” het Gerhard Groenewald, die gedenktog-“trekleier” gesê.

“Ons moes die hele roete bergop op die ou waspore in laestrek-4×4 ry, en op plekke het ons swaargelaaide bakkies gesukkel om deur die spoelslote te krink. As óns dit moeilik gevind het, dink net hoe dit moes wees vir Piet Retief en sy geselskap om met menige ossewaens en groot troppe beeste en skape teen hierdie steiltes uit te trek.”

Volgens dr. Danie Langner, hoof van die FAK, word die moed en wilskrag van die Voortrekkers van weleer met elke dag van die gedenktog duideliker. “Kyk jy van die kruin van die Winterberg af na die steil hange waar die waspore lê,  besef jy opnuut hoe vasbeslote hierdie mense moes gewees het om willens en wetens, sonder enige waarborg van ‘n volhoubare toekoms, hierdie tog aan te durf…”

Die tog word moontlk gemaak deur vennote soos 4×4 Megaworld, wat kampeer- en ander 4×4-toerusting verskaf, Goodyear, wat Wrangler-bande vir die Toyota Hilux- en Fortuner-voertuie gegee het, Jurgens-waens, en National Luna, wat beligting en yskaste voorsien het.

Die viertrekvoertuig-Trek sal later as dokumentêre program op kykNET uitgesaai word. Die tog kan op verskeie webwerwe en aanlyn-platforms gevolg word, onder meer op die FAK se webtuiste www.fak.org.za, Klipbokkop 4×4 se webtuiste www.klipbokkop.co.za, asook op verskeie media-netwerke en -publikasies se webtuistes, onder meer www.kyknet.co.za, www.weg.co.za en www.wegry.co.za.

Vir meer inligting oor die gedenktrek, kontak vir Gerhard Groenewald by info@kbkm.co.za of 082 4116998.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!