In die harem van Silkaats was twee Voortrekkermeisies. . .

Seevaarder Bartolomeu Dias was ook pionier van die transatlantiese slawebedryf
September 19, 2013
Foto’s van die Viertrek Groot Trek
September 21, 2013

Deur Marthinus van Bart

Die Zoeloe-rebel Mzilikazi (Silkaats) wat in opstand gekom het teen die Zoeloekoning, Tsjaka, en toe met sy volgelinge na die noordweste van Suid-Afrika moes vlug, het in sy vlugpad duisende inheemse mense vermoor en hul statte geplunder. Onder sy slagoffers was die Voortrekkers, wat hy probeer uitmoor het. In sy wellus het hy die lewe van jong meisies gespaar om hulle in sy harem op te neem. Onder hierdie seksslagoffers was twee Voortrekkermeisies.
So skryf  kaptein sir William Cornwallis Harris, ’n Engelse beroepsoldaat en avonturier met ’n passie vir die jag van grootwild, in sy gepubliseerde reisbeskrywings.
Hy het Suid-Afrika van 1836 tot 1838 besoek, en omdat wild indertyd nog volop in die land was, kon hy na hartelus uiting gee aan sy bloedlustigheid.
Hy was egter ook ’n knap kunstenaar wat graag sy prooi en die inheemse bevolking in waterverf geskilder het. Hy het dus mooi illustrasies nagelaat van die wildlewe wat hy so roekeloos help uitwis het. Hy het dit saam met sy reisbeskrywings laat publiseer, en vandag is dit waardevolle Africana.
Kapt. William Cornwallis Harris het in Suid-Afrika kom jag en het skilderye van sy prooi en die inheemse mense gemaak.

Kapt. William Cornwallis Harris het in Suid-Afrika kom jag en het skilderye van sy prooi en die inheemse mense gemaak.

Een van drie van sy boeke, Narrative Into Southern Africa During the Years 1936 and 1937 From The Cape Of Good Hope Through The Territories Of The Chief Moselekatse To The Tropics Of Capricorn, The American Mission Press, Bombaai, 1938, is op Stephan Welz se afgelope veiling in Johannesburg vir R12 320 opgeveil. Die ander twee, The Wild Sports Of Southern Africa, Pelham Richardson, Londen, 1844, en Portraits Of The ­Game And Wild Animals Of Southern Africa, Sable Publishers, Kaapstad, 1986, het op dieselfde veiling         R6 720 en R2 070 behaal.
Die Nederlandse uitgewer, C. Struik, wat ’n uitgewerstak ook in Kaapstad bedryf het, het The Wild Sports Of Southern Africa in 1987 in faksimilee herdruk.
In die inleiding van laasgenoemde skryf Harris: “From my boyhood upwards I have been taxed by the facetious with ‘shooting madness’, and truly a most delightful mania I have ever found it.”
Hy was ’n beroepsoldaat in die British East India Company se geniekorps toe hy “mediese verlof” geneem het om in Suid-Afrika te kom jag. Hy het in Port Elizabeth voet aan wal gesit en tot by die Limpopo gereis, geskilder en gejag.
Hy het ook fyn waargeneem hoe die inheemse bevolking hulself in hul verskeidenheid organiseer. Hy het van die Voortrekkers ontmoet wat besig was om van die Oos-Kaapkolonie na die noorde te trek, en het sy waarnemings van hulle geboekstaaf.
Hy het nie juis uitgeblink as portretkunstenaar van mense nie, maar sy sketse van diere is werklik uitsonderlik. Ook plaas hy hulle telkens in hul natuurlike omgewing, wat detail soos plante, bome, rotse en berge insluit.
Gertruida Davids, een van Silkaats se seksslagoffers. Sy was die suster van die Griekwa-leier David Davids. Silkaats se impi's het hul waens aangeval en van die jong vroue ontvoer om in Silkaats se harem op te neem. Twee van die seksslawe was Voortrekkermeisies wie se familie uitgemoor is.

Gertruida Davids, een van Silkaats se seksslagoffers. Sy was die suster van die Griekwa-leier David Davids. Silkaats se impi’s het hul waens aangeval en van die jong vroue ontvoer om in Silkaats se harem op te neem. Twee van die seksslawe was Voortrekkermeisies wie se familie uitgemoor is.

Harris skryf hy het  Mzilikazi (Harris skryf Moselekatze, en die Voortrekkers het hom Silkaats genoem) by sy hoofstat Mosega – by die oorsprong van die Maricorivier in Noordwes-Transvaal – gaan opsoek. Hy het hom egter by ‘n ander stat, Kapain, waar sy koninklike kraal was, gevind, en ’n waterverfskildery van hom gemaak.
Harris vermeld dat die Baharotsi-stam daardie plek bewoon het voordat die wegbreker-Zoeloes, nou bekend as Matabeles, die gebied ingeneem het. Hy noem Mosega ’n militêre stat.
Daar het hy osse­waens gesien wat die Matabeles van ’n Afrikaner-jagter, ene Erasmus, geroof het. ’n Amerikaanse sendeling, ene dr. Wilson, wat in Mosega gewoon het, het Harris daarvan vertel. Hy het hom ook vertel dat ’n impi onder die Matabele-generaal Kalipi na die omgewing van die Vaalrivier bedrywig was om die Voortrekkers wat die rivier oorsteek, uit te roei.
Harris gee ’n volledige beskrywing van Silkaats en sy tuiste, asook van die talle geskenke waarmee Britse amptenare, soos die Natalse goewerneur sir Benjamin D’Urban, en sendelinge Robert Moffat en sy vrou, Mary, dié bloeddorstige despoot oorlaai het. Dit is bekend dat Moffat eintlik ‘n Britse agent was wat die Matabeles van vuurwapens en ammunisie voorsien het en hulle aangehits het om die Voortrekkers aan te val. Moffat was ook betrokke by die Britse slawehandel en het as gids vir slawevangers opgetree. Lees meer hieroor in my nuutste boek,  Kaap van Slawe: Die Britse slawebedryf van 1562 tot 1910.
Richard Cornwallis Harris vertrek per ossewa van Mosega, hoofstat van Silkaats.

Richard Cornwallis Harris vertrek per ossewa van Mosega, hoofstat van Silkaats.

Harris skryf in sy reisjoernaal dat Silkaats se harem uit meer as honderd vroue bestaan het. Onder hulle was ’n Griekwa-vrou, Gertruida, suster van die Griekwaleier Peter Davids, opvolger van Barend Barends. Truia, soos sy haarself aan Harris voorgestel het, en nog ander Griekwa-vroue is deur Silkaats se impi’s aan die oewer van die Vaalrivier ontvoer toe hulle daar gereis het. Ook in die harem was twee Voortrekkermeisies, oorlewendes van uitgemoorde Trekkerlaers.
Dit spreek hieruit duidelik waarom die Voortrekkerleier Hendrik Potgieter Silkaats se statte aangeval en tot op die grond toe afgebrand het. Andries Hendrik Potgieter, gebore op Graaff-Reinet, (1792-1852) was bekend onder sy tweede naam, Hendrik.

Die Liebenberg-trek het aan die oewer van die Vaalrivier – waar Parys later ontwikkel het –  gestaan. Op 25 Augustus 1836 het die Matalebele hulle aangeval, byna almal uitgemoor en hul vee geroof. Die jagter Stephanus Erasmus het die ander trekke van die families Botha, Steyn en Bronkhorst betyd gewaarsku, en hulle kon toe ’n laer trek sodat die aanvallers in die Slag van Vaalrivier afgeslaan is. Hulle hergroepeer daarna met ander trekgeselskappe by Vegkop, waar Heilbron later ontstaan het.

Potgieter, wat op ‘n verkenningstog na die noorde was, keer in September terug en sluit hom by die Vegkop-laer aan. In Oktober val 6 000 Matabeles onder generaal Mkhalipi hierdie Trekkers aan. Die 40 Voortrekkermans onder bevel van Potgieter en Sarel Celliers, verslaan die oormag. Nicolaas Johannes Potgieter, broer van Hendrik, en Pieter Johannes Botha, sy skoonseun, sneuwel. Hendrik verloor 400 beeste en 5 600 skape wat deur die Matabele weggevoer word. Die ander Trekkers verloor ook al hul vee aan die rowers.

Die Rolong-opperhoof, Moroka, en die Wesleyaanse sendeling James Archbell snel hulle te hulp met trekosse en melkkoeie. So word  die gestrande geselskap van hongersnood en ander ellendes gered. Gert Maritz en sy trekgeselskap daag later van Graaf-Reinet af op, en die laer verskuif na Thaba Nchu. Die Trekkers stig toe die dorp Winburg.

Om die ontvoerde meisies te probeer red en hul geroofde vee terug te kry, ruk ’n kommando van 107 Trekkermans en 100 bruin en swart mede-stryders onder leiding van Potgieter, Maritz en Piet Uys op na Mosega. Hul gids is Matlaba, ’n Rolongkaptein en afvallige kryger van Mzilikazi.

Op 17 Januarie 1837 val die kommando Mosega in die Marico Bosveld aan, brand 15 statte af en wen 7 000 beeste terug. Mzilikazi is egter in sy hoofsetel Kapain in die noorde van die Marico. Omdat die kommando se perde afgemat is, keer die Trekkerkommando terug na Thaba Nchu. Die Amerikaanse sendelinge vergesel hulle. Dit is nie bekend of hulle die twee ontvoerde Trekkermeisies gevind en teruggebring het nie.

Van 4 tot 12 November 1837 trek die kommando, nou 330 man sterk, weer teen Mzilikazi uit. Oor die 9 dae word die Matabele in elke bergsetel in die Marico aangedurf: Mezeg, Pagskraal, Maaierskraal, Kapain, Lotteringskop en Tweedepoort. Elke stat wat ingeneem word, word tot op die grond toe afgebrand. Meer as 3 000 Matabeles sneuwel. Geeneen van die Voortrekkers sterf nie.

In die Slag van Kapain, hoofstat van Silkaats, moet die 330 Trekkers kragte teen 12 000 Matabeles meet. Kapain word totaal verwoes en Mzilikazi vlug die Kalahari in. Talle van sy volgelinge vlug in die rigting van die Waterberg. Die Matalebeles verenig eers drie jaar later en vestig hulle in Zimbabwe, noord van die Limpopo.

Zimbabwe, die land van die Shonas, word verower deur Silkaats en hy onderwerp hierdie vredeliewende volk. Hy heers oor die hele gebied totdat die Britte, wat vuurwapens aan sy tyeenstanders verskaf,  hom bedreig, Hy smeek Hendrik Potgieter om hulp teen die Britte en is bereid om ’n vredesverdrag met die Voortrekkers te sluit. Maar voordat dit kon gebeur sterf Potgieter.

Silkaats se seun Lobengula neem die leierskap by sy pa oor en heers oor die Matabeles en Shonas. In die 1890’s word hulle deur Cecil John Rhodes en sy huursoldate met masjiengewere en kanonne by die duisende afgemaai. Rhodes wou Zimbabwe hê as afspringplek om die Voortrekkers se Zuid-Afrikaansche Republiek met geweld  omver te werp sodat hy die ryk goudreserwes van die Witwatersrand kon inpalm. Hy vernoem Zimbabwe na homself, Rhodesië.

* Lees die artikel oor Olive Schreiner wat Rhodes ontmasker het.

In die Kerstyd van 1895 op 1896 het Rhodes se boesemvriend, Leander Starr Jameson, die ZAR binnegeval, maar hy is op 1 Januarie 1896 in die Slag van Doornkop – tussen Roodepoort en Krugersdorp – vernederend deur die Boere se weermag verslaan. In 1899 was die Britte egter terug met byna halfmiljoen soldate om die ZAR binne te val sodat die goudmyne in Britse besit kon kom. Die oorlog het drie jaar gewoed voordat die Boere, die kinders en kleinkinders van die Voortrekkers, oorwin is. Die Britte het dit alleenlik reggekry deur duisende Boere-vroue en -kinders in konsentrasiekampe saam te hok, die plase af te brand en miljoene stuks vee te vernietig. Teen die mans op die slagveld was die Britte egter nie opgewasse nie. Meer as 27 000 Boerevroue en -kinders het in die konsentrasiekampe van honger, siektes en ontbering gesterf. Om te voorkom dat die Afrikanervolk geheel en algewis word, het die Bittereinder-Boere die wapen neergelê by die Vrede van Vereeniging, 31 Mei 1902.
Vroueleed, die sentrale beeldegroep deur Anton van Wouw by die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein.

Vroueleed, die sentrale beeldegroep deur Anton van Wouw by die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein.

Op 16 Desember word hierdie menseslagting, maar ook die heldhaftigheid van die vroue, in Bloemfontein gedenk met die honderdjarige herdenking van die onthulling van die Nasionale Vrouemonument daar.
Die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein in 1913 in aanbou. Dit is op 16 Desember 1913, Geloftedag, onthul.

Die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein in 1913 in aanbou. Dit is op Geloftedag, 16 Desember 1913, onthul.

‘n Spesiale Gedenkboek, Die Nasionale Vrouemonument Honderd Jaar – Verlede, Hede en Toekoms, word op 16 Desember bekend gestel. Die redakteur is Marthinus van Bart. Van Suid-Afrika se voorste kundiges oor die Boerestryd en die vrouelyding het elk ‘n hoofstuk tot die gedenkboek gelewer. Die versamelstuk is deur Kraal Uitgewers opgemaak en deur die FAK uitgegee.Die finansiering is deur die Dagbreek Trust.

Bestel Kaap van Slawe by 021 406 2823 of erfenis@dieburger.com 

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!