Vrystaat, Vegkop en voorwaarts tot by uKhahlamba (die skans van spiese)

Deur die Caledon-rivier
September 23, 2013
Groot Trek 175 inspireer jong, eietydse pionier
Oktober 9, 2013

Die viertrek-gedenktog ter herdenking van die Groot Trek 175 jaar gelede is in die Vrystaat begroet deur ’n stewige stofstorm in Bloemfontein en ’n ysige wind by Vegkop net buite Heilbron.

Die gure weer kon egter nie die geesdrif tydens die eeufeesviering vir die Vrouemonument in die Rosestad, waar die viertrek-leiers ’n gedenksteen gelê het ter nagedagtenis aan die Groot Trek, demp nie.

Dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers en uitvoerende hoof van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), en “trekleier” Gerhard Groenewald, het die steen, reg langs die monument vir die Groot Trek-vieringe van 1938, onthul en die spoor van een van die viertrek-voertuie op die tog in sement verewig.

Daarna het die groep na die Vegkop-terrein vertrek waar die “trekkers”, soos die trek van Hendrik Potgieter en Charl (Sarel) Cilliers einde 1836 die eerste laer getrek het. Hierdie taktiek het die destydse pioniers in staat gestel om ’n oormag te stuit in wat ook bekend is as die “Bloedrivier van die Vrystaat”.

Volgens dr. Langner het die destydse trekkers ten tyde van Vegkop uiters onsekere tye beleef. “Behalwe vir lewensverlies het hulle ook byna al hul lewensmiddele verloor. Die toekoms was uiters onseker en het hul uithouvermoë tot die uiterste getoets, en dit was eers met Retief se koms dat die trek weer werklik rigting gekry het.”

Na ’n koue aand op die Vrystaatse vlakte het die groep eers die graf van Anna Steenkamp, Piet Retief se niggie, op die plaas Groenvlei besoek alvorens hulle die waspore van Retief verby die tafelkoppe in die omgewing van Lindley, Paul Roux en Mount Paul, waar die ossewa-spore nou nog duidelik lê, gevolg het.

“Die los gruispaaie wat ons vandag op Retief se spore gevolg het, is kenmerkend van die soort paaie wat deesdae se 4×4-“ossewaens” op trek,” het Groenewald vertel. “Die swaargelaaide Toyotas het gebokspring tussen die slaggate en spoelslote deur, maar het soos altyd die slegte padtoetstande goed hanteer.”

Op pad verby die Sterkfontein-dam het die voetheuwels van uKhahlamba (die skans van spiese), soos die Drakensberg bekend staan in Zoeloe, opgedoem waar die trekgroep, bestaande uit 34 mense, môre (23 September) moet oor.

“Nog heelwat uitdagings lê vir die groep voor op pad na Pietermaritzburg,” het dr. Langner gesê, “maar dis niks in vergelyking met wat die eerste trekkers moes trotseer nie.”

Die trek word gesteun deur verskaffers soos 4×4 Megaworld (kampeer- en ander 4×4-toerusting), Goodyear (bande, asook steun van sy Hi-Q handelaars landswyd) Jurgens (veldwaens) en National Luna (beligting en yskaste).

Die gedenktrek sal later as dokumentêre program op kykNET uitgesaai word. Die tog kan op verskeie webwerwe en aanlyn-platforms gevolg word, onder meer op die FAK se webtuiste www.fak.org.za, Klipbokkop 4×4 se webtuiste www.klipbokkop.co.za, asook op verskeie media-netwerke en –publikasies se webtuistes, onder meer www.kyknet.co.za, www.weg.co.za, www.wegry.co.za en www.leisurewheels.co.za.

Vir hoëresolusie-foto’s van die Trek, besoek www.klipbokkop.co.za/latest-events/groottrek.html.  Volg die toer ook op Twitter by #groottrek175. Vir meer inligting oor die gedenktrek, kontak vir Gerhard Groenewald by info@kbkm.co.za of tel. 082 4116998.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!