Kulturele versoening: wat beteken dit vandag?

FAK Afrikaanse Liedjietuin
Oktober 10, 2013
‘Ons vir Jou’ met staande ovasies in Kaapstad ontvang
Oktober 11, 2013

Wat beteken dit om kulturele ‘versoening’ in Suid-Afrika na te strewe? Staan die veelheid van taal- en kultuurgemeenskappe in die pad daarvan? Kan daar met ander woorde slegs van kulturele versoening sprake wees as ons ons rug op ons tale en kulture draai en almal voortaan slegs deur een taal praat en een kultuur gekenmerk word?

Hierdie vraag het die afgelope maand prominent na vore getree toe ’n bekende in onderwyskringe aangevoer het dat sogenaamde eksklusiewe Afrikaanse skole in die pad van versoening staan.

Ten grondslag van sy argument staan juis die gedagte dat die veelheid van taal- en kultuurgemeenskappe onnodige grense tussen mense neerlê. En dat daar slegs versoening kan wees as dié grense verwyder word.

Maar is dit so?

As dit so was, sou kulturele ‘versoening’ ’n neerdrukkende en selfs tirannieke gedagte gewees het.

‘Neerdrukkend,’ omdat versoening dan sou beteken het dat ons almal in ’n gryse eenvormigheid opgeneem moet word alvorens daar van versoening sprake kan wees.

Maar ook ‘tiranniek,’ omdat versoening dan sou beteken het dat ons almal voortaan verplig sou gewees het om dinge waaraan ons onsself bykans natuurlik verbind (dinge soos ons tale en kulture) moet afsweer. En wat anders sal hierdie ‘verpligting’ aan ons kan oplê as juis ’n tirannieke staat?

Gelukkig het kulturele versoening ook ’n ander betekenis. Versoening beteken nie om die veelheid van tale en kulture ter wille van ’n gryse eenvormigheid agterwee te laat nie, maar om die veelheid te erken, te kultiveer en aan te moedig.

Laasgenoemde is die universeel aanvaarde betekenis van kulturele versoening vandag. Waarom? Omdat die internasionale gemeenskap vandag op ’n bykans oorweldigende wyse aanvaar dat die miskenning van die veelheid van gemeenskappe tot diskriminasie en geweld aanleiding gee. En is laasgenoemde nie juis die teenoorgestelde van ‘versoening’ nie?

Laat ons versoening nastrewe. Maar dan egte versoening, en nie dié versoening wat opnuut die voorwaardes vir diskriminasie en geweld neerlê nie.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!