Hugenote Feeskonsert
Oktober 10, 2013
Anglo-Boereoorlog Monument
Oktober 10, 2013

Inleiding
Louis Treghardt (die van in 1881 tot Trichardt verander) was een van die voorste Voortrekkers. Die trekgeselskappe van hom en Hans van Rensburg het wel ernstige teenspoed beleef, maar tog in sekere opsigte die pad vir latere bewoners van die gebied tussen die Vaal- en Limpoporivier oopgemaak. Wat uitsonderlik aan Treghardt was, is die feit dat hy ’n dagboek gehou het. Min Voortrekkers was geleerde mense en hy was geen uitsondering nie. Tog het hy met fyn waarneming hulle ervarings op die trekpad, die onderlinge verhoudings tussen die Trekkers, die natuur en die swart stamme wat hulle teëgekom het, beskryf.

Biografiese gegewens
Louis Johannes Treghardt is in 1783 in die Kango-omgewing van die Swellendam-distrik, naby die huidige Oudtshoorn, gebore. Sy pa was deel van die weerstandbeweging teen VOC-regering. Die gesin het die oostelike distrikte verhuis, waar sy pa ’n suksesvolle sakeman was. Louis het egter, soos meeste jong mans van sy tyd, verkies om ’n veeboer te word. Hy was suksesvol en het vroeg reeds ’n welvarende lid van die gemeenskap geword. In 1810 is hy in Graaff-Reinet  met Martha Elisabeth Susanna Bouwer getroud. Die egpaar het drie seuns en een dogter gehad wat volwassenheid bereik het – kindersterftes was destyds betreklik algemeen.

Louis Treghardt het ernstige meningsverskille met die Britse regering in die oostelike distrikte ontwikkel. Daarom het hy in 1829 sy seun, Carolus, met ’n deel van hulle vee na die Xhosa-gebied (Brits Kaffraria) gestuur. Daar was hy deel van ’n groeiende groep ontevrede Boere. In 1834 het Louis sy plaas naby die latere Somerset-Oos verlaat en met die res van die gesin by Carolus aangesluit.

Die vestiging van Kaapse burgers in Xhosa-grond was vir die Britse owerheid ’n ernstige probleem. Hulle was oortuig dat vrede die beste gehandhaaf sou kon word as geen verdere grond van die swart stamme onteien word nie. Dit was nie waarmee Treghardt en sy mense besig was nie, maar kolonel (later goewerneur) Harry Smith het geglo dat hy ’n opstoker in die Sesde Grensoorlog was. Daarom het hy ’n mag gestuur om Treghardt in hegtenis te laat neem.

Treghardt het op die moontlike inhegtenisneming gereageer deur in 1836 heeltemal onder Britse gesag weg te trek. Met ’n geselskap van 52 siele het hulle oor die hele hoëveld van die latere Vrystaat en Transvaal getrek en tot by die Soutpansberge gevorder. Daar het hulle vir ongeveer ’n jaar gewoon, voor hulle in 1837 besluit het om suidooswaarts na die Portugese fort by Delagoabaai, vandag Maputo, te trek. Die redes vir die besluit, hulle ervarings op die trekpad en verhoudings met ander Trekleiers word in die volgende afdeling bespreek.

Die trek na Delagoabaai was ’n epiese tog, maar het in rampspoed geëindig. ’n Aansienlike deel van die geselskap het malaria opgedoen terwyl hulle deur die laeveld getrek het. Treghardt self is ses maande na hulle aankoms, op 25 Oktober 1838 in Delagoabaai oorlede. Die 26 oorlewende lede van die geselskap is in die volgende jaar na Port Natal ontruim.

Openbare lewe
Louis Treghardt was, soos die ander Voortrekkerleiers, ’n gesiene man aan die oosgrens van die Kaapkolonie. Dit is egter deur sy trek na die noorde wat hy bekendheid verwerf het.

Afrikaners in die Kaapkolonie, veral in die oostelike distrikte, het kort na die Britse oorname in 1806 van die owerheid vervreem geraak. Hulle het gevoel dat hulle belange altyd vir die van ander groepe moes terugstaan. Hulle het in ’n gevaarlike omgewing gewoon, waar die owerheid hulle onvoldoende beskerm het, maar ook nie toegelaat het om hulleself te beskerm nie. ’n Aktiewe beleid van verengelsing het, as gevolg van die afgeleë aard van hulle verblyf, min invloed gehad, maar tog ’n negatiewe gesindheid geskep. Die eensydige vrystelling van slawe en die feit dat vergoeding in Londen afgehaal moes word, het nie groot verliese veroorsaak nie. Talle oosgrensboere het geen slawe besit nie, terwyl die ander gewoonlik net een of twee gehad het. Tog het dit die gevoel geskep dat die Britse regering hulle nie hooggeag het nie.

Die vervreemding het eers gevolge gehad, soos dat Treghardt en ander boere verkies het om onder ’n Xhosa-hoofman te woon, liewer as onder Britse regering. Stadig maar seker het ’n strewe na vryheid en onafhanklikheid posgevat, wat tot die trek na die onbekende binneland gelei het. In elkeen van die fases was Louis Treghardt ’n leiersfiguur. Selfs na hy in Brits-Kaffraria gaan woon het, het hy goeie verhoudings met die boere in Britse gebied gehandhaaf. Dit word deur die afspraak op toekomstige samewerking tussen hom en die trekleier, Hendrik Potgieter, bevestig.

Om die binneland binne te trek, was ’n berekende risiko. Tog was dit nie ’n wegvlug van beskawing nie. Een lid van sy klein trekgeselskap was Meester Pfeffer, ’n onderwyser. Toe die groep aan die voet van die Soutpansberge gevestig het, was ’n skoolgeboutjie een van die eerste strukture wat opgerig is. Treghardt se dagboek bevestig sy voorkeur vir goeie orde.

Een van die sterk figure wat saam met Treghardt getrek het, was Hans van Rensburg, ’n man met ’n gevolg van sy eie. Treghardt was bekommerd dat Van Rensburg en sy mense kosbare ammunisie verspeel het om ivoor te bekom. Hulle het dit as toekomstige inkomstebron gesien. Die meningsverskil was so groot dat hulle paaie geskei het, hoewel hulle kontak behou het. In ’n stadium het die Van Rensburg-trek heeltemal ’n ander rigting ingeslaan en alle kontak het geëindig. Treghardt se kommer is bevestig toe die oorblyfsels van Van Rensburg se uitgewisde laer later by die Limpopo-rivier gevind is. Dit het geblyk dat dit moeiliker was om die ivoor te verhandel as wat hulle gedink het. Hulle kon dus ook nie ammunisie aanvul nie en dit was al moeiliker om te jag, selfs net vir die pot, en om hulleself te verdedig. Toe die Sjangaan-stam hulle aangeval het, was hulle al in ’n ellendige toestand. Hulle het dapper geveg, maar kon nie die aanslag afweer nie.

Treghardt het voor sy vertrek met Potgieter ooreengekom dat hulle in die binneland kragte sou saamspan. Daarom het Potgieter en ’n verkenningsgeselskap in 1837 hulle hooflaer verlaat en na Treghardt vertrek. Hulle het saamgestem dat die finale vestiging ver genoeg noord moes wees, om permanente buite Britse bereik te wees. Potgieter sou sy geselskap gaan haal om by Treghardt aan te sluit, maar is deur Matabele-aanvalle verras. Toe hulle nie terugkeer nie, het Treghardt besluit dat hulle vestiging te afgeleë was en dat hulle by die Portugese vestiging in Delagoabaai moes aansluit.

Die trek na Delagoabaai het ’n belangrike bydrae in die kartering van die binneland gelewer. Dat malaria deur muskiete veroorsaak is, was nog nie aan hulle bekend nie. Hulle het ook nie geweet dat die siekte in die laeveld-gebiede ’n ernstige bedreiging was nie. Daarom het hulle sonder enige voorsorg deur die gebied getrek. Die uiteinde daarvan is reeds beskryf.

Louis Treghardt was steeds oortuig dat ’n ideale vestigingsplek vir die Voortrekkers moontlik was. Hy het sy seun, Carolus, vanaf Delagoabaai noordwaarts gestuur, om vas te stel of daar nie beter moontlikhede was nie. Carolus het ’n groot deel van midde-Afrika deurreis en was heel moontlik die eerste wit mens om die Victoria-watervalle te aanskou – dekades voor David Livingstone. Op sy terugpad het hy selfs by Madagaskar aangedoen, omdat ’n eiland selfs beter sou wees om van die Britse juk te ontsnap.

Wat Carolus se bevindinge ook al was, toe hy weer in Delagoabaai aangekom het, was die gedeeltelike uitsterwing en ontruiming van die res van die geselskap vir hom ’n reuse teleurstelling.

Die baanbrekerswerk wat Louis Treghardt gedoen het, is deur die nageslag op verskeie maniere erken. Daar is ’n plein in die huidige Maputo wat hom en sy geselskap vereer. Die dorp Trichardt in die steenkoolgebied van Mpumalanga se hoëveld was op sy roete na die noorde en is na hom vernoem. In die omgewing waar hulle aan die voet van die Soutpansberg gevestig was, is die dorp Louis Trichardt na hom vernoem. Op die roete na Delagoabaai, aan die noordoostekant van die ondeurdringbare Drakensberge, is die klein dorpie, Trichardstdal, ook na hom vernoem.

Slot
Die vraag watter rol Louis Treghardt in die Boererepublieke sou speel as hy oorleef het, is onmoontlik om te beantwoord. Soos Piet Retief, Gerrit Maritz en Piet Uys, was sy bydrae tot die trek- en pioniersfase beperk. Nogtans is sy nalatenskap vir latere Afrikaners baie belangrik.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!