‘Ons vir Jou’ met staande ovasies in Kaapstad ontvang

Kulturele versoening: wat beteken dit vandag?
Oktober 10, 2013
Eerste Vrouemonument in 1906 op Brandfort opgerig
Oktober 14, 2013

Ons vir jou 2

 

OnsVir Jou BILJET (KLEIN)

 

 

Deur MARTHINUS VAN BART

 

Die opspraakwekkende musiekblyspel oor die Anglo-Boereoorlog, Ons vir jou, wat op Saterdag 5 Oktober in die Kunstekaap Opera in Kaapstad geopen het en tot 26 Oktober voor vol gehore daar opgevoer is, het reeds op 12 September 2008 in die Staatsteater in Pretoria sy debuut gemaak. Waar dit ookal opgevoer word, trek die opvoering vol teaters met entoesiastiese gehore.

 

“Die produksie is uiters goed en positief deur Kaapse gehore ontvang, met staande ovasies elke aand. Die toneelgeselskap is inderdaad oorval deur terugvoer by wyse van e-pos en briewe van mense wat die vertoning bygewoon het – alles net positief. Die besprekings en kaartjieverkope het presies dieselfde patroon as die vorige drie seisoene (2008, 2009 en 2012) in die Staatsteater, Pretoria, gevolg.

Die toneelgeselskap was hoogs tevrede met  die Kaapstadse opvoerings in die Kunstekaap teater en met die mooi ontvangs wat hulle geniet het, het Soné Combrinck, uitvoerende regisseur,  laat weet. Haar kontakbesonderhede is info@packedhouse.co.za of 083 278 9524.

 Oor die afgelope meer as honderd jaar is verskeie soortgelyke én ook iewat anderse opvoerings met dieselfde ABO-tema in Suid-Afrika en in Europa aangebied. En toe ook is dit met groot entoesiasme deur gehore oraloor ontvang. Die klein gemeenskap dapper Boere wat die magtige Britse Ryk drie jaar lank, van 1899 tot 1902, kaalvuis aangepak en goed opdraande gegee het, het die verbeelding van onderdrukte burgerlikes oor die wêreld heen aangegryp, en doen dit steeds.

Deon Opperman, dramaturg

 

HERTZOGPRYS:  Die Hertzogpryswenner-dramaturg Deon Opperman en Paul Berning van Packed House Productions se musiekverhoogstuk Ons vir jou – in twee bedrywe en 18 tonele met ’n tydsduur van twee en ’n half uur – het reeds voor die aanvang van die premiére in 2008 ’n opskudding in die Jakarandastad veroorsaak toe die reklameborde met ’n vernutige spel van woorde die oningeligde publiek skoon op hol gejaag het. Biljette met slagspreuke soos “Hoe oorleef ’n volk teen ’n oormag? Daar is net een keuse . . .  veg of verdwyn” het die publiek én die media op dolle verbeeldingsvlugte gejaag: Die polisie is onder meer gekontak, en op blogwerwe en gemeenskapsradio’s is woeste debatte gevoer.

Selfs nadat die volle waarheid oor die doodonskuldige musiekkonsert met ’n eeu-oue tema aan die lig gekom het en die verhoogstuk sedertdien byna ononderbroke in teaters opgevoer word, is daar steeds beduidende getalle politiek-korrekte joernaliste wat botweg verseg om ’n woord daaroor in hul blaaie te skryf of dit in hul e-webtuistes op te haal.

 

In die lig van die irrasionele xenofobie wat kort-kort in Suid-Afrika uitbreek en gou epidemiese afmetings aanneem, is dié angsbevangenheid onder begripsloses seker verstaanbaar. Ook oorskat hulle hul gewaande meningsvormende skrywersmag om die ganse bevolking tot utopiese feëverhale te breinspoel, terwyl hulle die realiteit verswyg.

Sean Else, komponis en liedjieskrywer

 

Opperman, wat saam met Sean Else en Johan Vorster aan die stuur van die toneelstuk staan, het nog altyd voet by stuk gehou dat die teks nie partypolitiek of geweld verkondig nie. Hy vind dit trouens baie interessant dat die verhoogstuk hoegenaamd omstrede kan wees. “Ek glo dat enige nasie, soos met enige mens, wat nie onthou wie hy was nie, ook nie sal weet wie hy nou is nie. Hy sal ook nie kan droom oor wat hy in die toekoms kan wees nie. Met Ons vir jou laat ons op groot skaal en ’n groot rolbesetting, met musiek en dialoog, ’n groot stuk van ons geskiedenis in die Staatsteater herleef,” het Opperman in ‘n onderhoud by die destydse premiére  gesê.

“ Ons vir jou is inderdaad ’n groot storie wat die impak van die Boereoorlog op die wording van die Afrikanervolk met deernis en passie uitbeeld. En alles wat nodig is vir ’n goeie Boereoorlog-storie is in die teks teenwoordig – die heldedade, die liefdesverhale, die slagvelde . . .  Dit het begin met die liedjie “De la Rey”, gesing deur Bok van Blerk. Nou is dit ’n musiekspel met ’n begroting van R4 miljoen.”

 

Ons vir Jou 4

 

CD: Ook is ’n CD, Ons vir jou – Die Musiekspel, met die musiek en voordrag van die volle toneelstuk, deur Mozi Musiek uitgereik. Johan Vorster is die maestro wat vir die musiek, solo’s, ballades en koorsang van die opvoering gesorg het.

Die rolbesetting van byna dertig akteurs sluit in bekendes in die uitvoerende kunste, soos Rouel Beukes, Michelle Botha, Adrian Poulsen, Paul Lückhoff, Neels Coetzee, David Clatworthy en Peter Taylor.

 

Die opvoering, wat eintlik reeds tydens die honderdjarige herdenkingstyd van die ABO van 1999 tot 2002 die lig moes gesien het, word nou die eerste keer in vyf jaar in Kaapstad opgevoer. Dit is veral die Vrystaatse en Kaapse gehore wat die opvoering graag wou sien en ook behoort te sien. Die opvoedkundige waarde daarvan moet nie onderskat word nie. Dit kan selfs daardie oningeligte vreesbevangenes wie se kop digslaan as hulle net die woord “Boer”  hoor, sodanig laat kalmeer dat hulle iets van die land se gedeelde kultuurgeskiedenis te wete kom. Maar dan moet hulle eers uit die populistiese kokon begin dink – en dit is nogal baie gevra. Veral die dink-gedeelte.

Ons vir Jou 5

IN DUITSLAND: Sover bekend is die heel eerste verhoogopvoering oor die Anglo-Boereoorlog reeds ten tyde van daardie oorlog in Wurtemburg, Duitsland, op die planke gebring deur ’n toneelgeselskap van 26 akteurs. Daarin is die heldhaftigheid van die Boere-stryders met hul wêreldbekende president Paul Kruger wat die magtige Britse Empire met sy haas onuitputlike leërskare die stryd om vryheid en reg aangesê het, besing.

Die opbrengs van die opvoerings is aan die Boere-hulpfonds (Deutsche Burenhilfsbund) geskenk wat die geld aangewend het om veral mediese voorraad vir die Duitse Ambulans te velde in die republieke van Transvaal en die Oranje Vrijstaat aan te koop. Daar is soveel geld ingesamel dat in Maart 1902 sowat 100 000 mark aan die Rooi Kruis geskenk kon word vir mediese hulp aan die Boere.

’n Soortgelyke Duitse fonds wat geld vir kos, klere en medisyne vir die Boerevroue en -kinders in die Britse konsentrasiekampe ingesamel het, die Frauenhilfsbund, het altesame 15 000 mark byeengebring.

In die Gedenkalbum van die Tweede Vryheidsoorlog deur J.H. Breytenbach, Nasionale Pers, 1949, verskyn ’n foto van die konsertgroep (hierby afgedruk), maar nader besonderhede oor die geselskap word ongelukkig nie vermeld nie.

 

AMERIKA: Pas na afloop van die oorlog – vrede is op 31 Mei 1902 by Vereeniging gesluit – het talle Boere na die buiteland uitgewyk omdat hulle nie bereid was om onder ’n Britse regering te leef nie. Heelparty van hulle is na Argentinië en Amerika. In hul stryd om te oorleef, het generaals Ben Viljoen en Piet Cronjé meer as 300 oudstryders byeengebring om onder aanvoering van kapt. Arthur Waldo Lewis, lid van die Australiese Bushveld Carbineers wat gedurende die ABO teen die Boere geveg het, ’n taamlik realistiese opelug-toneelstuk oor die oorlog in St. Louis op te voer.

Vir die doel van die opvoering is ook 250 Britse soldate, wat ook aan die ABO deelgeneem het, gewerf. Die toneelgroep het bekend gestaan as die South African Boer War Exhibition Company. Die wêreldbekende sirkusbaas Frank E. Fillis is gekontrakteer om met die afrigting van die perde en die regie te help. Hy het toe reeds bekendheid verwerf vir sy suksesvolle opvoerings van die veldslae tussen die Britte en die Zoeloes.

Vir die ABO-opvoering het Fillis 600 perde afgerig om neer te val en te maak of hulle dood is wanneer geweer- en kanonskote afgevuur word. Altesame 600 spelers was betrokke. Die arena het 4 ha beslaan en rondom die amfiteater was sitplekke vir ’n gehoor van 25 000 mense. Die opvoering het op 16 Junie 1904 begin en vir die premiére het 35 000 toeskouers opgedaag. Meer as 10 000 moes weggewys word weens ’n gebrek aan sit- of staanplek. Die laaste opvoering was op 2 Desember 1904.

Tydens die opvoerings het die gemoedere van die akteurs dikwels baie hoog geloop. Een Britse soldaat is doodgeskiet, twee Boere is gewond, verskeie spelers is met bajonette gesteek en ernstig beseer, terwyl ander met geweerkolwe katswink geslaan is. Die gehoor het waarde vir hul toegangsgeld gekry.

Ben Viljoen is aangekla van aanranding op ’n Australiese offisier nadat laasgenoemde die gehate strydkreet van die Bushveld Carbineers aangehef en Viljoen hom te lyf gegaan het.

In Die Boere-Sirkus van St. Louis deur Floris J.G. van der Merwe van Stellenbosch word die hele sage vertel. Hy het pas nog ‘n boek, Sport in die Boere-krygsgevangekampe tydens die Anglo-Boereoorlog, 1899-1902, die lig laat sien. Bestel die boeke by hom by floris@sun.ac.za

Hendrik Hanekom

Hendrik Hanekom

 

 

SUID-AFRIKA: Talle verhoogstukke met die Anglo-Boereoorlog as tema is in die twintigste eeu in Suid-Afrika opgevoer. In Danie Botha se gesaghebbende werk Voetligte & Applous: Die beginjare van die Afrikaanse beroepstoneel, Protea Boekhuis, Pretoria, 2006, word hiervan vertel. Baie van die opvoerings – veral dié wat kort ná die ABO op die planke gebring is – het die emosies van die gehore gaande gehad. Sommige konsertgangers het die akteurs selfs vir die werklike persone wat hulle uitgebeeld het, aangesien. By tye is die ganse gehoor betraand gelaat. Kortom, dit was keer op keer besonder suksesvol.

Oor Hendrik Hanekom se toneelstuk van 1915, Heldinne van die oorlog, het die Rebellie die owerheid so op hol gehad dat die kommandant van polisie die premiére van die konsert bygewoon het. Na afloop van die opvoering het hy plegtig verklaar – terwyl hy die trane uit sy oë en van sy wange gevee het: “There is nothing wrong with the play. Indeed, I sympathised whole heartedly with the Boer women.”

In 1940 het Hendrik Hanekom die dramaturg D.C. Postma se toneelstuk Oom Paul die eerste keer opgevoer. Dit is besonder goed ontvang, het telkens vol sale getrek en is baie lank aangebied.

Na afloop van een van die opvoerings besoek 12 Iere die toneelgeselskap in die kleedkamers. Hulle kom verneem hoe lank die opvoering al aan die gang is.

“Sowat 18 maande”, kom die antwoord.

“And you mean to tell me there has been no revolution yet? Then I’m sorry, but I think you Afrikaners have no back-bone. If this play had been performed in Ireland, there would have been a hell of a revolution within eighteen days!” het een gebulder…

* Marthinus van Bart se kontakadres per e-pos is kultuurkroniek@gmail.com

 

 

 

 

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!