“Trek” en “plek” as motiewe onder Afrikaners

In de boekenkast: The Great Trek Uncut – Robin Binckes
Oktober 17, 2013
Op 8 Julie 1922 is Retief-monument by Kwa Babanango só onthul
Oktober 17, 2013

deur Danie Goosen

Wat kenmerk die Afrikaners? Hieronder word by een perspektief daarop stilgestaan. Ter sprake is die feit dat Afrikaners gekenmerk word deur twee uiteenlopende motiewe, naamlik hulle sin vir “plek” en “trek”.

Wat word met hierdie motiewe bedoel? Volkere wat ’n sin vir plek het, verbind hulself tot sekere begrensde gebiede. Daarbinne (binne die omlyning van grense) kom hulle tuis, daarin kan hulle eg woon. Ons kan ook sê dat hierdie volkere geborgenheid in die “binneland” vind.

Carel Schmitt het in sy beroemde boek, Land en See, na hierdie volkere as landvolkere verwys. Volgens hom is/was Duitsers en Russe uit die Europese geskiedenis tipiese voorbeelde daarvan. Laasgenoemde volkere het hulself in die “binneland” tuisgevoel.

In die geskiedenis van Afrikaners speel hierdie motief ’n belangrike rol. Trouens, vanaf ons eerste oomblikke in die 18de eeu het Afrikaners ’n drang gehad om hulself op bepaalde plekke te vestig, en so eg te woon. Dit tree die duidelikste in die republieke na vore wat ons in die binneland gestig het.

Volkere wat daarenteen ’n sin vir trek het, verkies die oop ruimtes van die see. In daardie ooptes kan hulle aan die beweeg bly, kan hulle die wydtes invaar. Schmitt het daarom ook na hulle as seevolke verwys. Volgens hom is die Engelse (en die Nederlanders) goeie voorbeelde van laasgenoemde: Anders as die Duitsers het hulle die oseane met hulle skepe oorgesteek. En so ’n hoë mate van beweeglikheid gehandhaaf.

Afrikaners word ook deur ’n trekmotief gekenmerk. Ons eie Groot Trek was die belangrikste voorbeeld hiervan. Die afgelope dekades het die trekmotief – ons kan sê op ’n eensydige wyse – na vore getree by Afrikaners wat letterlik die oseane oorgesteek en uit die land geëmigreer het.

Volkere loop ’n groot risiko wanneer eensydig klem op slegs plek of trek gelê word. Sowel die motiewe van plek as trek is nodig om lewenskragtige gemeenskappe te wees. Alvorens ons daarna verwys, staan ons by die twee motiewe in ons geskiedenis stil.

Ons geskiedenis

Tydens die 18de eeu, ons geboorte-eeu, het Afrikaners hulself dwarsoor die oostelike gedeeltes van die Kaapse binneland gevestig. Volgens die optekeninge van reisigers wat die Afrikaners destyds besoek het, was dit kenmerkend van Afrikaners hoe vinnig hulle geheg aan hulle plekke (veral hulle plase, maar ook natuurlike plekke in die algemeen, soos landskappe, ensovoorts) geraak het. Hulle het hulself hartstogtelik daartoe verbind.

Tydens die vroeë 19de eeu het dit egter vir talle Afrikaners duidelik geword dat hulle hulself nie verder op hulle plekke sou kom handhaaf nie. Toe het hulle – in miskien dié geboorteuur van die Afrikaners – in relatiewe groot getalle aan die Groot Trek deelgeneem. Die motief van trek was toe oorheersend.

Afrikaners het egter nie net getrek ter wille van trek nie. Op vele plekke waar hulle tuisgekom het, het hulle bykans onmiddellik tot die stig van republieke oorgegaan. Ons kan sê dat hulle toe ’n formele politieke betekenis aan hulle sin vir plek gegee het. Hulle plekke het nou plekke geword waar hulle hulself op ’n demokratiese wyse kon regeer.

Vanweë groot historiese kragte (in die gedaante van die Britse Empaaier) het Afrikaners hulle republikeinse plekke verloor. In die reuse golwinge wat die Tweede Vryheidsoorlog tot gevolg gehad het, het Afrikaners egter nie net na die stede getrek nie. Hulle het ook ’n – politieke – trek na ’n nuwe republiek onderneem. In ’n gewisse sin van die woord staan die eerste helfte en meer van die 20ste eeu in die teken van Afrikaners se trek na die republiek van 1961. Die trekmotief was oorheersend.

Maar ook die nuwe plek wat hulle verwerf het, is vanweë groot historiese kragte (die wêreld ná die Tweede Wêreldoorlog, die proses van dekolonisasie, die kulturele omwentelinge wat die sestigerjare bring, die nasionale en internasionale weerstand teen apartheid, demografiese ontploffings, die kultuur van individuele regte, ensovoorts) van die landkaart gevee.

Die jare ná 1994 kan met behulp van die motief van “trek” verstaan word. Trouens, die enkele belangrikste vraag wat Afrikaners sedertdien aan hulself vra, is waarheen ons nou (nie net fisies nie, maar ook ekonomies, polities, geestelik, ensovoorts) moet trek. Afrikaners het in die twee dekades ná ’94 nog nie ’n algemeen aanvaarde antwoord hierop gegee nie. Ons trek nog.

Plek en trek as motiewe

Hoe moet ons inderdaad antwoord? Moeilik om te sê. Maar ten minste die volgende punte kan as riglyne gebruik word:

Volkere wat dinamiese en lewenskragtige volkere is, is dit omdat hulle beide kragte (sowel die trek- as die plekmotiewe) in hulself erken. Plek sorg vir standvastigheid, identiteit, ’n staanplek. Trek daarenteen sorg vir beweeglikheid, wye horisonne. Beide is in die lewe van volkere nodig, sowel identiteit as beweeglikheid, sowel die onveranderlike as die veranderlike.

Wanneer ons eensydig klem lê op “trek”, vervloei alles. Dan loop ons die risiko om onsself en ons identiteite prys te gee.

Nog meer, ’n trek kan slegs ’n egte trek wees as dit op ’n bepaalde plek of plekke uitloop. Sonder die plek as doel van die trek word ons trekkery ’n sinlose ronddwalery, ’n rondmalery sonder uitkoms of sin. Om sin te maak, moet ons trek op ’n plek afgestem wees.

Wanneer ons egter eensydig klem lê op die motief van plek, loop ons ’n ewe gevaarlike risiko. ’n Plek sonder ’n sin vir trek en die beweging wat dit onderlê, maak dit ’n dodelik verstikkende plek. Sonder die trek-motief sluit ons ons horisonne toe. Net soos wat ’n sinlose beweging ons kollektiewe kele kan toedruk, so kan ’n geslote horison dit ook doen.

As ons vandag soek na antwoorde op die vraag na ons plek, moet bogenoemde onthou word: Beide plek en trek is nodig.

Anders geformuleer: As ons vandag opnuut ons eie identiteit bevestig (en die tyd daarvoor het inderdaad aangebreek), moet dit ’n gedifferensieerde identiteit wees, dit wil sê ’n identiteit wat sowel ons eenheid (ons onderlinge samehang) as ons veelheid (ons onderlinge verskille), sowel ons sin vir plek as ons sin vir trek, in ag neem.

Waarom? Alhoewel daar beperkinge in ’n musikale metafoor is wanneer ons met kulturele, politieke en ekonomiese kragte te doen het, het Beethoven en die magtige skeppingskrag wat uit sy simfonieë gestraal het, tog ’n antwoord daarop gegee.

Beethoven se simfonieë, die hoogtepunt in die geskiedenis van die klassieke simfonie, is magtige verskynsels omdat hulle nie net deur ’n eie integriteit of karakter gekenmerk word nie, maar ook deur ’n sin vir die onderlinge samehang tussen ’n groot veelheid van instrumente. Kortom, deur ’n sin vir eenheid én veelheid, vastigheid én beweging, plek én trek.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!