Koos Malan: Toespraak by die FAK Prestige-aand 2013

Wat het van Afrikanernasionalisme geword? Enkele gedagtes
November 7, 2013
COMMENDATIO: Heinrich Marnitz
November 12, 2013

Ons beleef vanaand ’n heuglike aand, want ons gee erkenning aan Afrikaners onder ons wat hulle vanweë hulle uitnemende diens aan ons gemeenskap as besondere presteerders onderskei het.

Dit is veral iets besonders om gedurende die lente van die jaar 2013 ’n geleentheid van hierdie aard te beleef, eerder as gedurende verskeie tydperke in die verlede. Dertig jaar gelede byvoorbeeld was Afrikaners as deel van ’n wit regering die dominante politieke faktor in Suid-Afrika – en enkele jare voor dit ook nog in Namibië. Om toe vir diens aan die Afrikaner vereer te word, was veel makliker. Toe kon die soort van prestasie moeiteloos deel wees van die werking van ’n magtige staatsmasjien onder die beheer van die wit regering. Nou is dit geheel ’n ander saak. Die Afrikaner is lank nie meer aan stuur van sake nie. Hy is heeltemal ontdoen van die staatsondersteuning van die verlede. Hy het nie meer ’n party nie en selfs al het hy een gehad kon dit nie die weg na politieke mag berei nie. Die falanks van Afrikaanse organisasies, saam met die eertydse regerende party en ’n tafereel van oënskynlike sterk leiers, wat die ruggraat van die eertydse Afrikanerestablishment gevorm het, het soos mis voor die son verdwyn – hier in Suid-Afrika en ook in Namibië.

In die tydperk daarna, veral in die eerste jare na die inwerkingtreding van die nuwe grondwetlike orde in 1994, was diens aan ons gemeenskap oënskynlik ook nie te moeilik nie. Dit kon per slot van sake voltrek word teen die agtergrond van die pragtige belofte van ’n grondwetlike orde wat al ons regte en belange na bewering volkome beskerm het.

Ook dit het dramaties verander, want daardie belofte van die wydlopende grondwetlike beskerming vir die Afrikaner en in die besonder van belange soos taal, onderwys en dergelike belange het spoedig ongegrond blyk te wees.

So skerp het die besef deurgedring dat die grondwet se meganismes nie die mas opkom om stabiliteit en vreedsame staat te verseker nie dat van die voorste woordvoerders vir liberale konstitusionalisme vandeesweek waarsku dat ons elkeen ons tot ’n sogenaamde Plan B moet wend.

’n Handvol Afrikaners het egter deurlopend deeglik verstaan dat daar geen rede was om te treur oor die verdwyning van die ou staatsondersteunde establishment nie. Hulle het net so deeglik besef dat daar nie by die oënskynlike beskerming van die grondwet berus kon word nie. Hoe vrolik en dawerend die koorsang ook al opgeklink het oor heil wat die grondwet moes verseker, het ’n handvol Afrikaners deurlopend besef dat ons heil primêr by ons eie kollektiewe ywer, krag en ’n vindingrykheid berus. In pas met die grootste deel van ons geskiedenis het ons begryp dat ons ons nooit op waarborge buite-om onsself en buite ons beheer kan verlaat nie. Om dit in die ietwat banale taal van planne te stel, het hulle besef dat sulke waarborge nooit ons Plan A kon wees nie, maar dat dit daarenteen enkel en alleen in die kollektiewe krag van ons eie gemeenskap opgesluit was. Dit was deurlopend die enigste plan.

As daar dus ’n toekoms vir die Afrikaner sal wees, is so ’n toekoms menslike gesproke volledig van die wilskrag, ywer en vindingrykheid van Afrikaners self aangewese. Die kritiese vraag is dus of ons inderdaad oor die kaliber mense beskik om deur ons eie selfstandige vermoë ons toekoms te verseker.

Vanaand, soos by enkele vorige soortgelyke geleenthede, en, glo ek, by talle geleenthede wat sal kom, beantwoord ons deels hierdie vraag deur die erkenning aan uitnemende Afrikaners vir diens aan ons gemeenskap. Die antwoord is dat ons wel oor ’n breë terrein oor getroue Afrikaners met besondere kundigheid, vaardigheid en energie beskik wat hulle vir hul gemeenskap diensbaar stel. Dit is ’n riem onder die hart.

Dit is egter onsself wat sal bepaal of ons inderdaad die vermoë het om vir ons gemeenskap ’n toekoms te beveilig.

Eerstens moet ons geen illusies hê oor die onsekerheid van ons bestaan nie. Die tendens van staatsverval waaraan die land uitgelewer is, met sy gepaardgaande gevolge van maatskaplike ontwrigting, gaan nie verander nie. Die aanduidings is oorweldigend dat ons toenemend self sal moet instaan om te voorsien vir die dinge waarvoor die staat in ’n normale situasie behoort te sorg – sonder dat ons belastingtoegewings daarvoor sal kry. Wat vir ons teen wil en dank toenemend normaal gaan raak, is ’n toestand waarin ons oor die breedste denkbare terrein al hoe meer verantwoordelikhede op onsself moet neem.

Menslik gesproke sal ons derhalwe al ons vertroue op onsself moet plaas.

Ek sê ons moenie daarvoor terugdeins nie. Inteendeel, dit is juis hierdie soort van buitengewone uitdagings wat aan ’n gemeenskap die geleentheid bied om geskiedenis te maak. Geskiedenis is veral te maak nie deur die daaglikse gewone herhalende dinge wat ’n individu en gesin moet doen om oor die weg te kom nie. Geskiedenis is juis te maak in die vermag van die buitengewone, die moeilike en oënskynlik onvermagbare wat ons kulturele burgers – lede van ons kultuurgemeenskap – te doen staan om te verseker dat ons ons uitdagings kan te bowe kom om ’n florerende vrye bestaan te voer.

Dit val dalk vreemd op wanneer ek van ons kulturele burgerskap praat. Is ’n mens dan nie per slot van rekening ’n burger van ’n land – van Suid-Afrika – nie? Natuurlik is ons burgers van Suid-Afrika, daartoe gebonde ons as gehoorsame burgers op te tree en ons onberispelik teenoor almal in die land te gedra. Hier plaas ek die klem egter inderdaad op ons kulturele burgerskap, waarmee ons ons primêr met ons kultuurgemeenskap – met Afrikanerskap – vereenselwig. Ons kulturele burgerskap is hegter en meer standhoudend. Dit bly stand hou ongeag die verandering van staat, regerings en die grondwette.

Ons kulturele burgerskap – ons  Afrikanerskap – is die bron van ons geluk, want ofskoon ons as tipiese moderne mense ook deel van verskeie groter wêrelde – ook ’n globale wêreld – is, het ons ons hegste bande ten slotte in die sonderlinge tuiste van ons eie kultuurgemeenskap. Ons kan die waarde van ons kulturele burgerskap nouliks onderskat. Ons behoort te weet – en so kan baie van die beste presteerders onder Afrikaners getuig – dat die kultuurgemeenskap waartoe ons behoort die voedingsbron bied van waaruit die beste vrugte juis gedra kan word. Dis danksy die deeglike voorbereiding binne die kultuurgemeenskap dat talle Afrikanerindividue juis so blink op talle terreine presteer. Dit is danksy die kultuurgemeenskap dat sodanige mense nie bloot selfgemaakte presteerders is nie, maar juis ook die gelukkige opbrengs van ’n algemeen suksesvolle kultuurgemeenskap wat hierdie individuele suksesvolles opgelewer het. Wanneer ons, ons Afrikanerburgerskap opneem om die veilige voortgang van ons gemeenskap te verseker, maak ons dit derhalwe terselfdertyd moontlik dat toekomstige Afrikaners danksy hulle gesonde gemeenskap kan floreer.

Deel van die moeilike en ongemaklike druk van ons situasie is ook dat ons gering in getal is. Dit is natuurlik niks nuuts nie, maar dit maak dit nie noodwendig vir ons makliker nie. Nogtans wil ek redeneer dat ons by ons getalle-geringheid ook veel te baat het.

Eerstens, kan ons, anders as ’n groot gemeenskap van baie miljoene, nouliks bekostig om op enige lid van ons gemeenskap neer te sien en voor ons enigiemand afskryf moet daar werklik baie oortuigende redes daarvoor bestaan. Elkeen is belangrik; elkeen het ’n rol te speel. Ons is op mekaar aangewese en moet na mekaar omsien. Verlies aan ’n individuele lid is verlies vir die gemeenskap. Dit kan ons nie bekostig nie en daarom moet elkeen oortuig word om die rol wat by hom of haar pas, op te neem en daarvoor erken te word. In hierdie beskouing en omgaan met ons eie mense elkeen volgens sy of haar vermoë eerder as ’n geredelike afskryf van mense, ter wille van die belang van die groter geheel, is reeds besonders kosbaar.

Tweedens, in ’n groot gemeenskap van baie miljoene, kan die meeste individuele lede geen impak hê op die welstand van die groter geheel nie. Die gemeenskap is so groot dat dit in werklikheid nie meer ’n gemeenskap is nie en die individuele lede daarvan se rol in daardie (fiktiewe) gemeenskap is so niksseggend dat hulle in werklikheid nie meer individuele lede is nie, maar blote individuele wat met hulle private sake omgaan. Hulle het geen sinvolle kulturele burgerskap nie (en natuurlik ook nie staatsburgerskap nie.) Gevolglik is dit moeilik denkbaar dat hulle ’n daadwerklike impak op die wel en weë van hulle gemeenskap kan hê.

Met ons Afrikaners is dit heel anders gesteld. Ons situasie is juis een waarin elke Afrikaner se ywer ’n gunstige uitwerking op ons gemeenskap kan hê, hom kan help beveilig en kan help sorg dat hy sal floreer. Hier kan elkeen daadwerklik burgerskap van die gemeenskap opneem – en dus help geskiedenis maak. Daarin is ons uiters gelukkig. Dit is juis daarom dat ons vanaand erkenning aan die presteerders, die geskiedenismakers in ons eie geledere kan verleen.

Ons Afrikaners se posisie is dus onseker en onveilig. Tegelyk, omdat ons op onsself aangewese is, is ons niks anders nie as verplig om deur die daadwerklike opname van ons kulturele burgerskap geskiedenis te maak. Oor die afgelope jare het ’n groeiende getal mense – hier, in Namibië en elders – juis hulle Afrikanerskap herontdek en hulle by groeiende Afrikanerorganisasies wat oor ’n breë terrein aan die werk is, aangesluit. Hulle het dit gedoen wetende dat hulle inderdaad ’n verskil kan maak – dat hulle geskiedenis kan maak. ’n Gemeenskap wat op ’n oproep moet reageer om geskiedenis te maak, is ’n gelukkige gemeenskap en die lede van so ’n gemeenskap wat deur hulle ywer aan die maak van geskiedenis kan meedoen, is gelukkige mense. Dit is min mense beskore om daaraan te kan meedoen.

Dit is waarom die Afrikaner vanaand te midde van die druk waaronder hy verkeer terselfdertyd juis so gelukkig is. Ons situasie nooi ons uit – verplig ons – om geskiedenis te maak. Dit is daarom dat ons elke Afrikaner wat hom nog nie by die saak van die Afrikanergemeenskap ingewerp het nie, kan uitnooi om dit wel te doen – om so te kom deel aan die gemeenskaplike geluk om nie passief toe te kyk nie, maar saam oor ons gemeenskap se wel en weë te beskik – om te deel aan die geluk om geskiedenis te maak.

Ek dank u.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!