Wat het van Afrikanernasionalisme geword? Enkele gedagtes

FAK vereer Afrikaners
November 7, 2013
Koos Malan: Toespraak by die FAK Prestige-aand 2013
November 7, 2013

deur Danie Goosen

Het Afrikaners die afgelope dekades van die nasionalisme afskeid geneem? Behoort Afrikanernasionalisme finaal tot die verlede? Of het dit nog ’n toekoms? En hoe sal so ’n toekoms lyk?

Wat hieronder volg, is nie ’n poging om volledig hierop te antwoord nie. Inteendeel, slegs enkele perspektiewe word gegee. Nog veel meer water sal in die see moet loop alvorens ons ’n volwaardige antwoord hierop het.

’n Goeie begin is om te vra watter standpunte vandag met betrekking tot ons nasionalistiese wortels ingeneem word. Ten minste twee benaderings kan onderskei word, te wete die “ontkenners” en die “oudskoolse bevestigers”. Ons staan kortliks by elkeen stil. In die laaste paragrawe word na enkele alternatiewe daarop verwys.

1. Eerstens die ontkenners. Hulle wil hoegenaamd niks met ons nasionalistiese verlede (of selfs met die nasionalisme as sodanig) te doen hê nie. Volgens hulle was Afrikanernasionalisme ’n neerdrukkende ideologie. Laasgenoemde blyk uit die feit dat die Afrikanernasionalisme geen geduld met die veelheid van standpunte in eie geledere gehad het nie. Nog meer, Afrikanernasionalisme het ons keusevryheid ingeperk, sê die ontkenners.

Ontkenners droom daarom van ’n post-nasionalistiese bestaan. Trouens, ons het reeds anderkant die nasionalisme getree, sê hulle.

Hierdie reaksie op Afrikanernasionalisme is begrypbaar. Afrikanernasionalisme het in sekere van sy historiese fases inderdaad neerdrukkende vorme aangeneem. Een van die talle gevolge daarvan was dat Afrikaners uit voeling met die werklikhede “daar buite” geraak het (soos met die gevolge van dekolonialisering, die “kulturele” rewolusie van die sestigerjare, demografiese veranderinge, hoër vlakke van geleerdheid en stygende politieke verwagtinge onder swartes, ens.). Hier het ontkenners gelyk.

Maar daar is ook gebreke in hulle mondering. Eerstens, ontkenners toon nie genoeg insig in die feit dat Afrikanernasionalisme (veral in sy vroeëre fases) ook oor ’n enorme kreatiewe krag beskik het nie. Afrikaans en haar onvergelykbare prestasies op die gebied van die letterkunde, die staatadministrasie en die akademiese wêreld is ’n goeie voorbeeld hiervan. Hierdie prestasies kan direk toegeskryf word aan die nasionalistiese kragte wat in die agtergrond daarvan werksaam was. (Trouens, die verlies aan nasionalistiese motiewe is een van die redes waarom die teenswoordige “taalstryd” nog nie werklik op dreef gekom het nie).

Tweedens, ontkenners verstaan dikwels (of is dit meestal?) die werklikheid deur die bril van die individu. Alles word na die individu en sy/haar keusevryheid terugherlei. Enigiets wat dit beperk, moet mee weggedoen word. (Ná die era van Afrikanernasionalisme wil ontkenners niks anders as individue wees nie).

Hierin lê egter ’n groot vergissing opgesluit. Hermann Giliomee vat dit onlangs bondig saam toe hy opgemerk het dat die geskiedenis van Suid-Afrika die geskiedenis van sy gemeenskappe is. Kortom, die historiese werklikheid kan kwalik sonder die invloed van gemeenskappe begryp word. Afrikaners wat hulself as individue herdefinieer, verstaan dit nie.

Hierdie vergissing word ook deur ’n ironie gekenmerk. In weerwil van hulle wantroue jeens gemeenskappe is hulle altyd weer deel van bepaalde gemeenskappe (hetsy van professionele, plaaslike, ekonomiese of welke ander gemeenskap ook al). Laasgenoemde is dikwels ook waar van nasionalistiese gemeenskappe. Ontkenners verlaat soms hul eie nasionalistiese verbintenisse, net om weer by andere aan te sluit. In die moderne wêreld gaan daar immers ’n sterker krag van die nasionalistiese gemeenskap uit as bykans enige ander gemeenskap. Ook ontkenners vind dit onweerstaanbaar.

2. Dit bring ons by die oudskoolse bevestigers. Anders as die ontkenners poog laasgenoemde om die Afrikanernasionalisme uit die vorige eeu verbatim te herhaal. Die Afrikanernasionalisme van toe is allesbehalwe ’n neerdrukkende ideologie, sê hulle. Inteendeel, dit is die enigste denk- en praktiese raamwerk met behulp waarvan daar hoegenaamd ’n toekoms vir Afrikaners in Suid-Afrika moontlik is. Kortom, Afrikanernasionalisme soos ons dit geken het, is die voorwaarde vir lewe. Daarsonder gaan Afrikaners hulle einde tegemoet. Daarom moet opnuut by die wortels daarvan aangesluit word.

Afrikaners vanuit die oudskoolse nasionalisme word dikwels verguis en afgemaak as mense met ’n verlies aan sin vir die werklikheid. In die proses word vergeet dat hulle nie net reg was met betrekking tot die gevare van ’n post-nasionalistiese bestaan vir Afrikaners nie. (Meer as enige groepering onder Afrikaners het hulle geweet watter omvattende risiko’s die verlies aan politieke mag vir Afrikaners sou inhou). Hulle het ook – anders as die ontkenners – ’n veel beter greep op die feit dat die geskiedenis die verhaal van sy gemeenskappe is.

Maar daar is ook gebreke in hulle mondering. Waarskynlik blyk dit die beste uit die belangrikste vooroordeel in die oudskoolse denkraamwerk. Dit hou verband met die feit dat laasgenoemde nie ’n genoegsame sin vir die historisiteit (dit wil sê die veranderlikheid) van die nasionalisme het nie. Volgens oudskoolse bevestigers is die nasionalisme ’n ewige krag in die geskiedenis. Soms duik die nasionalisme onder, soos vandag, maar as ons trou aan sy oproep bly, sê hulle, sal dit uiteindelik weer deur die oppervlakte bars en die gang van dinge bepaal.

Anders as wat die oudskoolse bevestigers impliseer, is die nasionalisme egter nie ’n tydlose krag nie. Trouens, die nasionalisme is histories gesproke eintlik ’n relatief onlangse verskynsel. Dit het eers werklik op ’n volwaardige wyse vanaf die einde van die 18de eeu na vore getree, skaars meer as 200 jaar gelede.

Daarmee word nie gesê dat die nasionalisme, omdat dit ’n historiese verskynsel is, agterweë gelaat kan of moet word nie. Uit die historisiteit daarvan moet eerder afgelei word dat ook die nasionalisme – en dit is wat die oudskoolse bevestigers nie raaksien nie – telkens weer voor die opgawe staan om nuwe gestalte of vorm daaraan te gee. ’n Blote herhaling van nasionalistiese formules en resepte uit die verlede is nie voldoende nie. Trouens, so ’n herhaling kan juis op ’n terminale toestand in die nasionalisme dui. Indien nie na nuwe gestaltes en vorme daarvan gevra word nie, kan die nasionalisme verstar. En so uiteindelik sy plek in die geskiedenis ontruim.

Bogenoemde opmerkings oor ontkenners en oudskoolse bevestigers bring ons by enkele slotopmerkings.

3. Een van die groot uitdagings waarvoor Afrikaners vandag te staan gekom het, is om anderkant die verdeling tussen ontkenners en oudskoolse bevestigers te tree. Beide was wat sekere sake betref reg, beide het rondom ander dinge gefouteer. Maar kan ’n derde weg vir die nasionalisme aangedui word?

’n Goeie invalshoek hierop is om ’n eenvoudige onderskeid tussen die “emosie” en die “vorm” van die nasionalisme aan te lê. Wat word daarmee bedoel?

By verre die meeste Afrikaners ervaar hulleself op ’n diepliggende emosionele vlak sterk tot hulle Afrikanerskap verbind. Dit is selfs van talle ontkenners waar. Selfs hulle kan nie ontken dat hulle – wanneer hulle byvoorbeeld onkant betrap en skielik om ’n opinie daaroor gevra word – hulself as Afrikaners ervaar nie.

Maar Afrikaners stem nie saam oor die vraag hoe daar aan ons Afrikanerskap vorentoe “vorm” (of “gestalte”) gegee moet word nie. Sommige meen dat dit die beste gedoen kan word deur van die instrumente van die bestaande grondwetlike bedeling gebruik te maak; daarteenoor is daar diegene wat meen dat Afrikaners ’n eie staat moet stig.

Kortom, Afrikaners word deur ’n gespletenheid tussen “emosie” en “vorm” gekenmerk. Emosie en vorm loop uiteen, emosie en vorm sukkel om saam te praat en mekaar wedersyds te versterk.

Dit is nie noodwendig ’n slegte ding nie. Maar dit moet opgelos word. Groter samehang tussen emosie en vorm is noodsaaklik. En dit word dikwels gedoen. Pierre Manent, vooraanstaande politieke denker, skryf in sy meesterlike boek, Metamorphoses of the City, dat ’n soortgelyke spanning dikwels in die eeueoue geskiedenis van Europa voorgekom het. En dikwels is dit met groot ywer (met ’n veelheid van skeppende energieë) geheel.

Die eintlike vraag is dus hoe Afrikaners “emosie” en “vorm” nader aan mekaar kan bring. Watter vorm kan ons emosionele verbintenisse vandag aanneem? Slegs by wyse van ’n beroep op ons regte? Slegs by wyse van die stig van ’n eie staat?

My eie oordeel is dat Afrikaners anderkant hierdie keuses moet beweeg. In ’n werklik onbevange gesprek kan die volgende vrae aan mekaar gevra word:

a) Binne watter kultuurpolitieke vorm kan Afrikaners vandag tuiskom? En wat word met “tuiskoms” bedoel? Sal dit ’n tuiste wees wat voorsiening maak vir die veelheid van skeppende geeste in eie geledere, dit wil sê vir die feit dat Afrikaners ’n gedifferensieerde kultuurgemeenskap is?

b) Wat is in hierdie verband prakties moontlik? Utopiese vergesigte bring ons nêrens nie, trouens, dit waarborg net ontnugtering en uiteindelik passiwiteit.

c) Watter gebreke het die ou nasionale projek (nie net onder Afrikaners nie, maar in die moderne wêreld) gekenmerk? En kan Afrikaners in hulle toekomstige vormgewing anderkant dit beweeg?

d) Watter gebreke kenmerk die ontkenners? Anders as wat ontkenners dink, is mense van “nature” gemeenskapswesens. (Laasgenoemde hoef nie in spanning met die individu te staan nie. Inteendeel, egte individualiteit word juis deur lewendige kultuurgemeenskappe moontlik gemaak).

e) Nasionale state neig onwillekeurig daarna om te sentraliseer en alles in sy grondgebied aan uniforme maatstawwe te onderwerp. Is die federale tradisie met sy sin vir gedifferensieerdheid en selfstandige gemeenskappe nie ’n antwoord op Afrikaners se soeke na kultuurpolitieke vormgewing nie?

f) Trouens, stel die federale tradisie nie Afrikaners in staat om ook ’n meer kreatiewe verhouding met die veelheid van ander kultuurgemeenskappe in Suid-Afrika aan te knoop nie? Meer kreatief as die verdringing waaraan Afrikaners en Afrikaans tans onderwerp word, en meer kreatief as die ontkenning van die noodsaak om goeie betrekkinge met ander gemeenskappe aan te knoop?

g) Ten slotte, hoe kan Afrikaners, in aansluiting by Louis du Plessis se belangrike  artikel wat onlangs deur die NP van Wyk Louw-sentrum gepubliseer is, groter vorme van “konsentrasie” bereik? (Du Plessis sien konsentrasie – m.i. ’n ander woord vir “vormgewing” – as noodsaaklik vir nasionale kontinuïteit). Kan daar groter konsentrasie van Afrikaners in stedelike gebiede plaasvind? Kan Afrikaners stedelike gebiede ontgin en omskep in Afrikaanse ruimtes? Kan Afrikaners selfs eie stede stig waarin ook ’n eie lewe moontlik word?

Ten minste oor hierdie vrae moet Afrikaners gesels, indringend. Indien daarop eerlike en werkbare antwoorde gegee word, kan die nasionale gedagte onder Afrikaners weer ’n aantrekkingskrag verwerf. En dit is noodsaaklik. Geen volwaardige toekoms is daarsonder moontlik nie.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!