Geheime Britse slawebedryf in SA eerste keer te boek

COMMENDATIO: Verna Vels
November 12, 2013
FAK-toekenning vir Nico Tromp
November 21, 2013

Kaap van Slawe die boekDIE skandalige Britse slawebedryf in Suid-Afrika wat reeds in die tyd van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie aan die Kaap die Goeie Hoop in werking gestel is, het tot 1910 voortgeduur voordat deur die Afrikaners stopgesit is.

Hierdie weersinwekkende verhaal is tot nou toe streng geheim gehou. Dit het in geen geskiedenisboek verskyn nie en geslagte lank is leerlinge, studente en die algemene publiek daaroor in die duister gehou. Die rede: politieke ideologie van sogenaamde nasiebou en handelsbande met die Britse sakeryk.

Die Pandoraskluis is egter oopgemaak met die publisering in Oktober 2012 van die opspraakwekkende boek:

KAAP VAN SLAWE: Die Britse slawebedryf van 1562 tot 1910: Met spesiale verwysing na die Kaap die Goeie Hoop vanaf 1680

 

deur Marthinus van Bart

 

KAAP VAN SLAWE verwys na ’n plek, die Kaap die Goeie Hoop, en na onskuldige mense in gevangenskap, slawe. Maar daar is ook woordspeling by die keuse van die naam betrokke: Om iemand te Kaap, is om daardie mens te ontvoer. Ontvoering is ’n baie ernstige misdaad,voorheen ’n halsmisdaad genoem. En om miljoene mense oor honderde jare heen uit hul woning en land te ontvoer, en om deur die gewelddadige misbruik van hul liggaamskragte ’n wêreldryk, ’n Empire, tot stand te bring sodat ander nasies elders ter wêreld ook aangeval, onderdruk, beroof en hul land geplunder kan word vir die verdere uitbouing van daardie ryk oor die hele aardbol heen, is ’n misdaad teen die mensdom.

Oor 300 jaar, van die middel 1500’s tot die middel 1800’s, het Brittanje minstens 3,25 miljoen Afrikane met 12 000 skeepvaarte, beman deur minstens 300 000 swaar gewapende seemanne, op gewelddadige wyse as slawe ontvoer.

Ná die opheffing van die slawebedryf en die vrystelling van slawe is verder oor drie dekades 67 000 Afrikane deur Britse en Amerikaanse skepe van ander moondhede se slaweskepe onderskep en as “Prize Negroes” na die Britse kolonies weggevoer om tot 14 jaar lank in onbetaalde slawerny onder die eufemisme van “Indentured Apprentices” vir die Empire te swoeg.

Daar is twee soorte geskiedskrywing aangaande die Britse geskiedenis: Die eerste staan bekend as The Glorious History of Great Britain. Eerw. Stowell Kessler, Amerikaanse geestelike wat baanbrekersnavorsing gedoen het oor die Britse konsentrasiekampe vir swartmense gedurende die Anglo-Boereoorlog, verwys daarna in The Black Concentration Camps of the Anglo-Boer War wat in 2012 gepubliseer is. Hy noem dit “The Sacred History of the myth makers”, wat die bestaan van die swart kampe ontken en die sterftes van die kampslagoffers toeskryf aan “vuil gewoontes, agterlikheid en primitiwiteit”. 

Daardie groot voorstander van sosiale geregtigheid, Charles Dickens, skrywer van, onder meer, die skokkende geskiedenisboek,  A Child’s History of England, het hom al in 1843 uitgespreek teen die “heroïese uitbeelding” van “War and Murder, fixing affections on wrong heroes, and seeing the bright side of Glory’s sword, knowing nothing of the rusty one…”

Kaap van Slawe maak ’n venster oop na daardie verroeste, weggesteekte Britse geskiedenis van oneer. Terselfdertyd onthul die boek die skandalige valse beskuldigings deur Engelse akademici en hul napraters wat tot vandag toe die Hugenote en die Dietse pioniers van Suid-Afrika vir slawedrywers uitkryt en apartheid as ‘n uitvloeisel van die slawebedryf voorhou. Maar terselfdertyd word Brittanje se leeue-aandeel in die transatlantiese slawebedryf as die fondasie vir die moderne kapitalisme totaal verswyg.

Die swartmag Struggle-beweging in Suid-Afrika het sedert die 1960’s ’n vername anker in die Engelse hoofstad Londen gehad. En sedertdien word Londen se voetspoor duidelik oor die hele Suid-Afrika afgedruk, van Absa (Barclays Bank)  tot die Slagting van Marikana, waar die mynbase Britte is.

Ook in die Iziko Slawemuseum (deur alle belastingbetalers – Afrikaners inkluis – gefinansier) in die hart van Kaapstad, asook in die geskiedenisleerplanne vir skole, is die bloudruk van “The Glorious, Sacred History” duidelik te sien.

Kyk gerus maar wie skryf die geskiedenisleerplanne vir skole, en wie is die uitgewers van die voorgeskrewe geskiedenisboek en vanwaar hulle kom. Kyk ook wie is in beheer van Iziko Museums, asook die groot biblioteke. Honderde duisende Afrikaanse kultuurgeskiedenisboeke is sedert 1994 uit staatsbiblioteke verwyder en verpulp.

Hoeveel Afrikaners het al oor die afgelope twaalf jaar van die Iziko Slawemuseum se bestaan, daar ingestap en gaan kyk watter boodskap word daar uitgedra aan die derduisende oorsese toeriste, asook die duisende skoolkinders (veral swart en bruin) wat jaarliks met busse daarheen aangery word? Hulle word daar geleer dat die voorouers van die Afrikaners wrede slawedrywers was, en dat apartheid die uitvloeisel daarvan was. Die Britte, egter, was die groot slawebedrywers. Maar hulle word uitgebeeld as die dapper bevryders van die slawe, en van Mandela en sy mense. Die Britte het die juk van die Afrikaners afgewerp, is die vernaamste boodskap.

Maar voordat u daar gaan inloer om self te sien watter haatpropaganda teen Afrikaners en hul voorouers verkondig word: Lees eers KAAP VAN SLAWE , en oordeel dan self of dit wat in die museum aangebied word die volle, gebalanseerde waarheid aangaan die slawegeskiedenis is.

En onthou gerus: Daardie museum, soos alle ander museums, word ook met u belastinggeld bedryf.

Die meeste van my bronne in Kaap van Slawe is óf Brits, óf Engels, óf Amerikaans. Dit sluit die werk in van wêreldkundiges oor die Slawegeskiedenis, soos prof. Hugh Thomas, geskiedenis-hoogleraar van Cambridge, Parys, New York en Boston; prof. Marcus Rediker, historikus van Pennsylvania en Pittsburgh, dr. James Armstrong, navorser van die Library of Congress in Washington, prof. Christopher Saunders van die Universiteit Kaapstad, en dr. George McCall Theal, die baanbreker-argivaris en geskiedskrywer wat in 1879 van Kanada na die Kaap laat kom is om die Parlementêre Argiewe te orden.

En wie sal die dagboekinskrywings bevraagteken van die voortreflike, maar naïewe, adelvrou lady Anne Barnard? Sy was die gasvrou van die goewerneur aan die Cape of Good Hope gedurende die Eerste Britse Bewind. Ook was sy die minnares van die Skotse regsgeleerde, lord Henry Dundas, eerste burggraaf Melville en Britse minister van oorlog en die kolonies. Sy het noukeurig dagboek gehou van haar verblyf aan die Kaap en onthul daarin die hele korrupte Britse slawehandelsnet hier ter plaatse. Ook vertel sy dit in haar talle briewe aan Dundas, een van die hoofspinnekoppe in die web van die wêreldwye Britse slawebedryf. Anne was hiervan salig onbewus, al het hy ’n veel in vloedryker adelvrou bo haar verkies om mee te trou.

* Onder my enkele Afrikaanse bronne is die opvoedkundige dr. Erik Egidius Stockenström, kleinneef van die formidabele Sir Andries Stockenström. Hy het in 1934 ’n beskeie, maar onthullende, boekie, Vrystelling van die Slawe, in opdrag van die moderatuur van die NG Sendingkerk saamgestel.

Ook het ek die navorsing in prof. Hermann Giliomee se meestersgraad-verhandeling oor lord Caledon geraadpleeg,

dr. Dan Sleigh se Buiteposte van die VOC,

en wyle dr. Anna Boëseken se gesaghebbende boeke oor die Ou Kaap en die VOC, asook die enigste bekende skeepsinventaris van ook Britse slaweskepe wat sy in die Kaapse Aktekantoor ontdek en in ’n baie beperkte oplaag gepubliseer het.

* Bestel Kaap van Slawe by:

Marthinus van Bart per

e-pos: Kultuurkroniek@gmail.com 

of telefoon 072 740 5203

 

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!