Sien om na eie belange, sê kenner

‘Regering se uitdagings dieselfde as destyds’
Februarie 25, 2014
Republikeinse Gedagte Vandag
Februarie 27, 2014

deur JOHANNA VAN EEDEN,
soos verskyn in Volksblad, Maandag, 24 Februarie 2014.

Jak

Jak de Priester het Vrydagaand die gehoor betower met sy sang toe hy as gaskunstenaar op die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se herdenking van 160 jaar van die Vrystaatse Republiek opgetree het. Foto: Stef Krüger

 

NIKS in die Grondwet keer Afrikaners om ’n nuwe “Afrikaner-republikanisme” na te streef en as minderheidsgroep op dié manier selfregering te bewerkstellig nie.

Prof. Koos Malan, ’n regskenner verbonde aan die Universiteit van Pretoria, sê Afrikaners wat ernstig is hieroor, moet “moue oprol en werk daarvoor”.

Hy was Vrydag in Bloemfontein een van die sprekers op ’n konferensie oor die 160ste herdenking van die Vrystaatse Republiek.

Malan sê daar is verskeie lesse wat die hedendaagse Afrikaner kan leer by die Vrystaatse Republiek.

“Die Vrystaatse Republiek het tot stand gekom met die idee van blanke dominasie . . . Die idee daarvan in Suid-Afrika het tot ’n einde gekom, en dit was ’n verlossende ding. Ons hoef nie meer verantwoordelikheid te aanvaar vir Suid-Afrika primêr én al sy mense nie. Ons is nou vry om na die Afrikaner se belange om te sien.”

Hy sê daar was baie lank in Suid-Afrika ’n sterker “blanke-bewustheid” as “Afrikaner-bewustheid”, maar ook dit het verander. “Ons bewustheid vandag is nie van onsself as blank nie, maar as Afrikaner. Dit is ook ’n verlossing.”

Volgens Malan laat dit Afrikaners toe om betrokke te raak by kulturele en burgerlike organisasies wat Afrikanerskap bevorder.

Hy sê die Vrystaatse Republiek is gekenmerk deur ’n “landelike republikeinskap” wat vandag nie meer van toepassing is nie.

“Landelikheid is ’n belangrike eienskap van die Afrikaner-gemoed, maar as ons in die platteland ry, ken ons nie die name van die plante of die beeste nie. Ons bly nou in die stad. En dis lekker in die stad. Ons is seker nog boere, maar ons is nou boere in die stad.”

Malan sê in die verlede het die Afrikaner tekens getoon van aggressie, maar by die Vrystaatse republikeine kan die les geleer word van ’n vreedsame naasbestaan.

Die “gees van selfregering” wat kenmerkend was van die Vrystaatse Republiek, is volgens Malan steeds in die Afrikaner teenwoordig.

Hy sê daar is talle plekke en maniere waarop die Afrikaner reeds dié republikeinse strewe vermag.

“Daar is baie plekke waar die staat homself terugtrek en waar die staat mettertyd kan verdwyn.”

Dit skep vir minderhede geleenthede om verantwoordelikheid te aanvaar om na hul eie belange om te sien. Hy het na AfriForum verwys wat as burgerregte-organisasie sukses behaal in aspekte soos onderwys en omdat dié organisasie “in die bres tree vir ons veiligheid”.

Malan meen mense verkies om hulle by organisasies soos AfriForum aan te sluit, omdat dit meer vermag as blote betrokkenheid by partypolitiek. “As ons net aan die partypolitiek deelneem, vervreem ons onsself van ons eie energie.”

Hy sê die Afrikaner moet sterk aandag gee aan “korporatiewe selfregering”, met die klem op onderwys, maatskaplike versorging en die beskerming en bevordering van die kulturele erfenis.

Hy het Orania uitgesonder as ’n voorbeeld hiervan en gesê “Orania is veel groter in die Afrikaner-gemoed as in Orania”.

Dié dorp funksioneer goed, in kontras met dorpies elders in die land wat toegang het tot meer hulpbronne. Malan skryf dit toe aan sterk politieke en administratiewe leierskap en goeie verhouding met die regering en ander gemeenskappe.

“Dit is kleinskalig, maar die Afrikaner is kleinskalig. Ons is ’n minderheidsgroep.”

Malan sê “Afrikaner-republikanisme” is moontlik, omdat dit die Afrikaner in staat stel om homself te regeer “sonder om te streef daarna of te probeer om die staat oor te neem”.

 

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!