Ons beeld is ons verantwoordelikheid

Rebellie in die bloed van die Afrikaner
Februarie 27, 2014
Puk-debakel: Wanneer waghonde weerwolwe word
Februarie 28, 2014

deur dr DANIE LANGNER.

’n Week of twee voor die PUK-bom, het die FAK se splinternuwe kommunikasiebeampte, Hannie Boshoff, ’n bom in die personeelvergadering gelos. Haar uit die bloute vraag was eenvoudig: “Wat is die plan om Afrikaners se beeld positief te verander?”

Hannie het geargumenteer dat wanneer ’n persoon die woordjie “Afrikaner” google, roep dit beelde op van AWB, Nazi, regs, boerevolk, twis, verdeeldheid, etnies, veg, verraad. Sy en haar generasie sien hulself volledig deel van die nuwe Suid-Afrika. Hulle is net voor 1994 gebore en het min historiese agtergrond. Hulle is trots Afrikaans en wil graag ook trots Afrikaner wees. Sy is deel van ’n generasie jong Afrikaners wat nie vasgeverf wil word in ’n outydse, verkrampte, regse Afrikanerhoekie nie. Sy verstaan dat niemand anders negatiewe persepsies oor Afrikaners gaan verander as ons dit nie self doen nie. Om die rede wil sy, as deel van ’n nuwe generasie jong Afrikaners, met ’n globale bewussyn, hard werk om ’n nuwe positiewer aantrekliker Afrikanerbeeld te skep.

Onderliggend aan Hannie se behoefte aan aantrekliker Afrikanergemeenskap, lê die stokou debat van NP van Wyk Louw en dr. Verwoerd. Louw se vertrekpunt was dat Afrikaners aantreklik vir die buitewêreld moet wees. Om die rede het Louw ’n aristokratiese ideaal voorgehou waar net die mooiste, hoogste en skoonste ideale in taal en gemeenskap nagestreef word. Sy pleidooi vir oop gesprek was juis om die harde kante van Afrikanerwees te versag in ’n tyd toe gesprekke beperk was tot eie kring en kritiese stemme gesmoor was.

Daarteenoor het Verwoerd gemeen dat Afrikaners moet konsolideer en vanuit ’n kragdadige posisie standpunt stel. Geen wonder dat Verwoerd tydens die Republiek se vyfde verjaarsdag op die hoogtepunt van Afrikanernasionalisme Louw se vertrekpunt voor die skare van 750 000 mense verdoem het met begeerte dat daar eerder skrywers en digters na vore sal tree “wat nie weifelend vra: wat is ’n volk nie?, maar wat kan uitjubel: Dit is my volk, so kan hy ook wondere verrig …”

Jaap Steyn skryf in sy Louw-biografie oor die tragedie dat hierdie debat die begin was van die groterwordende breuklyn onder Afrikaners. Enige kultuurgemeenskap het “diplomat” nodig. Hulle reël die verhouding na buite. Maar hulle het ook “beskermers” nodig wat sorg dra vir die integriteit na binne. Kultuurgemeenskappe ontspoor as hulle eensydig klem op enigeen van die twee plaas. Die links/regs-verdeling tussen Afrikaners vanaf die era van Verwoerd is self ’n aanduiding van die onvermoë om hierdie dinamiese kragte weer te bind. Sonder die oop verhouding na buite verstar gemeenskappe, sonder die eie integriteit verval hulle in opportunisme.

Die nagevolge van die Verwoerd-Louw-debat eggo tot in ons eie dag. Regses klou nog aan ’n geslote binnekant vas; opportuniste buig daarenteen voor elke ideologiese windjie. Wanneer debat soos Pukke losbreek, sinspeel laasgenoemde op die ou persepsies van Afrikanerkrag, bastionne, laer trek met beskuldigings van outokratiese optrede. Alles wat nie in die blokkie van die heersende ideologie en polities-korrekte maatstawwe inpas nie, word aan apartheid en nog erger aan nazisme toegedig. Diegene maak hul skuldig aan historiese inbeeldings wat ongenuanseerd eietyds vertolk word.

Hierdie ideologiese historiese inbeeldings lei tot veralgemening en uiteindelik tot vervreemding. Aan die ander kant is dit ’n ope vraag of Afrikaners genoeg verantwoordelikheid neem om hul beeld aantrekliker te maak vir jong Afrikaners? Het Afrikaners ’n openheid om hul gemeenskaplike tradisies saam met die tye te verander en in ’n moderne idioom aan te pas? Moet Afrikaners nie medeverantwoordelikheid dra as hulle deur ou tradisies in ’n nuwe hoek vasgeverf word nie?

Moderne jong Afrikaners wil Afrikaners se beeld positief herskep. Hulle wil nie skaam wees om hulself Afrikaners te noem nie. Afrikaners wat ernstig is oor die langtermynvoortbestaan van ’n geloofwaardige kultuurgemeenskap is dit aan Hannie en haar generasie verskuldig om met groter erns anderkant die ou debatte en inbeeldings van die verlede te tree. Hannie is ’n trotse produk van die Pukke. Sy wil as Afrikaner ’n positiewe verskil maak. Laat ons debatte nie nog onnodige historiese bagasie op jong Afrikaners se rug laai nie. Kom ons gee Hannie en haar generasie ’n regverdige kans.

 

0 Comments

  1. Hoe moeilik dit is om enige idee van ´n volk vandag deur die ander “volke” aanvaar te kry, belewe die baie trotse Switserse volk vandag: Die Europeese Unie wil sentraal “oor alle Europese volke en hul tradisies heen” heen regeer, net “menseregte” mag geld, en die word gedurig uitgebrei. Die Switsers wil egter eie, basis demokraties verkrygde wette (noem dit maar volkswette), eie regters en eie politisie hê wat volgens hul demokratises (ein eintlik verbasend liberale) beginsels dink, werk en daarop trots is, “Switsers” te wees. En, dit bots geweldig met die “Menseregte”, wat, so hoop die Europeese Unie, eendag wêreldwyd toegepas sal word. Eendag.

  2. Willem Scholtz sê:

    Baie dankie vir ’n goeie artikel.

    Die beeld en reputasie van ’n persoon, organisasie of selfs die van ’n volk, word geskep deur die optrede van hierdie persoon, organisasie en volk. Hier is die gesegte van “dade spreek harder as woorde” die waarste in sy eenvoud: ’n Volk sal geëtiketteer word aan die sigbaarste uitlewing van norme en tradisies – selfs al is dit nie egte norme en tradisies van daardie volk nie. Persepsies hoef nie waar te wees nie!

    Die grootste uitdaging, wat die Afrikanervolk in die gesigstaar t.o.v. die verbetering van sy beeld, is die passiwiteit wat bestaan onder die hoofstroom Afrikaner. My en Hannie se generasie, in teenstelling van die hoofstroom Afrikaner, wil nie meer passief wees nie. Ons wil deelneem aan die moderne Suid-Afrika, ons wil uit die kokonne klim waarin ons groot geword het en deel hê aan al die geleenthede wat hierdie land ons bied. Ons wil daarmee saam ’n verskil maak.

    Die Afrikaner word vandag gesien by kunstefeeste (nie meer volksfeeste nie); ons gaan trap fiets by Highveld 94.7 se resies; ons gaan kyk vir kunstenaars by die monument as Pretoria verjaar; ons Run-for-Fun by die dieretuin; en as studente neem ons deel aan die ewig kwynende studentelewe wat enkele universiteite steeds bied. Universiteite is besig om een na die ander ontslae te raak van die dinge wat studentwees pret maak, soos JOOL en koshuise. As hierdie aksies, instellings en tradisies, een na die ander gestop word, waar kan die Afrikaner-student dan deelneem aan die moderne Suid-Afrika? Waar kan hierdie Afrikaner-student ’n tuiste vind? Waar kan hierdie Afrikaner dan ’n verskil gaan maak?

    As die jong gematigde Afrikaner nêrens het waar hy homself kan uitleef nie, is ons regtig geskok oor verwronge beeld en reputasie van die Afrikaner? Dalk is die tyd ryp vir ’n geloofwaardige platform vir die jong Afrikaner wat iets het om te sê en wat iets het om te bereik. As die Afrikaner ernstig is oor die herskep van ons volk se beeld, hoekom kan ons dan nie begin deur ’n tuiste te skep vir die jong Afrikaner, waar ons ’n regverdige kans gegun word om ’n verskil te maak nie?

    Net ’n gedagte.

  3. Theresa Papenfus sê:

    Hannie Boshoff is in die kol. Vir Afrikaans (en Afrikaners) kan ‘n skoot gesonde introspeksie net goed wees. Praat van “Afrikaners” en gou-gou kom die terme “aggressief”, “onbeskof”, “verstok” “rassisties”, “brutaal” by mense op. Hoe geredelik assosieer mense Afrikaners met “innemend”, “ingelig”, “gesofistikeerd”, “meelewend”, “elegant”, “staatmaker” of “opreg”? Net Afrikaners kan iets aan die saak doen.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui