’n Nuwe Onteieningswetsontwerp met ’n ander naam
Maart 4, 2014
Giliomee vra dringende steun vir dié Maties-kandidate
Maart 11, 2014

Klink hierdie sin (miskien oudtyds, maar tog) bekend? Veral in die lig van die huidige petisieveldtogte deur veral oud-studente van die Noordwes Universiteit (NWU) wat onlangs in veral sosiale media gevoer is? Dit wat die gevolg was van skadelike berigte oor sogenaamde ontgroeningpraktyke wat in Beeld, die enigste oorblywende Afrikaanse dagblad in die noorde van Suid-Afrika, verskyn het.

Hierdie sin kom egter in 1911 in ‘n brief aan Het Kerkblad voor, geskryf deur ‘n ene Sarel Yssel, waarin hy ‘n beroep doen op Gereformeerde kerklidmate om koeie te skenk om die einste universiteit uit geldnood te red. Mnr. Yssel se oproep om ‘n “beesbank” het blykbaar goed gewerk, want daar word berig dat in 1941 die universiteit nog vrugte van die skema gepluk het!

Dit is net om te illustreer hoe verbasend vindingryk ons kan dink, en veral saamwerk, wanneer die nood druk en ons besef ons moet aan ‘n gemeenskaplike doel werk. ‘n Beter voorbeeld as die NWU se geskiedenis sal jy kwalik kry.

Die jongmense wat so vinnig op sosiale media die vingers met Facebook, Twitter en apps kan roer, en gruwelik veroordeel is dat hulle nie ‘n idee sou hê wat die verdoemende “Heil” saluut beteken nie, sal verseker verstom wees om te hoor dat ontgroenning, volgens dokumentasie, reeds in 1937 op die destydse Pukkampus verban is. Daar is tot ‘n begrafnisseremonie gehou om van dié praktyk ontslae te raak. In verskeie publikasies en ou geskrifte van die twintigerjare word melding van die inlywing gemaak en word dit ook in verband met inisiasie van verskillende inheemse volke in Suid-Afrika en die res van die wêreld gebring.

OntstaanTotius

Die NWU het sy oorsprong nie in Potchefstroom gehad nie, maar is in 1869 in Burgersdorp in die Oos-Kaap met die stigting van die Gereformeerde Kerk se teologiese skool onder prof. Dirk Postma. Danksy prof. JD du Toit, die bekende digter Totius, wie se beeld vandag voor die hoofgebou pryk, is die universiteit uiteindelik in Potchefstroom gevestig. Met die uitbreiding van die destydse teologiese skool was daar nie meer genoeg grond in Burgersdorp beskikbaar nie en het Totius Potchefstroom as die ideale plek in “skilderagtige taal”, na berig word, vir ‘n universiteit voorgehou. Hoeveel van ons studente en oud-studente sal nie tog bieg dat hulle ook so deur Potch verlei is nie?

Die geskiedenis van die NWU vertel ‘n wonderlike verhaal van planne maak en deursettingsvermoë wat nog steeds eie is aan die Afrikaner en sy strewe na dit wat vir hom belangrik is. Al het dit ook gebeur dat tydelik afgesien moes word van sekere vooropgestelde idees en goed uitgewerkte strategieë wat op die oog af net móés werk. Armoede, regeringswette, die oorloë, die Groot Griep en verskeie ander struikelblokke, het net slimmer planne op die tafel laat land.

Opofferings

So het die universiteit afgestig van die teologiese skool om subsidie van die staat te kon ontvang. As die boeke nie wou klop nie, het die personeellede vrywillig afstand van ‘n deel van hul salarisse (aan die begin en einde van die dertigerjare) gedoen. Daar is selfs in 1939 ‘n aanbod van ‘n ontvanger van die raadsmedalje, ene me. CM Oosthuizen, gewees dat haar medalje teruggehou kon word en die kostes wat daaraan verbonde was, gespaar kon word.

Die studente self het ook reuse geldelike bydraes gelewer deur musiekaande, toneelopvoerings en ander vertonings te reël, veral die Alabama en die Boere-orkes, wat toe deel van die universiteit was.

Soos die studente vandag byvoorbeeld op Facebook lees wat alles op die kampus, met hul maters, dosente, bekendes en dies meer gebeur, kon mens detyds byvoorbeeld een keer ‘n jaar darem in die jaarblad van die universiteit, Die Besembos, ‘n paar foto’s sien en dinge lees wat nie van mond tot mond oorgedra is nie. Die Besembos is genoem na die kanniedood veldplant uit die Burgersdorp dae. Totius het hoeka in ‘n gedig dié plant so besing, en mens kan nie help om aan die Puk en sy gemeenskap, ook in dié terme te dink nie:

“Al word ek gekap en gekloof;
Al word ek gestowe deur die son daarbowe
Wat my laaste sappe wil beroof –
…ek leef en sal lewe; my doodkry is min!”

Lees mens van die opofferings wat studente, personeel en ook verskeie oud-studente deur die loop van die jare gemaak het om opleiding te kon ontvang, kry jy lag. Dit gebeur sekerlik nog vandag ook? Ons sien dalk net méér studente wat dit breed het, omdat daar méér studente is, maar dié wat swaerkry, maak nog steeds planne!

Daar is ook net soveel méér inligting beskikbaar en as gevolg van die vlietendheid van sosiale media sal baie van hierdie opofferings waarskynlik nie, soos die voorgeskiedenis van die universiteit, in die anale opgeteken word nie. Kla vandag se studente dat daar nie studielenings of beurse beskikbaar is nie? Destyds was daar ook nie. Studente wat ingeskryf het by die universiteit se ouderdomme het dikwels gewissel van 12 jaar tot 43, word geskryf. Party moes eers gaan werk, soos boer, om geld vir studies te kry. Van die studente het ook destyds eers ‘n matriek behaal voordat hulle tot tersiêre onderrig toegelaat is. Hoekom so? Die skoolstelsel was toe ook swak….

Kampvuurlesings

As vandag se studente lees dat van die eerste drie studente in die 1800’s selfs lesings by kampvure ontvang het ná vermoeiende togte of na ‘n dag se werk, sal hulle seker sê: al wat vandag verskil is ons noem dit nou “braai”-vure, maar daar leer ons nogsteeds, nes toe, die meeste!

Die Puk se rugbyspan in 1926. Bron: www.gksa.org.za

Die Puk se rugbyspan in 1926. Bron: www.gksa.org.za

Die Puk se rugbyspan in 1926.[/caption]Dit is ook interessant om te besef hoe die uitbreiding van kursusse, die studentelewe, sport, internasionale erkenning, noem maar op, destyds net so ernstig vir studente was as wat dit vandag is. Uit ou studentepublikasies kan gesien word dat vraagstukke soos Afrikaans en/of Engels veral ook met die Tweede Wêreldoorlog vir studente baie belangrik was en wyd daaroor geskryf en gedebatteer is.

‘n Ander opvallende saak wat reeds in die dertigerjare geopper is, is dat die groter wordende studentegetalle ‘n groot probleem vir student, sowel as dosent, geword het. Die kontak wat vroeër daar was, het verlore gegaan. Daar is vandag steeds in die argiewe verskoningsbriewe wat studente destyds, indien hulle nie in die klas was nie, aan die rektor self moes rig om te verduidelik waarom hulle afwesig was. Hyself sou dan die verskoning aanvaar of nie! Mens wonder wat om vandag hieroor te sê.

Kleredrag

Die een enkele ding wat dalk nie meer bestaan nie, is die ongelooflike kleredragreëls, wat glo dit of nie, grootliks ongeskrewe gegeld het. Dit word veral beskryf in die tyd toe net mans as studente destyds aan die universiteit kon studeer. Die eerste damesstudent is eers in 1918 as een van 40 studente toegelaat. Die mans het strikdassies gedra, baadjies en beslis hoede. Die rede was dat jy trots was en wou uitstaan as ‘n persoon wat besig wat met studie aan ‘n universiteit.

Om die geskiedenis van ‘n universiteit, veral een soos dié van Potchefstroom, neer te pen, is bykans onmoontlik. Daar is net te veel individue, groepe en gebeure wat wat ‘n indruk maak om te kan uitsonder as die enkeling of enigste gebeurtenis wat die verskil gemaak het. Wat egter tog interessant is, is dat elke persoon wat jy van lees, wat dié of daardie besondere bydrae gemaak het, sy of haar aller alles gegee het in die tyd wat hy/sy kon. Hetsy akademie, deel wees van die studentepret, sport of ander kampusaktiwiteite. En deurentyd die boodskap: Saamwerk lig ons krag! My doodkry is min!

Bron: Die Groot Debat

Comments are closed.

error: Content is protected !!