Renate: ‘Baie meer op die spel as een wit vrou’

Puk-krisis: Taal moenie hoër funksies verloor
Maart 13, 2014
Kosbare Van Riebeeck-erfenis moet nou opgeëis word
Maart 19, 2014

Renate BarnardNadat ek deur Maroela Media genader is om my ervaring weer te gee ten opsigte van litigasie teen jou werkgewer, het ek lank gesit en dink wat om te sê.

Ek het grootgeword in ‘n omgewing waar dissipline en respek vir gesag aan die orde van die dag was. Ek het my polisieloopbaan begin in die voormalige Suid-Afrikaanse Polisie (SAP), wat ‘n streng, militêre instelling was waar jy opdragte en reëls nagekom en nooit bevraagteken het nie. Dit was vir my ‘n geweldige tweestryd om tot die besluit te kom om wel ‘n grief teen my werkgewer, die Suid- Afrikaanse Polisiediens (SAPD), in te stel as gevolg van ‘n onbillike arbeidspraktyk.

Die pad van litigasie is lank, moeilik en baie emosioneel. Een oomblik vrees, dan woede, hoop, vreugde, wanhoop – letterlik ‘n mallemeule van wisselende emosies. En dan nog die nimmereindigende politieke konnotasie: regstellende aksie!

Soos ek dit baie duidelik in my getuienis in die Arbeidshof gestel het – ek is nie teen regstellende aksie as sulks gekant nie. Daar was in die verlede teen sekere mense gediskrimineer, maar die wyse waarop regstellende aksie tans toegepas word, is net so ‘n groot vergryp aan menseregte as in die vorige bedeling en dit druis lynreg in teen die gees van die Grondwet (die hoogste gesag in ons land).

Ras is weereens die grootste faktor om te bepaal wie is geskik vir ‘n pos en wie nie. Kundigheid, ervaring, passie en kwalifikasies is totaal ondergeskik aan rasseklassifikasie – “two wrongs can NEVER make a right”. Die grootste ironie verbonde aan die huidige toepassing van regstellende aksie is die feit dat talle kundige, passievolle swart mense ook telkemale oor die hoof gesien word ter wille van “kader-ontplooiing”. Daar is dus nie werklik sprake van REGstellende aksie nie!

Die kritiek van talle (wit) mense is ook volop. Soos die een dame wat kla omdat Solidariteit en die SAPD die belastingbetalers van Suid Afrika se geld mors om te litigeer vir een vrou se onthalwe. Mens kan maar net kopskud vir diegene se onkunde. Die groter prentjie is van groter belang. Nooit in my wildste drome het ek ooit gedink dat my “grief” teen die SAPD as gevolg van rassediskriminasie tot in die hoogste hof in die land sou vorder nie. Die dag toe ek aan die sy van my toegewyde regspan van Solidariteit in die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein instap, was ek baie bang en geïntimideerd deur die hofgebou en die voorsittende regters. Dit is nie verniet die Hoogste Hof van Appèl in die land nie.

Groot was my vreugde toe al vyf (anderskleurige) regters eenparig in ons guns beslis met ‘n ongelooflike uitspraak wat die spyker op die kop slaan, wat nie doekies omdraai of politieke gunswerwing doen nie en wetlik van toepassing op die feite van die saak. Die verbasing en skok toe ek hoor die SAPD wil appelleer teen dié uitspraak het my sprakeloos gehad.

En nou is ons saak op pad na die hoogste hof in die land: die Grondwetlike Hof. My grootste begeerte is dat reg en geregtigheid sal plaasvind en dat die uitspraak wetlik en nie politiek van aard sal wees nie.

Ek besef daar is soveel meer op die spel as een gewone wit vrou se stryd teen onregmatige diskriminasie – ‘n hele volk se toekomsverwagtinge, ons eie en ons kinders se drome vir ‘n sinvolle toekoms hier aan die suidpunt van Afrika word in die weegskaal geplaas in afwagting van die Grondwetlike Hof se uitspraak. Die gedagte maak my bang en laat my ongelooflik klein voel.

Anders as wat sommige mense dink, is ek nie ‘n vuurvreter en arrogante wit vrou wat opstaan vir haar regte nie. Ek is ‘n normale mens, met vrese en hoop en drome en ‘n passie om te doen wat ek weet my Skepper my voor bestem het: Om ‘n verskil in stukkende mense se lewens te probeer maak. En as dit dan nodig is om my werkgewer hof toe te vat ten einde my in staat te stel om ‘n impak te maak, dan weet ek die Here sal ook die toerusting en uitkoms gee.

Ek het die hoogste dank en waardering vir my vakbond, Solidariteit. Voorwaar ‘n unie wat die daad by die woord voeg en bereid is om op te staan teen onbillike praktyke in die werkplek. Vir mense wat hierdie saak ondersteun en vir ons bid: Uit my hart uit BAIE dankie want julle gebede en ondersteuning beteken onbeskryflik baie.

Vir die kritici: Daar is ‘n spreekwoord wat lui dat “for evil to prevail, good people have to do one thing and that is nothing!”

Bron: Die Groot Debat

Comments are closed.

error: Content is protected !!