Behoort ontgroening nie ‘n keuse te wees nie?
Maart 27, 2014
Kultuur en politiek
Maart 27, 2014

Atterbury Teater, Pretoria 14 Maart 2014 – geleentheidtoespraak van die FAK-ondervoorsitter.

Mnr. die seremoniemeester en akademiese hoof, dr. Paul Steyn, mnr. Marthinus Visser, besturende direkteur en prinsipaal van Akademia, lede van die direksie van Akademia, eregaste, dames en here

Laat my eers toe om julle as diplomandi geluk te wens met die verwerwing van julle kwalifikasies. Dis ’n pluim in julle hoede, al is dit dan denkbeeldige hoede omdat julle nie meer hoede dra nie. Toe ek my BA-graad by die destydse PU vir CHO ontvang het, was dit ’n deftige geleentheid. Ons het Olenpark in Potchefstroom se pawiljoen volgesit, die mans geklee in pakke en die dames ewe deftig uitgedos – meesal met hoede! Maar dit is lank gelede!

Laat ek begin met ’n storie – dis byna ’n sprokie wat, soos alle sprokies, so begin. Daar was eenmaal! Daar was iemand met ’n droom, meer as 300 jaar gelede ’n paar dekades voordat Jan van Riebeeck sy groentetuin aan die Kaap kom aanlê het. Die droom het ’n werklikheid geword. Iemand het ’n universiteit gestig: Vandag is daardie universiteit eerste op die ranglys van universiteite in die wêreld. U kan miskien raai dis die Harvard Universiteit in die VSA wat vir die vierde agtereenvolgende jaar Cambridge en Oxford in Brittanje in die stof laat byt het – met 18 000 personeellede (akademies en ondersteunend) en meer as 30 000 studente en 14 000 nagraadse studente. En sy bates? Nagenoeg $33 biljoen. Oor dekades het die universiteit 150 Nobelpryswenners opgelewer en agt Amerikaanse presidente het daar gestudeer.

Teenoor so ’n universitêre kolos staan ons vandag hier as Akademia, ’n stippeltjie in ’n universitêre heelal, maar niks sal Akademia keer om te groei tot iets groots en betekenisvol binne die Suid-Afrika van vandag, en wie weet later soos Harvard binne ’n internasionale verband, nie.

Die wording van Akademia is ’n geloofsdaad – soos wat Harvard in die 17e eeu tot stand gekom het – ’n geloofsdaad nie net in die Bybelse betekenis van die woord nie, natuurlik dit ook, maar ook in die betekenis van geloof in die toekoms van ’n eg Afrikaanse instelling wat voorsiening wil maak vir almal in die land wat Afrikaans praat en wat verkies om in Afrikaans hoëgehalteopleiding te ontvang met behulp van die beste tegnologiese hulpmiddels wat tans voorhande en bekostigbaar is.

Die vraag word dikwels gevra: Is dit in Suid-Afrika van vandag die moeite werd om in Afrikaans jou kwalifikasies te verwerf en moet jou volledige opleiding maar nie in Engels wees nie! Die antwoord lê primêr by die gehalte van opleiding. Navorsing het daarby oor en oor bewys dat moedertaalonderrig, selfs tot op tersiêre vlak die beste middel is om kennis te verwerf, om gehalte te verseker en om so as ’n bekwame burger van Suid-Afrika te funksioneer. Akademia, meen ek, wil graag so ’n platform bied.

Dit lyk of ons vandag sit met ’n owerheid wat steeds nie glo dat die beroerde stand van sake in die Suid-Afrikaanse onderwysbestel deels te wyte is aan die wanpersepsie dat Engels, en nie die moedertaal nie, die enigste toegangspoort tot geleerdheid in die land en in die wêreld is.

Miljoene klein leerders (kinders) moet basiese kennis en vaardighede leer deur middel van ’n taal wat nie hulle taal is nie – ’n taal wat nie hulle ouers se taal is nie en waarin hulle ouers dikwels ook nie vaardig is nie. Die gevolge hiervan vir ’n leer- en optimale vaardigheidskultuur in ’n ontwikkelende land soos Suid-Afrika is rampspoedig. ’n Mens verwelkom derhalwe wel stappe van die Departement van Basiese Onderwys se plan vir ’n drietalebeleid in skole waarby moedertaalonderrig tog meer aandag gaan kry en wat moontlik van 2015 van Graad 1 af ingefaseer word.

Dat moedertaalonderrig ’n moet is, is duidelik. Benewens swak dissipline en onopgeleide onderwysers moet die grootste rede vir swak prestasies op skole in Suid-Afrika gesoek word in die verontagsaming van die belang van moedertaalonderrig.

Akademia is gestig, omdat Afrikaans as tersiêre onderrigtaal onder druk is. Dit is maar al te duidelik. Wat het geword van die vyf volwaardige Afrikaanse universiteite wat met die politieke oorgang in 1994 bestaan het? Die RAU wat met sterk Afrikaanse steun tot stand gekom het, het UJ (op Engels uitgespreek) geword. Die Universiteit van Port Elizabeth wat ’n dubbelmedium-universiteit was, het die Nelson Mandela Metropolitan University geword – die taalbeleid by die Universiteit van Stellenbosch staan onder diskussie en ook by die Universiteit van Pretoria is die omstandighede vir volledige Afrikaanse onderrig allermins gunstig. My kollega by die Universiteit van die Vrystaat kla ook oor die verengelsing van daardie kampus. Die twee nuwe universiteite op Kimberley en Nelspruit sal eweneens Engelstalige instellings wees.

Aansluitend by die probleem van tersiêre verengelsing, byvoorbeeld in mediese fakulteite kan ’n mens die vraag stel of ’n mens in die toekoms nog in Afrikaans kan siek word? Sal toekomstige veeartse jou hond of kat nog in Afrikaans kan behandel. Die diere sal seker nie omgee nie, maar wat dan van die hond of kat se baas? In die regswese gaan dit nie baie beter nie. Fakulteite regte verengels vinnig. Die onlangse tolkprobleem in die Oscar Pretorius-saak het aangetoon hoe min die Staat omgee vir ’n regverdige taalbedeling vir aangeklaagdes en getuies binne die regswese.

’n Ligpunt in die tersiêre hemel is die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit. Die onlangse ontgroeningspetalje op die kampus word deur die Minister van Hoër Onderwys misbruik om die universiteit by te kom. Onderliggend is dit die Afrikaansheid van die kampus wat pla, hoewel my inligting is dat die Departement van Hoër Onderwys dit ten sterkste ontken het. Die toenmalige PU vir CHO was destyds ’n droom van ’n paar mense wat verwerklik is en uitgegroei het tot een van die belangrikste universiteite in die land met ’n uitstekende navorsingsrekord waarop Suid-Afrika trots kan wees – en waarop ’n regering trots behoort te wees. Iets wat goed funksioneer, word egter deur kleinlike politiek benadeel. As die regering maar net sou wou bestuur en nie steeds kleinlike politiek sou wou bedryf nie. Niks word op die oomblik in hierdie land bestuur sonder dat dit nie deur ideologie beduiwel word nie. Ongelukkig is dit dus ook so dat ons politieke bestel in baie gevalle (met uitsonderings) gedryf word deur negatiewe kragte soos wantroue, afguns, hebsug en korrupsie en nie deur ’n strewe na goeie gehaltebestuur nie. Eiebelang heers oor landsbelang. Ons glo origens dat die Potchefstroomse berg ’n muis gebaar het en dat die Noordwes-Universiteit die huidige krisis met Afrikaans en al sal deurstaan.

“Afrikaans kan as taal met hoër funksies nie sonder Afrikaanse universiteite met ’n Afrikaanse kultuurkarakter voortbestaan nie,” het prof. Hermann Giliomee opgemerk. Hy en wyle prof. Lawrence Schlemmer het reeds in 2006 gepleit vir ’n “virtuele Afrikaanse universiteit”.

Die Afrikaanse Taalraad het reeds in die verlede spitwerk begin doen, onder leiding van mnr. Christo van der Rheede, vir die stigting van ’n private Afrikaanse instelling vir hoër onderwys, maar het met grasie die septer oorhandig aan die Solidariteitsbeweging.

En hier is hy dan: Ons moet die Solidariteitbeweging gelukwens met die inisiatief van Sol-Tech Tegniese Opleidingskollege wat in 2007 geopen is en tans meer as 1000 voornemende ambagslui in sewe skaars ambagte oplei.

Dit is opgevolg met ’n ewe lofwaardige inisiatief van 2012 toe Akademia tot stand gekom het, ’n geakkrediteerde instelling wat hoër sertifikate, diplomas en nou ook ’n BCom-graad in Afrikaans aanbied. ’n Verdere BCom-graad word in die vooruitsig gestel. Gehalte-onderrig – ver en naby – ondersteun soos ek al gesê het met van die beste tegnologie wat nou voorhande en bekostigbaar is, word nagestreef.

Met begrip vir die logistieke probleme daarvan koester ek natuurlik die stille hoop dat Akademia ook sou kon bydra tot die opleiding van gehalte-onderwysopleiding weens die skreiende tekort aan Afrikaanse onderwysers. Die Afrikaanse onderwyserskorps is vinnig besig om te verouder en te vergrys en die aanvullingskorps is min in getal, ondanks pragtige pogings van instansies soos die Rapport Onderwysfonds.   Dit is vir my persoonlik ’n eer om met Akademia geassosieer te word en so ’n bydrae te lewer. Dit is nie so dat Akademia in kompetisie met ander universiteite in die land wil tree nie. Diensbaarheid aan die land en diensbaarheid aan die gemeenskap is die wagwoord. Almal wat kwalifiseer en wat in Afrikaans wil studeer, is welkom by Akademia.

Laat ek weer beklemtoon dat die oorlewing van Afrikaans in ons land afhanklik is van die hantering van Afrikaans tot op die hoogste vlak, waarvan Afrikaans as onderrigtaal op universiteitsvlak ’n komponent is. Wanneer Afrikaans op universiteitsvlak uitfaseer, gaan dit enorme negatiewe gevolge vir die voortbestaan van Afrikaanse kleuterskole, laerskole en hoërskole inhou. Ons moenie die gevaartekens onderskat nie, ook ten opsigte van die pragtige prestigeryke en tradisieryke Afrikaanse skole in ons onmiddellike omgewing.

Dit lyk asof sekere universiteitsowerhede nie insien watter groot Afrikaanse potensiële studentemark daar wel is nie. Daar word roekeloos voortgegaan met die verengelsing van studieprogramme op grond van die redenasie dat Engels maar die internasionale wetenskapstaal is en dat almal tog maar in Engels in die werksomgewing daar buite gaan funksioneer. Daarby word waarskynlik deur universiteitsowerhede geredeneer dat die Regering nie taaldiversiteit in die universiteitsomgewing subsidieer nie. Taalakkommodasie in die universiteitsomgewing is derhalwe te duur en te tydrowend word gesê. Verder word aanvaar dat ALMAL tog maar Engels verstaan.

Die uitkringende negatiewe effek van hierdie houding is merkbaar by Afrikaanse ouers van voornemende studente. Sommiges of miskien baie ouers val in by die bogenoemde denkwyse en berei hul kinders voor vir hul Engelstalige opleiding deur hulle van vroeg af aan na Engelse kleuterskole, laerskole en hoërskole te stuur. [Tersyde: Ek wil origens met nadruk sê dat ek nie anti-Engels is nie. Inteendeel: Kennis van Engels is vir Suid-Afrikaners ’n bate wat ons wêreldwyd tot ons voordeel kan gebruik. Buitelanders beny ons vir ons veeltaligheid.]

Miskien leef baie ouers in die veronderstelling dat taal sommer ’n neutrale kommunikasiemiddel is, saamgestel uit letters, woorde en sinne is. Niks is minder waar nie. Die Afrikaanse outeur, wyle Jan Rabie, wat ’n ruk lank in Frankryk gewoon het en met ’n Skotse vrou getroud was (wat origens uitstekend Afrikaans gepraat het), het by geleentheid gesê: “Sonder Afrikaans is ek niks!” Daarmee het hy bedoel dat hy in Frans of Engels ’n ander mens/’n ander persoonlikheid is en as ’t ware ’n ander kultuur verteenwoordig as wat sy eie is. ’n Ander taal vervreem hom van sy die omgewing waarin hy die tuisste is en voel en waarin hy die beste sou kon funksioneer. Jou taal is draer van jou eiesoortige waardes.

Miskien moet ons navraag doen by die derduisende eerstegeslagemigrante (Suid-Afrikaners) wat in anderland hul eie kerke stig, selfs (en ek dink ten onregte) vra vir ’n eie Afrikaanse skool en met nostalgie in Afrikaans rondom ’n braaivleisvuur kuier. [Tersyde: Ek verkwalik niemand wat geëmigreer het nie.]

Dames en here, wat het ’n braaivleisvuur (“Down Under”) met Akademia te make? Eintlik wil ek maar net beklemtoon dat taal met identiteit te doen het. Die identiteit wat met jou taal te doen het, kan jy nie sommer aflê nie. Die vervreemding van jou eie taal kan traumaties wees vir jou psige. Dit geld ook vir ’n student wat teen wil en dank in ’n ander taalomgewing beland en ook in die ander taal moet funksioneer en sosialiseer.

In Suid-Afrika vorm Akademia met sy Afrikaanse inslag ’n baken vir Afrikaans as wetenskapstaal. Die Solidariteitsbeweging, as inisieerder van Akademia, se taalstrategie is gebaseer op die aanname dat ’n taal (in die geval Afrikaans) ’n sterk instelling nodig het om te kan voortbestaan.

Die Solidariteit-inisiatief is lofwaardig. Akademia vorm ’n bousteen in die vesting teen die ongeregverdigde verengelsing van ons tersiêre onderwysomgewing. Mag die bousteen ook deel word van die fondament vir ’n magtige instelling soos Harvard. Alle aanduidings is daar: ’n Bekwame en kundige span vir wie gehalte en wetenskaplikheid  naas Afrikaans prioriteite is, staan aan die stuur. Mag Akademia, waarvan julle as afgestudeerde studente die “produkte” is van krag tot krag gaan, en mag julle as Gideonsbende wat nou kwalifiseer, deel word van ’n trotse geslag alumni wat sal meehelp aan die opbou en uitbou van ’n instelling waarop Suid-Afrika trots kan wees.

Ek dank u vir u aandag.

J van der Elst

13 Maart 2014.

082 8807 636 / 012 9972647

jvde@absamail.co.za

 

 

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!