FAK Studiebesoek aan Namibië
Maart 27, 2014
Vrystaatse Dorpe
Maart 27, 2014

Die FAK se Kommunikasiebeampte, Hannie Boshoff, het vanjaar vanaf 7-9 Maart 2014 die US Woordfees 2014 as kultuur-vriend gaan bywoon, waar die fees vanjaar die wonder van die woord behoorlik gevier het. Die Woordfees het sy reputasie gehandhaaf deur vir kultuur-, kuns- en woordliefhebbers eindelose genot te bied. Met ’n propvol program en beperkte tyd, is soveel moontlike produksies nommerpas na mekaar in gepas om die beste vermaak te benut. Om ’n kultuur-dier te wees, eis soms sy tol, maar die standaard wat die fees daarstel en die kwaliteit wat die fees gelewer het, sal FAK hierdie fees as ’n moet aanbeveel op jou 2015-program.
Hoe kies ’n mens uit al die topklas-vermaak wat die Woordfees bied? Daar was vanjaar ’n paar toneelstukke en teaterwerke wat die FAK sterk aanbeveel. Hulle sluit in:
Trippie, Nagwond, Bloomers en Steradent, Die ongelooflike reis van Max en Lola, Wie’s bang vir Virginia Woolf?
Mossie Liefde (Met Babette Viljoen, Izelle Claassen, Steffie Le Roux, Werner Ferreira, Alanka Craffert en Corneels Schabort) was een van die FAK se gunsteling produksies op die fees. Soos met die FAK-treffer, Ken jy tant Mossie het dié produksiemense hulle ook laat oorgee aan die nostalgie. Nie net het die produksiemense herinner aan die liedjies wat Afrikaners so plesierig kon saamsing nie, maar dit het ook gespog met nuwe toonsettings van poësie en musiek in verskillende style wat oues laat verlang en jonk bloed laat kook het van lekkerkry.
Herman van den Berg (Kraaitjie Melaaitjie en ander toonsettings), Valiant Swart en Johan Bakkes (Lied van die langpad), Schalk Joubert (Die wêreld is my woning), Laurinda Hofmeyr (ʼn Perd van ʼn ander kleur) en Elvis Blue het in ons druk program darem ook ’n beurt gehad om te bewys juis hoekom hulle deel uitmaak van die room van Afrikaanse musiek.
Die feesdatums en tema vir 2015 is op Sondag, 16 Maart vir oulaas aangekondig deur prof. Dorothea van Zyl, wat vanjaar as feesdirekteur uittree. Dit sal egter in oorleg met die nuwe feesdirekteur bespreek word, maar die feestema is voorlopig “Soet Sestien” en die voorgestelde datums van 5‒15 Maart 2015 kan dus verander.
Die Woordfees se verlies is FAK se wins.

Dorothea van Zyl is onlangs verkies as een van die FAK se direksielede en die volgende vrae is aan haar gevra:

1) Wat is die volgende groot stap na die Woordfees?

Die Amerikaners het gesê as jy 65 is, is jy bejaard, maar deesdae sê hulle as mens 85 is, is jy bejaard, wat nogal ’n groot verskil maak. So mens het dan eintlik nog ’n lang pad van jou beroep oor, so ek het eintlik nog tyd vir ’n hele klompie projekte. Die heel eerste ding wat moet klaarkom, is my boek oor die Woordfees. Ek is nou besig met hom en ek wil hom graag klaarmaak. Dan gaan ons oorsee sodat ek bietjie my kop kan skoon kry en besluit wat ek volgende wil doen. Miskien begin ek nog ’n fees; ek dink daaraan, of miskien doen ek iets heeltemal anders.

2) Wat is prof se droom?

Dis baie interessant, want drome het te doen met ’n sekere vervulling wat jy soek. So ek dink met die Woordfees het ek taamlik bereik wat ek wou, ons wou ’n dinamiek word om Afrikaans te bewerkstellig en ons wou eintlik baie graag die hele boekdruk, die uitgee van boeke op ’n nuwe plank plaas.

3) Wat dink prof. is die belangrikheid van Afrikaans as universitêre onderrigtaal?

Dis vir my verskriklik belangrik. Al hoe meer Afrikaanse ouers begin hulle kinders in Engels grootmaak en dit gaan vir skole ook. Ek het gevind dat selfs op universiteitsvlak – ek gee vir derdejaars klas – die leerders wat Engels is en in Engels antwoord, vaar goed. Die leerders wat Afrikaans is en Afrikaans antwoord, vaar ook goed, MAAR die leerders wat Afrikaans is en in Engels antwoord, vaar sleg en dit is bloot omdat hulle nie die woordeskat en taalvaardigheid het nie, en mens kan nie so maklik abstrak dink as dit nie in jou moedertaal is nie. Ek voel mens moet so ver moontlik “kom” met jou moedertaal.

4) Wat dink prof is die toekoms van Afrikaans?

As mens dink oor die toekoms, kan mens net bespiegel, want dis nie in ons hande nie, maar ek dink Afrikaans gaan nog sterk staan. Self al is daar ’n afname, is dit ’n stadige een, en waar Afrikaans iets verloor, kry hy dit op ’n ander vlak terug. Ek dink wat in ons guns tel, is dat ons ’n hele paar hardwerkende mense het wat vir Afrikaans omgee, en solank daar hardwerkende mense is wat omgee vir ’n taal, gaan hy nie sommer uitsterf nie. Dit is wat mense dikwels vergeet, Afrikaans het nie sommer vanself tot hier gekom nie, daar is mense wat baie hard gewerk het daaraan om dit tot hier te kry.

5) Wat is prof se gunsteling Afrikaanse kinderliedjie?

My ma was ’n kindertuinonderwyseres en sy het baie vir ons die liedjies gesing. Ek het self graag die liedjies gesing en een van my eerstes wat ek gesing het, was “Hoe sag ry ons bootjie,” alhoewel ek dink my absolute gunstelinge is, “Al lê die berge nog so blou” en “Die Blouberg moet ons oor.”

6) Wie is prof se gunsteling Afrikaanse sanger?

Ek dink Koos du Plessis is vir my die een wat uitstaande is. Mense sê hy het nie juis ’n stem gehad nie, maar ek dink vir wat hy gedoen het, het dit gewerk. Ek dink Laurika Rauch is ook baie goed.

7) Wat is prof se gunsteling Afrikaanse nagereg?

Dis moeilik, ek’t lanklaas aan iets gedink as “Afrikaanse nagereg”. Ek hou van roomys, maar dis definitief nie Afrikaans nie. Ek dink melktert is vir my van die lekkerstes, en my ouma se melkkluitjies, outydse melkkluitjies.

8) Wat is prof se gunsteling Afrikaanse frase, iets wat lekker is om te sê?

Daar is vreeslik baie dinge wat vir my lekker sê. Jong, jy vra my nou vas, want ek is ’n woordmens, so daar val so voortdurend woorde deur wat lekker sê.

9) Watter drie eienskappe sou prof sê beskryf ’n Afrikaner?

Ek het nie ’n probleem daarmee nie, maar baie mense het ’n probleem met die term “Afrikaner” omdat dit ’n eksklusiewe term is. So, ek het gewoond geraak om te praat van Afrikaanssprekende. Ek dink die belangrikste aspek wat ek wil sien in Afrikaners, is dat hulle akkommoderend moet wees. So vir my is dit belangrik dat ons inklusief en akkommoderend raak sodat ons die taal werklik kan beskerm deur al hoe meer mense te kry wat dit praat.

10) Wat maak die Woordfees anders as ander kunstefeeste?

Die Woordfees se groot verskil is dat dit ’n fees is met pitkos. Ons onderskat nie ons ondersteuners nie, maar ons kyk ook baie goed dat ons die verskillende teikengroepe kan akkommodeer. Mense kom hierheen om vertonings te kyk en uitstallings te sien, ja, hulle kuier heerlik rond, maar dit is nie ’n kuierfees in die volle sin van die woord nie.

 

 

0 Comments

  1. Fanie Boshoff sê:

    Hierdie nuusbrief is regtig goed en dek baie wye aspekte.
    Doen so voort!

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!