Akademia-promosieplegtigheid
Maart 27, 2014
Oor blootstelling, identiteit en ontgroening
Maart 27, 2014

Deur dr Danie Langner.

Soos met vele ander verkiesings sedert 1994 staan politieke partye tou om met Afrikanerorganisasies gesprek te voer oor aktuele en gemeenskaplike sake. Veral in ’n tyd waar Afrikaners se stem, volgens Giliomee, weer vloeibaar is, wil politieke partye vry na die Afrikanersteunbasis, net om hulle die volgende jaar weer te ignoreer. Selfs onder Afrikaners is daar nie eenstemmigheid oor ’n partypolitieke bestemming nie. Die vraag is egter: waar staan kultuurorganisasies te midde van verkiesingskoors?

Dr NJ van der Merwe, stigterslid en eerste voorsitter van die FAK en Hoofleier van Die Voortrekkers het in 1934 ’n skerp skeidslyn tussen kultuur en partypolitiek getrek. Hy het gewaarsku dat Afrikaners ondanks partypolitieke tweespalt en ontwrigting op die kulturele terrein “partypolitiek blind moet wees”. As kultuurleier was daar vir hom “geen plek” vir partypolitiek op die kultuurakker nie. Merkwaardige woorde as daar in ag geneem word dat Van der Merwe ook ʼn politieke leier was. Die jaar 1934 was gekenmerk deur politieke woede, bitterheid en skeuring as gevolg van Hertzog en Smuts se samesmelting. Na die partyskeuring het Van der Merwe Hertzog opgevolg as partyleier van die Nasionale Party in die Vrystaat. ʼn Mens sou kon reken dat Van der Merwe juis Afrikanerkultuurorganisasies soos die FAK en Voortrekkers sou wou inspan om partypolitieke oogmerke te verwesenlik. Van der Merwe het egter geredeneer dat Afrikaners op die kulturele terrein gemeenskaplike grond kan vind waar hulle “ongeag partypolitieke oortuiginge om dieselfde vuur kan sit”, selfs wanneer “ons soms teenoor mekaar nukkerig is”.

Beteken dit dat kultuur en politiek niks vir mekaar te sê het nie? Te midde van ’n ekonomiese depressie en ’n verwoestende droogte, beskryf Van der Merwe Afrikaanse kultuur as “die hoogste intellektuele bate” van ’n volk.  Vir Van der Merwe het die kultuurwêreld die verantwoordelikheid om meta-politieke idees te ontwikkel en die kulturele kapitaal daarvan eietyds te ontsluit. Om dié rede definieer hy Afrikaners se kultuurstryd as “’n stryd om homself te wees en sy eie selfstandigheid te handhaaf.” Die grootste taak van die FAK was vir hom om Afrikaners van alle politieke partye in die gemeenskaplike kultuurstrewe te verenig met die oortuiging dat die gemeenskaplike kulturele denkraamwerk mettertyd ook sy weg na die staatslewe sou vind.

Kultuurorganisasies moet ’n veilige ruimte bied vir vrye toekomsgerigte denke en debatte. Van der Merwe beskryf die ruimte as die Afrikaner se “geestelike vryheid”. Hennie Aucamp sluit by die gedagte aan as hy skryf: “In krisistye is kultuur geen luukse nie, maar die hoogste vorm van selfbehoud. Kultuur staan vir interne orde en interne orde is die fondament vir alle beskawing.” Deur middel van die interne orde wat ’n ryk kultuurlewe bring, word stabiliteit en kontinuïteit tussen hede, verlede en toekoms geskep. Deur Afrikaanse musiek, letterkunde, poësie, kuns en ander vorme van kulturele uitlewing, neem kultuurorganisasies Afrikaners se “geestelike vryheid” en “interne orde” in beskerming en ontwikkel dit verder. ’n Lewenskragtige kultuurlewe was vir Van der Merwe “meer werd as vryheid en politieke onafhanklikheid”, omdat Afrikaners staatkundig en ekonomies vry kan wees, “maar in sy siel onderdanig en verkneg”. Politiese vryheid sonder geestelike vryheid het geen waarde nie. Kultuur gee aan Afrikaners die noodsaaklike “geestelike of kulturele kapitaal” waarmee hulle in krisistye kan woeker om hul ideale en strewes aan die volgende geslag oor te dra. Hy waarsku dat indien die partypolitiek ’n houvas op die kultuurlewe kry, sal Afrikaners se “geestelike vryheid” kort voor lank verstik deur twis en verdeeldheid, en sal die kultuur sy inherente vermoë verloor om rigtinggewende ideële leiding aan Afrikaners te bied.

Ten spyte van Van der Merwe se waarskuwende definiëring oor die verskil tussen kulturele en politieke terreine, het Afrikanerkultuur in die laaste helfte van die twintigste eeu toenemend in die beklemmende greep van partypolitiek beland. Aanvanklik het die verbroedering tussen die Nasionale Party, Afrikaanse kerke en Afrikanerkultuur ’n veilige ruimte vir organisasies geskep. Die verbroedering het met tyd Afrikaners se “geestelike vryheid” versmoor en hulle teen die tagtigerjare koersloos en idee-arm gelaat. Deur partypolitieke betrokkenheid is die interne orde gedestabiliseer. Afrikanerkultuur het op die naat van partypolitieke verdelingslyne geskeur met bitter gevegte en met wonde wat ’n kwarteeu later nog steeds sigbaar is.

Na die politieke oorgang van 1994 het Afrikanerkultuur homself langsamerhand losgewikkel van die versmorende omhelsing van die partypolitieke establishment. Dit is makliker gemaak deur die verdwyning van die Nasionale en Konserwatiewe Party van die Suid-Afrikaanse politieke toneel. Afrikanerkultuurorganisasies wat die groot getalle platval oorleef het, het stadig maar seker hul kultuurvoete in ’n nuwe Suid-Afrika gevind.

Daarmee saam het Afrikanerkultuurorganisasies opnuut die swaar herwonne geestelike vryheid in beskerming geneem en die kulturele kapitaal van ouds herontdek. Afrikaners het oor grense heen nuwe gemeenskaplike gronde gevind en nuwe kampvure aangesteek buite partypolitieke grense. ’n Nuwe interne orde is dinamies aan die werk.  Ou idees word afgestof en nuwe idees op grond van internasionale tendense ontwikkel.

Partypolitiek is belangrik en as landsburgers het Afrikaners ’n verantwoordelikheid om hul burgerplig by die stembus uit te oefen. Afrikaners het egter ook ’n dure les geleer, naamlik dat geestelike vryheid en kulturele lewenskragtigheid heeltemal te kosbaar is om op ’n partypolitieke altaar te offer.

 

 

0 Comments

  1. FRANS SCHUTTE sê:

    GEEN POLITIEK PARTY WAT AAN DIE STEMMERY DEELNEEM BIED N SUIWERE KULTURELE RUSPLEK VIR DIE AFRIKANER NIE. EK PRAAT VAN DIE BLENKE SUID AFRIKANER.

    N NUWE BESTEL SAL GESKEP MOET WORD OM ONS TAAL, KULTUUR EN GODSDIENS UIT TEL LEEF.

    • Sakkie du Plooy sê:

      As daar geen Politieke Party is wat volledig ons kulturele behoeftes bevredig nie behoort dit ons nie verhoed om te gaan stem op 7 Mei nie! As ons dan gaan stem moet ons dan minstens ‘n kruisie gaan trek by die party wat die belange van Afrikaners op die hart dra EN tot hiertoe bereid was om in die Raadsale ons waardes in te dra en ons belange te behartig.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui