Oor blootstelling, identiteit en ontgroening

Kultuur en politiek
Maart 27, 2014
FAK Studiebesoek aan Namibië
Maart 27, 2014

Deur prof Danie Goosen

Afrikaners wat mekaar opsoek, word dikwels gewaarsku – meestal deur ander Afrikaners – dat hulle nie hulself in ’n laer moet terugtrek nie. Laertrekkery isoleer jou, word gesê, dit voorkom dat jy aan die wêreld “daar buite” deelneem.

Hoe moet hierdie waarskuwing verstaan word? Onttrek Afrikaners wat mekaar se geselskap opsoek hulself tegelyk van die wêreld?

En loop hulle as gevolg daarvan die risiko om soos geestelike bosbewoners te word wat skrik vir die geringste vreemde mens, idee of verbeeldingsvlug?

Ek dink hierdie waarskuwing is misplaas. Rondom die volgende vyf punte probeer ek verduidelik waarom:

Eerstens, dit is korrek om te sê dat Afrikaners mekaar se geselskap vandag opsoek. Sonder dat hulle dit uitdruklik aan mekaar gesê het, gebeur dit op sosiale netwerke, in woonbuurtes, tussen vriende, by skole en universiteite, op kultuurfeeste en – tot die erge frustrasie van politieke transformeerders – op rugbystadions. Asook in ’n verstommende hoeveelheid kultuurorganisasies. En in die grootste burgerregte-organisasie wat nog ooit deur hulle tot stand gebring is.

Tweedens, Afrikaners is vandag – en dit is slegs ’n oënskynlike weerspreking van bogenoemde punt – soos nog nooit in hul geskiedenis aan die “invloede van buite” blootgestel nie. Die oomblik as jy uit jou motorhuis ry, die oomblik as jy jouself voor die TV neerplak, die oomblik as jy in jou kantoor stap, die oomblik as jy ’n draai in die ewige Mall gooi, die oomblik … so kan ons aangaan – telkens bevind jy jouself tussen nie-Afrikaners, tussen mense wat meestal slegs ’n vae – en dikwels bevooroordeelde – idee van jou taal of kultuur het.

Waarskuwings dat Afrikaners hulself tog nie in ’n laer moet terugtrek nie, is teen die agtergrond hiervan eintlik verspot. En gewis volledig werklikheidvreemd. Binne die heersende Suid-Afrikaanse werklikhede is die kans dat enigiemand – Afrikaners ingesluit – hulself in ’n enklave kan terugtrek ongeveer ’n ronde nul. Daarvoor is ons almal eenvoudig te blootgestel.

Trouens, Afrikaners word waarskynlik deur ’n toestand van hiper-blootstelling gekenmerk. As daar ’n waarskuwing aan Afrikaners gerig moes gewees het, sou dit eerder wees dat hulle vir te veel blootstelling versigtig moet wees! Want, sou aangevoer kon word – en let wel, ek doen dit nie hier nie – hulle kan hulle self in dié toestand van hiper-blootstelling verloor.

Derdens, diegene wat teen laertrekkry waarsku, verstaan nie die toestand van hiper-blootstelling waarin Afrikaners tans verkeer nie. Nog minder verstaan hulle die rede waarom Afrikaners vandag mekaar se geselskap opsoek.

Afrikaners soek mekaar vandag op, nie omdat hulle in ’n enklave wil terugtrek nie, maar juis as gevolg van hul oorweldigende blootstelling aan die “buitekant”. En dit is nie vreemd nie. Trouens, ons kan hierdie verskynsel met behulp van ’n globale “gemeenskapswet” verstaan: Hoe meer mense vandag aan die invloed van “buite” blootgestel word, des te meer sal hulle tegelyk ’n eie “binne” opsoek.

Vanuit hierdie gemeenskapswet beskou, bestaan daar nie ’n spanning tussen die feit dat Afrikaners mekaar opsoek en hul gelyktydige hiper-blootstelling nie. Inteendeel, hierdie twee kragte werk saam. Hoe meer blootstelling, des te meer sal ons mekaar opsoek.

Amper sê ek dit is “natuurlik”. Maar as dit nie natuurlik is nie, is dit ten minste vandag ’n bekende historiese verskynsel. Talle kommentators het reeds daarop gewys dat hoe meer ons die globale wêreld betree (en aan sy grensloosheid blootgestel word), des te meer gaan kultuurgemeenskappe mekaar opsoek. En grense rondom hulle trek. Enigeen wat oë het om te sien, weet dat hierdie proses volstoom aan die gang is. Gemeenskappe word dwarsoor die wêreld gevorm, nie in weerwil van die globale wêreld nie, maar juis as gevolg daarvan.

Vierdens, die verskynsel van ontgroening onder Afrikaanse studente. In hierdie verband is daar slegte nuus vir diegene wat ontgroeningspraktyke “met wortel en tak wil uitroei”, soos een van ons vooraanstaande akademiese administrators dit in sy dreigende – en onakademiese – toon geformuleer het. Waarom?

Sosioloë het reeds dekades gelede verduidelik dat ontgroeningspraktyke ’n tipiese “oorgangsritueel” is waarin die “ingewyde” ’n eertydse gemeenskap verlaat (in hierdie geval die skoollewe) en in ’n nuwe gemeenskap (die universitêre gemeenskap) ingewy word. Dit is nie tot Afrikaners beperk nie, maar kom wêreldwyd aan universiteite voor.

Alhoewel daar allerlei vergrype in ontgroeningspraktyke kan gebeur, bly dit steeds een van die heel beste wyses waarop ’n sin vir gemeenskap tot stand kom. Slegs diegene wat nie die feit van – en noodsaak vir – gemeenskapsvorming verstaan nie, verstaan ook nie die belangrikheid van ontgroeningspraktyke nie. Vergrype tydens ontgroening hoef nie ’n verskoning vir die afskaffing daarvan te wees nie, maar eerder ’n rede om dit te reguleer. Sonder hierdie belangrike gemeenskapsvormer is ook ons universiteite armer.

Op grond van bogenoemde gemeenskapswet (“hoe meer mense aan die invloed van ‘buite’ blootgestel word, des te meer soek hulle ’n eie ‘binne’ op”) kan met ’n mate van sekerheid voorspel word dat die pogings om ontgroeningspraktyke uit te roei tot mislukking gedoem is.

Hoekom? Hoe meer Afrikanerstudente aan hul toestand van blootstelling uitgelewer is, des te meer sal hulle – as dit moet, buite die oog van universitêre burokrate – mekaar in dinge soos ontgroeningspraktyke opsoek.

Vyfdens en laastens, hoe moet die verhouding tussen “buite” en “binne”, tussen die globale en die partikuliere, tussen die ander gemeenskappe en die eie gemeenskap verstaan word?

Afrikaners gee reeds vir ’n geruime tyd op ’n meestal onuitgesproke wyse ’n antwoord hierop: Binne en buite sluit mekaar nie uit nie. Inteendeel, hulle versterk mekaar onderling. En ek dink dit is die regte antwoord.

0 Comments

  1. Dink nie ontgroening het meer ‘n rol nie. Dit lyk my die enigste rol van ontgroening is om die student se kritiese denkvermoeens te vermoor sodat die student presies net soos almal in die groep dink en optree. Almal moet dieselfde wees. Verneder individualiteit en kreatiwiteit.

  2. Hannes Nel sê:

    Ja, ontgroening is ‘n vergrype teen die individu, maar darem nie teen ons volk nie. Dit wat Beeld gedoen het, is ‘n aanval op ons kultuur. Dit is nie die eerste keer dat die verspotte redakteur van Beeld so iets doen nie. Verlede jaar, ek dink dit was 2 Desember, plaas hy mos ‘n brief aan ‘n elfjarige dogtertjie op die voorblad van Beeld, waarin hy haar advies gee teen haar pa, wat een van die regse tipes is wat, dink ek, in die tronk is. Die redakteur het geen reg om ‘n kind by sy politieke oppertunisme te betrek nie. ‘n Kind moet speel en nie betrek word by politiek nie. Haar pa se doen en late het niks net haar te doen nie en sy het nog minder te doen met die redakteur van Beeld. As die knaap vir my gewerk het, het ek hom op die plek ontslaan. En dan het hy die vermetelheid om ‘n paar weke later op Kwela oor sy wonderlike brief te spog – die knaap is jou werklikwaar trots op sy gebrek aan insig.

  3. Prof Willie Rautenbach sê:

    Prof Danie Goosen tree nie alleen as ‘n apologeet vir ontgroening aan universiteit op nie, maar doen ‘n beroep op Afrikaners om dit as ‘n deel van ons kultuur te bewaar en voort te sit! Om die volgende redes hoop ek nie dat dit die siening van die FAK weerspieel nie! My persoonlike ervaring met ontgroening strek vanaf ‘n hoerskoolkoshuis, tot student aan ‘n Afrikaanse universiteit, en as dosent aan ‘n ander een. Orals was die doel van ontgroening om die nuweling te verplig om ‘n stel van groepswaardes en groepsdenke te aanvaar. Dit word bereik deur intense fisiese en psigiese druk op die nuweling te plaas, afgewissel deur tye van aanvaarding deur die ontgroeners. Die “beloning” is eventuele opname deur die groep en ‘n “lisensie” om nuwe toetreders te ontgroen. Meestal werk dit en die nuweling word net soos die groep. Ontgroening is dus maar nog net ‘n vorm van breinspoeling wat ook aangewend was deur Hitler se fassiste, oortuigde kommuniste, en in ons midde, deur bendes van kriminele. Al hierdie groepe het in gemeen dat hulle nie vryheid van denke, van ondersoek van van spraak voorstaan nie. Hulle is gewoonlik ook nie bereid om hulle ideologie en praktyke vir ondersoek en bespreking bloot te le nie. Ek stem egter mer prof Gooseen saam dat dit nie help om sulke groepe net te verbied nie – dan gaan hulle ondergronds. Wat wel werk om ontgroening op ‘n universiteit of koshuis die nek om te draai, is om te verwag dat alle studente as beskaafde mense optree. Onlangs het ‘n jong eerstejaartjie my vertel dat hy vriendelik deur die seniors in sy koshuis ontvang, en rondgewys is, en ingelig is wat van almal verwag word. Dit sluit ook in dat hulle gepaste klere na die lesings dra! Ek kon aanvoel dat hierdie student trots is om lid van so ‘n studerende gemeenskap te wees. Die FAK kan dus eerder beskaafde optrede deur Afrikaners in ons komplekse land propogeer as dat ons mekaar behoort te ontgroen om moontlike aanvegbare groepsidentiteite te probeer opbou en bewaar!

  4. Louis du Plessis sê:

    ‘N FABEL

    Die wyse waarop instellings nuwe toetreders hanteer, het uiteenlopende en fassinerende fasette. Hieronder volg ‘n paar indrukke oor die wyse waarop ‘n Indiese spreeu, wat vol is van homself, met ‘n eeu oue verwelkomingsproses, deel word van ‘n swerm, en daarna jaar na jaar saam met sy medespreeus met hoë agting na sy nes toe terugvlieg.

    SOLO
    deur Louis du Plessis op 4 Junie 2013 ná Wilgenhof se 110-jarige reünie

    Hy spring-spring oor die Pieke
    tussen spierwit mure in
    om as enigste kind
    sielkunde te swat
    “I’ll do it my way”
    neurie die Indiese spreeu
    wat sy eie pad vat
    maar beland in die kwot

    waar tweedejaars hom omsingel
    wie se karregistrasies
    en hoolnommers hy weldra ken –
    sy fokus oorrompel en verstoor
    Hy staan in ‘n tou
    gaan eet in gelid
    swaai aan ‘n galg
    kruip deur ‘n voor

    In die eetkamergalery
    draai sy oë op bevel
    na hoekstene van die Plek
    van regs na links geleë
    Hans Strijdom
    Albert Hertzog
    Van Zyl Slabbert
    Beyers Naudé…

    Skaars gister saam met
    Roelf, Jan en Christo grondgevat
    vorm skouers ‘n sirkel
    sing-sing in die kwot
    “Kamerad, Kamerad,
    wie schön ist uns das Leben”
    elke koorlid neurie nou
    “o Doll Dear, I loves you so”

    Gustav le Bon staan
    in die Strand op die sand
    toe Frank en sy kamerade
    oplos in die branders
    Almal weet: hy het sy Nissan
    en sosiologie afgeskryf
    en sy onstuimige Wenda
    slaap nou by iemand anders

    “Laat ruis laat bruis
    die naam van ons huis” – dié koor
    word elke vyf jaar weer gehoor
    want met reünies
    vlieg die swerm terug
    opnuut bekoor

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!