Vakbondleiers se hunkering na die politiek
April 29, 2014
Waarom Afrikanerparty die regte keuse is
Mei 5, 2014

My dogtertjie is 11 en speel netbal. Sy geniet haar gate uit.

Ná die onlangse proewe kom sy met ʼn vraagteken op haar voorkop by die huis aan. Sewe uit die eerste veertien dogtertjies moet swart wees. In haar kop bestaan daar nie ’n onderskeid tussen wit en swart kinders nie. Sy leer egter nou dat daar ʼn onderskeid is. Swart is anders as wit. Sy leer dat niemand wit kindertjies gaan help nie; hulle is op hulself aangewese. Dit neem iets van haar waardigheid weg. Iets wat sy ís (haar velkleur), ontneem haar van sukses. Sy sal altyd glo sy was eintlik die beste, selfs al was dit dalk nie so nie. Die ironie is dat hoewel ʼn growwe stuk diskriminasie teen wit kinders gepleeg word, hulle bevry word van die stelsel.

Ek woon gereeld netbalwedstryde by. Die swart dogters is werklik goed. Hulle het die vasberadenheid en spoed wat nodig is vir netbal. Ek vermoed hulle sal maklik die eerste sewe van die voorste 14 van die span, bloot op meriete, haal. Hulle het werklik nie die stelsel nodig om hulle te help nie.

Wat hoor die swart dogters? Wit kinders is beter; die stelsel is nodig vir sukses. Al sou meer as sewe van hulle waarskynlik in die top-14 beland het, weet nie een van hulle of hulle werklik op meriete gekies is nie. Hulle twyfel dus of hulle die beste is. Dit is ook ʼn growwe stuk onreg wat hier gepleeg word. Die paradoks hier is dat, in ʼn poging om die dogters van die apartheidstelsel te bevry, hulle aan ʼn nuwe stelsel verslaaf word.

Kwotas in sport is verkeerd. Dit druis in teen alles waarvoor sport staan. Dit is nie uit ʼn morele of regshoek verdedigbaar is nie.

Fikile Mbalula

Fikile Mbalula

Solidariteit het onlangs saam met AfriForum ʼn moeilike, drie uur lange gesprek met die minister van sport en ontspanning, Fikile Mbalula, gevoer oor sy gewraakte kwota-uitsprake.

Solidariteit het spesifiek gefokus op die invloed van kwotas vanuit ʼn werkgewer/werknemer-verhouding.

In die professionele sportera ontstaan werkgewer- en werknemerkontrakte tussen sportunies en professionele sportlui. In die sportomgewing ontstaan ook talle ander werkgewer/werknemer-verhoudinge. Dit sluit in dié met sportadministrateurs en skeidsregters. Dit is op al hierdie vlakke wat kwotas in die vooruitsig gestel is.

Enige vorm van kwotas in die arbeidsomgewing sal onwettig wees.

Dit druis in die eerste plek in teen die gees van die Suid-Afrikaanse Grondwet. Die nie-aangewese groep het ook ʼn reg op gelykheid en waardigheid en kwotas ondermyn hierdie regte. Hierdie reg van die nie-aangewese groep is deur die arbeidshof in die Renate Barnard-saak bevestig.

Nêrens in die Grondwet word voorsiening gemaak vir kwotas nie. Slegs in die geval van die regbank en openbare administrasie word voorsiening gemaak vir breë en nie absolute verteenwoordiging nie.

Die Wet op Billike Indiensneming verbied ook kwotas. Die hoërhof van appèl in Bloemfontein het onlangs bevestig dat kwotas onwettig is.

Dié hof het ook bevind dat die kwotastelsel, soos dit deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) toegepas word, dienslewering benadeel. Waarom sal kwotas in sport nie die spel en administrasie daarvan benadeel nie?

Die probleem is dat die onlangse dreigemente van die minister ʼn klimaat skep waar kwotas in praktyk afgedwing word sonder om dit in regulasies te bepaal.

Die departement van sport en ontspanning het op 28 Maart 2014 ’n loodsstudie deur die Groep van Vooraanstaande Persone oor die transformasie van sport aanvaar en die aanbevelings wat daarin vervat is, goedgekeur.

Die uitwerking van die goedkeuring van hierdie aanbevelings is onder meer:

• Dat versuim om ’n kwota van 60% swart spelers in die veld te stoot daartoe sal lei dat die Proteas, die Springbokke en Bafana Bafana verbied sal word om Suid-Afrika by internasionale geleenthede te verteenwoordig;

• Dat versuim om die nuwe kwotas toe te pas, sal lei tot die onttrekking van enige vorm van finansiering en steun aan federasies en sportliggame;

• Dat die departement van sport die nasionale kleure van enige sportvereniging wat nie aan die voorgeskrewe kwota voldoen nie, sal herroep; en

• Dat die kwota van 60% swart spelers met onmiddellike effek toegepas word.

Al hierdie aanbevelings is gegrond op ’n onwettige kwotastelsel.

Dit is onaanvaarbaar om onwettige praktyke as dreigemente te gebruik. Dit is ʼn vorm van afpersing.

Dit gaan die onderskeie unies en liggame dwing om onwettig op te tree.

SportkwotasSolidariteit is van mening dat die minister se onlangse optrede die regstaat en die Grondwet van Suid-Afrika ondermyn.

Ons kry die indruk dat die minister meen dat transformasie die hoogste gesag in Suid-Afrika is en dat daar nie toegelaat sal word dat die Grondwet in die pad van die transformasie van sport sal staan nie.

Die probleem is dat die minister iets nastreef wat nog nêrens in die wêreld bereik is nie. Oral in die wêreld presteer sekere groepe beter in sekere sportsoorte. Dit geld tussen lande maar ook binnelands. Naellope word gedomineer deur die eiland Jamaika, basketbal deur swart Amerikaners, en die Keniane oorheers marathonwedlope.

Die minister se groot idee dat alle spanne die nasionale rassedemografie moet weerspieël, is nog nêrens in die geskiedenis van die ganse mensdom bereik nie.

Die antwoord lê in gesonde ontwikkelingsprogramme waar jongmense van primêre skoolvlak af blootgestel word aan ʼn verskeidenheid sportsoorte, wat ʼn natuurlike pypleiding van vaardighede tot gevolg sal hê. Die minister se probleem is egter nie onwillige unies nie, maar die 70% – 80% van skole wat eenvoudig wanfunksioneel is. ʼn Skool wat akademies wanfunksioneel is, sal nie ʼn funksionele sportontwikkelingsprogram kan aanbied nie. Insgelyks kan wanfunksionele munisipaliteite ook nie funksionele sportgeriewe bied nie.

Wanfunksionaliteit kan nie vinnig deur kwotas reggestel word nie. Die minister van sport en ontspanning moet eerder sy woede koel op sy kollegas wat verantwoordelik is vir onderwys en munisipale regering en die staat se swak regering oor die algemeen. ʼn Ondoeltreffende staat self vorm die grootste struikelblok vir die toegang van Suid-Afrikaners tot sport, en ironies genoeg, is die staat juis ondoeltreffend as gevolg van dieselfde ideologie wat hy nou op sport wil afdwing.

Bron: Die Groot Debat, uit Maroela Media

Comments are closed.

error: Content is protected !!