Sportkwotas: sleg vir almal en boonop onwettig
April 30, 2014
Chris Chameleon FAK-liedjietuin Beskermheer
Mei 9, 2014

Afrikaners staan op die vooraand van die 2014 algemene verkiesing in Suid-Afrika by ’n politieke kruispad. Die besluite wat ons met hierdie verkiesing neem kan verreikende gevolge hê vir ons vermoë om voordeel te trek uit die parlementêre politiek.

Tog is dinge nie meer so duidelik as voorheen nie. Waar die DA met alle krag en mag teen die beleide van die ANC geveg het wat verantwoordelik is vir Suid-Afrika se groeiende probleme, begin ’n nuwe, jonger leierskap binne die DA om die status quo en politieke posisionering van die party uit te daag.

Die oorsaak van hierdie ommeswaai word aangedui deur die volgende grafiek wat deur www.emtanalytics.com opgestel is in hul onlangse ontleding oor die verkiesing:Grafiek1

Die oorsaak van hierdie ommeswaai word aangedui deur data wat wys dat die stemgeregtigde deel van etniese minderhede van 28% van die totale Suid-Afrikaanse bevolking in 1994 tot sowat 22% in 2014 gedaal het.

Dit is duidelik dat Suid-Afrika se etniese minderhede (gedefinieer as blankes, gekleurdes, Indiërs en Asiate) se proporsionele stem gaandeweg besig is om te daal en daarmee saam word hul vermoë om die politieke diskoers te beïnvloed, ook minder.

Hierdie tendens gaan ook nie verander nie, aangesien die land se minderhede relatief gesproke steeds heelwat minder kinders as die swart groepering kry.

Wat vir die minderhede as geheel geld, is des te meer van toepassing op Afrikaners.

Dit is ook duidelik dat ’n politieke party wat die regering wil oorneem, die grootste gedeelte van die swart stem op homself moet verenig. Só ’n party het dan geen ander keuse nie as om simpatiek te wees teenoor die waardes, verwagtinge en geskiedenisbeskouing van die swart meerderheid.

Dit beteken in praktiese terme dat wanneer die swart kieserskorps glo dat grond deur wit mense van hulle gesteel is en dit vir hulle belangrik is om daardie grond terug te kry, enige party wat graag ’n regering wil vorm, simpatiek teenoor hul eise sal wees (ongeag of hul standpunt histories akkuraat is of nie).

Dit verklaar waarom die drie politieke partye wat tans beplan om nou (of in die toekoms) die regering te vorm, te wete die ANC, DA en EFF, almal ten gunste is van beleide wat skadelik is vir die land se ekonomie en veral ook vir Afrikaners, soos swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie en grondhervorming.

Dit verklaar ook hoekom die DA nie sy posisie in die Wes-Kaapse regering gebruik het om druk op die Universiteit van Stellenbosch te plaas om Afrikaans as onderrigmedium te bewaar en uit te bou nie. Dis ook waarom die DA in die Wes-Kaap nie Solidariteit gesteun het in sy hofsaak teen die departement van korrektiewe dienste se toepassing van regstellende aksie nie. Dit ten spyte daarvan dat die agteruitgang van Afrikaans en die diskriminasie teen bruin en wit werkers deur werkgewers in die Wes-Kaap, lynreg bots met die belange van die meerderheid van die DA se kiesers in die Wes-Kaap.

Dit is dus duidelik dat demografiese verandering beteken dat Afrikaners wat vir die ANC, DA of EFF stem, geen voordeel in ruil daarvoor in die beleidsrigtings van daardie partye kan verwag nie.
Beteken dit dat Afrikaners afsydig jeens partypolitiek moet raak?
Om hierdie vraag te beantwoord moet daar oorweeg word of daar enige alternatiewe wyse is waarop Afrikaners voordeel uit die parlementêre politiek kan trek.

By die bestudering van ouer demokrasieë is dit duidelik dat ’n klein party wel die politieke boerpot kan wen wanneer dit as sogenaamde koningsmaker kan optree.

Dit gebeur wanneer die twee dominante partye nie self ’n meerderheid van die stem gekry het nie, en die hulp van ’n klein party benodig om ’n regering te kan vorm. Daardie klein party kan dan voorwaardes stel in ruil vir sy ondersteuning van die party waarmee hy gaan saamwerk om die regering te vorm.

Só ’n voorbeeld is die rol wat die Groen Party in Australië vervul het om dit vir die Arbeidersparty moontlik te maak om ’n regering tussen 2010 en 2013 te vorm. Tydens die verkiesingsveldtog in 2010 het die Arbeidersparty belowe dat daar nie ’n koolstofbelasting ingestel sal word indien hulle die regering sou vorm nie.

In die verkiesing het die Arbeidersparty 72 setels in die parlement gewen en die Liberale Party (grootste opposisie) het ook 72 setels gewen. Die Groen Party (met slegs 1 setel) het toe sy steun aan die Arbeidersparty gegee op voorwaarde dat daar ’n koolfstofbelasting ingestel word. Die Arbeidersparty het toe met behulp van die Groen Party die regering gevorm en in 2012 is ’n koolstofbelasting in werking gestel.

Die Liberale Demokratiese Party in die Verenigde Koninkryk (VK) is ook ’n voorbeeld. Nadat hulle die Konserwatiewe Party in 2010 aan bewind gestel het deur hul 57 setels by die 306 van die Konserwatiewe party te voeg, het die Konserwatiewe Party ingestem om ’n referendum te hou oor die verkiesingstelsel wat in die VK gebruik word. Hierdie referendum is deur die Liberale Demokrate aangevra omdat die huidige stelsel hulle tot 9% van die setels beperk al wen hulle 23% van die stemme.

In beide hierdie voorbeelde het die grootste party eise toegestaan wat hulle self skade berokken het omdat dit hulle in staat gestel het om ’n regering te kan vorm. Die moontlikheid van mag is dus ’n baie sterk hefboom wat ’n klein party in sulke omstandighede kan inspan om uitsonderlike toegewings aan hul kieserskorps te wen. Daardie magshefboom bly ook tot en met die volgende verkiesing in plek, want die minderheidsparty kan te eniger tyd besluit om nie meer die regerende party te steun nie en ’n nuwe verkiesing teweeg te bring. Dit maak dit onmoontlik vir die regerende party om nie aan die minderheidsparty se redelike eise te voldoen nie.

In kontinentale Europa is die skep van sulke naverkiesingskoalisies om die regering te vorm en die gepaardgaande uitruil van gunste en gawes algemene praktyk.

Volgens die verslag van www.emtanalytics.com is daar ’n 85% kans dat die Suid-Afrikanse politieke bestel in die toekoms weg sal beweeg vanaf ’n eenpartystelsel na ’n twee- of meerpartystelsel. In beide die twee- en die meerpartystelsel kan ’n klein Afrikanerparty as koningmaker optree en sy pond vleis vir sy ondersteuners eis:Grafiek2

Die verwagte tydsberekening van die oorgang na ’n twee- of meerpartystelsel word as volg deur uitgedruk: “Given the potential outcomes of the next decade, the final takeaway from this analysis should be the recognition that any current political uncertainty is just the opening salvo in a process of realignment that is likely to consume the rest of the decade. Current indications are that the ANC will be in a position to retain power in 2019, but by 2024, the landscape may have shifted sufficiently for the first post-1994 transfer of power via the ballot box.”

Indien Afrikaners vir ’n party stem wat onbeskaamd Afrikanersake bevorder en geen aspirasies het om eendag die meerderheidsparty in die regering te wees nie, kan ons teen 2024 selfs 16 setels in die parlement hou (indien ons die kwynende proporsionele stem van Afrikaners in berekening hou). Dit kan deurslaggewend wees vir enige party wat setels kort om aan bewind te kom. Ons party kan dan enige van ’n aantal voorwaardes stel aan die ANC of DA wat aan bewind wil kom. Voorbeelde kan insluit (in geen spesifieke volgorde nie):

• Die finansiering van een of meer enkelmedium-Afrikaanse universiteite as private instellings.
• Die kwytskelding van sekere dele van die land van die vereistes van regstellende aksie, SEB en grondhervorming
• Die oordrag van Afrikaans-medium skole vanaf die Departement van Onderwys na die Afrikaanse Taalraad, met meegaande befondsing, om as onafhanklike skole bestuur te word.
• Die gewaarborgde beskikbaarstelling van Afrikaans deur die staatsdienste in die provinsies waar Afrikaans deur ’n beduidende deel van die bevolking gepraat word.

Die Vryheidsfront Plus (VF+) het in die verlede bewys dat hy met beide die DA en die ANC kan saamwerk. Die VF+ het die DA in staat gestel om in 2007 Kaapstad te regeer en in 2009 is dr. Pieter Mulder deur die ANC as adjunkminister aangestel. Die party kan hierdie ervaring gebruik in toekomstige onderhandelinge.

Ook in die aanloop tot potensiële regeringsverandering kan ’n Afrikanerparty heelwat vir Afrikaners beteken, soos die VF+ tot op hede gedoen het. Elke nasionale setel beteken ongeveer R1 miljoen se finansiering aan ’n party per jaar. Dit kan aangewend word vir navorsing, belegging in projekte wat Afrikaners ekonomies kan bemagtig en die dryf van hofsake ten behoewe van Afrikaners. Voorbeelde van sulke hofsake waarby die VF+ betrokke was, is die saak om Suid-Afrikaners in die buiteland toe te laat om te stem, die herstel van Transnet-pensioentrekkers se aftreevoordele en om die sing van “Kill the Boer, Kill the Farmer” as haatspraak te verklaar.

Volgens www.emtanalytics.com kan die DA in hierdie verkiesing tussen 2% en 4% van die nasionale stem verloor as gevolg van sy rondvallery met regstellende aksie en Agang. Dit is egter nie vanselfsprekend dat die VF+ daarin sal slaag om hierdie kiesers op te vang nie. Die 52% daling in steun wat die VF+ ervaar tussen die 2006- en 2011-munisipale verkiesings gely het, dui aan dat die VF+ ’n ernstige geloofwaardigheidsknou onder Afrikanerkiesers gekry het toe dr. Pieter Mulder die adjunkministerspos aanvaar het sonder ’n mandaat van sy kiesers of ’n kwantifiseerbare voordeel wat die party vir sy kiesers in ruil daarvoor beding het, terwyl ’n aantal prominente en gewilde leiers van die party uitgeboender is na afloop van die besluit om die pos te aanvaar.

Ten einde Afrikanerkiesers se aandag te trek sal die VF+ sy vlak van gemeenskapsbetrokkendheid drasties moet verhoog, minder staat moet maak op mediaverklarings om sy boodskap by die kiesers uit te kry, sy organisatoriese vermoë (spesifiek takke) moet uitbrei en ’n verkiesingsveldtog bestuur wat om die regte redes verras. Die VF+ moet leer uit die suksesse van AfriForum en kreatiewe maniere vind om die ANC en die DA en die EFF in die verleentheid te stel weens hul rasgedrewe beleide. Die VF+ sal ook beter daarin moet slaag om dinamiese leiers te behou en soos ander ernstige partye sy beleid op skrif stel en toeganklik maak. Dit is elkeen uitdagende take wat die leierskap en die partystrukture sal beproef.

Wat egter duidelik is, is dat indien ons ons demokratiese reg gebruik om vir ’n party stem wat rassediskriminasie teen ons ondersteun, ons nie simpatie van die buiteland kan verwag wanneer ons met buite-parlementêre aksies protes aanteken teen die impak daarvan op ons of ons kinders nie.

Die geleentheid om wesenlike voordeel uit die parlementêre politiek te trek gaan egter nie vir lank met ons wees nie. Soos wat Afrikaners ’n kleinerwordende gedeelte van Suid-Afrika se kiesers word (verwys na die eerste grafieke) gaan ons al minder binne die parlement kan bereik.

Daarom is daar geen langtermyn plaasvervanger vir selfbeskikking nie en moet Afrikaners, ten spyte van uiteenlopende politieke oortuigings (liberaal en konserwatief), daadwerklik bydra tot die vestiging en uitbou van ’n Afrikanerstad.

Bron: Die Groot Debat, uit Maroela Media

Comments are closed.

error: Content is protected !!