Christelik-federaal as lewensbeskouing

Om vere te voel vir Afrikaans
Mei 9, 2014
Jou werk is so opwindend!
Mei 9, 2014

deur dr Danie Langner.

Christelik-federaal as lewensbeskouing

Christelik-nasionaal in krisis Die Nasionale Party (NP) was vir Afrikaners veel meer as net ’n politieke party. Die party was die beskermer en die draer van Afrikaners se Christelik-nasionale lewens- en wêreldbeskouing. Reeds in 1941 het DF Malan verklaar dat die NP geen gewone partypolitieke organisasie is nie. “Ons beklee ’n sentrale posisie in ons Afrikanervolkslewe. Skeur ons dan skeur ons hele volk in alle rigtings. Op ons, meer dan op enige ander, rus daarom in hierdie krisisuur die verantwoordelikheid om ’n eenheidsfront op te bou. Ons kan ons volk maak of ons kan hom breek.” Die profetiese woorde van Malan is bewaarheid toe Andries Treurnicht, leier van die Transvaalse Nasionale Party en kabinetsminister, in 1982 wegbreek van die NP om die Konserwatiewe Party (KP) te stig. Die KP het vinnig steun onder Afrikaners gewen en in 1987 die amptelike opposisie in die parlement geword.

Die krisis waarin Afrikaners gedurende die tagtigerjare hulself bevind het, was veel dieper as verskillende politieke rigtings of ’n ekonomiese knyptang weens buitelandse sanksie. Ten diepste was dit ’n ideële krisis. Carel Boshoff beskryf die krisis as “’n voortbestaan of oorlewingsvraag … in die diepste sin van die woord as ’n allesomvattende kultuurkrisis.” Die Christelik-nasionale lewens- en wêreldbeskouing was vir meer as ’n eeu die grondslag van Afrikaners se politieke, kulturele en godsdienstige denke en aktiwiteite. Die Bybel, saam met Afrikaners se nasionale belang en aspirasies, was die vertrekpunt vir hul doen en late. Na die Anglo-Boereoorlog was Christelik-nasionalisme die ideële dryfveer om Afrikaanse skole, koerante, universiteite en organisasies te stig. Waar die Christelik-nasionale denkraamwerk aanvanklik ’n stukrag was om Afrikanerbelange te vestig en Afrikaners tot ’n eenheid saam te snoer, het dit ongelukkig oor tyd gelei tot die verbroedering tussen die NP, die Afrikaanse kerke en Afrikanerkultuur. Die verhouding tussen party, kerk, koerant, skool en kultuur was benoud en ideologies verweef.

Sedert die laat sewentigerjare het Afrikaners langsamerhand begin om weg te beweeg van die Christelik-nasionale denkraamwerk as grondslag vir aktiwiteite. Protesmusiek, soos die Voëlvry-beweging met bekende sangers soos Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel, het die Afrikaner-establishment uitgedaag, terwyl letterkundiges soos Breyten Breytenbach, hulle teen die regering verset het. Vele Afrikaanse joernaliste, politici, akademici, kerk- en kultuurleiers het die Christelik-nasionale lewensbeskouing bevraagteken, maar kon geen alternatiewe denkraamwerk bied nie. Teen die einde van die tagtigerjare was daar ’n vloeibaarheid in Afrikanerdenke, ongeduld dat oplossings vir stedelike swart mense gevind moes word, met bekommernisse oor die gevolge van buitelandse druk, sanksies, die noodtoestand, die landswye geweld, grensoorlog en stedelike terreur. Die politiek van die dag het al meer opportunisties geword en kenmerke van krisisbestuur begin toon. In plaas van nuwe toekomsidees het beide die groot Afrikanerpartye, naamlik die NP en die KP, teruggeval op ou lojaliteite en betekenislose clichés, terwyl bitter ideologiese gevegte gewoed het. Parlementêre liberale partye soos die Progressiewe Federale Party (PFP) het geen geloofwaardigheid onder die meerderheid Afrikaners gehad nie en ook onder leierskapkrisisse gebuk gegaan. ’n Lewensbeskoulike ideevakuum het ontstaan wat teen die einde van die tagtigerjare akuut geword het. Die gevolg van die ideevakuum was ’n reeks skeurings op politieke, kerklike en kulturele gebied. Behalwe die skeuring van die NP in 1982, skeur die NG Kerk in 1987 met die stigting van die Afrikaanse Protestantse Kerk. Toe die Afrikanervolkswag, onder leiding van Carel Boshoff, besluit het om nie saam met die FAK die Groot Trek se 150ste herdenking te vier nie, het die Afrikanerkultuurwêreld ook geskeur.

’n Nuwe ideeraamwerk

Op die oog af het dit gelyk asof baie Afrikaners na 1994  wou vergeet van hul Afrikanerskap. Baie vooraanstaande Afrikaners en selfs Afrikanerkultuurorganisasies het begin om hul Afrikaneridentiteit te onderspeel of selfs te ontken. Sommige het begin om die term Afrikaanses te gebruik, so asof slegs taalbande ’n kultuurgemeenskap se identiteit vorm. Bekende persone het selfs sover gegaan om amptelik in die openbaar te bedank as Afrikaners. Willem de Klerk skryf teen die einde van die negentigerjare: “Afrikanerwees is die laaste paar jaar kroes. Letterlik inmekaar gekrul, siek, olik. Afrikaners is aan die rondmaal soos ’n klomp vasgekeerde skape … Dan is daar die hink-en-pink Afrikaners wat etikette om hulself hang: die ontnugterdes; die rigtingloses; die sinici; die magteloses; die bedruktes; die beswaardes; die afwagtendes wat wag op ’n kaptein wat weer hekke sal oopmaak … Afrikaners het kroes geword. Ander klein volkies is in hulle kroesheid uiteindelik uitgewis.” Izak de Villiers beskryf die toestand van Afrikaners teen 2009 as “major depressie” met “skisofreniese simptome” soos “een dag treur hulle en die ander dag sien hulle net geleenthede. Of een sê hoop en die ander sê verwoesting”. De Villiers waarsku: “Ons sal moet end kry om ons grootste vyand te wees, want depressie is oorlog teen jouself.”

Die verlies aan politieke mag met die ontbinding van die Nasionale Party (NP) het Afrikaners gedwing om buite die politiek nuwe toekomsstrategieë te bedink. Sedert die laat negentigerjare het in Afrikanerkringe vele gesprekke, seminare en werkswinkels plaasgevind om ’n nuwe denkraamwerk te probeer definieer. Terselfdertyd het Afrikaners hulself begin herorganiseer in sterk burgerlike organisasies wat gefokus het op praktiese doenprojekte. Bekende organisasies, byvoorbeeld die Voortrekkermonument, Die Voortrekkers, FAK, SAOU, FEDSAS, Solidariteit en die Rapportryers het saam met vele ander organisasies hulself herorganiseer en nuut verpak. Nuwe Afrikaner- burgerlike organisasies soos die Erfenisstigting, AfriForum, Akademia, Maroela Media en Afrisake het op die toneel verskyn. Hierdie organisasies, wat elk ’n eie nismark bedien, het oor tyd met toenemende selfvertroue begin standpunt inneem oor taal-, kultuur-, onderwys- en burgerregtekwessies. Hulle opstaan teen die regering en standpunte oor ’n wye verskeidenheid van kwessies het aan Afrikaners nuwe selfvertroue gegee. In minder as ’n dekade het die Afrikanerorganisasies se gesamentlike ledetal dié van die NP op die hoogtepunt van sy mag verbygesteek. Dit sou egter ’n fout wees om te meen dat alle Afrikanerorganisasies uit een mond praat of aktuele sake noodwendig vanuit dieselfde oogpunt beskou. Binne Afrikanergeledere is daar soms skerp verskille en uiteenlopende standpunte. Ton Vosloo plaas dit in ’n nugter konteks as hy skryf: “Dit is verskriklik belangrik dat ons altyd daardie reg voorbehou dat ons van mekaar moet, mag en kan verskil. Ons is nie hier om eensgesind te wees nie. Dit is stimulerend en dit is die dinge wat Afrikaans sal laat oorleef. As ons die ou kodes net kan ontleer dat jy nie eintlik jou mond of jou bek te veel mag oopmaak nie.”

Sonder dat dit iewers geformaliseer is, het ’n Christelike-federale lewensbeskouing die grondslag begin vorm in Afrikanerdenke en aktiwiteite. In kort  beteken dit dat moderne Afrikaners vanuit hul Christelike-protestantse wortels eie verantwoordelikheid vir hul gemeenskap se welstand en toekoms neem.

Afrikaners se wortels lê diep geanker in die Christelik-protestantse geloofsbeskouing. Afrikaners se Christelik-protestantse tradisie vind neerslag in waarde soos eie verantwoordelikheid, werk, vryheid, maar veral ’n sterk roepingsbesef. Wanneer elke geslag Afrikaners antwoorde op die bestaansvraag van hul tyd ontwikkel, is dit nie net aan die hand van praktiese realiteite nie, maar veral aan die hand van hierdie Christelik-protestantse erfenis. Alhoewel die meeste Afrikaners die Christelik-protestantse erfenis deel, het hulle met tyd ’n ruimte ontwikkel om ’n veelheid van ander Christelike tradisies en godsdiensbeskouinge binne eie geledere te akkommodeer. Die Christelike lewensbeskouing word lankal nie meer deur moderne Afrikaners beperk tot ’n bepaalde kerkgenootskap of dogma nie. Die eenheid binne die veelkantigheid van die Christelike tradisie word gevind in ’n breë konsensus oor Bybelse waardes, en roepingsbewustheid.

Sedert die Groot Trek het Afrikaners dit as hul roeping beskou om die lig van die evangelie in Afrika te laat skyn. Om dié rede kan Afrikaners se roepingsbewustheid en identiteitsontwikkeling nie van mekaar losgemaak word nie. Met elke veranderende kaart, soos met die Groot Trek of na die Anglo-Boereoorlog, het Afrikaners ook deur ’n geloofskrisis en ’n louteringsproses gegaan waar hulle geloofsantwoorde soek vir hul pyn, frustrasies, woede en bekommernisse. Dit het ook na 1994 gebeur. Geen wonder Angus Buchan het een uit elke vier Afrikanermans toegespreek nie. Soos gelouterde Afrikaners stadig maar seker hul voete binne die werklikheid van elke nuwe kaart gevind het, het hulle ook hul roeping en identiteit as Afrikaners voortdurend herdefinieer. Met elke kaart kon Afrikaners opnuut sê: Ons is steeds hier en ons het nog ’n roeping hier.

Die verband tussen identiteit en roeping kan reeds in die ontstaan van die Reformasie gesoek word. Die jong Maarten Luther het as Duitser ’n identiteitskrisis beleef, vanweë die magtige Rooms-Katolieke Kerk wat dwarsoor Europa gemeenskappe se identiteit onderdruk het. As Duitser het Luther nie net teen die Roomse dogma in opstand gekom nie, maar ook teen die Roomse onderdrukking van eie identiteit. Deur die Bybel vir Duitsers in hul eie taal te gee, het Luther ’n ruimte geskep waarin Duits as taal verder kon ontwikkel. Die gewone Duitse arbeider kon in ’n verstaanbare taal sy identiteit aan die hand van Bybelse beginsels ontdek. Luther het verstaan dat die Bybel nie aan ’n persoon voorskryf of ’n persoon Duits mag wees, of nie. Geloof maak mens juis vry om jou identiteit sonder skuldgevoelens en etikettering uit te leef. Identiteit, ook kulturele identiteit, is egter ondergeskik aan die Bybel en moet volgens Bybelse beginsels kan hervorm.

Die Christelik-protestantse wortels van Afrikaners het ook neerslag gevind in hul demokratiese beskouing. Afrikaners het vanaf die VOC-tydperk weerstand gebied teen enige totalitêre en outokratiese kragte en regerings wat gesag wil sentraliseer. Afrikaners het ’n demokratiese tuiste gesoek wat ruimte vir verskeidenheid bied. Om dié rede het die Voortrekkers by Morokashoek ’n demokratiese regering gevestig met skeiding van magte. Die Voortrekkers het ook nie een groot Voortrekkerrepubliek gestig nie, maar eerder meerdere Boererepublieke as uitdrukking van ’n federale politieke beskouing. Selfs die NP se struktuur was van die begin af op ’n federale basis gestruktureer.

Soms was daar in die veelheid van Afrikanerstemme erge botsende belange, soos verskille oor die eindbestemming van die Groot Trek, of die botsing tussen Hertzog en Botha oor die prioriteit van Suid-Afrika se belange teenoor die Britse Ryk, of die uiteenlopende politieke denkrigtings van die tagtigerjare. Die veelheid van Afrikanermenings en belangegroepe het nie die demokrasie verswak nie, maar dit eerder versterk. Uit die geskiedenis blyk dit dat Afrikaners tuis voel in federale ruimtes waar eenheid op konsensus oor kernbeginsels berus, maar wat nie die verskeidenheid van gemeenskappe probeer inperk of beperk nie.

Selfs in eietydse konteks skep Afrikaners vir hulself federale ruimtes deur sterk gemeenskapsorganisasies waar hulle self besluite kan neem en eie verantwoordelikheid kan aanvaar. Die meeste Afrikanerkultuurorganisasies is steeds op ’n federale basis gestruktureer deur middel van takke, kerkrade, Voortrekkerkommando’s, streke, gebiede en skoolbeheerliggame wat eie verantwoordelikheid aanvaar vir hul gemeenskap se belange.

’n Christelik-federale lewensbeskouing bied aan Afrikaners ’n lewensbeskoulike denkruimte waarbinne hulle gestalte kan gee aan gemeenskappe se behoefte om eie verantwoordelikheid te neem. Deur die veelheid te akkommodeer, word die voorwaardes vir ’n nuwe eenheid geskep deur middel van nuwe vennootskappe, netwerke en samewerking aan gemeenskaplike sake.

 

0 Comments

  1. Koos Le Roux sê:

    Ek het dit nou geniet om die artikel te lees. Dankie Danie!

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui