Christelik-federaal as lewensbeskouing
Mei 9, 2014
Weerskant van die Rubicon
Mei 9, 2014

deur Riëtte Grobler

Wanneer ek vir mense vertel ek is ’n joernalis by ’n dagblad, is dít dikwels hul reaksie. Die spertye, interessante mense en verskeidenheid artikels sorg verseker vir baie opwinding (al voel dit soms ook maar net soos enige ander werk!). Dit is ’n loopbaan wat ek nie sommer vir iets anders sal verruil nie.

Daar is egter geen rede waarom jongmense wat lief is vir skryf, kommunikeer en werk in Afrikaans nie op skool reeds dié tipe skeppende opwinding kan ervaar nie.

Die FAK Afrikaanse Skole Ekspo is die perfekte platform hiervoor en die diversiteit van die afdelings waarvoor deelnemers kan inskryf, bied onder meer die geleentheid om navorsing te doen (historiese/ beredeneerde opstel), foto’s te neem, ’n rubriek of koerantberig te skryf en selfs om ’n bemarkingsvideo vir YouTube te maak.

Hoewel die praktiese ondervinding van skryf, redigeer en publiseer wat ek gekry het toe ek destyds as hoërskoolleerder vir ’n soortgelyke kompetisie ingeskryf het seker nie my eerste oorweging was nie, is dit in retrospek van die waardevolle vrugte wat ek uit my deelname aan die ekspo gepluk het.

Dis boonop lekker wanneer ’n kenner die kortverhaal lees wat jy met soveel sorg geskryf en herskryf het, en jou dan aanmoedig om nooit op te hou skryf nie.

Die lawwe kortverhaal wat ek in graad 10 of 11 vir die kompetisie ingeskryf het, was oor ’n nukkerige koei, as ek dit reg onthou!

Daar is ook min dinge so lekker soos die ontdekking dat ’n gedig wat ek geskryf het in ’n skryfbundel opgeneem is.

Of jy nou ’n joernalis wil word wat jou naam gereeld in swart op wit sien of nie, deelname aan die Skole Ekspo skep die geleentheid om jou standpunte, skryf- en kreatiewe talent met ander te deel én om te hoor wat hulle daarvan dink.

Na skool kom geleenthede soos dié nie sommer oor ’n mens se pad nie, so vat die kans!

Riëtte is ’n leefstyljoernalis vir die Afrikaanse dagblaaie van Media24 en die redakteur van Beeld se daaglikse Leefstyl-blad.

 

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!