Chris Chameleon FAK-liedjietuin Beskermheer
Mei 9, 2014
Christelik-federaal as lewensbeskouing
Mei 9, 2014

deur prof Danie Goosen.

Hoekom gee ons enigsins iets vir ons taal om? Trouens, hoekoms gee ons hoegenaamd iets vir ons eie kultuur om? Of vir die feit dat ons aan hierdie of daardie familie, stad, streek of godsdiens behoort?

En waarom voel ons onsself verplig om vir hierdie ‘verbintenisse’ in te tree?

Ons kan waarskynlik ’n magdom antwoorde hierop gee. Een van die heel beste antwoorde hierop kom van Edmund Burke, die bekende konserwatiewe denker vanuit die agtiende eeu.

Volgens Burke is die mees tipiese van ons as mense dat ons ‘erfgename’ is. Alvorens ons ons wêreld aktief gemaak, geskep of geproduseer het, het ons dit uit die hande van andere geërf.

En met ‘wêreld’ bedoel Burke dinge soos ons families, ons tale, ons kulture, ons godsdiens, ensovoorts. Alvorens ons hierdie gemeenskapsverbintenisse self gemaak, geskep of geproduseer het, het ons dit buite-om ons eie inisiatief ontvang. Alvorens ons besluit het of ons hoegenaamd lid daarvan wil wees, is ons alreeds daarin opgeneem, reeds deel daarvan.

’n Mens kan sê dat ons aktiewe besluit waar ons tuis wil wees eers later op die toneel verskyn. Ons aktiewe besluite is sekondêr ten opsigte van die feit dat ons altyd reeds aan genoemde gemeenskappe behoort.

Uiteraard sou ons later kon besluit om van hierdie bindinge afskeid te neem. So kan ons ons rug op ons families, ons tale, kulture of godsdiens draai. En talle mense doen dit ook. Ook onder ons as Afrikaanssprekendes, Afrikaners, Christene. Hierdie besluite kom egter eers agterna. Voordat ons so ’n drastiese besluit geneem het, is ons alreeds deel van ’n bepaalde ‘tradisie,’ om Burke se geliefde woord te gebruik.

Genoemde gemeenskapsverbintenisse gaan egter nie net tydsgewys ons eie individuele besluite daaroor vooraf nie. Burke voer aan dat hierdie verbintenisse, wat ons buite-om onsself ontvang, ook die mees betekenisvolle dinge in ons lewe verteenwoordig.

Daarmee weerspreek Burke die heersende opvatting oor wat betekenisvol is. Volgens heersende opinies is iets betekenisvol slegs in die mate waarin ek dit self gemaak, geskep of geproduseer het. Dinge is slegs betekenisvol in die mate waarin ek ’n ‘verskil’ gemaak het.

Nou, dit is nie die bedoeling van Burke om die betekenis van ons eie aktiewe maak, skep en produseer te ontken nie. Maar, sê hy, die heersende opinies trek dinge skeef: Die mees betekenisvolle dinge is eerder daardie dinge wat ons nie self gedoen het nie, maar wat ons – sonder verdienste, soos ons Christelike tradisie sê – ontvang het. Of wat ons buite-om ons eie inspanninge, keuses en ambisies geërf het.

Soos die feit van kinders, maar ook die feit van ons tale, ons kulture. En die unieke – misterievolle en selfs romantiese? – blik wat ons Christelike tradisies op die werklikheid gooi.

Maar dit bring ons terug by bogenoemde vraag: Waarom hoegenaamd iets vir dinge soos ons tale, kulture en godsdiens voel?

Burke se antwoord is eenvoudig, en volg bykans vanselfsprekend op die gedagte dat ons as mense in die eerste plek erfgename is:

Juis omdat ons hierdie mees betekenisvolle dinge buite-om ons eie vaardighede ontvang het, sê Burke, roep dit ons op om verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar.

En met ‘verantwoordelikheid’ bedoel Burke dat ons moet toesien dat dit wat ons geërf het, aan toekomstige geslagte oorgedra sal word. Of dat die ketting wat die verlede, die hede en die toekoms aan mekaar bind, nie verbreek word nie.

Nou ja, dit verg geen groot insig nie om te besef dat die gedagtes van Burke in skrille kontras staan met die heersende ideologiese ‘konsensus’.

Volgens die heersende konsensus is die mens nie in die eerste plek ’n erfgenaam nie. Inteendeel, die mens is in die eerste plek ’n ongebonde wese. Met laasgenoemde word meestal bedoel dat die mens ‘van nature’ buitekant enige verbintenisse staan. Indien die mens homself hoegenaamd tot enigiets verbind, is dit bloot die gevolg van sy eie keuses.

Hiervolgens is ek slegs ’n lid van hierdie of daardie familie omdat ekself as individu so besluit het. Van ’n (dankbare) deel-wees-van hierdie of daardie familie word daar nie voorsiening gemaak nie.

Geen wonder dat die familie toenemend as ’n blote kontrak tussen onverbonde individue verstaan word nie – ’n kontrak wat ewegoed van die kant van die kind verbreek kan word indien pa of ma nie hul ooreenkoms nakom nie.

Ook onder Afrikaanssprekendes en Afrikaners het genoemde konsensus ’n groot vastrapplek gekry. So sê ’n bekende Afrikaanse woordvoerder en televisiepersoonlikheid onlangs dat hy – om hom te parafraseer – vere voel vir Afrikaans, vir Afrikaners en die kerk. Waarom?

Uit sy argumente is dit duidelik dat hy homself as ’n onverbonde wese beskou. En dat die lewe vir hom slegs draai rondom die vraag hoe hy sy eie belange kan bevorder. Groter bindinge en die oproep tot verantwoordelikheid wat daarvan uitgaan, speel by hom kennelik geen rol nie. In plaas daarvan om, soos Burke dit sou kon gestel het, die appèl van die eeue te hoor (en verantwoordelik daarop te antwoord), hoor hy net die stem van sy eie self.

Burke sou ook kon gesê het dat die groter verhaal van die lewe, waarbinne verlede, hede en toekoms aan mekaar gebind word, by hom uiteengeval het. Hy is nie meer deel van ’n groter verhaal nie; hy is nou net sy eie storie.

Watter antwoord gee Burke hierop? Ek dink die volgende vertolk die gees van sy denke:

Volgens Burke vergeet ons woordvoerder dat ook sy eie ‘ek’ deur genoemde verbintenisse moontlik gemaak is. Sonder die rol wat gesinne, skole, universiteite en die kerk in sy lewe gespeel het, sou sy eie ‘ek’ nie na vore kon tree en vir homself so ’n sentrale plek kon opeis nie.

Dit is een van die clichés van ons tyd dat die onverbonde ‘ek’ as’t ware uit die bloute op die toneel verskyn het, dit wil sê onafhanklik van genoemde instellings. Die hedendaagse ‘ek’ is deur hierdie instellings moontlik gemaak.

Hoe antwoord ons op ons Afrikaanse woordvoerder? Deur op die donker kol in sy eie mondering te wys, naamlik dat hy sy eie bestaansvoorwaardes vergeet het.

0 Comments

  1. André Alkema sê:

    Ons is erfgename. Ons is die skakel tussen die voorgeslagte en die toekomstige geslagte.

    Dankie Danie

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!