Dr. Pieter Mulder oor Beeld, Bobby en minderheidsregte

Politieke balans bly dieselfde vanaf 1994 tot 2014
Mei 14, 2014
Die ANC se KOÖPtasie-suksesresep
Mei 19, 2014

twitter_battle_a_l

Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, reageer op ‘n meningstuk van Adriaan Basson, redakteur van Beeld, wat oor die naweek in die dagblad verskyn het. Die meningstuk is na aanleiding van ‘n vroeëre berig in Beeld oor ‘n “Twitter-oorlog” wat glo tussen Mulder en die sanger Bobby van Jaarsveld uitgebreek het.

Volgens die redakteur van Beeld, Adriaan Basson, was een van die laagtepunte van die verkiesing my “aanval” op Bobby van Jaarsveld.

Ek sou reken die ANC se hantering in die parlement van die Nkandla verslag of die DA se oneerlike SMS’e was laagtepunte van die verkiesing. Ek het ook nie vir Bobby “aangeval” nie. Natuurlik kan hy stem waar hy wil. Maar Bobby het een van die DA se oneerlike en feitlik verkeerde SMS’e waarin ek en die VF Plus aangeval word aan sy 100 000 volgelinge getwiet. Ek kon dit nie daar laat nie en het myself en die VF Plus verdedig. Toe vee Bobby die oorspronklike twiet uit en laat myne. Ek het ’n skermskoot daarvan.

Dit bly altyd ’n risiko vir ’n kunstenaar om kant in ’n verkiesing te kies – veral as hy dan nog met argumente die debatte ook betree. Daardeur stal hy uit hoe ingelig of oningelig hy is en verdeel hy sy ondersteuners met sy keuse. Verskeie goueplaatkunstenaars het aan my persoonlik oorgedra dat hulle hierdie keer vir die VF plus gaan stem. Omdat ek hulle wêreld verstaan het ek dit vertroulik gehou en dit nie misbruik om so ekstra stemme vir die VF plus te probeer kry nie.

Adriaan Basson skryf verder in sy artikel oor die verkiesing dat Afrikaanses nie wil stem vir ’n party wat hom beywer vir minderheidsregte nie. Sy gevolgtrekking is dat ’n party soos die VF Plus daarom nie meer bestaansreg het nie.

Hoe moet die VF Plus se groei in die 2014-verkiesing dan verklaar word?
Die VF Plus se groei kan net verklaar word omdat meer en meer Afrikaners, Afrikaanses en ook lede van ander minderheidsgroepe besef ’n party soos die VF Plus het bestaansreg en is nodig om in ’n land soos Suid-Afrika hulle belange te beskerm.

Die wat vir die DA gestem het, het nie soseer teen minderheidsregte gestem nie maar het om allerlei ander redes DA gestem. So het van hulle die oneerlike DA-propaganda geglo dat ’n DA-oorwinning in byvoorbeeld Gauteng ’n besliste moontlikheid is. “Gauteng is op ’n mespunt tussen die DA en ANC” het een SMS van die DA gelees. Dit terwyl die ANC 22% meer stemme as die DA in Gauteng gekry het.

29 partye het aan die verkiesing deelgeneem. 13 het dit tot in die parlement gemaak. Die VF+ het sewende gekom, 13% gegroei en ’n setel bygekry. Net drie partye, DA, UDM en VF+ het sedert 2009 gegroei. Ek dink dit is ’n sukses.

Die VF Plus het gegroei nieteenstaande ’n R100 miljoen DA-propagandaveldtog net in Gauteng. Hiervan is etlike miljoene rand spandeer aan ’n veldtog wat net op die VF Plus en op my persoonlik gemik was. Die veldtog het bestaan uit DA-radio-advertensies, pamflette en SMS’e wat allerlei onwaar feite aan die kiesers oorgedra het. Daarom het ek groot waardering vir die ou en nuwe VF Plus-ondersteuners wat ongeag hierdie aanslag steeds lojaal aan die party gebly het.

Die VF Plus het ook gegroei nieteenstaande groot frustrasies met van die Afrikaanse media wat nie die VF Plus-boodskap op ’n gelyke basis met ander partye uitgedra het nie. Talle voorbeelde hiervan kan genoem word.

Is die einde van die ANC nou naby?
Die uitasemberigte in Beeld en ander Afrikaanse koerante na die uitslae bekend is, het die indruk geskep dat ons twintig jaar na 1994 naby aan die einde van die ANC-bewind is en aan die begin van die DA se regeertydperk staan. Ongelukkig is dit ’n mistasting.

As persentasiegewys na die uitslae gekyk word, het ons net mooi ’n volle sirkel vanaf 1994 voltooi. In hierdie verkiesing 2014 het die ANC 62% en die DA 22% gekry. In 1994 het die ANC 62 % gehad en die NP en DP saam — ook 22% (NP 20,3% en DP 1,7%). Ons is dus net presies terug waar ons in 1994 was — eintlik slegter af.

Hoekom slegter af?
Omdat ons Nelson Mandela met Julius Malema vervang het.

Mandela, wat in 1994 uitgereik het na alle minderhede, Afrikaners ingesluit, is in 2014 vervang met ’n jong radikale sosialistiese Malema wat in alles behalwe versoening belangstel. Hierdie Malema het 6% stemme gekry wat nie by die DA-kant bygetel kan word vir ’n uiteindelike stembus-oorwinning nie.

Daarom gaan die DA nie binnekort by die stembus wen teen die ANC soos Basson en ander onrealistiese kommentators droom nie.

Hoekom nie?
Omdat die meerderheid ANC-ondersteuners se waardes nader aan Malema as aan Zille is. As dit korrek is, kyk ons na ’n toekoms waar dit dalk eerder die EFF is wat eendag die ANC by die stembus sal wen met, as ’n tussenin-fase, ’n ANC/EFF koalisie. Dit maak minderheidsbeskerming en ’n party soos die VF Plus ’n noodsaaklikheid en ’n versekeringspolis vir die toekoms. Deur VF plus te stem is die kieser seker sy belange word behartig en hy stem teen die ANC-EFF kombinasies omdat die VF Plus in koalisies met die DA teen die ANC glo.

Volgens Basson het Suid-Afrikaners DA gestem oor ons gemeenskaplike belange. Natuurlik het Suid-Afrikaners gemeenskaplike belange. Maar soos die DA groter word, is dit onvermydelik dat dit nie meer die belange van al die groepe wat dit ondersteun kan behartig nie. Die meerderheid in die DA sal steeds meer eis dat hulle spesifieke belange prioriteit moet geniet. Die feit dat Suid-Afrikaners ook spesifieke belange as lede van minderheidsgroepe het, lei dan skade.

As bruin bewaarders as gevolg van regstellende aksie nie aanstellings in die Wes-Kaap kry nie, raak dit bruines se lewe ingrypend. Dieselfde vir die Indiërmeisie wat met 88% en agt onderskeidings nie vir medies gekeur word nie omdat sy nie swart genoeg is nie. So is daar talle Afrikaanse ouers wat bekommerd is dat daar in die toekoms nie meer ’n oorwegend Afrikaanse universiteit gaan wees waar hulle kinders kan gaan studeer nie. Daarom gaan partye wat minderheidsbelange behartig altyd daar wees en ’n steeds groter rol in die toekoms speel. As jy deur ’n taal en kultuurbril kyk is ons almal deel van minderheidsgroepe met die 22% Zoeloes die grootste minderheidsgroep.

Die toekomstige debat en stempatrone sal gaan oor hoe ons hierdie waarhede van Suid-Afrika aanspreek. Die eenvoudige demokrasie-model, waar drie wolwe en ’n skaaplam om ’n tafel sit en demokraties stem om die skaaplam vir aandete te eet, is nie die antwoord nie. Die moderne wêreld beweeg tans polities weg van hierdie eenvoudige meerderheidsmodel na ingewikkelder modelle wat minderhede beskerm en akkommodeer. Demokrasie-modelle waar die skaaplam aan die stelsel deelneem, sy belange aandag kry en hy teen die wolwe beskerm is.

Dit is jammer dat Basson hierdie moderne internasionale debat oor modelle en minderheidsregte duidelik nie volg of verstaan nie en daarom alles oorvereenvoudig tot ou apartheidsmodelle.

Die toekoms sal bewys watter denkrigting reg was. My benadering of syne. Daarom versoek ek Basson om sy rubriek uit te knip of te stoor. Politiek gaan oor die vermoë om oor die politieke bult te kan sien die toekoms in. Oor twintig jaar sal ons weet wie reg of verkeerd was. Dan moet hy die rubriek kan uithaal want ek wil nie weer by ’n punt kom waar niemand ooit NP of DA in die verlede gestem of ondersteun het nie!

Bron: Die Groot Debat, uit Maroela Media

Comments are closed.

error: Content is protected !!