Politieke balans bly dieselfde vanaf 1994 tot 2014

Stemdag is nie die einde nie, maar die begin
Mei 14, 2014
Dr. Pieter Mulder oor Beeld, Bobby en minderheidsregte
Mei 14, 2014

Stembus2Die politieke ewewig het in die twintig jaar vanaf 1994 tot 2014 wesenlik dieselfde gebly, ten spyte van voorbladberigte wat die teendeel beweer. Hierdie gevolgtrekking kan gemaak word deur die 1994-verkiesing se uitslae met dié van 2014 te vergelyk.

Die beste metode hiervoor is om die uitslag in stemblokke op te deel, wat breedweg met links, middel en regs ooreenstem. Die ANC, PAC en EFF is aan die “linkerkant”, die IVP, COPE en UDM in die “middel” en die DA, NP, VF+ en ACDP aan die “regterkant”. Dan lyk die blokke in die 1994-, 1999- en 2014-verkiesings só:

• ANC en “linkerkant”: Vanaf 64%, tot 67%, tot 69%.
• IVP en “middel”: Vanaf 11%, tot 13%, tot 6%
• DA en “regs”: Vanaf 25%, tot 19%, tot 24%

Die enigste werklike verandering is dat die ANC en die linkse EFF saam groter geword het, en dat die DA die steun van die ou NP en ander kleiner partye bygekry het.

Intussen het daar miljoene nuwe kiesers bygekom, en tot sowat 50% van die huidige kieserskorps was nog nie in 1994 stemgeregtig nie. Dit is dus interessant dat die nuwe geslag kiesers oor die algemeen ook by die bestaande stempatrone gebly het. Die DA het beslis in die afgelope verkiesing getalsgewys gegroei, maar die ander partye ook, sodat die magsewewig grootliks dieselfde gebly het.

Ontleding van die verkiesingsuitslae

Die feit dat die politieke magsewewig oor twintig jaar dieselfde gebly het ten spyte van die grootskaalse omwenteling in die land sedert 1994, bring sekere onderliggende gevolgtrekkings na vore.

1. Suid-Afrika is nie ’n gewone demokrasie nie
’n Normale demokrasie word gekenmerk deur die gereelde wisseling van regerings, en veronderstel ’n redelike magsewewig tussen die partye. Die feit dat Suid-Afrika steeds ’n eenparty-oorheerste staat is, is die belangrikste rede waarom die invloedryke Economist ons steeds as ’n gebrekkige demokrasie beskou. Hierdie verkiesing het plaasgevind ten tye van bykans daaglike landswye proteste teen swak regering, terwyl die skandale van mnr. Zuma as president en partyleier meestal hoofnuus was. Terwyl die tydsberekening van die verkiesing die opposisie bevoordeel het, het dit nie ’n merkbare invloed op die magsewewig gehad nie.

Hoewel dit waarskynlik daartoe bygedra het dat die DA vir die eerste keer wesenlike swart steun kon wen, het dit nog nie die politieke magsewewig verskuif nie. Die onvermydelike gevolgtrekking is dat die verkiesing steeds meer oor die demografie as die demokrasie sê. Daar is dikwels gesê dat die 1994-verkiesing ’n administratiewe mislukking, maar ’n politieke sukses was. Daarteenoor kan die 2014-verkiesing beskryf word as ’n administratiewe sukses, maar ’n politieke mislukking, omdat mnr. Zuma en sy party klaarblyklik nie gestraf is vir hul flaters nie. Die meerderheid swart kiesers het steeds vir die ANC gestem omdat die regering meestal wel hul lewens sedert 1994 verbeter het, maar ook omdat hulle eenvoudig op die vlak van identiteitspolitiek steeds met die ANC identifiseer.

2. Daar is nie ’n politieke oplossing op die horison nie
Hoewel die DA se toename in steun verwelkom moet word, beteken die onveranderde magsbalans dat daar nie ’n politieke oplossing in die vorm van ’n regeringsverandering in sig is nie. Daarvoor is die gaping tussen die DA en die ANC se steun net te groot. Natuurlik speel die DA steeds ’n baie belangrike opposisierol en moet hulle voortgaan om ANC- steun af te rokkel. Daar kan in die toekoms vanselfsprekend ook verdere afsplinterings van die ANC wees wat die DA kan bevoordeel. Dit is so dat die ANC bykans onbeperkte mag geniet, en dat die amptelike opposisie geen wesenlike invloed op die rigting waarin die land beweeg, het nie. Dit alles beteken dat daar nie ’n partypolitieke oplossing vir die land se probleme op die horison is nie.

3. Verwarring van Verkiesing met Demokrasie
Suid-Afrikaners is met reg trots op die betreklik gladde verloop van die verkiesing, wat deur verskeie waarnemers as vry en regverdig verklaar is. Maar ’n suksesvolle verkiesing beteken nog lank nie dat die Suid-Afrikaanse demokrasie suksesvol is nie. ’n Stelsel word aan sy wesenlike uitkomste gemeet, en nie aan sy vyfjaarlikse verkiesingsprosesse nie. Dis wat tússen die nasionale verkiesings gebeur wat die gehalte van ’n demokrasie bepaal. Die ANC se regeringsrekord en die vlak van misdaad en korrupsie is opsigself genoeg om ’n groot vraagteken oor die stand van die demokrasie te plaas. Die ANC is as party suksesvol, al misluk hul al meer as regering.

Tweedens is ’n demokrasie en vryheid nie dieselfde nie. Daar is baie “verkiesingsdemokrasieë”, waar outokratiese leiers hul bewind met verkiesings legitimeer, maar waar vryheid as wese van die demokrasie in gedrang is. Die gevaarliggies vir die vryheid brand lankal in Suid-Afrika as gevolg van groeiende regeringsinmenging op alle terreine. Min mense is nie bekommerd oor die vryheid van persone, van eiendomsreg, van die media, die regbank, van sakelui en van kultuurgroepe nie. Bykans al die “vryheidsregte” in die Grondwet kom toenemend onder druk van die grondwetlike “gelykheidsregte” soos die rasgedrewe transformasie van die land volgens gelyke uitkomste, of sogenaamde “verteenwoordigendheid.”

4. Van minderheid- tot meerderheidsoorheersing
Suid-Afrika het tydens die oorgangsproses in die negentigs die Britse individuele “een man, een stem” -stelsel gekies, en nie die Europese groepsgebaseerde demokrasie wat ’n beproefde model vir multikulturele wenlande is nie. Prof. Donald Horrowitz van die VSA meen dat die soort stelsel wat ons in SA het, bloot minderheidsoorheersing met meerderheidsoorheersing vervang het. Volgens prof. Timothy Sisk verklaar dit waarom minderhede ’n demokrasie nie as vryheid beleef nie, maar as oorheersing deur die meerderheid. Die Kanadese filosoof, Charles Taylor, beskryf hierdie tipe stelsel as “demokratiese uitsluiting” omdat minderhede by voorbaat uitgesluit is van betekenisvolle inspraak in sake wat hulle raak. Dit is insiggewend dat selfs die liberale voormalige premier van Brittanje, Tony Blair, verlede jaar in Johannesburg gesê het dat die gehalte van ’n demokrasie gemeet word aan die wyse waarop sy minderhede behandel word.

Daar is egter ook Suid-Afrikaanse kenners wat baie krities is oor die gehalte van die land se grondwetlike demokrasie. Prof. David Welsh van die Universiteit van Kaapstad het dit ook duidelik gestel dat ’n demokrasie oor vryheid vir almal gaan, en nie net oor die meerderheid se vryheid nie. Hoewel hy erken het dat meerderhede regte het, het hy beklemtoon dat minderhede ook regte het, en dat hulle wesenlike inspraak moet hê in sake wat hulle raak. Die Afrikaner–intellektueel, NP van Wyk Louw, het reeds in die vyftigerjare gesê dat gewone meerderheidsregering in werklikheid ’n vorm van diktatuur is.

Die feit dat die land se historiese groepsvraagstuk tydens die opstel van die Grondwet geïgnoreer is, het tot gevolg gehad dat minderheidsgroepe soos Afrikaners se grondliggende belange ernstig benadeel is.

5. Skeiding tussen politiek en kultuur
Minderhede het hul politieke keuses van hul kulturele belange geskei in ’n poging om die DA teen die ANC se oormag te steun. Dit was merendeels ’n stem téén die ANC-regering en –beleid as vír die DA beleid. Anders gestel, Afrikaners stem DA meer vir die party se (opposisie) strategie as vir hul beleid. Hierdie steun beteken nie dat hul kulturele belange nou minder belangrik word nie, maar dat hulle dit deur Afrikaner- en Afrikaanse gemeenskapsorganisasies in die burgerlike samelewing bevorder, in plaas van die politiek. Hierdie neiging gaan waarskynlik voortduur, omdat die DA gaandeweg op ekonomiese gebied al meer na links sal moet skuif, en ras al meer as beleidsbepaler sal moet gebruik om groter swart steun te kry.

Afleidings

In die lig van bogenoemde ontleding kan die volgende afleidings gemaak word:
• Die staatsverswakking weens onwerkbare regeringsbeleid gaan voortduur;
• Groter staatsinmenging in die ekonomie om groter “gelykheid” te bevorder kan verwag word, met herverdeling volgens rasseproporsies as die uiteindelike doel;
• Die ANC sal steeds lippediens aan die Grondwet betoon, maar beleid sal bepaal word ingevolge die sg. “Nasionaal Demokratiese Rewolusie” as hul oorhoofse beleidsdokument;
• Die strewe na gelyke uitkomste d.m.v. groter staatsinmenging sal alle vorme van vryheid al meer bedreig;
• Daar sal toenemende Afrikanisering van groot dele van die land plaasvind a.g.v. die veranderende demografie;
• Toename in armoede en ongelykheid a.g.v. ontoepaslike regeringsbeleid;
• Die politieke debat gaan al verder na links skuif a.g.v. die EFF en die DA se politieke strategie om hul steun onder swart kiesers te vergroot;
• Die swaartepunt van gebeure verskuif na die buite-parlementêre terrein as gevolg van die staatverswakking. Stakings, munisipale proteste en die aksies van die burgerlike samelewing kan ’n groter bepalende rol as die parlement speel;
• Ten spyte van groot verskille, blyk dit dat tradisionele sosiale waardes steeds ’n samebindende faktor tussen die verskillende groepe in die land kan wees, hoewel die liberale elite-groepe mekaar meer rondom gedeelde liberale waardes sal vind.

Betekenis vir Afrikaners

Omdat ’n strategiese konflik met die regering nie politieke sin sal maak nie, sal ’n werksverhouding met die ANC nagestreef moet word ten spyte van skerp verskille. Dit alleen sal egter nie genoeg wees om die bestaansvoorwaardes vir volhoubare sukses te skep nie. Daarom sal Afrikaners wat blywend suksesvol in die land wil wees, hulself in sterk “selfhelp”- gemeenskapsorganisasies moet saamsnoer om vorme van gemeenskapsoutonomie te bevorder. Dit kan die volgende doelwitte bevat:

• Waghondfunksie oor regeringsoptrede;
• Selfhelporganisasies op belangrike terreine;
• Skep van selfstandige werklikhede en alternatiewe oplossings;
• Gebruikmaking van alle moontlike grondwetlike ruimtes;
• Drukaksies wanneer nodig;
• Sluiting van vennootskappe met ander groepe;
• Gesprek en onderhandeling met die regering oor knelpunte.

Gevolgtrekking
Die partypolitiek en verkiesings moet Afrikaners nie laat hoop of wanhoop nie. Verkiesings kom en gaan, en ons moet eerder vir die volgende geslag werk as vir die volgende verkiesing, hoewel ons steeds daaraan moet deelneem. Afrikaners is ’n eerstewêreld-gemeenskap, wat onsself eerder moet laat weeg as laat tel.

Bron: Die Groot Debat, uit Maroela Media

Comments are closed.

error: Content is protected !!