Stemdag is nie die einde nie, maar die begin

Verkiesing is klaar, nou moet iets gebeur
Mei 14, 2014
Politieke balans bly dieselfde vanaf 1994 tot 2014
Mei 14, 2014

deur PIET LE ROUW, soos verskyn in Rapport op 11 Mei 2014

Die verkiesing is verby. Min het verander. Ons is steeds diep bekommerd en
wonder oor ons oudag, ons kinders, ons naastes. Nou wat nou?

Mag ons
darem nou kla, want ten minste het ons ’n verskil probeer maak? Of as ons nie
gaan stem het nie, kan ons dan maar ons hande in onskuld was?

Nie een
van die twee nie. Die grootste verskil wat ’n mens kan maak, is nie op stemdag
elke vyf jaar nie, maar in die vyf jaar tussen stemdae.

Die koue feit
was nog altyd dat elkeen se individuele stem of nie-stem bitter min beteken.
Toegegee, dat ’n enkele stem statisties irrelevant is, is nie rede genoeg om
buite stemming te bly nie.

Tegelykertyd is die verskil wat ’n stem maak
nietemin so klein dat niemand mag toelaat dat dit sy gewete sus nie.

Ons
moenie vir ’n oomblik glo stemdag is verby en ons verskil is nou gemaak
nie.

Miskien is dít die grootste gevaar van stemdag: Dat ons daarmee ons
behoefte om ’n verskil in die gemeenskap te maak bevredig. Seker nie volledig
nie, maar genoeg dat ons geesdrif taan om dit ook tussen verkiesings te doen.

Dalk ’n bietjie soos belasting: Ons dink ons het reeds ons deel vir die
staat gegee, so nou hoef ons minder vir die armes, erfenisbewaring, die
buurtwag, die kerk, die skool en ander burgerlike organisasies te gee.

Nóg belasting nóg ’n stembrief vrywaar ons van maatskaplike
verantwoordelikheid. Daarom moet ons in die vyf jaar tussen stemdae bou aan wat
die Duits-Oostenrykse ekonoom Wilhelm Röpke die “burgerlike maatskaplike orde”
genoem het. Röpke, wat ’n groot intellektuele invloed in die heropbou in
Duitsland ná die Tweede Wêreldoorlog gehad het, het besef ’n voorspoedige
gemeenskap is onskeidbaar verweef met ’n sin vir verantwoordelikheid en tasbare
onderlinge verbondenheid. Die burgerlike maatskaplike orde vereis ons onderlinge
samewerking.

Ek wil twee voorbeelde van sulke samewerking gee:
gemeenskapsorganisasies en idee-organisasies.

In gemeenskapsorganisasies
kan ons dinge bereik wat nóg vir die staat nóg net in die mark haalbaar is. Dit
los praktiese probleme op, kan onregmatige regeringsoptrede teenwerk en gee
sinvolle rigting aan ons lewe. Gemeenskapsorganisasies sluit die plaaslike
belastingbetalersvereniging, sakekamer, buurtwag, kerk of erfeniskomitee in. Dit
kan ook groter wees. Hier dink ek aan organisasies binne die Solidariteit
Beweging, maar ook aan landbou-organisasies, kultuurverenigings,
regsverenigings, en so meer.

Tweedens moet ons die verbetering en
ontwikkeling van sowel ou as nuwe idees steun. Ons moet betrokke wees by ons
kinders se skole en universiteite. Ons moet die artikels in Rapport Weekliks en
goeie boeke oor politiek of ekonomie lees – en dit gevolglik in ons gemeenskappe
bespreek.

Miskien kan ons tyd afknyp om die standpunte van kenners te
bestudeer en hul praatjies by te woon. Dink maar aan die FAK se NP van Wyk
Louw-sentrum, Leon Louw-hulle se Vryemarkstigting, Frans Cronjé-hulle se
Instituut vir Rasseverhoudinge. Of selfs jonger organisasies soos die Ludwig von
Mises-instituut van Suid-Afrika, wat op ekonomiese ontwikkeling
fokus.

Stemdag is verby. Hef aan lê voor vir dié wat sê hulle wil ’n
verskil maak – en dit bedoel. Soos my oupa altyd sê: Begin maar net.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!