Verkiesing is klaar, nou moet iets gebeur

Carel & Petru onderhoud
Mei 9, 2014
Stemdag is nie die einde nie, maar die begin
Mei 14, 2014

deur DAWIE ROODT, soos verskyn in Rapport op 10 Mei 2014

Miskien kan die tweede termyn van Zuma ’n termyn wees waar diens voorkeur kry bo ideologie en verantwoordelikheid belangriker is as om ander mense te blameer.

Die verkiesing is agter die rug, die ANC het weer koning gekraai en Jacob Zuma gaan ingehuldig word vir sy tweede termyn as president.

Voor die verkiesing is ons die son, maan en sterre belowe, soos politici maar maak, maar noudat die verkiesing agter die rug is, het ons politieke leiers vyf jaar kans om sonder die druk van ’n komende verkiesing die land te regeer. Daar is baie wat gedoen moet word en vyf jaar is nie so lank nie.

Ons ekonomie het die afgelope vyf jaar maar droewig gevaar, onder meer weens leiers wat, kom ons sê maar, onder verdenking was. Die verkiesing het nie veel verander aan ons politieke voorbokke nie en die kans is goed dat ons op die ou trant gaan aankarring.

Indien daar wel erns is om ons ekonomiese vooruitsigte te verbeter, sal ek graag die volgende aan die hand wil doen:

* Doen iets aan Eskom. Die tekort aan elektrisiteit kos die ekonomie minstens R330 miljard per jaar aan verlore produksie. Eskom moet verdeel word en, waar moontlik, moet die dele geprivatiseer word en die dissipline van die markekonomie gebruik word om ons elektrisiteitsverskaffing meer betroubaar en uiteindelik goedkoper te maak.

* Doen iets aan die ander staatsbeheerde organisasies. Daar is baie van hulle en die meeste van hulle word pateties bestuur. My gunsteling-afgryslikheid is die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), wat tienmiljarde rande deur hul spreekwoordelike agterstewe trek. Die ander is nie veel beter nie: Denel, Sentech, Alexkor, ANCUK (SAUK). Privatiseer die spul!

* Doen iets aan onderwys. Ten spyte daarvan dat ons meer as die meeste ander lande aan onderwys bestee, is die gehalte van ons onderwys swak – volgens sommige studies die swakste ter wêreld.

Die redes daarvoor is te kry in die rol van die georganiseerde arbeid in onderwys, onderwysbeleid en die feit dat onderwysverskaffing grootliks deur die staat gemonopoliseer is. Knip die onderwysersvakbond Sadtu se vlerkies, raak ontslae van onderwysers wat swak vaar (en vergoed die goeies beter) en gebruik ’n stelsel waardeur die private sektor nouer betrokke kan raak by onderwys.

* Doen iets aan arbeidswetgewing. Suid-Afrika het nie ’n werkloosheidsprobleem nie; hy het eintlik ’n indiensnemingsprobleem. Werkloses word nie in diens geneem nie, want ons werkers is te onproduktief, te militant en word te veel beskerm. Terwyl miljoene werkloses bereid sal wees om in swakker omstandighede in diens geneem te word, word hulle deur arbeidswetgewing verhoed om te werk. En nou word daar nog strenger wetgewing oorweeg!

* Hou op om beleggers te dreig. Die staat het reeds al die mineraalregte by die vorige eienaars gesteel en nou word daar verder gedreig om, byvoorbeeld, 20% en meer van maatskappye wat in energie belê, se aandele sonder vergoeding te vat. Geen wonder die groot oliemaatskappye onttrek hulle aan olie-eksplorasie nie.

Daar is ook ander voorbeelde waar eiendomsreg erg aangetas word. Buitelanders word byvoorbeeld verhoed om ’n meerderheidsbelang in sekuriteitsmaatskappye te besit en die staat beplan om in die toekoms makliker eiendom te konfiskeer (steel). Dis alles voorstelle en wette wat eiendomsreg ondermyn.

* Doen iets aan die “owerhede”. Dit is almal: plaaslik en provinsiaal en die nasionale departemente. Die staatsdiens word swak bestuur, staatsamptenare is swak opgelei, hulle lewer swak diens, hulle is korrup en hulle ondermyn die ekonomie (daar is ongetwyfeld baie verdienstelike staatsamptenare). Doen tog iets om staatsamptenare te kry om hul kantoor skoon te hou en verbied hulle om KFC te eet terwyl hulle ’n kliënt moet help.

* Stel ’n voorbeeld. Miskien kan Zuma se tweede termyn een wees waar diens voorkeur bo ideologie kry, waar verantwoordelikheid belangriker is as om ander te blameer en waar ons ons president respekteer vir wat hy is, en nie wie hy is nie.

Dawie Roodt is die hoofekonoom van Efficient Group.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!