Dr. Pieter Mulder oor Beeld, Bobby en minderheidsregte
Mei 14, 2014
Die Kleinfontein waaroor jy nie in die koerante lees nie
Mei 21, 2014

verkiesing-5Die ANC het so pas onder die bedenklike leierskap van mnr. Jacob Zuma 62% van die stemme gekry, teenoor die 64% in 1994 onder leiding van mnr. Nelson Mandela.

Talle kommentators het verwag dat die ANC swakker gaan vaar as gevolg van die deurlopende ontevredenheid en daaglikse protesaksies, asook die Nkandla-skandale van die president. Daarom was baie mense verbaas oor die sterk steun wat die ANC steeds geniet, en hulle kan eenvoudig nie verstaan wat soveel (veral swart mense) besiel om nog steeds vir die ANC te stem nie.

Uiteenlopende verklarings word hiervoor gebied, soos die ANC se status as bevrydingsparty en die “uitgebreide familiekultuur” van die party. Selfs die gemiddelde opvoedingsvlak van baie van sy kiesers of “Afrika-politiek” word ook as rede voorgehou.

Dis vanselfsprekend dat die party se bevrydingstatus; mnr. Mandela se politieke nalatenskap; die ANC se politieke kultuur en die gevoel van talle swart mense dat die ANC hul menswaardigheid herstel het tot groot lojaliteit onder miljoene van sy kiesers lei. Die belangrikste, voor die hand liggende rede is egter dat die ANC wel sy kernbelofte nagekom het om sy kiesers se lewens te verbeter – al sou mens nie saamstem met hoe dit gedoen is nie.

“Steunkoop”-strategie
Die party het sy verskillende magsbasisse sedert 1994 saamgehou deur elkeen se steun met beloftes en werklike bevoordeling vas te sement. Die swart elite se steun is verseker deur bemagtigingstransaksies wat talle kitsmiljoenêrs geskep het. Rassewetgewing en derduisende staatsdiensposte het ’n soort “politieke” swart middelklas help skep wat baie aan die ANC te danke het. Kyk maar na die omvang hiervan: oor die vyf jaar van 2008 tot 2013 het die nasionale en provinsiale regering se salarisrekening met byna 93% gestyg van R177 miljard tot R341 miljard. Dit sluit nie munisipaliteite of die uitgebreide openbarewerke programme in nie.

Miljoene armes se steun is vasgesement met die grootste welsynstelsel in die ontwikkelende wêreld. Die sosialistiese blok se steun is verseker deur die alliansie met Cosatu en die SAKP, en die opneem van sy leiersfigure en beleidsrigtings in die regering. Die Afrikaniste is, danksy die ANC se klem op ras, lojaal aan die party, terwyl die tradisionele blok ingetrek is deur die opname van hul leiers in die party en die erkenning en vergoeding van tradisionele leiers. Die swart jeug se steun is verkry deur die hoë profiel wat aan die ANC-jeugliga verleen is, tesame met die jare lange geduld met hul luidrugtige leiers soos Julius Malema.

Daarby het die ANC probeer om die ou magsorde deur die inlywing van die NP in te trek. Die wit sakelui se samewerking is verkry deurdat die ekonomiese beleid ruimte vir hulle gemaak het in ruil vir die ondersteuning van ANC-beleidsrigtings soos rasseverteenwoordigendheid. Liberale elitegroepe, soos die media, se steun vir die post-’94-orde is verseker deur die liberale grondwet en demokratiese bestel. Om hierdie almal-insluitende “steunkoop”-strategie af te rond, is die breë bevolking se lojaliteit verseker deur toe te sien dat die staatsmedia die stelsel legitimeer; deur skoolleerplanne; en deur die vestiging van die ANC-regering se mag oor alle sektore van die samelewing heen deur middel van die rasgedrewe transformasiestrategie.

Die gewildheid van ANC-leiers soos Nelson Mandela het gehelp om die party se beeld onder alle bevolkingsgroepe te verbeter.

EFF en ANC
Dit is so dat die DA steun bygekry het; ook onder swart mense, en veral in Gauteng. Al is die EFF ’n politieke stiefkind van die ANC, het hierdie twee partye egter saam bykans 70% van die steun wat meer as genoeg is om ingrypende veranderings aan die Grondwet aan te bring.

Die gevaar bestaan ook dat die opkoms van die EFF die ANC nog verder na links kan druk. Aan die ander kant kan die ANC se steeds oorweldigende steun hom juis die selfvertroue gee om wel die noodsaaklike veranderings aan te bring wat die ekonomie weer kan laat groei. Die ANC word tans geteister deur die groeiende ontevredenheid van groot dele van sy kieserskorps as gevolg van die party se verswakkende regeringsvermoë, én sy eie stygende verwagtings.

Net die tyd sal leer of die ANC in die komende jare sy koöptasiestrategie net so behendig kan toepas soos in die verlede; of dit later onbekostigbaar gaan word; en of sy regeringsvermoë as gevolg van sy eie beleidsrigtings verder gaan afneem. Die ANC sal nie die eerste bevrydingsparty wees wie se innerlike teenstellings uiteindelik so groot word dat dit die party laat verbrokkel nie. Kiesersgedrag is nie altyd soos kopersgedrag nie.

Bron: Die Groot Debat, uit Maroela Media

Comments are closed.

error: Content is protected !!