Lank lewe Cloete Park
Junie 24, 2014
Fluister in ’n hoekie sal Afrikaans niks help
Junie 24, 2014

deur RIËTTE GLOBLER.

Die FAK Skole Ekspo is ’n goeie geleentheid om jou kreatiwiteit vrye teuels te gee as dit by Afrikaans kom.
Daar is boonop so ’n groot verskeidenheid afdelings waarin jy vir vanjaar se ekspo kan inskryf, dat daar iets vir almal is. ’n Romantiese ou wat liedjies skryf? Skryf dan ’n liedjie vir die appel van jou oog.
Iemand wat weet hoe om iets te verkoop op ’n slim manier? Waarom nie ’n bemarkingsvideo maak nie?
Vir watter afdeling jy ook gaan inskryf, daar is ’n paar maniere om seker te maak jóú projek staan kop en skouers bo die ander uit. Hier is ’n paar wenke:

1. Die eerste weergawe kan nooit die finale weergawe wees nie. Wanneer ’n mens dit regkry om iets op papier neer te pen waarop jy baie trots is, is dit altyd ’n lekker gevoel. Maar moenie dink die eerste weergawe van ’n artikel kan die finale weergawe wees nie. Skaaf daaraan. Vra jouself af of jy die onderwerp uit al die hoeke benader het. Kyk ’n dag of twee later weer na wat jy geskryf het en skuif sinne, woorde en idees reg totdat jy daarvan oortuig is dit is die beste stuk werk moontlik.
2. Proeflees jou projek. Lees jou skryfwerk deeglik deur, of dit nou ’n kort gedig, ’n koerantberig, die teks van ’n revue of ’n dagboekinskrywing is. Tikfoute glip maklik in en selfs die beste skrywers maak af en toe ’n spelfout. As dit by ’n video kom, is daar ook niks soos slegte taalgebruik om ’n mens te laat gril nie. Al is jou projek dan ook hóé goed, sal dié onnodige foute lesers of kykers se aandag aftrek en sal selfs die beste idees nie ernstig opgeneem word nie. Dit help ook om skryfwerk hardop vir jouself voor te lees, omdat jy dan hoor hoe dit op die tong val en of dit “lekker” lees.
3. Vra iemand anders om ook jou werk te lees. Dis een ding om self te verstaan wat jy bedoel, maar gaan ander mense jou boodskap ook na net een lees begryp? Vra iemand wat ’n aanvoeling het vir Afrikaans en wat hou van lees (én wat jy vertrou om eerlik te wees) om jou projek deur te lees nadat jy self daaraan geskaaf het.  Luister na hul raad en kritiek – daardie ekstra hupstootjie kan dalk net ’n wenplek beteken.
4. Maak seker jy verstaan die tema. Die tema van vanjaar se Skole Ekspo is 1914/2014. Die jaar 1914 was belangrik om verskeie historiese gebeure, plaaslik én internasionaal. Dit was ook die jaar wat Langenhoven se eerste Afrikaanse spelreëls gepuliseer is! Gaan lees ’n bietjie op oor die gebeure  wat in dié tydperk plaasgevind het en pluis uit hoe dit ons lewe vandag raak. ’n Mens pak ’n projek altyd met groter gemak aan as jy weet wat die agtergrond is en indien jy die konteks verstaan. Kleur dus die prentjie vir jouself in, voordat jy jou eie kunswerk skep.
5. Dink uit die boks. Ja-ja, dit klink dalk soos ’n cliché, maar projekte wat ’n ou onderwerp uit ’n nuwe hoek benader, trek dadelik die aandag. Neem standpunt in en oortuig jou lesers (of kykers as jy ’n video maak of revue skryf) met deeglike navorsing en ’n kreatiewe aanslag.
6. Lees wyd. As jy een van die navorsingsprojekte aanpak wat deel is van die ekspo, kan jy jouself uitdaag om so wyd moontlik te lees. Moet nooit net een bron raadpleeg nie. Kyk hoe steek verskillende stukke inligting en verskillende kenners se standpunte soos ’n legkaart bymekaar in en vorm dan jou eie standpunt daarvolgens.
7. Dink aan die detail. ’n Netjiese lêer; ’n mooi ontwerp op jou DVD-voorblad; ’n deeglike inhoudsopgawe of volledige bronverwysings wys jy het ook aan die klein goedjies gedink. Dit dra by om ’n goeie geheelbeeld van jou inskrywing te skep.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!