Afrikaanse universiteite en ’n plurale demokrasie

Fluister in ’n hoekie sal Afrikaans niks help
Junie 24, 2014
Nuwe taalbeleid by UFH open deure vir Afrikaans
Junie 24, 2014

deur prof DANIE GOOSEN.

Suid-Afrika, word dikwels gesê, is ’n demokratiese land. Suid-Afrikaners gaan immers gereeld na die stembus toe, ons het ’n (relatief) onafhanklike regbank, menseregte word (ten minste in teorie) gerespekteer, en ons het (nog) sterk burgerlike instellinge.
Maar, en dit is die kritiese vraag, is hierdie dinge genoeg om van Suid-Afrika werklik ’n volwaardige – plurale – demokrasie te maak?
Hieronder word nie gepoog om ’n volledige antwoord hierop te gee nie. Nogtans is dit nodig om – veral teen die agtergrond van die openbare gesprekke oor die toekoms van die Afrikaanse universiteitswese – op ’n belangrike kwessie te wys. Dit raak nie net die toekoms van laasgenoemde nie, maar ook die toekoms van die plurale demokrasie.
Genoemde demokratiese vereistes (gereelde verkiesings, onafhanklike regbank, menseregte, ensovoorts) is nog nie genoeg om van ’n land ’n plurale demokrasie te maak nie. Alhoewel lande gereeld verkiesings kan hou, kan hulle tegelyk ondemokratiese eienskappe vertoon.
Nee, ’n demokratiese land kan deur hierdie dinge gekenmerk word, maar tegelyk kan dit ’n “sagte totalitêre” bewind wees. En wanneer dit gebeur, vertrap dit die gees van die demokrasie, in weerwil van die feit dat dit na sigself as ’n demokrasie verwys.
Wanneer kan dit gebeur? Wanneer kan ’n demokrasie tegelyk ’n sagte totalitêre bewind wees?
Alexis de Tocqueville, bekende Franse skrywer, het reeds in die negentiende eeu ’n antwoord hierop gegee: Demokratiese lande, het Tocqueville gesê, loop telkens die gevaar om in ’n sagte totalitêre bewind te word wanneer die wil van die meerderheid op elke terrein van die lewe afgedwing word.
Soos wanneer die wil van die meerderheid aan die kleiner gemeenskappe voorskryf hoe hul skole, hul universiteite, hul ekonomiese praktyke, hul kunste, ensovoorts, moet lyk.
Kortom, ’n sagte tirannie tree daar na vore wanneer die meerderheid, in naam van  die demokrasie, sy wense en begeertes aan die ander gemeenskappe as normatief voorskryf.
Geen wonder dat Tocqueville so beïndruk met die Amerikaanse demokrasie van sy tyd was nie. Tocqueville het aangevoer dat die Amerikaners daarin slaag om die mag van die meerderheid op ’n afstand te hou. Hoe? Deur die veelheid van plaaslike instellings (gesinne, skole, universiteite, ensovoorts) uit die hande van die meerderheid te hou, het hy gesê. So kan die gevaar van ’n sagte tirannie oorkom word.
Maar slaag ons in Suid-Afrika daarmee? Word die gesag van die meerderheid op elke terrein van die lewe teruggedruk? En in die hande van die lokale gemeenskappe met hul veelheid van instellings geplaas? Soos in die hande van die Afrikaners of die Afrikaanse taalgemeenskap?
Maar dit bring ons by die kwessie van die Afrikaanse universiteitswese. Suid-Afrika is kennelik by ’n draaipunt rondom hierdie kwessie. Vertolkers van die meerderheidsbelang dring vandag daarop aan dat die wil van die meerderheid op elke kampus afgeding moet word, ook die Afrikaanse kampusse (of dit wat van hulle oorgebly het).
En met “vertolkers van die meerderheidsbelang” word nie net na regeringslui verwys nie, maar ook ’n hele falanks van (selfs Afrikaanssprekende) meelopers wat met ’n bykans missionêre bewussyn aanvoer dat Suid-Afrika slegs ’n demokrasie kan wees as ook die laaste reste van ’n Afrikaanse kampuslewe verwyder is.
Die ironie wat hierdie vertolkers van die meerderheidsbelang kennelik ontsnap, is dat hulle so juis nie die gees van die plurale demokrasie aanwakker nie. Inteendeel, hulle doen mee aan die versmoring daarvan. In die taal van Tocqueville, hulle help om ’n sagte vorm van tirannie in Suid-Afrika te vestig.
Waarom mag daar nie ten minste twee Afrikaanse kampusse in die land wees nie? Ingevolge die uitgangspunte van ’n werklik volwasse plurale demokrasie sou dit die mees vanselfsprekende wyse wees waarop die taalbelange van die Afrikaanse taalgemeenskap hanteer kan word. (Of enigeen van die ander taalgemeenskappe wat hul eie talige erfenis in beskerming wil neem).
“Vanselfsprekend”, omdat ’n werklike plurale demokrasie behoort toe te sien dat die veelheid van tale en kulture – ook op universiteitsvlak – in staat gestel word om te blom en te floreer.
Gegewe die feit dat daar sowat 7 miljoen Afrikaanssprekendes in die land is, is dit een van die billikste en regverdigste versoeke: staan 2 uit die 25 universiteite aan die Afrikaanse taal af. En skep so die ruimte waarbinne die plurale gedagte kan lewe.
Waarom maak die vertolkers van die meerderheidsbelang (ook die Afrikaanssprekendes onder hulle) nie hierdie pleidooi hul eie nie? Is dit omdat hulle die dwang van die meerderheid so sterk geïnternaliseer het dat hulle eenvoudig nie meer iets anders kan doen as om in bloot gelid daarby in te val nie?
In die mate waarin hulle dit doen, is hulle – hoe vroom hul verbintenis tot die demokrasie ook al mag wees – besig om stukkie vir stukkie die ware grondslae van die plurale demokrasie te vernietig. En ons steeds vaster aan die greep van die totalitêre gees te bind.

0 Comments

  1. Albert Ponelis sê:

    Wanneer ‘n stadig-dreigende gevaar nader kom, is dit altyd moeilik om te weet wanneer dit die mees geskikte tyd is om die streep in die grond te trek. Daarenteen, in die natuur weet die aanvaller en die bedreigde, die presiese oomblik wanneer om tot aksie oor te gaan.

    In hierdie goeie uiteensetting van prof. Goosen word al die tersaaklike aspekte beklemtoon, sodat ons mense wat nog oor intellek beskik, weet dat ons onder ‘n bedreiging is. Soos aangetoon, is dit nie net die universiteite nie, maar veel meer wat op die spel is.

    Hopelik sal die intelligentes betyds gebruik maak van ons (min) oorblywende voordele (intellek, geldelik) en tot aksie oorgaan, want die fisiek-bedreigdes weet alreeds hulle sal ‘n streep in die grond nou moet trek.

  2. Hannes Deetlefs sê:

    Ook Switserland – wat nou werklik ‘n demokratie is – moet maar gedurig teen die “Vermacdonaldisme” van die lewe, veral teen die EU veg. Dit is nie dat die toebroodjies van daardie Amerikaners sleg is nie, nee, dit is net dat ons ander broodjies bak en ook die, ons eie broodjies, geniet. Sleg is vir die EU, om by die voorbeeld te bly, dat Switserland so ongelooflik selfstandig is en sy probleme – baie dankie – sonder enige hulp van die EU kan bemeester, en dit in die ware sin van die woord. Wat Afrikaners daarvan kan leer is eenvoudig: Kry julle dinge so reg dat julle nie van die regering afhanklik is nie. Moenie na links of regs kyk en op hulp wag nie. Kragdadigheid is gevra.
    Groete!
    Hannes Deetlefs

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!