Fluister in ’n hoekie sal Afrikaans niks help

Afrikaanse Skole Ekspo wenke
Junie 24, 2014
Afrikaanse universiteite en ’n plurale demokrasie
Junie 24, 2014

deur dr DANIE LANGNER, in Rapport, 15 Junie 2014.

Afrikaners gaan nié saggies vra dat die taal asseblief tog net nie benadeel word nie.
Ons sal nie in die hoekie staan nie. Afrikaner en Afrikaans is nie sinonieme nie. Wanneer Afrikaners oor Afrikaans standpunt stel, beteken dit allermins dat Afrikaners Afrikaans vir hulself wil toeëien. Moderne Afrikaners weet hulle is deel van ’n breë, inklusiewe taalgemeenskap.
Nogtans is daar taalgeeste wat Afrikaners in ‘n hoekie wil laat staan omdat hul verlede klaarblyklik ‘n struikelblok vir Afrikaans is. Afrikaans kan kwansuis slegs bevorder word as Afrikaners saggies praat en gewillig, gedienstig en gedwee knik as die meesters praat.
Dit sou verkeerd en onbillik wees om die reuse-bydrae van Afrikaanssprekendes soos Adam Small, Neville Alexander, Michael le Cordeur en andere te ontken.
Dit sal net so verkeerd en onbillik wees om Afrikaners se bydrae tot die ontwikkeling van Afrikaans te beperk tot apartheid. Lank voor apartheid was Afrikaners aan die voorpunt van die stryd vir Afrikaans.
*  Kort ná die Anglo-Boereoorlog skryf Eugène Marais “Winternag”, wat Afrikaanssprekendes oortuig van die skeppende vermoë van Afrikaans.
* Koerante soos Vriend des Volk (Vrystaat) en De Volkstem (Transvaal) het die grondslag vir Afrikaans as joernalistieke taal gelê.
* Die Transvaalse Afrikaanse Taal Genootskap (1905) en die Vrystaatse Afrikaanse Taal Vereniging (1906) het die weg berei vir Afrikaanse dramas en verhoogproduksies.  Die Brandwag (1910) en Ons Moedertaal (1914) was die begin van Afrikaanse tydskrifte.
*  In 1909 is die Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst deur Afrikaners gestig.
*  Dié akademie het in 1914 die Hertzogprys ingestel. Genl. Hertzog wou gelyke behandeling van Hollands en Engels op skool verseker. Hy het die hofsaak verloor en ter ondersteuning het Afrikaners geld ingesamel om die onkoste te betaal. Hertzog het die oorblywende geld aan die akademie geskenk vir die bevordering van die Afrikaanse letterkunde.
*  C.J. Langenhoven se deurslaggewende rol in 1914 was die erkenning van Afrikaans as onderrigtaal in Kaapse laerskole. Afrikaans het ná die Langenhoven-ordonnansie landswyd ’n onderrigtaal geword.
*  In 1915 het die Spelreëls verskyn en in 1917 die eerste uitgawe van die Afrikaanse Woordelijs en Spelreëls. Dit het bygedra om Afrikaans as skryftaal te standaardiseer.
*  Die toenemende behoefte om in Afrikaans te lees het gelei tot die totstandkoming van Die Burger in 1915 en die stigting van Nasionale Pers.
*  In 1916 het Die Huisgenoot verskyn.
*  In 1917 het Nasionale Pers Die Volksblad oorgeneem en Ons Vaderland is gestig.
*  In die armoede van die 1930’s is byna 55 000 van Chris Blignaut se plate binne drie maande in 1931 verkoop.
*  In 1931 het die eerste Afrikaanse klankrolprent, Moedertjie, verskyn.
*  Afrikaners soos J.D. Kestell, B.B. Keet en Totius het die Bybel in Afrikaans vertaal tot heil van miljoene.
*  Die FAK het ‘n leidende rol gespeel deur Afrikaanse musiek te publiseer en ’n Afrikaanse radiodiens te begin.
*  Die strewe van N.P. van Wyk Louw en sy tydgenote was om Afrikaanse letterkunde en poësie tot dieselfde peil as Westerse kultuurvolke te bring. In 1948 het die Universiteit van Utrecht ’n eredoktorsgraad aan Louw toegeken.
*  Teen 1959 was Afrikaans gevestig as wetenskaptaal.
* Afrikaners het die Randse Afrikaanse Universiteit in Johannesburg gevestig en die SAUK tot ‘n wêreldgehalte-TV-en-radiodiens uitgebou.
* Afrikaners het die Bybel in Afrika- tale vertaal, Afrikatale as skoolvak ontwikkel en aan universiteite gedoseer.
Derduisende onderwysers, dokters, predikante, winkeleienaars en sakemanne het as Afrikaners Afrikaans op onderwys-, landbou-, kerklike, maatskaplike, mediese, ekonomiese en politieke terrein gevestig. Afrikaners is steeds aan die voorpunt van die Afrikaanse taalstryd.
*  Solidariteit stel R400 miljoen beskikbaar vir Afrikaanse opleiding.
Organisasies wat Afrikaans as dekmantel gebruik om Afrikaners oor hul verlede in ‘n hoekie te laat staan, moenie verbaas wees as die nuwe geslag moderne Afrikaners hulle in die toekoms as irrelevant beskou nie.
Izak de Villiers het tereg opgemerk: “ ’n Moraliteit wat jou voortdurend in die hoekie wil laat staan, en dan deur ander misbruik word om jou in die hoekie te hou, behoort ’n kort rakleeftyd te hê. Daar is immers ’n droom te droom en ’n nuwe begin te maak.”
Dit is hoog tyd dat taalgeeste minder fokus op Afrikaners se verlede, maar eerder op die werklike probleme wat Afrikaans bedreig. Suid-Afrika het ‘n uitnemende Grondwet, maar die klipharde, onverdraagsame ideologie van die regering plaas dit onder druk. Die Grondwet alleen gaan Afrikaans nie red nie. Saamwerk en saamstaan wel.
Dit is ’n ope vraag of fluister-politiek en saggies praat in rektore se kantore om asseblieftoggie net nie Afrikaans te benadeel nie, in die huidige klimaat tot voordeel van Afrikaans is. Daar is ’n behoefte aan duidelike openbare standpunte van Afrikaanse instellings.
Wanneer diegene wat meen dat Afrikaners ’n struikelblok vir Afrikaans is oor hul eie skaduwee spring en anderkant ou persepsies en vooroordele tree, sal hulle tot hul verbasing moderne Afrikaners ontmoet, oopkop- en inklusiewe mense wat graag saamwerk tot voordeel van Afrikaans. Moderne Afrikaners is al lankal uit die hoekie. En Afrikaans is steeds ons erns.
Dr. Danie Langner is besturende direkteur van die FAK.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!