Georgië – land van kontraste

Leef saam met… die mense van Rustenburg
Junie 24, 2014
Onderhoud met prof TT Cloete
Junie 24, 2014

In Augustus 2010 het TLU SA ’n Memorandum van Ooreenkoms met die Georgiese regering onderteken waarvolgens daar onderlinge samewerking sou plaasvind in veral die landbou-omgewing.
Die gevolge van die 70 jaar wat Georgië deel van die Sowjetunie was en hul gebuk gegaan het onder die sosialisties kommunistiese bestel se seerkry, kan orals beleef word. Die grootste nadeel wat daaruit voortgespruit het, is die feit dat die mense se denke en vermoë om as entrepreneur te kan funksioneer hul ontneem is. Daarteenoor is die land, wat omtrent so groot soos die Vrystaat is, se natuurskoon prentjiemooi. In hoe ’n mate is Suid-Afrika se regering besig om ons land op daardie trajek te neem?
Dit is verblydend hoe daar die afgelope 20 jaar opgestaan is om weer ’n toekoms vir hul land en hul mense te skep. Effektiwiteit is die wagwoord en is dit veral jongmense wat hulself goed bekwaam en met groot dinamika hul taak verrig. Heelwat lande in die wêreld kan gaan leer by Georgië hoe om ’n staatsdiensadministrasie te verrig. Om die funksionering te beskryf, sal mense dit as fiksie afmaak en sê dit is nie moontlik nie. Om byvoorbeeld ’n paspoort te verkry, neem normaalweg so een dag, maar indien die vinnige roete gevolg word, kan dit binne twee ure verkry word. Nêrens is daar plek vir korrupsie nie en is misdaad grootliks hok geslaan. So 15 jaar gelede sou Georgië in die misdaadwêreld bekend gestaan het as een van die voorste misdaad- en korrupte lande. Die vorige president het die dag na sy inhuldiging die hele polisiemag afgedank en gemeld dat mens nie ’n land kan regeer met korrupte polisielede nie. ’n Paar jaar gelede het Transparancy International reeds bevind dat Georgië ten opsigte van korrupsie die land is wat die beste vordering gemaak het om dit hok te slaan.
In Georgië word die Christen Ortodokse geloof baie sterk aangehang. Die waardestelsel wat hul uitleef vanuit hul geloof is prysenswaardig. Ongeveer 87% van die land se inwoners beoefen hierdie geloof.
TLU SA het sedert die begin van die projek geleenthede ontgin waar veral boere, maar ook enige ander belegger ekstra kapasiteit kan gaan belê. Ten einde dit te ondersoek, word inligtingstoere onderneem waartydens mense self kan gaan ondersoek instel of dit ’n moontlikheid is wat hul aanstaan. Aan die begin van Junie is daar teruggekeer van so toer af en is dit baie positief ervaar.
Die omstandighede in Suid-Afrika laat heelwat vrae ontstaan oor wat die uiteinde van heelwat aspekte gaan wees, veral oor veiligheid, privaat besitreg, ons kulturele erfenis en veral ons kinders se toekoms. Die ANC is besig om met hul Nasionaal-demokratiese Rewolusie die land te omvorm om die Freedom Charter se grondslag die norm te maak.  TLU SA, soos so baie ander  organisasies, werk voluit daarvoor om in Suid-Afrika vir ons mense ’n toekoms te skep. Deel van die strategie is om ekstra kapasiteit te verskans. In dié verband word Georgië as ’n gunstige geleentheid beskou.
’n Volgende toer word beplan vir die tydperk 1–14 Oktober 2014. Dit sal vir enige voornemende belegger ’n baie goeie oorsig gee oor Georgië en watter geleenthede daar kan ontsluit, al dan nie. Daar moet duidelik besef word dat die omstandighede in Georgië nie almal sal geval nie. Enige voornemende toerganger kan hul besonderhede na bennievz@gmail.com aanstuur ten einde die nodige inligting oor die toer te kan ontvang. Inskrywings sluit op 1 September.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!