Onderhoud met prof TT Cloete
Junie 24, 2014
Afrikaanse Skole Ekspo wenke
Junie 24, 2014

Professor Theunis Theodorus Cloete, gebore 31 Mei 1924. Literator, kritikus, digter, dramaturg, prosaskrywer en psalmverwerker. ’n Legende en profeet van ons tyd wat in Pukki Talentfees-maand verjaar! PUK Kunste en die Pukki Talentfees-span beskou dit as ’n groot voorreg om 2014 se fees aan professor TT Cloete op te dra en só ’n profeet in sy eie land te eer.

Op een of ander manier het professor TT ons almal se lewens al geraak, dikwels sonder om dit self te besef: agter skoolbanke, in die kerk, in die wêreld van die akademici, as vaderfiguur en deur Afrikaans.

Hoe vereer mens egter so ’n dinamiese mens wat soveel mense se lewens op verskeidenheid vlakke geraak het? Iemand wat sulke diep spore getrap het in Afrikaans en in ander se menswees? Nog ’n trofee in die kas? Nog ’n sertifikaat in goud geraam? Of is daar ’n manier om ’n huldeblyk aan ’n legende te bring, wat ’n tikkie ewigheidswaarde inhou? Iets wat deel kan uitmaak van ’n stukkie van sy nalatenskap?

Alanka Craffert, organiseerder van Pukki Talentfees, het onderskeie vertonings en voorlesings van professor TT bygewoon en opgetel dat hy graag die staaltjie vertel van ’n geliefde parkie oorkant sy en Anna se destydse gesinshuis. Hy vertel hoe hy, Anna en die kinders die bome in die parkie onderhou het en ook nuwe bome geplant het. Die hele Cloete-gesin het met emmertjies en baie sorg die bome water gegee, maar die parkie was soveel meer as net ’n gesinsprojek. Die parkie was vir hulle ’n liefdevolle plek van samesyn en geselligheid, waar hulle vir mekaar en die natuur kon omgee.

Vandag word die parkie egter verwaarloos. Die gedagte daaraan breek nie net prof TT se hart nie, maar ook Alanka s’n. Sy en haar mede-organiseerder Luzanne Veldsman het gaan sit en koukus oor ’n wyse om nuwe lewe in die parkie te blaas.

“Ons het mense en instansies genader met ’n liefde vir Afrikaans en die kunste, wat omgee oor die omgewing en natuurlik mense wat lief is vir prof TT. Aanvanklik was die idee om gewoon aan prof TT die geskenk van ’n opgeknapte parkie te gee, met die naam ‘Cloete Park’ soos hul familie vandag nog daarna verwys, maar dit het gou gegroei tot soveel meer,” sê Craffert, Pukki Talentfees se organiseerder.

“Dit was ongelooflik om te beleef hoe mense soos die ATKV, FAK, Maroela Media, Fleur Tuinornamente, PUKfm, Stone Dynamics, ag sommer ’n hele kaboedel net ingespring het om te help en saam te droom,” vul Veldsman aan, mede-organiseerder van die fees.

Buite instansies en die plaaslike gemeenskap het gehelp met die borg van bankies en verf vir ’n kunsmuur wat beplan word, die aankoop van blomme vir die verfraaiing van die park, ’n graniet gedenkplaat, en dies meer. Een van Potchefstroom se prominente figure en ook ’n oudstudent van prof TT, professor Annette Combrink het ook pens en pootjies ingespring: van blomme uitkies by die kwekery tot die moeite om die proses aan die gang te sit om die parkie amptelik te benoem as “Cloete Park”.
Prof TT het onlangs die uitlating gemaak: “Om te skryf, is om bewus te raak. Dit was vir my, amper ironies, bevrydend om daarvan bewus te raak dat pyn kreatief kan wees. En dat skryf oorlewing kan wees.”

Hierdie gedagte, tesame met die oorweldigende steun wat Craffert en Veldsman sedert die inisiëring van die Cloete Park-projek ontvang het, het hulle genoop om groter te droom as net ’n naam vir ’n parkie. Hulle droom is om Cloete Park te vestig as ’n plek wat vir die gemeenskap van Potchefstroom net so geliefd sal word soos dit destyds vir die Cloete-gesin was.

“Ons wil mense deur die parkie-ruimte bewus maak van die wonder van skryf, van die bevrydende aard daarvan. Ons wil ’n ruimte skep waar mense stories kan kom lééf en vertel. Waar mense van die gemeenskap saam met die Universiteit kan skakel om deel te neem aan verdere projekte soos poësie-pieknieks en skryfwerkswinkels in die buitelug. Ons wil ook die wonder van Afrikaanse Skryfkuns vir tweede- en derdetaalsprekers oopkraak deur skole in Ikageng en Promosa te nader om hierdie skryfwerkswinkels by te woon. Mag Cloete Park oorlewing en herlewing in Afrikaans wakker maak. Mag dit nóg gemeenskappe inspireer om weer vir mekaar en die omgewing om te sien. Ons is opgewonde oor groot dinge wat gedroom is, in ’n klein stukkie veld, langs ’n treinspoor, deur ’n doodgewone man en sy gesin. ’n Man wat een van ons land se profete geword het. Lank lewe Cloete Park.”

Vir navrae of onderhoude, kontak Alanka Craffert by 084 207 2885.

 

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!