Verdi, rebel met ‘n lied in die hart en ‘n geweer in die hand

Die naalde is nie lank genoeg om by ons harte uit te kom nie!
Junie 26, 2014
Gee Afrikaans ’n veilige en sinvolle plek aan die universiteitswese
Junie 30, 2014

VERDI1

Deur MARTHINUS VAN BART

Met vanjaar se honderdjarige herdenking van die 1914-Rebellie is dit gepas om op die spoor van een van die uniekste rebelle in die Westerse geskiedenis, die operakomponis Verdi (1813-1901), te stap.
Giuseppe Fortunino Francesco Verdi het sy skeppende musiektalente aangewend om op eiesoortige manier een van die mees gedugte vryheidstryders in die Italiaanse rewolusie van die middel 1800’s te wees. En net om seker te maak dat hy sy volk se vryheidstryd volkome steun, het hy ook nog gewere vir die ondergrondse beweging gesmokkel. Die stryd was teen Oostenrykse oorheersing wat Italië uitgemergel en swaar onderdruk het. Is Verdi deur die Oostenrykse veiligheidspolisie betrap dat hy hom aktief met ondergrondse bedrywighede besig gehou het om dié noordelike buurland se heerskappy oor die meeste Italiaanse state te ondermyn, was die wêreld straks een van sy grootste operakomponiste kwyt.
Verdi was egter te uitgeslape vir die Habsburgse tiran en het sy hoogs suksesvolle musiekloopbaan tot die rype ouderdom van 88 jaar in ‘n vrye, verenigde Italië gevoer. Dié geniale man met tradisioneel vurige Italiaanse bloed in sy are het het nie bloot gewere gesmokkel vir die Rooihemp-volksleër van koning Victor Immanuel II onder aanvoering van die hertog Camillo di Cavour en die volksheld genl. Giuseppi Garibaldi nie. Hy het op massale skaal sy patriotiese landgenote met sy nasionalistiese opera-musiek opgesweep.
Sy derde opera, “Nabucodonosor” (“Nabucco”) van 1842, word beskou as een van die mees politieke voorbeelde van nasionalistiese musiek wat nog ooit gekomponeer is. Hoewel Verdi nie gebruik gemaak het van tradisionele volksmelodieë in sy operas nie, het hy op vernuftige wyse daarin geslaag om selfs die eenvoudigste landbouer met sy operamusiek mee te voer.
In “Nabucco” gebruik Verdi onder meer “die koor van die Hebreeuse slawe” om dit tot die Italiaanse volk te laat deurskemer dat dit eintlik hulle is waarna daar in die opera verwys word, en dat die Babiloniese tiran Nebukadnesar van die opera inderdaad die tiran prins Clemens Metternich, hoofminister van Oostenryk, en sy bloeddorstige generaal Radetzky is.
Skaars was dié opera op die planke, of die slawelied, “Va, Pensiero Sull’ali dotate”, het deur die ganse Italië weerklink. Elke patriot het dit geneurie en geweet wat dit simboliseer, en vir hulle was Verdi ‘n militante verteenwoordiger van die Italiaanse onafhanklikheidsbeweging wat die juk van Oostenryk met alle mag wou afwerp. Vir Verdi was “Nabucco” persoonlik ‘n musikale en politieke triomf – daarvoor kry hy die naam “Maestro van die Revolusie”. Die tydgenootlike operakomponis Gioacchino Antonio (Pesaro) Rossini het Verdi heel tereg “die musikant met die helm” genoem.
Oor die hele Italië het sy naam oornag beroemd geword, veral omdat die woord “Verdi” inderdaad ook die akroniem en slagkreet was vir die ondergrondse unifikasie-beweging, Vittorio Emmanuel Re D’ Italia (Victor Emmanuel, koning van Italië, oftewel VERDI).
Verdi is op 10 Oktober 1813 in ‘n verbrokkelde, feodale Italië as ‘n Franse onderdaan in La Roncole in die hertogdom Parma gebore. Die ander Italiaanse state was Piëmont (Piedmont), Modena, Venesië, Toskane, die Kerklike State (van die Pous), Sardinië en die koninkryk van Beide Siciliës.
Die meeste state was onder Oostenrykse beheer. Die ander was onder Franse heerskappy.
Die nasionale stryd vir die unifikasie van Italië onder ‘n eie regering het reeds vroeg in die jare 1840 begin smeul. Dit het in 1848 onder die Sardiniese koning Karel Albert van Savoje, vader van Victor Emmanuel II, gewelddadig losgebars in ‘n reeks bloedige opstande waarin duisende Italiaanse burgers omgekom het. Oostenryk, met die hulp van Frankryk, het dit genadeloos onderdruk onder die voorwendsel dat hy die vrede tussen die state moes bewaar. Pous Pius IX is as medepligtige vir die instandhouding van die feodale stelsel beskou en moes vir sy lewe vlug.
In die aanloop tot die revolusie het Verdi sy bes gedoen om deur sy musiek sy medeburgers teen die volksvreemde oorheersers op te rui. Die Oostenrykse veiligheidspolisie het hom fyn dopgehou, en sy werk is voortdurend deur die sensors bygedam. Dit het Verdi net aangespoor om met groter ywer en fyner strategie soos ‘n guerillastryder op geestelike gebied in die teater te werk te gaan.
Ná “Nabucco” het “I Lombardi” (1843), “Ernani” (1844), “Giovanna d’Arco” (1845) en “Macbeth” (1847) gevolg. Almal was gelaai met die sterk boodskap van nasionalisme, rebellie en rewolusie. En hoewel hierdie werke volgens sommige kenners stremmend op die ontwikkeling van sy skeppingstalent ingewerk het, het dit Verdi inderdaad tot Italiaanse volksheld verhef. Sy monumentale “Requiem” van 1873 het hy ter ere van die ontslape Italiaanse patriot en digter Alessandro Manzoni geskryf.
Die Italiaanse revolusie het in 1860 ‘n hoogtepunt bereik toe Victor Emmanuel II, Cavour en Garibaldi, aanvoerder van die legendariese Rooi Hemde, ‘n burgerleër van duisend patriotte, te perd langs mekaar deur die strate van Napels gery het. Italië was uit die hande van die Oostenrykse tiranne verlos. In Februarie 1861 is Victor Emmanuel II amptelik gekroon as die eerste koning van die verenigde Italië en heerser van die nuwe Italiaanse volk. Die unifikasie is egter eers vervolmaak toe Venetia (Venesië ) in 1866 geannekseer en Rome in 1870 tot amptelike hoofstad van Italië verklaar is.
Verdi is verkies tot lid van Italië se eerste nasionale parlement, maar toe Victor Emmanuel II hom tot die adelstand wou verhef, het Verdi dié verering van die hand gewys en gesê: “Io son un paesano” (ek is ‘n gewone landsburger).
Dit is grootliks aan Verdi te danke dat musiek en sang, veral by wyse van die opera, deel geword het van die nasionale karakter van die Italianers.
Toe Verdi op 27 Januarie 1901 in Milaan weens ‘n beroerte sterf, was die Anglo-Boereoorlog in volle gang. En in die midde van die Boere wat teen die tirannie van Brittanje om lewe en dood geveg het, was talle Italiaanse vrywilligers wat oudstryders van die Italiaanse bevrydingsoorloë was of wat daardie bloedige jare in Italië as kinders meegemaak het. Die Boere se vryheidstryd was dus ook hul stryd. Boonop was talle Boere van Hugenote-afkoms en in baie gevalle afstammelinge van die patriotte van Piëmont en van die Lombarde (die langbaardiges) van Italië.
In die boek Vader ek kry koud, die oorlogsherinnerings van Pieter Pohl, soos byeengebring deur sy dogter Anna Neethling-Pohl, Folio Uitgewers, 1984, word vertel van so ‘n Italianer (met ‘n Spartaanse moeder), Antonio Lamberto, wat vrywillig vir die Boere teen die Britte geveg het. Hy is ingedeel by ‘n seksie onder genl. Louis Botha in Noordoos-Transvaal. Lamberto, wat “altyd aan die wen-kant geveg het”, het sy kommando-maats saans om die kampvuur vergas met sy pragtige operasang in Italiaans, en met sy opwindende verhale oor die talle vryheidstryde wat hy toe al in verskeie lande, soos Griekeland, Suid-Amerika, Bulgarye en Serwië, meegemaak het. Ongetwyfeld het hy hulle ook van die roemryke dade van die Italiaanse volksheld Giuseppe Garibaldi vertel, want dié naam duik op in die volgende lawwe kommandoliedjie wat sy kamerade uitgedink het om hul waardering en liefde vir Lamberto te betuig:
Maria Kasoosa Garibaldi vivá
Ag hoe verlang ek vanaand
na my ma.
Antonio, jou duiwel, jy sing deksels mooi . . .
Hoe soebat my hart vanaand
na my nooi.
Maria Kasoosa Garibaldi vivá,
Antonio, jou vabond,
en jy ook, Pita.
Gaan steel vir ons koffie
en suiker vanaand
By ou vlug-kommandant
Daar agter die rant
Anders buit die Kakies dit tog,
sies-á!
Maria Kasoosa Garibaldi vivá
Lamberto het onder meer die aanval by Helvitia onder genl. Chris Muller meegemaak toe die Boere die Britse 4,7-skeepskanon, Lady Roberts, buitgemaak het. Hieroor het F.W. Reitz sy bekende spotgedig “Die Lady Roberts” geskryf. In ‘n latere aanval op ‘n Britse fort in Noordoos-Transvaal het Lamberto soos ‘n held in die voorhoede gesterf. Sy laaste woorde was: “Boerman must win war”.
Maar daar was ook ander Boere wat hul stryd met ‘n lied in die hart gevoer het, soos die Transvaalse republikein Ernst Johannes Hausner (29), Duits van geboorte, maar ‘n volwaardige burger van Transvaal. Hy is in ‘n stadium van die oorlog krygsgevange geneem en na die Groenpunt-oorplasingskamp by Kaapstad oorgeplaas in afwagting op ’n Britse troepedraer om hom en sy makkers na oorsese krygsgevangenekampe weg te voer.
Hausner kon Afrikaans en Engels naas sy moedertaal, Duits, vlot praat. Ook kon hy die diatoniese harmonika, ’n eenvoudige mondfluitjie met tien klankkanaaltjies en 32 note wat in Duitsland vervaardig is en indertyd in taamlike hoeveelhede na Suid-Afrika uitgevoer is, goed bespeel. Die bekostigbare harmonika was baie gewild onder die musikale Afrikaners, wat dit saam met die konsertina, kitaar en viool ingespan het om volksmusiek, veral boeremusiek (vir die lekker danspartye) te maak. En soos te wagte kon wees, het Hausner In die Groenpunt-kamp saam met ander Boere-musikante, onder toesig van swaar gewapende Britse wagte, musiek gemaak om hul neerslagtige mede-gevangenes op te beur.
Toe 600 krygsgevangenes aan boord die vragskip Catalonia, deur die Britte gehuur van die Cunard-redery en omskep in ‘n troepedraer, gedwing word om na Ceylon (nou Sri Lanka) in die Ooste weggevoer te word, was Hausner in hul geledere. Die vuil, stinkende skip was ’n beknopte, drywende staaltronk, besmet met weeluise, vlooie en ander ongediertes afkomstig van die Britse troepe wat kort tevore van elders in die Britse Ryk (Empire) daarin na Suid-Afrika vervoer is.
Toe die skip op 22 November 1900 uit Tafelbaai wegvaar, het die Boere aan boord uit volle bors die Transvaalse en Vrystaatse volksliedere gesing. Soldate van die 1st Gloucestershire-regiment, hul bewakers, het woedend gereageer deur almal dadelik in die donker vragruime in te dwing. Daar was rye en rye hangmatte, en enkele elektriese gloeilampe het ’n flou lig verskaf. Omdat daar byna geen ventilasie was nie, was die ruim geweldig bedompig en die stank onuitstaanbaar. Die meeste Boere het boonop seesiek geraak en masels het uitgebreek. Hulle het skip beskryf as ’n afgryslike nes vol peswalms, ’n louere hel vir die krygsgevangenes.
Tydens die seereis is Boere-musikante wat viool, kitaar, konsertina en mondfluitjie bespeel het, toegelaat om op die bodek die gevangenes met hul musiek op te beur. Maar die speel van enige van die twee Boere-republieke se volkslied was verbode.
Op Kersdag was die Britte se “geskenk” aan die Boere onsmaaklike poeding met pikswart verbrande kors. Geen verbetering, dus, op die daaglikse rantsoen van oneetbaarhede nie. Die volgende oggend was daar ’n algemene kos-protes aan boord toe stinkende, vrot vleis vir ete voorberei is. Dit is toe dat die rebelse Hausner sy mondfluitjie te voorskyn haal en die Transvaalse volkslied, Kent gij dat volk, kliphard speel. Die wagte het hom dadelik in die skeepstronk, ’n traliehok – deur die Boere “die leeuhok” genoem – opgesluit op ’n dieet van brood en water. Toe hy eers na agt dae van eensame opsluiting vrygelaat word, was sy bynaam onder sy makkers “Ou Leeu”.
By die skip se aankoms in Ceylon het Hausner en vier ander Boere een nag ontsnap en na ’n Russiese skip geswem. Die gulhartige bemanning het die ontsnaptes “Kent ghij dat volk” toegesing en hulle saam na Rusland geneem. Hulle is soos helde op die hande gedra. Van daar het die vyf Duitsland bereik, is met ’n skip na Duits-Suidwes-Afrika, en het uiteindelik na die Boere-kommando’s teruggekeer om verder teen die Britte te veg.
Hausner is na die oorlog getroud en het in Johannesburg gaan woon. Hy het sy eie onderneming bedryf en is op 67 jaar oorlede.
Musikaal gesproke was Hausner kennelik geen Verdi nie, maar wel kon hy deur sy rebelsheid bewys dat die Shakespeariaanse spreekwoord “Music has charms to soothe the savage breast” nie op Britse soldate van toepassing was nie.

1 Comment

  1. Babs sê:

    Insiggewend en lekker om te lees. Dankie!

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

error: Content is protected !!