Gee Afrikaans ’n veilige en sinvolle plek aan die universiteitswese
Junie 30, 2014
Afri-Duet Fees
Julie 2, 2014

Puk11Die stelling op die tafel is dat koshuise te wit is op die Noordwes-Universiteit se Puk-kampus in Potchefstroom en dat radikale normalisering moet plaasvind sodat die land se demografie weerspieël kan word.

Verder word daar ook in Rapport berig dat die verslag stel: “Die komitee het ook bevind dat die omstrede saluut en ontgroeningsbestuur nie die gevolg van fascisme en Nazisme is nie, maar dat dit wel deel van diepgewortelde tradisies is wat gedryf word deur mense wat “nie die vermoë het om aan te pas by ʼn nuwe omgewing wat gegrond is in die Grondwetlike waardes van menswaardigheid en gelykheid nie”.

Ek verskil fundamenteel met die bogenoemde en beskou dit as gevaarlike stereotiperings rondom wit mense en Afrikaanse mense in besonder. Die redenering impliseer dus dat sodanige gedrag eie is aan wit mense en spesifiek Afrikaanssprekendes. Die aanname dat Taal en kleur aan mekaar gekoppel kan word in Potchefstroom is ook foutief, want dit is nie net wit mense wat Afrikaans praat nie.

Die studente van die NWU se Potchefstroomkampus word week in en week uit deur sekere media uitgebeeld as Nazi’s en ons hele kampus word geëtiketteer met ʼn kultuur van onvermoë om te verander. Dié etikettering laat gerieflik uit dat dieselfde studente wat so uitgebeeld word ook die studente is wat by 84 gemeenskapsprojekte betrokke is, dat hierdie die studente is wat jaarliks meer as R1 miljoen aan liefdadigheid uitbetaal om maar net ʼn paar te noem.

Afgesien hiervan word daar ook duidelike pogings aangewend om die Potchefstroomkampus van die NWU te isoleer. Die feit is egter dat ons as studente van die Potchefstroomkampus baie trots is op die NWU en die instelling se goeie naam en reputasie hoog op prys stel. Ons is dankbaar om Afrikaans as onderrigtaal te besig en ons sal saamwerk om die hele NWU te verbeter. Moenie die bydrae wat hierdie “slegte” studente tot die NWU en tot die land maak, gerieflik miskyk nie!

Wanneer daar gepoog word om instellings van hoër onderrig op ʼn politiese wyse te “transformeer” verloop die proses gewoonlik as volg:

1. Begin by die koshuise en verander alles. Nie op grond van getoetsde regspraak of universeel aanvaarde norme nie. Nee, verander want dit is wat in hierdie ideologie inpas. JBM Hertzog-koshuis by die Universiteit van die Vrystaat is ʼn voorbeeld hiervan.

2. Volgende word die Taal wat daar gepraat word aangevat en die spanning hoop op, so die invalshoek verskuif dan na toegang, in plaas van Taal. Die Taal word dan uitgebeeld as ʼn hek wat toegang belemmer en moet gevolglik aangespreek word. In hierdie geval is dit belangrik om te onthou dat Afrikaans ook ʼn amptelike Taal ingevolge ons Grondwet is en dat ʼn hoëronderriginstelling soos die NWU Potchefstroomkampus ʼn nasionale bate is.

Studente kom nie hierheen net vanuit ons onmiddellike omgewing nie. Studente van die Oos-Kaap, Noord-Kaap en Wes-Kaap kom juis hierheen om in Afrikaans onderrig te word, want die hoeveelheid plekke waar dit kan gebeur raak al hoe minder.

3. Polities gemotiveerde optogte word uitgelok deur mense wat nie konstruktief kan deelneem aan gesprekke en visionêre beplanning nie. Hierdie is ʼn universiteit, ʼn tuiste vir hoërorde-denke, maar steeds laat ons onsself ophou met ideologie in plaas daarvan om hierdie groot vraagstuk in Suid-Afrika te probeer beantwoord, want daar is nog geen antwoord hierop nie.

Hierdie eenvoudige driestap-benadering het al by verskeie instellings groot veranderings teweeg gebring soos onder andere die verpligte ontbinding van die Universiteitsraad of die aanstelling van ʼn administrateur.

Afrikaanse studente kan nie net stilsit en bloot aanvaar dat daar met ons as jongmense se kultuur en herkoms poppekas gespeel word nie. Dit is gek om te redeneer dat, aangesien ek Afrikaans is, ek nie kan verander nie en vasklou aan ʼn bepaalde verlede soos uitgebeeld deur die Onafhanklike Eksterne ondersoekspan.

Ek kan myself nie vereenselwig met hierdie tipe van stereotipering nie.

Wat die daarstel van die ideologie met betrekking tot verteenwoordiging van nasionale demografie in koshuise betref, vra ek myself die volgende twee vrae af: “Moet elke deeltjie van ʼn groter prent die geheelbeeld verteenwoordig? Of moet gedeeltes van ʼn prent nie juis saam die geheelbeeld vorm nie?”

Ek doen hiermee ʼn beroep op alle jongmense wat deur stellings soos dié geraak word om nie maar net toe te laat dat die debat namens jou gevoer word nie, maar om daaraan deel te neem op ʼn konstruktiewe manier.

Bron: Die Groot Debat, uit Maroela Media

Comments are closed.

error: Content is protected !!