Afri-Duet Fees
Julie 2, 2014
Viertrek Op Die Spore Van Die Groot Trek
Julie 7, 2014

Afrikaanse TaalmonumentHet die “ou bedeling” van voor 1994 Afrikaans bevoordeel of benadeel? Dié vraag is weer ter sake veral wanneer die land die rampspoedige 1976-onluste herdenk.

Die ou bedeling het op 31 Mei 1910 begin, die dag waarop die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom het. Een van die belangrikste bepalings van die 1910-grondwet was dat, behalwe Engels, ook Hollands as amptelike taal erken is.

Voordat die onderhandelinge oor ’n nuwe grondwet in 1908 begin het, het feitlik almal verwag dat Engels die enigste amptelike taal gaan wees. Nadat Brittanje die Vrystaat en Transvaal in die Anglo-Boereoorlog verower het, was Engels daar, soos in die Kaapkolonie en Natal, die enigste onderwys- en amptelike taal.

Vir die twee Vrystaatse leiers, pres. M.T. Steyn en genl. J.B.M. Hertzog, was dit totaal onaanvaarbaar en dis aan hul sterk standpunt te danke dat die Nasionale Konvensie op 20 Oktober 1908 besluit het dat sowel Engels as Dutch amptelike tale sou wees. Daar was nog meningsverskil oor die vraag of Afrikaans of Nederlands die skryftaal van die Afrikaanssprekendes moes word. Afrikanerleiers het vroeg in 1909 ooreengekom dat Hollands die regte vertaling van Dutch sou wees, omdat dit Afrikaans en Nederlands kon insluit.

Binne enkele jare het Afrikaans die oorhand oor Nederlands gekry en in 1925 is dit wetlik bepaal dat die woord Hollands in die grondwet ook Afrikaans insluit.

Die besluit om twee amptelike tale te erken het die verengelsing van die openbare lewe in Suid-Afrika gestuit. Die twee alternatiewe was ’n langdurige taalstryd om erkenning, of berusting in die alleenheerskappy van Engels, en daarmee saam die agteruitgang en waarskynlik die ondergang van Afrikaans.

Afrikaners het Afrikaans gou opgebou tot ’n volwaardige kultuurtaal. Die gelyke behandeling van die amptelike tale in die staatsdiens, die uitbreiding van moedertaalonderwys na Afrikaanssprekendes en die skeppingskrag van joernaliste, skrywers en ander intellektuele het dit moontlik gemaak.

In 1948 het die Nasionale Party aan die bewind gekom – die “apartheidsregering”, soos baie mense dit deesdae noem. Die belangrikste wat dié bewind op taalgebied gedoen het, was om die Afrikaans-Engelse gelykheid van 1910 voort te sit, ook ná republiekwording in 1961.

Daar was geen aanslag op Afrikaanse of Engelse enkelmediumskole nie en die voertaal van die ouer universiteite is ongehinderd gelaat, terwyl die nuwe kolleges en universiteite meestal Engels was. Die SAUK het probeer om Afrikaans en Engels geyk te behandel, al het Engels in sowel die radio as die televisie mettertyd die oorhand begin kry. In die staatsdiens het gelykheid bestaan, maar in die ekonomiese lewe het Engels die belangrikste taal gebly.

Die ou bedeling het Afrikaans en Engels bo die Afrikatale bevoordeel, maar in die apartheidstyd is met volwaardige radiodienste in dié tale begin, terwyl televisiedienste vir die vyf grootste Afrikatale ingestel is kort nadat Afrikaans en Engels op TV in gebruik geneem is. Moedertaalonderwys in die Afrikatale is bevorder deur die Wet op Bantoe-onderwys van 1953, wat laerskool-onderwys in die moedertale verpligtend gemaak het.

Hierdie maatreël het die ontwikkeling van die tale aangehelp. In die hoërskole was hulle egter nie voertale nie, onder meer weens ’n gebrek aan handboeke daarin, maar ook omdat die ouers en leerlinge Engels as die taal beskou het wat vir die toekoms noodsaaklik was. Die English Academy het sedert 1970 ’n veldtog gevoer om Engels in swart skole te bevorder. Hoewel hoërskole Afrikaans en Engels kragtens die 1953-wetgewing sover moontlik gelyk moes behandel, het skole meestal verlof gekry om slegs Engels te gebruik. In die 1970’s het party amptenare daardie verlof geweier en die beleid soms onbuigsaam toegepas.

Verset teen apartheid was ’n belangrike rede vir die 1976-opstand. Die voertaalkwessie was iets soos ’n laaste druppel wat die emmer laat oorloop het. In ’n amptelike verslag oor die 1976-onluste is bevind dat die polisie en amptenare ondanks talle waarskuwings nie ’n dreigende gevaar sien kom het nie. Op 16 Junie 1976 het betogings teen die gebruik van Afrikaans begin en oor die hele land uitgebrei.

Anders as wat party mense deesdae dink, was dit nie die bedoeling om Afrikaans deur ’n ander Afrikataal te vervang nie, maar om te verseker dat Engels die enigste voertaal vir hoërskole word. Ná die opstand het die verengelsing van swart onderwys toegeneem. Ook die tuislande het Engels in plaas van die Afrikatale in die onderwys bevorder.

Die apartheidsbeleid en die toepassing daarvan het onreg veroorsaak en die 1976-onluste het ’n negatiewe gesindheid teenoor Afrikaners en Standaardafrikaans laat toeneem. Party bruin Afrikaanssprekendes het die land verlaat en sommige ander het verengels.

Sou dit beter vir Afrikaans gewees het as daar geen apartheid was nie en algemene stemreg en verpligte integrasie reeds gou ná 1948 ingevoer is? Dis moeilik om afdoende daarop te antwoord.

Dit is egter seker dat Engels ná graad 4 die onderrigtaal van die swart meerderheid sou gebly het. Dit sou onvermydelik die staatsdiens vinnig laat verengels het. Afrikaanse skole en universiteite sou gouer onder druk gekom het om Engels in te voer. Die SAUK sou soos tans beslis geen gelyke behandeling van Afrikaans en Engels in die TV-diens toegelaat het nie.

Sou die gesindheid teenoor Afrikaans beter gewees het? Baie sou afgehang het van hoe integrasie toegepas sou word. In die suide van die VSA het gedwonge integrasie verset uitgelok. So iets bevorder nooit gesindhede nie. Bowendien bevorder integrasie van mense van verskillende taalgroepe altyd die polities en ekonomies dominante taal – in Suid-Afrika dus Engels.

Apartheid het die beeld van “die Afrikaner” skade gedoen. Onthullings van werklike wandade, maar ook ongegronde persepsies, halwe waarhede en onwaarhede het party Afrikaners skaam gemaak vir hul groep (dit lyk amper of die woord volk uit die woordeskat verdwyn!) en onwillig om hulle te beywer vir enigiets wat vertolk kon word as “Afrikanerbelange”. Ook taalhandhawing het onder verdenking gekom.

Die slot van die geskiedenis van Afrikaans in die “ou bedeling” mag nie vergeet word nie. Afrikaanse joernaliste, skrywers, akademici en ander intellektuele het ’n nuwe klimaat geskep waarin die bewindhebbers ’n einde kon maak aan die ou orde omdat hulle dit beskou het as in stryd met “voortbestaan deur geregtigheid” (N.P. van Wyk Louw).

Die “ou bedeling” – gegrond op die 1910-grondwet met sy reg en sy onreg – het aan Afrikaans ’n geleentheid tot ontwikkeling gegee. Sy skeppende geeste het dit behoorlik benut en dié taal tot ’n kultuurtaal met ’n bloeiende letterkunde, volwaardige wetenskapstaal en lewendige massamedia opgebou. Die ou bedeling het aan Afrikaans die kans gebied om ’n “goue eeu” te beleef – soos wat Engels, Frans, Spaans, al die groot tale, hul goue eeue kon beleef en letterkundes kon skep in lande wat gedy en uitgebrei het deur slawerny, oorloë, verowering en kolonisering. Die realiteit van reg en onreg is dat groot volke en taalgemeenskappe kan onreg pleeg en as gevolg daarvan floreer, terwyl kleiner volke kan ly onder die onreg van die grotes én die reaksie op onreg wat hulle (die kleineres) soms self kan pleeg.

’n Aangepaste uittreksel uit ‘Ons gaan ’n taal maak’. Afrikaans sedert die Patriot-jare deur J.C. Steyn, gewese professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat. Dis verkrygbaar by Kraal, telefoon 012 644 4329 & www.kraaluitgewers.co.za.

Bron: Die Groot Debat, uit Maroela Media

Comments are closed.

error: Content is protected !!