Ekonomiese- teenoor kultuurkwessies

Standpunt oor Die Stem
Julie 31, 2014
Gaan my kind nog in Afrikaans kan swot?
Julie 31, 2014

deur prof Danie Goosen.

Iemand skryf nou die dag dat kultuurkwessies (soos die strewe na kulturele erkenning) nie vandag ons belangrikste uitdaging is nie. Ons ekonomiese uitdagings is veel belangriker, sê hy.

Die implikasie is duidelik: In plaas daarvan dat ons op die bevordering van ons kulturele identiteite moet fokus, moet ons vandag eerder aandag skenk aan die vraag hoe die land sy ingewikkelde ekonomiese probleme (werkloosheid, ongelykheid, ensovoorts) kan oplos.

As geluister word na die wyse waarop talle openbare woordvoerders (oor die hele politieke spektrum heen) daaroor dink, is dit duidelik dat ons skrywer groot ondersteuning vir sy standpunt het. Kultuurkwessies is by talle openbare woordvoerders tot op die verste uithoeke van hulle bewussyn weggedruk. Ekonomiese vrae geniet by hulle sonder voorbehoud voorrang.
Maar hoe moet hierdie houding verstaan word? Moet kultuurkwessies laaste in die tou staan? Moet Suid-Afrika eers sy ekonomiese probleme oplos alvorens daar weer aan kultuursake aandag gegee kan word?

Nog meer, kan ons inderdaad – soos wat kennelik vooronderstel word – kultuur en ekonomie netjies van mekaar skei? So asof hulle totaal verskillende kragte is wat nie wedersyds op mekaar ’n invloed uitoefen nie?
Trouens, maak dit nie juis ekonomies sin om hierdie dinge in hulle samehang raak te sien nie? Kan die omvattende ekonomiese krisisse van vandag opgelos word as die kulturele dimensie van menswees uit die prentjie gesny word? Verteenwoordig kultuur nie ook ’n deel – miskien selfs ’n onontbeerlike deel – van die antwoord op ons ekonomiese probleme nie?

Alhoewel hierdie geensins die plek is om breedvoerig oor genoemde vrae te skryf nie, kan ten minste die volgende opmerkings daaroor gemaak word:

1. Die skerp skeiding wat talle openbare woordvoerders tussen ekonomie en kultuur aanlê (én die gelyktydige voorkeur wat hulle aan die ekonomie gee), rus op ’n problematiese beskouing van die mens. Ons kan sê dit vat ons menslike toestand mis. Waarom?

Genoemde houding beskou die mens verkeerdelik as ’n gesplete wese, dit wil sê as ’n wese wat uit twee losstaande kante bestaan, naamlik die materiële en die geestelike. Maar nog meer, dit vooronderstel ook – op ’n erg simplistiese wyse – dat die materiële kante van menswees belangriker as die geestelike kante is.

Maar is dit so? Vanuit ons filosofiese en teologiese tradisie weet ons dat die gesplete opvatting van die mens ten diepste tekortskiet. En dat ons menswees eerder gekenmerk word deur die onlosmaaklike samehang tussen die materiële en die geestelike. Beide kragte moet in hulle verweefdheid raakgesien word alvorens ons die mens na behore kan begryp.

Herman Berger, die Nederlandse filosoof, praat in hierdie verband van die twee-eenheid tussen liggaam en gees. Daarmee erken hy sowel die verskil as die samehang tussen hierdie dinge.

Vanuit hierdie perspektief beskou word ons menswees ernstig verskraal as dit met óf die materiële óf die geestelike geïdentifiseer word. Ons menswees word eerder gekenmerk deur die onverbreeklike samehang tussen die materiële en die geestelike.

2. Dit is nie net die mens wat deur so ’n samehang gekenmerk word nie. Vanuit hierdie perspektief beoordeel, is dit duidelik dat ook die geskiedenis self as die samespel tussen materiële en kulturele kragte verstaan moet word.

Indien ons egter met ’n gesplete beeld op die mens werk, kan ons nie hierdie samespel wat die geskiedenis is, raaksien nie. Ons gaan dan verkeerdelik van die standpunt uit dat die geskiedenis slegs deur materiële kragte (die biologiese stryd om oorlewing, die klassestryd, die stryd om grondstowwe en die beheer oor markte, ensovoorts) aanmekaar getimmer is.

Alhoewel bogenoemde woordvoerders (meestal onbewus?) by hierdie beeld op die geskiedenis aansluit, verteenwoordig dit ’n verskraalde beeld. Een van Suid-Afrika se grootste probleme is egter juis hierdie verskraalde beeld op die geskiedenis. Kulturele kragte speel by talle bykans geen rol in die geskiedenis nie. Maar daarmee toon hulle (vanaf die ANC tot en met talle figure in die opposisiebanke, om maar by die partypolitieke voorbeeld te hou) ’n onbegrip vir die aard en wese van die geskiedenis self.

Uiteraard speel materiële kragte ’n rol in die geskiedenis. So is dit byvoorbeeld onmoontlik om die moderne geskiedenis te verstaan sonder om die invloed van dinge soos die klassestryd, die nywerheidsrewolusie of – vandag – die invloed van globale markte in ag te neem. Hierdie dinge medebepaal die rigting waarin die geskiedenis beweeg.

Nogtans kan die geskiedenis in sy verwikkeldheid kwalik begryp word as die rol van kulturele kragte nie ook verreken word nie. Met kulturele kragte word onder meer verwys na dinge soos die simboliese strewe na erkenning deur kultuurgemeenskappe (volgens Hegel een van die belangrikste kragte in die moderne geskiedenis), maar ook na die invloed van ons tale, ons letterkundes, musiektradisies, politieke ideale, filosofieë en godsdiens.

Soos die ekonomiese kragte druk hierdie dinge telkens ’n wesenlike stempel op die geskiedenis af – dikwels tot groot frustrasie van diegene wat die geskiedenis bloot na die invloed van materiële kragte terugherlei, soos die Marxistiese tradisie destyds (nog in Suid-Afrika lewendig) en die neo-liberale tradisie vandag.

Laasgenoemde strominge word egter deur ’n verlammende spanning gekenmerk. Terwyl hulle alles na materiële kragte terugherlei, kan hulle dit nie doen sonder om op geestelike ‘wapens’ soos die verbeelding, denke en idees terug te val nie. Hierdie geestelike dinge stel hulle juis in staat om aan te toon dat die geestelike onbelangrik is! Maar so verval die materialiste in ’n volledige kontradiksie.

3. Terug na Suid-Afrika en die ekonomiese krisis. Wat is die verband tussen bogenoemde opmerkings en dié krisis?

Indien ons beeld op die mens die samehang tussen die materiële en die geestelike raaksien, sal ons ook raaksien dat die Suid-Afrikaanse ekonomiese krisis nie net deur sogenaamde suiwer ekonomiese kragte veroorsaak is nie.

Inteendeel, vanuit ’n volwaardiger beeld op die mens kan raakgesien word dat tipiese kultureel-geestelike dinge ook ten grondslag van die ekonomiese krisis lê. Ons verwys na tipies Suid-Afrikaanse verskynsels soos verbrokkellende gesin- en gemeenskapstrukture; krisisse in etiese opvattinge; gebrekkige erkenning van gemeenskappe; onbegrensde vergelykings met en gevolglike gevoelens van minderwaardigheid jeens die koloniale sentrum; ressentiment en wraaksug; gebrekkige taalbewussyn en die swak ontwikkeling van moedertale; verlies aan sin vir die transendente, ensovoorts.

Kortom, kultuur staan nie los van die ekonomie en die krisisse wat laasgenoemde kenmerk nie. Dit is eerder ’n integrale deel daarvan.

4. Indien daar nie ’n antwoord op die ekonomiese uitdaginge vanuit ’n vollediger mensbeeld gegee word nie, sal ons daarin vasgeval bly. In die mate waarin ons met ander woorde volhard om ‘kultuur’ as iets sekondêr ten opsigte van die ‘ekonomie’ te beskou, sal ons juis in gebreke bly om sinvolle antwoorde op ons ekonomiese krisis te gee.

Waar pas die Afrikaners in hierdie verhaal? Bogenoemde skrywer het immers ook aangevoer dat dit veral die Afrikaners is wat vandag nie aandag aan kulturele kwessies moet gee nie. En dat ons ons aandag eerder op ekonomiese kwessies moet toespits.

Afrikaners staan uiteraard nie bokant die ekonomiese krisis verhef nie. Talle van ons mense ervaar ook ernstige ekonomiese gebreke. Dié verhaal is bekend. Maar dit is ook waar dat Afrikaners in die verlede ’n klinkende antwoord op hulle ekonomiese krisisse by wyse van ’n beroep op kulturele kragte gegee het.

Trouens, die geskiedenis van die Afrikaners tydens die twintigste eeu onderstreep juis die waarheid van bogenoemde uiteensetting: Afrikaners het nie aan ’n gesplete opvatting van die mens gely nie. Daarom het ons ook nie ons ekonomiese krisisse slegs by wyse van sogenaamde suiwer ekonomiese instrumente hanteer nie.

Inteendeel, onlosmaaklik deel van ons antwoord was die mobilisering van kultureel-geestelike kragte soos die onderwys; politieke ideale; die herstel van ’n gebrekkige selfbeeld en die opheffing van ons minderwaardigheid jeens die eertydse koloniale sentrum; die ontwikkeling van ons moedertaal tot op die hoogste vlakke van die noembare; die gedagte van verantwoordelikheid en selfstandige handeling, ensovoorts.

Sonder hierdie dinge sou ons nie ’n antwoord op ons ekonomiese krisisse kon gee nie.

Afrikaners is in hierdie verband nie net ’n voorbeeld aan ander gemeenskappe in Suid-Afrika nie. Afrikaners mag nie vergeet dat die noue samehang tussen die ekonomiese en kulturele kragte die rede vir ons suksesse in die verlede was nie.

Waarom? Omdat ons as Afrikaners onsself nogmaals in ’n historiese situasie bevind waar hierdie kragte in hulle samehang raakgesien moet word.

Laat 'n boodskap

error: Content is protected !!