Gaan my kind nog in Afrikaans kan swot?
Julie 31, 2014
Die teenstelling tussen Engelse liberales en Afrikaanse linkses
Augustus 5, 2014
Argieffoto

Argieffoto

(Die opskrif is ontleen aan een van Schalk Pienaar, eerste redakteur van Beeld, se hoofstukke in sy biografie Getuie van groot tye.)

Onlangs het ek Schalk Pienaar se outobiografie op ’n stowwerige rak in ’n klein boekwinkeltjie in die Karoo ontdek. Pienaar het die manuskrip slegs tien dae voor sy dood in 1978 voltooi. Reeds in die voorwoord meld die digter DJ Opperman dat Pienaar bestem was vir groot dinge. Met ’n blitsvinnige en feillose strategie het hy die noorde van die land stormgeloop en Die Beeld gevestig as die voorste nuuskoerant.

Onder Pienaar se leiding het Die Beeld wat aanvanklik as Sondagkoerant verskyn het se sirkulasiesyfers ontplof. Joel Mervis, sy magtige Engelse teëstander en redakteur van die invloedryke Sunday Times het Pienaar onthou as “the man who pulled off the most spectacular newspaper coup in the history of the South African Press”. Sy tydgenoot en bestuurder, Dirk de Villiers, gaan nog verder: “Binne enkele jare het hy en sy span Beeld uit die grond uit opgebou tot die suksesvolste koerantonderneming in die land se geskiedenis – inderdaad een van die merkwaardigste suksesse ook aan wêreldstandaarde gemeet.”

Teen die einde van sy eerste jaar het Die Beeld 112 458 eksemplare per uitgawe verkoop. Teen 1970 het Die Beeld se sirkulasiesyfers geklim tot 355 820. Binne 5 jaar het meer as ’n miljoen Afrikaners Die Beeld gelees. Na die totstandkoming van Rapport het Beeld in 1974 as ʼn dagblad onder Pienaar se leiding verskyn, met net sulke groot suksesse en gewildheid. Dit gemeet teen die agtergrond dat dr Verwoerd en die Transvaalse Nasionale Party ’n boikot teen die koerant verklaar het nog voordat hy verskyn het.

Pienaar se sukses was te danke aan veral twee strategiese vertrekpunte:
1. In die sestiger- en sewentigerjare was daar ’n tradisie dat Afrikaanse koerante beskou is as die spreekbuis van Afrikaanse instellings. Die Afrikaanse koerant het volgens dié tradisie geen ander bestaansreg gehad as ’n publisiteitsagent en goedprater van die establishment nie. Pienaar wou met Beeld die tradisie op sy kop keer deur nooit ’n naprater te wees nie. Om die waarheid te sê, het Pienaar uit sy pad gegaan om sy Afrikanerlesers bloot te stel aan menings buitekant die laer. Vir hom was een van die koerant se kernfunksies om nie vandag te gebruik om gister te aanvaar nie, maar om sy lesers eerder te help om môre tegemoet te gaan. Uitgesproke rubriekskrywers soos GH Caplin, Dennis Worrall, Henry Katzew en Andre Brink het carte blanche gekry om Afrikaners intellektueel uit te daag en grense te verskuif. Pienaar het die rubriekskrywers egter nie toegelaat om Afrikaners te verkleineer of te etiketteer nie. Die lesers het Beeld se vrye benadering oor Afrikanersake verwelkom en sirkulasiesyfers het die hoogte ingeskiet. In die proses het baie Afrikanerorganisasies Beeld-vriende geword. ’n Vriendskap wat vandag onder groot druk en spanning verkeer.

2. Pienaar was deeglik bewus van die feit dat vanweë Suid-Afrika en die Afrikaner se besondere omstandighede, die meningsgaping tussen ’n Afrikaanse koerant en sy lesers groter sal wees as wat dit normaalweg is in ander Westerse demokrasieë. Sy onomwonde standpunt was dat geeneen van die twee kante ’n breuk kan bekostig nie. Die Afrikaanse koerant moet altyd ten minste ’n voet in die deur van Afrikanerinstellings hou, anders maak hy homself magteloos, terwyl Afrikanerinstellings die koerant nodig het om te kan groei en grense te skuif. Pienaar het die dinamiese verhouding beskryf as: “onafhanklikheid in gebondenheid” en “vriendskap in spanning”. Hierdie formule was vir hom noodsaaklik vir beide se groei.

In die konteks van nuwe spanning in die verhouding tussen die Afrikaners en Beeld is dit goed, selfs noodsaaklik, om die eerste redakteur se raad weer af te stof. Die huidige verhouding word ongelukkig gekenmerk deur onafhanklikheid en spanning, terwyl daar min te bespeur is van vriendskap en gebondenheid. Terwyl talle meningsvormers bekommerd is oor verharding in gesindheid, die polarisering in die Suid-Afrikaanse samelewing en die verdwyning van die middelgrond, is dit ’n legitieme vraag om te wonder in watter mate bou Beeld ’n gemeenskaplike middelgrond of dra Beeld by tot die verharding, vervreemding en polarisasie van sy Afrikanerlesers?

Feitelik al die Afrikaners wat ek ken, is gebalanseerde en gematigde mense wat oor dieselfde dinge as die meerderheid Suid-Afrikaners bekommerd is. Afrikaners sal hard werk om die grondwet te versterk en om SA se demokrasie suksesvol te maak. Afrikaners wil graag fokus op die werklike aktuele kwessies en ook ’n bydrae aan die oplossingskant lewer. Hoekom beleef Afrikaners nie dieselfde spanning met Rapport, Volksblad of Die Burger nie? Die koerante neem dikwels tog ook standpunt teenoor Afrikaners in. Afrikaners en die koerante verskil tog ook dikwels oor verskeie kwessies.

Dalk is een van die redes dat Beeld Afrikaners aan die hand van die Mellville-minderheid se linkse ideologiese raamwerk beoordeel. Nog erger verwag Beeld van sy Afrikanerlesers om soos die Melville-minderheid te dink en te doen. Soos wat Beeld se huidige redaksionele beleid verder en verder links skuif van die middelgrond, het Afrikanerstemme feitlik uit Beeld se rubrieke verdwyn. Debatte oor Afrikaners en hul kultuur in vyandskap tot op breekpunt gevoer. In plaas daarvan dat Beeld geloofwaardige leiding aan sy Afrikanerlesers gee, word die lesers vervreem. Mens kan net wonder wat is volgende in Beeld se visier?

Die gevolge is duidelik sigbaar. Beeld se sirkulasiesyfers daal kwartaalliks tot nuwe laagtepunte. Aan die einde van die eerste kwartaal van 2014 was Beeld se sirkulasiesyfer maar net 62 766. ’n Invloedryke en bekende uitgewer het op die sosiale media opgemerk dat die Vryheidsfront Plus driemaal meer stemme het as wat die Beeld kopers het. Dit moet seker ’n bitter pil wees. Die gerugte dat Beeld en Volksblad moet saamsmelt, herinner ook sterk aan die samesmelting tussen Dagbreek en Landstem vroeg in 1968 om hulle tanende sirkulasiesyfers kunsmatig op te jaag. Selfs dit kon Dagbreek nie van uiteindelike ondergang red nie. Daar sou seker aangevoer kan word dat alle koerante se sirkulasiesyfers tans onder groot druk verkeer, maar Beeld se eerste redakteur sou dit nie as verskoning aanvaar of aangebied het nie. Pienaar het die algemene wysheid dat dalende sirkulasiesyfers ʼn teken is dat Afrikaanse koerante se tyd uitgedien is verkeerd bewys.

In die huidige politieke klimaat sal daar seker baie Afrikaners wees wat bly sal wees oor Beeld se krimpende sirkulasiesyfers. Daar sal seker ook Afrikaners wees wat nog blyer sal wees as Beeld se deure finaal sluit. So ’n redenasie is kortsigtig en ’n fout. Die pleidooi is eerder dat die verhouding tussen Beeld en sy Afrikanerlesers moet herstel word op die basis van Pienaar se bewese suksesformule van onafhanklikheid in gebondenheid en vriendskap in spanning. Afrikaners het Beeld nodig, soos wat Beeld sy Afrikanerlesers nodig het.

Beeld en Afrikaners het baie meer met mekaar in gemeen as wat hulle verdeel. As Beeld verdwyn, verloor nie net Afrikaners ’n belangrike politieke stem nie, maar verloor Afrikaans ’n belangrike taalstaanplek in die noorde. Afrikaners het nodig om blootgestel te word aan verskeie standpunte regoor die breë politieke spektrum. Suid-Afrikaners het ook nodig om Afrikaners se stem te hoor.

Afrikaners mag egter nie van Beeld verwag om hul naprater en spreekbuis te wees nie. Dit is onbillik. Beeld was dit nooit en sal dit ook nooit wees nie. Afrikaners kan wel van Beeld verwag om nie geëtiketteer en gemarginaliseer te word nie. Afrikaners kan wel van Beeld wyer blootstelling en ander menings vra as dié van die Melville-minderheid. Afrikaners mag van Beeld respek verwag.

Bron: Die Groot Debat, uit Maroela Media

Comments are closed.

error: Content is protected !!