Die teenstelling tussen Engelse liberales en Afrikaanse linkses

Die Afrikaner en sy koerant
Augustus 1, 2014
Taalmoord ons voorland as ons nie baklei nie
Augustus 8, 2014

imagesDie teenstelling tussen Engelse liberales en Afrikaanse linkses het die afgelope tyd besonder opvallend geword.

Terwyl die meeste Engelse liberales steeds die klassieke liberalisme ondersteun, het ’n klein groepie Afrikaanse liberales skynbaar soomloos na ’n linkse ideologie oorgeskakel. Hierdie verskil het in die praktyk die twee groepe lynreg teen mekaar én die groot meerderheid Afrikaners opgestel.

Terwyl invloedryke Engelse liberales die ANC se staatsideologie van rassetransformasie onbeskroomd as die grondoorsaak van die land se probleme beskryf, bevorder die nuwe Afrikaanse linkses dieselfde ideologie met mag en mening. Maar meer nog: waar die Engelse liberales die ANC se rasse-ideologie trompop loop, verguis Afrikaanse linkses daarteenoor Afrikaners wat nie by hierdie demografiese rassedwangbuis wil inval nie.

Dit lei daartoe dat Afrikaners wat byvoorbeeld hul grondwetlike reg op universiteitsopleiding in hul moedertaal uitoefen, deur hierdie Afrikaanse linkses as regs, konserwatief, verskuilde rassiste en, o weë, as gekant teen transformasie uitgekryt word. Net so word Afrikaners wat hulle grondwetlike regte op gelykheid en menswaardigheid teen rassekwotas in die werkplek wil verdedig, deur Afrikaanse linkses daarvan beskuldig dat hulle na apartheid verlang én teen nasiebou en versoening gekant is.

Aan die ander kant word die meerderheid Afrikaners hierin ondersteun deur Engelse liberales wat dieselfde ANC-beleid as ’n terugkeer na apartheid bestempel!

Dis belangrik dat hierdie vreemde toedrag van sake verder ontleed moet word, omdat mens nie sou verwag dat Engelse liberales en Afrikaanse linkses so diepliggend oor sulke grondliggende sake in die liberale ideologie sou verskil nie.

Engelse liberales

Die pas afgetrede hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV), John Kane-Berman, is waarskynlik die verpersoonliking van die Engelse liberale tradisie in Suid-Afrika. Hy het apartheid voor 1994 skerp teengestaan en die SAIVR het die simbool van Engelse liberale weerstand teen die vorige bedeling geword. Maar sommer vinnig ná die aanbreek van die nuwe bedeling was baie mense verras toe Engelssprekende liberales soos Kane-Berman en Tony Leon die ANC heftig begin kritiseer het.

Hierdie optrede van Kane-Berman en Leon moes eintlik niemand verbaas het nie. Die Engelse liberale tradisie word gekenmerk deur ’n stel vaste standaarde waarteen enige regering gemeet word. Hierdie standaarde begin vir hulle by die grondwetlike demokrasie, wat onder meer die regstaat, die oppergesag van die reg, persoonlike en mediavryheid, die onafhanklikheid van die howe, gelyke geleenthede, ’n vrye ekonomie, eiendomsreg, nierassigheid en goeie en skoon regering beteken.

Nog ’n kenmerk van hierdie tradisie is dat Engelse liberales mense se reg om te verskil sal verdedig, al stem hulle nie met ’n bepaalde standpunt saam nie. So was Afrikaanse onderrig waarskynlik nie vir Tony Leon ’n prioriteit nie, tog het hy dit verdedig omdat hy die grondwetlike voorsiening daarvoor respekteer het.

Die botsende sienings van Afrikaanse en Engelse liberales oor deelname aan die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) wys die diep verskille tussen hierdie twee groepe goed uit. Terwyl Afrikaanse liberales in die RNE gedien het, het Tony Leon ’n kabinetpos geweier en daarna die DA tot die grootste opposisieparty uitgebou deur die ANC se foute hard en duidelik aan te val.

In die proses is die NNP vernietig, het hul leierskap by die ANC aangesluit en het die meerderheid Afrikaners DA begin stem vanweë die party se sterk opposisie teen die ANC. Dit is ook betekenisvol dat talle Afrikaanse linkses Leon en die SAIVR se harde kritiek teen die ANC teengestaan en eerder Afrikaners bly kritiseer het! Dis asof hierdie Afrikaanse linkses in die apartheidstyd bly vassteek het en nie soos hul Engelse eweknieë die ratte na die nuwe bedeling kon wissel nie.

Ou verdelingslyne

Hierdie verskille tussen die Engelse liberales en Afrikaanse linkses het lank voor 1994 ontstaan en verduidelik baie van die oorsake van die ideologiese taalverdeling.

Die SAIVR met Kane-Berman aan die voorpunt het nie net die destydse NP-regering heftig gekritiseer nie ‒ die ANC was meermale ook in hulle visier. Die ANC se linkse beleidsrigtings, soos nasionalisering, terrorisme, ontwrigting van skole, bande met die Kommunistiese blok en die veldtog om die land onregeerbaar te maak, het gereeld onder die instituut se kritiek deurgeloop.

Daarteenoor het die meeste Afrikaanse linkses net die NP, apartheid en Afrikaners aangeval en die ANC-foute grootliks doodgeswyg. Waar die Afrikaanse linkses uitsluitlik fokus op apartheidsmisdrywe soos dié van Eugene de Kock se Vlakplaas-polisiemoordbende, publiseer die SAIVR ook deurtastende ontledings van ANC-vergrype tydens hulle People’s War voor 1994.

Dis nie net die standpunte van die Engelse liberales en Afrikaanse linkses wat verskil nie- dis hulle styl ook. As Kane-Berman se styl kenmerkend van die Engelse liberales is, is Piet Croucamp se styl moontlik meer verteenwoordigend van die Afrikaanse linkses.

Die Kodesa-onderhandelinge het ook die verskille tussen die Engelse en Afrikaanse liberales duidelik uitgelig. Terwyl die Engelse liberales met oortuiging vir ’n toekomstige liberale bedeling standpunt ingeneem het, het die leidende Afrikaanse onderhandelaars belangrike toegewings aan die ANC gemaak wat die land nou duur te staan kom.

Die beste voorbeeld hiervan is die opneem van sosiaal-ekonomiese regte in die Grondwet, wat in praktyk ’n onbekostigbare welsynstelsel in die Grondwet ingebou het. Die SAIVR was tereg só bekommerd dat die politiek hierdeur verwagtings sou skep wat nie deur die ekonomie bekostig sou kon word nie (Van Zyl Slabbert se standpunt), dat hulle tydens die sertifisering van die Grondwet voor die konstitusionele hof sterk daarteen standpunt ingeneem het ‒ teen die ANC en die NP se liberale Afrikaanse elite.

Nog ’n belangrike verskil tussen die twee groepe was die verbasende naïwiteit van die meeste Afrikaanse onderhandelaars teenoor die ANC. Daarteenoor het die leidende Engelse liberales gewaarsku teen die gevaar dat die ANC tydens die onderhandelinge toegewings sou maak om die mag te kry, maar die mag ná die verkiesing dan kon misbruik om hulle oorspronklike doelstellings deur te stoomroller.

Kritiek op die Engelse liberales

Met hierdie ontleding word nie bedoel dat die Engelse liberalisme foutloos was nie. Die Engelse liberales se belangrikste ideologiese blindekol is dat hulle nie kultuurgroepe raaksien nie en die politiek as mededinging tussen beleid in plaas van identiteit beskou ‒ oftewel die politiek van individue in plaas van groepe.

Daarmee saam beskou hulle die Engelse liberalisme nie as ’n ideologie nie, maar as ’n universele standaard wat vir alle lande geld, al is die bestaansvoorwaardes daarvoor afwesig. Hierdie swakpunt in die Engelse liberalisme het al tot talle state se mislukking bygedra en tot groot leed en ellende gelei. Hierdie probleem van die liberale stelsel is ten beste deur die Amerikaanse staatsman Henry Kissinger verwoord:

“In die Weste het demokrasie ontwikkel uit homogene samelewings. Daar was nie institusionele versperrings vir ’n minderheid om ’n meerderheid te word nie. Westerse verkiesingsneerlae is gesien as ’n tydelike terugslag wat weer omgekeer kan word. Maar in multi-etniese lande beteken minderheidstatus gereeld permanente diskriminasie en die risiko van politieke uitwissing.”

Nog ’n uitdaging vir die Engelse liberales is dat hul ideologie soms deur ander as verwaand en selfs rassisties ervaar kan word. Soos die bekende akademikus en rektor van die Universiteit van KwaZulu-Natal, professor Malegapuru Makgoba, dit gestel het: “South African liberals and the self-declared champions of liberal values are in general English-speaking white South Africans. According to this logic, it seems there are no Afrikaners, Africans, or Indians who are categorised as liberals … The denial or exclusion of this recognition of others, combined with the perceived association of a particular race group, is not only alienating, but is also associated with arrogance, lack of racial sensitivity, and feelings of superiority (the holier-than-thou approach) that have become the features of some of our liberals – all I might say, recognised features of racism.”

Afrikaanse linkses

Die vraag is hoekom en ten opsigte waarvan die Afrikaanse linkse elite so gereeld, so skerp van hul Engelssprekende geesgenote verskil, terwyl die massa gewone Afrikaners deur die ANC sien? Dit bly interessant dat hierdie groepie Afrikaanse linkses probeer om hulle politiek onder die meer aanvaarbare vaandel van liberalisme te bedryf. Hierdie klein groepie linkse Afrikaanse aktiviste veg harder teen alles Afrikaans en Afrikaner as teen die ANC!

Die belangrikste verskil tussen hierdie twee groepe is dat die Afrikaanse linkses tot ’n baie groter mate deur die ANC se ideologiese, Afrikanistiese projek gekoöpteer is, terwyl die Engelse liberales die einddoel van swart oorheersing (“hegemonie” in ANC-beleidsdokumente) deur die reënboogkamoeflering raakgesien het.

Daarby het Kane-Berman in sy afskeidsrede by die instituut gewaarsku teen die groeiende “herrassifikasie” van die land en gemaan dat die ANC die Grondwet nie as die belangrikste riglyn vir die landsregering sien nie, maar steeds vasklou aan hul uitgediende Nasionaal Demokratiese Rewolusie.

Daar is moontlik ’n verklaring vir al hierdie grondliggende verskille tussen die Afrikaanse linkses en Engelse liberales. Dit is dat die Afrikaanse liberalisme nooit ’n diep ideologiese onderbou gehad het nie, maar ’n betreklik oppervlakkige reaksie was op die vorige bedeling se foute en die destydse konfliksituasie wat in die land geheers het. Dit is begryplik, omdat hulle vanweë hul Afrikanerskap kwalik geneem is vir apartheid ‒ selfs al het hulle meestal daarmee verskil.

Hierdie “ideologiese vakuum” het waarskynlik veroorsaak dat hulle ná 1994 die ANC se staatsideologie as verstekideologie aanvaar het omdat hulle nie oor ’n uitgewerkte alternatief beskik het nie.

Daarmee saam kan talle Afrikaanse linkses se bykans slaafse onderdanigheid aan die nuwe bedeling moontlik toegeskryf word aan ’n smagting na aanvaarding deur die nuwe orde en skuldgevoelens oor die verlede. Afrikaners het ná 1994 ’n ongewilde minderheidsgroep geword wat kwalik geneem word vir bykans alles wat verkeerd geloop het.

Om hiervan te ontkom, neig hierdie groep linkses moontlik om ander Afrikaners deurlopend aan te val om so juis hul lojaliteit aan die nuwe orde te bewys, hul “progressiewe” denke uit te stal en hul afkeer van alles Afrikaans en Afrikaner in die openbaar te toon. Dit verklaar miskien hoekom hulle stryd teen apartheid nou ’n stryd teen Afrikaners is en hoekom hulle op die voorpunt van enige geveg is teen van wat nog oor is van Afrikanerinstellings en -tradisies en selfs grondwetlike en demokratiese ruimtes.

Hierdie aktivistiese mikrogroep Afrikaanse linkses kan as ’n randverskynsel afgeskryf word omdat hulle hoogs waarskynlik minder as 5% van Afrikaners uitmaak en nie in magsposisies is nie. Hulle afbrekende impak is egter om twee redes groter as hulle getalle. In die eerste plek is hulle oorverteenwoordig in die Afrikaanse media en in die “sagte” akademiese studierigtings, waar hulle meestal verskans is teen die al harder werklikhede van die nuwe bedeling. Tweedens het hulle, as gevolg hiervan, ’n buite verhouding groot invloed op gewone, gematigde Afrikaners.

Wat ook al die presiese rede is vir die kwalik bedekte anti-Afrikaner-houding van hierdie groepie, is hulle besig om die breë massa Afrikaners op ’n groot skaal en met ’n groot spoed van hulle te vervreem. Die positiewe uitwerking hiervan is dat ’n groeiende ooreenstemming of “nuwe middel” onder Afrikaners oor die spektrum heen begin ontwikkel, waar hulle saamgebind word deur wat moontlik ten beste as ’n moderne, Christen-demokratiese of kulturele federalisme beskryf kan word.

Bron: Die Groot Debat, uit Maroela Media

Comments are closed.

error: Content is protected !!